LitNet Akademies-resensie-essay: Ikarus deur Deon Meyer

  • 0

Deon Meyer is pas weer, vir die tweede agtereenvolgende keer, as skrywer van die “Afrikaanse leesboek van die jaar” aangewys by die 2015 Huisgenoot Tempo-toekennings: http://bookslive.co.za/blog/2015/06/10/deon-meyer-weer-aangewys-as-skrywer-van-die-afrikaanse-leesboek-van-die-jaar-by-2015-huisgenoot-tempo-toekennings. Meyer as “meester” is die verwysing wat al hoe meer dikwels in resensies van sy boeke opduik. Die titel is gepas in die sin dat Meyer die onbetwisbare baanbreker-“vader” van postapartheid misdaadverhale in Suid-Afrika is, en dat hy die genre (saam met Francois Bloemhof) in Afrikaans vir ’n verskeidenheid ander belowende skrywers soos Rudie Van Rensburg, Martin Steyn, Chanette Paul, Chris Karsten, Karin Brynard, Dirk Jordaan, Leon van Nierop en talle ander oopgeskryf het. Hy is immers die skrywer van ’n reeks blitsverkopers, onder meer: Wie met vuur speel (1994), Feniks (1996), Orion (2000), Proteus (2002), Infanta (2004), Onsigbaar (2007), 13 Uur (2008), Karoonag en ander verhale (2009), Spoor (2010), 7 Dae (2011) en Kobra (2013).

Dit is deesdae byna onmoontlik om na ’n speurfiguur te verwys sonder dat kaptein Bennie Griessel as verwysingspunt dien, in soortgelyke mate as wat oorsese speurders soos Michael Connelly se Harry Bosch, Henning Mankell se Kurt Wallander, Jo Nesbo se Harry Hole en Fred Vargas se Commissaire Adamsberg as rigtingwysers vir ander skrywers dien. Meyer word ook gereeld in die buiteland op vertalings van sy boeke as die Suid-Afrikaanse Stieg Larsson bemark. Al was hierdie besonderse skrywer se Millennium-trilogie ’n heerlike leeservaring, sou weinig fynproewers te veel probeer inlees in hierdie vergelyking; ek sou met baie meer gerustheid na Meyer as ’n eweknie vir die gerekende Amerikaner Connelly verwys.

Eerder as om met hierdie resensie-essay ’n enkele element of elemente van die roman te isoleer en te bespreek bied ek ’n tipe dialoog, waar ek in gesprek tree met verskeie aspekte van die roman om ’n oordeel oor die algehele meriete van die teks te kan vel. Ek kies doelbewus om nie in te veel besonderhede in te gaan op sekere dele van die narratief nie, weens die feit dat alle lesers waarskynlik nog nie tot op hede die boek gelees het nie. Ek probeer wel, waar moontlik, om Ikarus in terme van Meyer se oeuvre te situeer, en om tendense en patrone in die skrywer se werk uit te lig waar dit organies uit die bespreking voortspruit.

Op 17 Desember spoel die lyk van een Ernst Richter oop in die duine anderkant Parklands. Wie is Richter? Internet-entrepreneur, baas van Alibi.co.za, en reeds ’n maand lank vermis. Richter is volgens alle aanduidings ’n jong grafiese ontwerper en sakeman wat sy vlerke so na as moontlik aan die son wou sprei. ’n Sjarmante rokjagter, ’n uiters ambisieuse entrepreneur, en ’n man wat dit baie maklik gemaak het vir Meneer en Mevrou Onsbetaalgraag om in ander wellustiges se slaai te gaan krap, of net versigtig die olywe uit te soek. Met die fanatiese media wat bloed ruik na die sensasie van Lotz, Matthews, Pistorius en Dewani, het die Valke-kapteins Bennie Griessel en Vaughn Cupido hul hande vol om agter die kap van die byl te kom.

