Prooi deur Deon Meyer: ’n lesersindruk

  • 1

Prooi
Deon Meyer

Human & Rousseau
ISBN: 9780798177757

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Wat ’n vreugde was dit darem nie om weer ’n boek van Deon Meyer te lees nie! Dit gebeur nie aldag dat ek 200 bladsye in ’n middag tussendeur twee spannende Curriebekerfinale deurlees nie – ’n ekstra spesiale prestasie vir my, want ek raak gou verveeld met boeke. Meyer is ’n rare uitsondering wat my altyd aan die lees kry. Maar ek wil nie hier sy deugde besing nie, dit word genoeg en veel beter elders gedoen. Vir die doel van hierdie lesersindruk wil ek net bietjie vertel van die boek en enkele gewaarwordinge deel. Ek gaan my bes doen om nie die hele storie weg te gee nie.

Die nuutste roman uit Deon Meyer se pen kombineer Suid-Afrika se uitdagings met staatskaping op briljante wyse met die wel en weë van die fiktiewe karakters Bennie Griessel, Mbali Kaleni en Vaughn Cupido, wat polisiebeamptes is by Suid-Afrika se elite-polisieeenheid, die Valke. Bennie Griessel is natuurlik geen onbekende vir Meyer se aanhangers nie. In die nuutste boek ondersoek Griessel en Cupido die dood van ’n passasier wat op ’n weelderige trein gereis het, en wie se liggaam in die Karoo ontdek word. Die aksie skuif dan heen en weer tussen Suid-Afrika en Frankryk, waar daar ’n misterieuse karakter met die naam “Daniel” ingetrek word in ’n komplot. Dit word later duidelik wie presies hierdie karakter is.

Griessel en sy kollegas jag die moordenaar(s), maar tussendeur is Bennie ook op ’n ander jag. Hy soek die hand van sy lewensmaat Alexa, die bekende oud-sangeres en musiekmagnaat, saam met wie Griessel in haar huis in Tamboerskloof ingetrek het. Sy droom is om met haar te trou, hoewel hy soms sy bedenkinge het of dit wys is dat twee gerehabiliteerde alkoholiste trou. Dan tree Bennie ook op as baskitaarspeler van die rockgroep “Roes”, waar hulle meestal by troues en diesmeer weergawes van ou rocktreffers opvoer. Maar Bennie Griessel het baie verander oor die jare. Hy besoek nou gereeld ’n psigoloog wat hom behandel, en behoudende lesers sal dankbaar wees om te verneem dat daar veel minder gevloek word in hierdie boek as in sommige van die voriges. Bennie en Vaughn se supervisor Mbali Kaleni, sit ook haar opvoedingstaak voort in Prooi, en staan altyd gereed om vir Bennie en Vaughn te berispe oor hulle kru taal, veral wanneer hulle God se naam ydelik begin gebruik.

Soos dit moet, loop twee verhale natuurlik uiteindelik ineen, en dit gebeur nogal eers baie naby aan die einde van hierdie boek. Die oorkoepelende tema is egter staatskaping, en dit word baie spesifiek geskets teen Suid-Afrika se weergawe daarvan. Hoewel daar baie verwys word na “die Russe” en hulle president Vladimir Poetin, word die omstrede Suid-Afrikaanse president nooit by die naam genoem nie. Ook nie drie korrupte sakemanne van Indië word van enige name verskaf nie – daar word deurgaans slegs na hulle verwys as die drie mans van Indië.

Die boek Koors wat in 2016 verskyn het, het Meyer se aanhangers taamlik verdeeld gelaat, met sommige wat die boek baie geniet het en andere wat daarvan niks gehou het nie. Die daaropvolgende Vrou met die blou mantel was weer in ’n baie korter formaat, gans te kort vir ’n somervakansie. Koors was egter nie ’n tipiese Deon Meyer-misdaadroman, soos wat die geval met Prooi is nie, en waar Vrou met die blou mantel ’n kort roman was, beslaan Koors meer as 450 bladsye. Die boek Prooi sal veral die tradisionele lesers van Meyer se boeke tevrede laat, want dit is vol van die tipiese spanning, humor en kwinkslae (laasgenoemde veral danksy Vaughn Cupido) waaraan Meyer se misdaadromans gekenmerk word. Anders as die geval met Koors, sal Prooi die leserspubliek veel minder verdeeld laat.

  • 1

Kommentaar

  • Is Frederick Forsyth se The Day of the Jackal 'n interteks, 'n rolmodel of 'n subliminale inspirasie? Skerpskutter wat 'n prominente staatshoof in Parys moet gaan uithaal, wapen vir die doel in die Lae Lande gaan koop, in die Ardenne gaan oefen daarmee, mense wat agter die skerms van hom weet, die jagter word gejag ens?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top