By vanjaar se KKNK is spesiaal erkenning gegee aan Jana Cilliers, Deon Meyer, Eldon van der Merwe, Poem Mooney en die feeskunstenaar Colbert Mashile. Die 28ste fees is van Saterdag 23 tot Sondag 31 Maart op Oudtshoorn aangebied.
Deon Meyer het die KKNK Afrikaans Onbeperk-prys vir sy literêre bydrae ontvang. “Hierdie prys is ’n geweldige eer en het my onkant gevang. En dis nie skyn-nederigheid nie. Om vereer te word vir iets wat vir jou so lekker is om te doen, voel amper verkeerd,” het Deon Meyer by ontvangs daarvan gesê.
Hier verskyn die toespraak van Etienne Bloemhof, Hoof van Fiksie: NB-Uitgewers en Deon Meyer se uitgewer, by die prysoorhandiging.
Etienne Bloemhof, Hoof van Fiksie: NB-Uitgewers, se commendatio vir Deon Meyer op 26 Maart 2024 by die KKNK waar die skrywer met die Afrikaans Onbeperk-prys vir Literêre Bydrae vereer is.
Dit is nie asof hy enige bekendstelling nodig het nie, maar ek glo ek is heel goed geplaas om iets oor Deon Meyer te kan sê. Want laat ek uit die staanspoor my belange verklaar: Ek is die ou wat sonder hierdie man se skryfwerk nie ’n loopbaan in die boekebedryf sou gehad het nie, nóg as redakteur, nóg as uitgewer. Of indien dit nie heeltemal waar is nie – dit sou andersins net ’n besonder kort loopbaan gewees het.
Ongeveer 28 jaar terug het hy my kantoor en my lewe binnegestap. Ek was ’n nat-agter-die-ore redakteur by Queillerie, en Deon het deurgery van Bellville af (waar, as ek reg onthou, hy toe nog verbonde was aan Sanlam se reklameafdeling) na die Mouillepunt-kantoor wat ons uitgewery in daardie stadium met Penta en De Kat se personeel gedeel het, reg oorkant die bekende vuurtoring. Die roman was Feniks en buiten ’n openingstoneel wat ons besluit het om weg te laat, was daar bitter min wat aan dié manuskrip hoef te verander het. Ek was reeds van dag een af ’n reuse-bewonderaar van sy skryfwerk en besef toe boonop Deon Meyer is iemand van wie ek bloot baie hou. Want ons kon uit die staanspoor oor enigiets gesels, van boeke tot films tot musiek tot rugby. Ons het net eenvoudig dadelik “gekliek”. Ek het waarskynlik toe reeds gedink dít wat Humphrey Bogart se karakter Rick Blaine aan die einde van Casablanca vir Claude Rains se polisiemankarakter Louis Renault sê: “I think this is the beginning of a beautiful friendship.”
Destyds het ek egter nie kon raai ons sou só lank saamwerk nie, en dat dit boonop onder vier drukname (waarskynlik ’n plaaslike rekord) sou gebeur. Vir daardie lojaliteit sê ek vandag ’n enorme dankie. Teen 2005 het my kriewelrigheid genadiglik einde gekry en die afgelope 19 jaar loop ons dus die pad saam by NB-Uitgewers, elke keer onder die druknaam Human & Rousseau.