Dit neem slegs een ontmoeting met die beeldskone Desirée Coetzee, een van Richter se werknemers, om behoorlik met die koel-soos-‘n-komkommer Vaughn Cupido se kop te smokkel. Die man is van agter sy ore tot in sy kleintoontjies in verlief, en die feit dat Desirée heelwat meer weet as wat sy voorgee, maak dinge nie juis vir hom en sy span makliker nie. Van teenstand gepraat, onse held met die voete van klei, hy wat kaptein Bennie Griessel is, gaan skielik weer aan die drink. Nie een of twee sopies om die edge af te haal nie; Griessel suip vir die eerste span.
Want hy is nie net ’n man met ’n moeilike day job nie: Griessel se sielkundige diagnoseer hom met posttraumatiesestres-afwyking, met ’n stywe sarsie altruïsme daarby. Want Griessel is die besondere tipe geregsdienaar wat nie net kan empatiseer met die slagoffers van misdaad in al sy afgryslike gedaantes nie; hy kom ook in die kop van dié wat die orde versteur, en probeer hul doen en late verstaan so goed hy moontlik kan. Griessel is ’n altruïs, een wat die dood net soveel vrees as die gewaarwording dat ander om hom sal swaarkry en ly. Om die simptome hiervan te bekamp gaan hy aan die drink, en geen bottel Jack Daniels in die Kaapse skiereiland en die wynland is veilig nie.

Cupido word onkant gevang wanneer hy deur die nuutbevorderde majoor Mbali Kaleni aangewys word as die Richter-saak se JOC-leier, die hoof van die joint operations command. Behalwe om pal sy beste pel Griessel se bas te red moet Cupido nou ook die rol van leier met oortuiging vertolk, en moet hy die nodige groei toon – beide as speurder en as mens – om uit Griessel se skadu te beweeg. Terwyl die Richter-saak in sogenaamde real time afspeel, met al die intrige en spanning wat die leser noodwendig kan hanteer, vertel Meyer ook ’n tweede, uiteindelik parallelle verhaal.

Dit is die ongelooflik gedetailleerde en fassinerende familiesaga van die Du Toits, met die jong wynboer Francois du Toit wat op Oukersdag by advokaat Peires instap en begin bieg oor wat ons glo sy rol in die dood van Richter was. Ons verneem reeds op bladsy 40 dat Du Toit wel vir Richter geken het, maar in welke hoedanigheid word natuurlik eers veel later vir die leser verklap. Hoekom dring Du Toit daarop aan om sy familiegeskiedenis aan die advokaat te vertel? Do the faults lie in our stars, or in ourselves? vra Du Toit en leser tegelyk.

Hierdie onthullings is ook beslis nie wat die leser reken dit sal wees nie, en Meyer is weer eens in staat om op sy kenmerkende wyse die leser op verskeie dwaalspore te bring voor die genrekontrak tussen skrywer en leser ten volle nagekom word.

Joan Hambidge het in haar onlangse resensie van Ikarus die mening uitgespreek dat Meyer reeds so gevestig is dat daar nie eers resensies van sy boeke hoef te verskyn voor lesers hul beursies oopmaak nie. Regter Bennie Griessel was vol (versigtiger) lof vir Ikarus, met die uitwys van sekere onwaarskynlikhede, asook die mening dat die roman se voorganger ’n beter boek was. Elmari Rautenbach, wat ook by hierdie jaar se Woordfees Meyer se gespreksgenoot was, is egter vol van die hoogste lof vir die manier waarop hy sy onlangse resep van nekbreek-tempo-rillers hier inruil vir ’n ver meer metodiese, uitgeslape whodunit of raaiselroman (soos Deborah Steinmair sou vertel) waar die skrywer nuwe hoogtes bereik.

Hierdie uitspraak het my in besonder geprikkel, en na die eerste lees van die roman (ek het dit ’n tweede keer ook gaan lees) het ek my afgevra: Tot watter mate spreek die titel van hierdie veelvlakkige, genuanseerde teks nie dalk tot die skrywer self nie? Is die Deon Meyer-handelsmerk, so alombekend, so gereken deur lesers, resensente en deesdae ook akademici, onaantasbaar? Sou dit heiligskennis wees om ’n resensie-essay soos hierdie te skryf met die wete dat kritiek teenoor die skrywer dalk met verbasing, selfs skok (uit sekere geledere) geweeg sou word?

As groot aanhanger van Meyer se skryfwerk, en ook as (ontluikende, uiters nuuskierige) akademikus het ek dus die unenviable taak, soos Vaughn Cupido sou sê, om Ikarus te takseer op grond van die letterkundige waarde wat hierdie genreteks betrek, maar dat lesers tegelykertyd ook bewus moet wees (en bewus gemaak moet word) van die wyses waarop Meyer se legio lesers moontlik aanklank sal vind by hierdie Bennie Griessel-dossier.

