Die vrou in die blou mantel
Deon Meyer
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176903
’n Misdaadverhaal kompleet met ’n moord, raaisel, intrige en ’n onvoorspelbare draaipunt in slegs 121 bladsye? Dit kan tog nie waar wees nie, het ek gedink toe ek Deon Meyer se novelle Die vrou in die blou mantel optel.
Dit is glad nie Deon Meyer nie! Sy vorige boek, Koors, was dan ’n tamaai 579 bladsye. Ek was verward en teleurgesteld. Selfs so 'n bietjie verkul. Hoe lees jy jou naweek om aan ’n boekie wat so dun is soos daai gratis romanses wat jy saam met sekere vrouetydskrifte kry?
Maar, toe ek die boek in ’n aand se tyd kafgedraf het, het ek besef ’n Beretta kan net so dodelik wees soos ’n R1-aanvalsgeweer, as hy in die regte hande is …
En dit is juis wat Deon hier reggekry het. Hy het ’n meesterlike en kompakte speurverhaal saamgestel met geen pretensie nie, en dan is dit nog almal se gunsteling-speurder Bennie Griessel wat die vreemde moord van die verbleikte lyk moet oplos.
Die Amerikaner se naakte lyk word op Sir Lowryspas gevind. Perfek uitgestal so asof dit die werk van ’n reeksmoordenaar kan wees.
Dan bars die bom as die los draadjies gebind word en dit uitkom die verbleikte lyk is dié van Alicia Lewis, ’n kunskenner.
“Dit is baie soos die hond wat die bus gevang het, sal sersant Tando Duba, die speurder van die SAPD op Somerset-Wes, later vir sy kollegas vertel: Jy soek ’n lekker groot vet moordsaak, want dit beteken aandag van bo, en aandag van bo plus ’n goeie ondersoek plus ’n skuldigbevinding beteken bevordering.”
Maar die jong speurder moet gou die handdoek ingooi as hy besef hoe groot hierdie saak is, en dan word Bennie en sy gladdebekkollega Vaughn Cupido van die Eenheid vir Ernstige en Geweldsmisdade ingeroep.
Meyer het met sy vorige boek, Koors, verbaas toe hy wegdruis van die konvensionele misdaadroman en ’n postapokaliptiese Suid-Afrika geskep het. Hierdie keer het hy weer uit die boks gedink en iets buitengewoons soos ’n gesogte kunswerk as motief vir ’n moord gebruik.
Alicia was op die spoor van ’n Rembrandt-leering, Fabritius, se skildery, Die vrou in die blou mantel, toe sy vermoor is, en die moordenaar ken sy storie.
Met gewone huishoudelike bleikmiddel is die lyk skoongeskrop van enige DNS, wat die werk vir die twee speurder van die Valke bemoeilik.
Tot die deurbraak kom en die naam van Billy de Palma, oftewel Martin Fillis, ’n korrupte oudpolisieman, op Alicia se skootrekenaar gekry word. Die naam laat Vaughn se nekhare rys.
"Piece of work. Piece of shit," sê Vaughn.
"Narcissist, a psycho, real arsehole …"
"Ek sê nou vir jou, as Martin Fillis daai painting gekry het, he won’t hesitate for one second. He’ll kill her in cold blood."
En dit is net hier waar Meyer dit regkry om soos ’n Karoojakkals jou op ’n spoor te sit en die leser ’n paar keer te flous en weer in ’n ander rigting inslaan.
Want kan hierdie vuil polisieman dan ’n waardering vir die kunste hê en sal hy so ver gaan om te moor daarvoor?
Dit is wanneer Bennie die een oggend ’n oproep kry waar die jakkals weer ’n sluwe systappie gooi en die leser weer van sy spoor af gooi.
Afgesien daarvan, is Die vrou in die blou mantel ook ’n brug tot Meyer se volgende Griessel-dossier. Bennie moet die kans gegun word om persoonlike kwessies ook aan te spreek, soos om tussendeur die jag na moordenaars ook ’n lening by die bank te kry sodat hy vir sy Alexa kan vra om met haar te trou.
In 120 bladsye gaan Meyer jou weer die ystersmaak van bloed laat proe en jy sal weer neus eerste in sy versameling induik in afwagting op die volgende misdaadroman uit sy pen.