Ek dink nie dis vergesog nie om te sê dat Deon Meyer eiehandig die misdaadgenre in Afrikaans laat herleef het. In die 60’s, 70’s en 80’s was dié genre basies “verstrooiingsliteratuur” – apologie vir die vloekwoord – maar eensklaps het Afrikaans ’n misdaadskrywer van internasionale kaliber ryker geword. Selfs Deon se heel eerste publikasie, Wie met vuur speel, ’n roman wat vanjaar sy dertigste verjaardag vier en waaroor Deon (ek haal aan) “soos ’n mens oor ’n broer in die tronk voel – jy is lief vir hom, maar jy praat nie eintlik oor hom nie”, het al aangekondig dat hier iemand is wat kan aksie skryf, ’n verhaallyn kan skep wat die leser se adrenalien laat vloei, en dat dit gebeur met ’n seldsame aanvoeling vir taal en tempo wat maak dat jy die boek eenvoudig nie kan neersit nie. Van dié boek (en ons weet dit herleef nou in TV-gedaante as die aksiebelaaide Plan B, Dinsdagaande op kykNET te siene) was dit ’n allemintige sprong na die reeds-vermelde Feniks, en dié trajek, die steil opwaartse kurwe, het oor die jare eenvoudig bly klim, van publikasie tot publikasie.
Sy fyn karakterisering, oor vir dialoog, die spitsvondigheid en humor, dit alles bly konstant en vind altyd neerslag in seker sy bekendste skepping. Want kom ek maak vir ’n oomblik – en hier gee ek my ouderdom uiteraard weg – of ek aanbieder Cobus Robinson is, doer in die vroeë dae van televisie, en dis ’n aflewering van Dis my geheim. (Vir die jonger lede in vandag se gehoor: Dit was ’n vermaaklikheidprogram waarin deelnemers die identiteit van ’n geheime gaspersoonlikheid moes vasstel.) Neem gerus nou deel en identifiseer dié hoofkarakter op grond van die leidrade:
My naam is ******** en ek is ’n alkoholis. Ek is nege-en-veertig jaar oud, en al vyfhonderd-en-twee dae lank op die waterkar. Ek is lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se speurspan by die Misdaadondersoekeenheid op Stellenbosch. Ná ’n dissiplinêre verhoor weens my en my kollega Vaughn Cupido se optrede teen lede van die Staatsekuriteit-agentskap, was ons range tot adjudant-offisier verlaag. Ek is verlede jaar getroud met Alexa Barnard, ’n oud-sangeres en ook ’n alkoholis. Ek het twee kinders uit ’n vorige huwelik. Ek speel baskitaar vir ’n orkes met die naam van ROES, maar ek is nie baie goed nie. Ek ry soms met ’n Giant-bergfiets vir oefening. Ek is ook nie baie goed daarmee nie. My enigste aanleg is vir speurwerk, maar dit neuk met my kop. Dis hoekom ek wil suip.
En die antwoord is sonder twyfel Bennie Griessel.
Maar Deon, internasionaal gevierde outeur, se skrywerslandskap word ook bevolk deur unieke karakters soos Mat Joubert, Zatopek van Heerden, Tobela Mpayipheli, Nico Storm; heerlike vrouekarakters soos eiendomsagent Sandra Steenberg, Mbali Kaleni en Christina Jaeger (ook bekend as Cornel van Jaarsveld, ook bekend as Vlooi). Ek verstaan gewoon nie hoe hy dit regkry om so goed in hul koppe te kom nie, veral die vrouekarakters. En dan is daar wonderlike skurke soos Jasper Boonstra, die superryk, alomberugte korporatiewe swendelaar wat, wil ek amper prontuit sê, onlangs weer sterk in die nuus was, helaas in tragiese omstandighede.
As ek dink aan dié Jasper-karakter, kom die gedagte onwillekeurig by my op dat een van die sterkste kenmerke van Deon se werk is hoe “aktueel” dit is – vandag se fiksie word oënskynlik môre se feite. Dink maar aan Ikarus, wat verskyn het in Maart 2015, waarin die openbaarmaking van intekenaars op Alibi.co.za, ’n webwerf wat alibi’s vir egbrekers verskaf, in die werklikheid geëggo word toe die berugte webwerf Ashley Madison se databasis gekompromitteer word, ’n volle vier maande later! Is dit ’n sonderlinge antisipasie van nuwe populêre tendense, of is dit heldersiendheid? Want in 2016 verskyn die distopiese roman Koors, waarin ’n koronavirus die toekomswêreld onherkenbaar verander. En slegs ’n paar jaar later ... Ek hoef sekerlik nie hierop uit te brei nie.