Die kern van die roman se ondersoekbeamptes is mediawoordvoerder John Cloete, wat gereeld met sy Tweetdeck oopsit op kantoor; die spitsvondige en kleurryke Cupido; die beleërde Griessel; Uncle Frankie Fillander, stadig maar trefseker in sy metodes; die ladies’ man en saggeaarde Mooi Willem Liebenberg; en die klein, netjiese luitenant Vusumuzi “Vusi” Ndabeni. Meyer bied ook vir die leser interessante newekarakters, soos die pragtige Desirée Coetzee, Cupido se droomvrou, en die hardekwas, kanniedood-verslaggewer Maahir van Die Son. Ou bekendes wat terugkeer, is die lesersgunsteling Mbali Kaleni, majoor Benedict “Bones” Boshigo, en die pierewaaier pyn-in-die-dinges spierpaleis Jamie “Jaaaaaamie” Keyter.

Speurder-adjudant Jamie Keyter van Table View, met sy Ferrari-sonbril immer op sy kop, is die oorspronklike ondersoekbeampte in die Richter-saak, maar later word die saak van hom af weggeneem, en hy is verbitterd daaroor. Die ambisieuse Keyter op sy “ironiese beste” (10) is ’n moeilikheidmaker en ’n windbol, ’n afgunstige antagonis uit die polisiegeledere wat nie sal skroom die lewe vir Griessel en Cupido warm te maak nie. Die volgende passasies som hom goed op:

Ferrari-sonbril, swart Polo-gholfhemp wat sy bollende biseps ten beste vertoon, en sy swart Edgars-chino met die swart leergordel, hande op die heupe, kyk hy nou na die twee voete wat onder die plastiek uitsteek. Hy is ingenome met homself. Die voete is, ondanks die nadoodse verkleuring, duidelik dié van ’n witte. Dit beteken media-aandag. Jamie Keyter hou van media-aandag (11).

Na die “positiewe publisiteit van ’n oopgevlekte motordiefstalsindikaat ’n jaar of drie gelede, oorskat Jamie dikwels sy eie vermoë en potensiaal” (27).

Ikarus is myns insiens kaptein Bennie Griessel se swanesang. Daar is eenvoudig nie meer ruimte vir Griessel se karakter om te groei te midde van sy voortgesette emosionele of fisieke foltering nie, wat wel teen die slot van Ikarus tot ’n einde blyk te kom. Griessel moet alewig baklei teen die duiwels in sy kop wat sy alkoholisme en vrees vir die dood betref (Freud se death drive is ongetwyfeld op Griessel en vele ander van veral Meyer se manlike hoofkarakters van toepassing); sy verhouding met die gewese popster Alexa Barnard, mede-alkoholis, is ook altyd in gedrang; sy verhouding met sy eksvrou, Anna, is gering, om dit sagkens te stel, en hy voel ook vervreem van sy seun, Fritz, en dogter, Karla, wat blykbaar ’n beter verhouding met hul ma as met hom het. Griessel, wat “altyd werk” (28) en drie jaar laas ’n vakansie geneem het, het ook al vele kollegas aan die dood afgestaan, soos die happy-go-lucky Nougat O’Grady en bevelvoerder Zola “the Giraffe” Nyathi, wat in Kobra noodlottig gewond is in die klimaks.

Ikarus se waagmoed lê deels in die feit dat Meyer weer vir Griessel laat drink, en dat hy vir meer as die helfte van die roman ’n skadu van sy skerp beste is. Die Griessel-karakter kom hier ietwat pateties en as ’n swakkeling voor, ondanks die feit dat daar redelik gemotiveer word hoekom hy weer drink. Hy weet die troos is nie in die eerste sluk nie. Dit, en die verdowing en die kalmte en die sin en die heling en die versagting en die balans en die orde en daardie eenwording met die heelal kom eers later, hier teen die einde van die tweede goddelike glas (24).

Dis egter ’n antiklimaks vir die leser om gekonfronteer te word met (skynbaar) eindelose passasies waar Griessel nou moet “uitvind” hoekom hy drink. Infanta, 13 Uur en Kobra het almal in diepte in hierdie lyn van ondersoek ingegaan, en my sterkste kritiek teenoor Ikarus is dan ook die feit dat Griessel vir die meerderheid van die roman ’n swak karakter is en daar baie herhaling van sy vorige wroegings met drank en verganklikheid voorkom. Ek moet ook meld dat Alexa Barnard in Ikarus ’n blote skaduwee van ’n karakter is, en dat Griessel se kinders feitlik geen rol of prominensie geniet in die vertelling nie. Dat Griessel sommer so van die waterkar afval terwyl sy kinders reeds in Infanta deur ’n alkoholis-pa gekonfronteer was, oortuig my nie.

So word Griessel dan aanvanklik in Ikarus geskets:

Bennie Griessel, ses-en-veertig jaar oud, rehabiliterende alkoholis, ses-honderd en twee dae op die waterkar, sit en staar deur die voorruit van sy motor, vasgevang in die verkeer van Buitengracht… […] [D]ie benouing is in hom en oor hom en om hom. Soos ’n mistroostige wolk. Al weer. Nog steeds. (11)

Soos in 13 Uur, waar Griessel as mentor moes optree vir ’n groep jong speurders en die “onheil” kon aanvoel (ook veral in sy drome), keer die gevoel van onheil in Ikarus terug: Daar wag onheil na Kaleni hom bel. “En hy sien nie meer kans vir onheil nie” (12). Griessel wil ontsnap van die “engte” en die versmorende “drukking” (17). Hy gaan aan die drink nadat hy hoor van die tragedie van Vollie Vis, adjudant Tertius van Vollenhoven, wat eers sy vrou en kinders en toe homself geskiet het; die “monsters” was nie hier te keer nie (16). Hy het die verskriklikste, ondenkbaarste, hartverskeurendste daad gepleeg omdat hy sy geliefdes wou beskerm teen die hond van onheil wat met sy kwylende bek en sy bloedbelope oë deur die wêreld loop. Want niemand kan daardie hond keer nie, sy honger word net groter (35).

Dit is min dat ek voel Meyer sit die pot is, maar moontlik die grootste oomblik van pure sentiment en ware “suspension of disbelief” behels die keerpunt vir Griessel, wanneer hy homself sien as rigtinglose en onversorgde alkoholis in die weerkaatsing van lig op die glaspaneel van ’n winkel met die naam O.live. Griessel besluit hy moet “een laste keer probeer” (292). Griessel was nog altyd ’n antiheld en underdog, maar die gewaarwording wat so beskryf word, is maar net te dik vir ’n daalder.

Meyer het juis in veral Onsigbaar en Orion sy hoofkarakters se selfinsig met omsigtigheid en deernis hanteer, iets wat hierdie versiersuiker-oomblik dalk minder geslaagd doen. Verder kry Griessel elke aand maaltye en dan ook briefies van Barnard, wat ook effe soetsappig dog oulik is, terwyl sy iewers elders verkeer, maar hom deur middel van tegnologie kan plaas.

Alhoewel daar kritiek teen Griessel se karakterisering in Ikarus gelewer kan word, wil ek ook duiwelsadvokaat speel en my siening kompliseer deur aan te voer dat Griessel se swakheid die weg baan vir Vaughn Cupido om Meyer se volgende volwaardige supersterkarakter te word. Ons het reeds voor Ikarus met Kobra se ontroerende slot, waar Cupido ’n uitgebreide gesprek voer met die sakkeroller Tyrone Kleinbooi, besef dat Cupido bestem is vir groter dinge. Ikarus is dan, met Griessel in meer van ’n ondersteuningsrol, Cupido se verhoog, sy geleentheid om ’n kleim af te steek in beide die SAPD en as hoofkarakter wat die roman se morele kompas vorm. Ja, u het reg gelees: Vaughn Cupido, pappie, as die morele kern van Ikarus, en as Griessel se beskermengel.