Dus, Deon, mag jou volgende roman afspeel in die jaar 2027 en mag een van die besprekingspunte wees hoedat die Bokke in dié jaar die Wêreldbeker die vyfde maal verower. Van rugby gepraat: Nes Rassie Erasmus dit kon regkry om ons land se verskille in kultuur te omhels, en absoluut versoenbaar te maak binne spanverband, glo ek dat Deon dit by uitstek regkry met sý karakters. Want lesers identifiseer met die geloofwaardige menslikheid van sy personasies, of dit nou stoere luitenant-kolonel Waldemar “Witkop” Jansen, die loslit Vaughn Cupido, die rateltaaie Tobela Mpayipheli of die letter-van-die-wet-navolgende Mbali Kaleni is, maak nie saak nie.
Die egtheid van sy karakters en sy stories maak dit maklik om te verstaan hoekom sy boeke so goed “reis”, dat dit gelees word in 28 tale, en op dié terrein het Deon se agent, Isobel Dixon van Blake Friedmann, ook dekades lank al wonderlike werk verrig. Dit voel vir my asof Deon in elke betrokke land waar hy gelees word, as ’t ware ereburgerskap verwerf, daarom dat hy byvoorbeeld nie net op plaaslike terrein pryse ontvang nie, maar ook internasionaal, onder meer in Frankryk, en dat hy bowendien dié land se top kultuur-eerbewys ontvang het en beslaan is tot Ridder in die Orde van Kuns en Letterkunde.
Maar dat die eer wat Deon vandag te beurt val, spesifiek oor Afrikaans gaan, dit is iets baie spesiaals, want dis ’n prys wat, glo ek, erkenning gee aan ’n skrywer wat – al sou dit op vele terreine vir hom sin maak om direk in Engels te skryf – nog altyd vurig en passievol was oor sy moedertaal; die taal van sy woorde, sy verbeelding en sy drome. Ek dink dit is besonder betekenisvol en gee onder meer erkenning aan die soepel maar gespierde Afrikaans wat so éie is aan sy styl.
Deon, ek het opregte waardering daarvoor dat jy as skrywer die pad voorberei het vir baie ander skrywers om hul talente uit te leef in jou gekose genre, in Afrikaans, asook vir die feit dat ek weet jy hulle altyd onderskraag en aanmoedig, nooit aan jou medeskrywers dink as die lojale opposisie nie, maar dat jy jul skrywersverwantskap omhels. Dit is ’n ruimgeestigheid wat ek bewonder.
Ek waardeer ook jou waagmoedigheid, jou onblusbare entoesiasme vir die lewe en jou bereidwilligheid om altyd nuwe dinge aan te pak, veral op Afrikaanse kultuurterrein – dis byvoorbeeld opwindend dat jou en Coenie de Villiers se musiekblyspel Roem tans sy KKNK-debuut maak – en ek weet jy gaan nog vir baie jare lesers, medeskrywers én uitgewers inspireer met jou kreatiewe uitsette. En dan laat my beperkte tyd vandag dit nie eens toe om behoorlik te verwys na al jou filmwerk nie.
Ek, reklamekollega Eben Pienaar wat vandag hier teenwoordig is, asook my ander kollegas by NB, jou geliefde Marianne en al jou mense. Ons harte bars van trots vir dit wat jy alles vermag het oor die jare, dat jy dit vir so baie mense weer ’n plesier gemaak het om Afrikaanse boeke te lees – ek tel omtrent 21 boeke (waaronder 16 romans) en minstens 800 000 Afrikaanse eksemplare later, en ek kan eerlikwaar nie dink aan ’n waardiger ontvanger van dié betrokke prys nie.
Deon, ek salueer jou.
Kommentaar
'n Helder baken vir Afrikaanse spanningsromans, en deuroopskopper na die buiteland vir ons skrywers ... gee kans.