Met die aanvang van Ikarus blyk dit dat ons nog met dieselfde ou Cupido te doen gaan kry: “Hawk in protest uitrusting – denim, geel T-hemp, blou baadjie, en die skril stelling van die geel-en-oranje skoene, wat hy gisteroggend met groot geesdrif verduidelik het: Nike Air Pegasus Plus, pappie, almost a thousand bucks regular price, ma’ Tekkie town het ’n sale gehad. Cool comfort in technicolour, it’s like walking on air in a wet dream. Haal die werk uit ‘voetwerk’, every time. Ma’ die eintlike bonus is lat die sneakers vir major Mbali heavy gaan afpis” (15). Hy is glad nie ingenome met die netheidsreël vir werknemers nie; dis die “laaste strooi vir Cupido, want hy het al klaar baie swaar gesluk aan haar aanstelling as groephoof: ‘Jy dink dis ’n coincidence, so na die laste election? I don’t think so. Oorlat sy ’n Zoeloe is, ethnic affirmative action, dis Zuma time all the time, Benna. Ek en jy het meer experience, meer jare diens, meer savvy. En sy kry die promotion?”

Benewens die illustrasie van Meyer se vernuf met Cupido se taalgebruik, wat so sentraal tot sy wese staan, word ons herinner aan sy spitsvondigheid, sy arrogansie, sy ekstreme bewustheid van ras en klas, en minderwaardigheidskompleks, wat elke nou en dan deurskemer, ten spyte van sy beste pogings om vol vals bravade oor te kom. Hy is nie, soos Kaleni, “nougeset en konserwatief” nie (15), maar soos Kobra se slot vir ons gewys het, het hy eintlik ’n hart van goud.

Dat hierdie hart van goud bra vinnig kan smelt, en ’n groot omwenteling in sy manier van doen na vore kan tree, blyk uit die trefseker idee om vir Cupido ’n liefdesbelangstelling te gee. Cupido weier om op Tinder te gaan:

Die eerste problem is, daar is twintig ouens vir elke girl. Die tweede problem is, if you want to stand out, moet jy lieg soos ’n tranetrekker (82).

Griessel tel ook Cupido se “andersheid” op, en herlei dit na die feit dat die “[g]reat Coloured detective of the Hawks” verlief is (118). Cupido self sal eers later hierdie feit snap (124).

Cupido raak halsoorkop verlief op die “beeldskone” Desirée Coetzee, enkelma van Robertson, wat vroeg met ’n jong seun swanger geraak het, maar haar bes doen om vir hom te sorg. Coetzee as werknemer van Richter vertel vir Cupido van Alibi se vyf afdelings, ingewikkelde transaksies en beleggers; gebrek aan ware opbrengs of inkomste; skuldeisers; maar sy is vir hom veel meer van waarde buiten die ondersoek.

Hul ontluikende romanse word subtiel en sensitief uitgebeeld, en is ’n area waar Meyer vir Cupido stadig maar seker mak begin maak. Sy liefde vir Coetzee (en vir Griessel, as ’n brother in arms) maak nie bloot van hom ’n sagter, meer toeganklike individu nie, maar hy verloor geensins sy heerlike spitsvondigheid en grappigheid nie. Hy word immers volwasse en verantwoordelik, in elke sin van die woord.

As beginsel doen Cupido baie meer speurwerk op sy eie sowel as saam met sy ander kollegas in Ikarus, wat daarop dui dat hy so uit Griessel (sy “sounding board”) se skadu beweeg, en dat hy persoonlike groei toon. ‘n Toonaangewende toneel wys hoe Cupido vir Jamie Keyter roskam oor sy ontaktvolle gedrag teenoor mevrou Richter wanneer sy haar seun se lyk moes uitken; ’n ander wys hoe die karakter bepeins hoe almal, ongeag ras of geloof, eintlik dieselfde is as mense: “Hy dink aan Benna en Alexa. Good people. Oorlat hulle swaargekry het. Jy kan maar kyk, ’n whitey wat nog nie swaar gehad het nie, is basically ’n doos. Jy moet mar eers swaarkry voor jy kan connect, voor jy kan sien ons is almal maar human, irrespective of race, colour or creed” (81). Griessel sien hoe Cupido “groot word”, en sien hoe hy ook om verskoning vra, iets wat hy nooit vantevore sou doen nie.

Om die beurt het Cupido ware agting vir en meegevoel met sy beleërde kollega: “En Benna kan met mense werk. Met Mbali, met hom wat Vaughn is, met getuies, met suspects. Dis asof Benna net plugged in is, hy’t daai sixth sense met mense, hy respect almal, hy weet watter knoppies om te druk” (82). Cupido is trots om deel van die Valke te wees en hy sal “doodgaan vir daai unit” (223): “Ons is die Hawks, pappie, the cream of the crop, best of the best. En jy wat Griessel is, jy’s die beste cop wat ek ken. By a long shot. When you’re sober” (223).

Die hegte band en simbiotiese verhouding en verstandhouding tussen Griessel en Cupido word dan uitstekend in die volgende passasies uiteengesit, wat die roman se etos van gemeenskap, aanvaarding en medemenslikheid versinnebeeld:

Fokken Benna wat gaan staan en suip het, waar’s sy partner noudat hy hom nodig het? Want hy wil nou met Griessel praat oor die saak. Hulle is ’n team, die yin en yang van die Hawks, Batman en Robin. Hy dink dikwels hulle operate so goed, want hy wat Cupido is, is die danser: twinkle toes, pappie, lightning mental footwork, hy's die investigative artist, with everything that goes with it – creative, eccentric, a little touchy at times. En Benna is die philosopher, the thinker, daai dude is methodical. And grounded, except for the drinking problem of course ma’ dis oorlat Benn alte veel dink. En te diep. In die jop is daai dangerous. (63-4)

Dit het VC ’n paar minute geneem om te besef hy en Bennie Griessel het nou rolle omgeruil. Vir die eerste keer sedert hulle saamwerk, sover hy kan onthou. Tradisioneel is hy die bad cop teenoor Bennie se good cop. En hy geniet dit, want hy is goed daarmee. Hy weet hoe om onder die vel van verdagtes te kom, hoe om hulle van balans te kry. Hulle kwaad te maak sodat hulle óf in woede ’n verkeerde ding sê óf hulle gaan soek skuiling by ’n simpatieke Griessel, wat dan weer die inligting makliker uit hulle kry. (115)

[E]k kan nie Vaughn the terrible wees as jy nie Benna the Sober is nie. Dis soos daai line in die movies: “you complete me.” (318)

Mbali (The Great Cactus Flower; blom in Zulu, 179) Kaleni is een van Meyer se mees deernisvolle en driedimensionele skeppings, ’n karakter wat so outentiek en getrou aan haar waardes is dat almal om haar haar eenvoudig daarvoor moet respekteer. Al het sy voorheen met Cupido en ’n karakter soos Fransman Dekker (in 13 Uur) swaarde gekruis, is Kaleni in Kobra ’n formidabele vrou, ondanks haar komieklike eetgewoontes en haar “irriterende beterweterigheid”. In Ikarus word sy na die dood van Zola Nyathi na majoor verhef, en beklee sy (tot my innige spyt) ’n kleiner rol, waar sy meer agter die skerms betrokke is. In Ikarus verruil sy haar voorliefde vir gebraaide hoender vir ’n Tim Noakes Banting-dieet, ’n besluit wat haar meer as tien kilogram laat verloor, maar haar kantoor met gedurige kooldampe laat, iets wat die vertelling tot goeie effek die draak mee steek. Veral Cupido is natuurlik nie te mal oor Kaleni en haar dieet nie, en hy is baie skepties teenoor haar wanneer sy hom die JOC- (Joint Operations Command-) leier maak: “Hy ken vir Kaleni. Daai Zoeloe is slim. Stadig en anal, by the book, verskriklik irriterend en konserwatief. Maar slim. Sy is aan die scheme. Altyd. Maar wat is haar scheme nou, met hom?” (46–7)

Griessel hou egter van haar, en die twee het ’n spesiale verhouding en wedersydse respek: “Hy hou van haar. Agter die soms onelegante en te eerlike persoonlikheid is daar ’n broosheid, ’n onsekerheid waarvan hy al stukkies gesien het” (267–8).

Soos die narratief voortbeweeg, vind Kaleni en Cupido mekaar eindelik. Dit is ook regdeur Ikarus duidelik dat Kaleni bevoeg is in haar pos, en twee aangeleenthede in besonder – toksikologietoetsing, en Chinese owerhede wat oortuig word om bankbesonderhede te verskaf vir die rekening van ’n Suid-Afrikaanse burger – bevestig haar oordeel en vernuf.

Die vermoorde Ernst Richter is die ietwat enigmatiese figuur wat deur sy afwesigheid die gaping in die vertelling laat wat deur verskeie ander karakters se sienings en insigte gevul moet word. Omdat ons slegs ’n beperkte aantal tonele gegun word waar ons Richter objektief aan sy aksies en uitinge kan beoordeel (of veroordeel) moet daar op die insigte van ander staatgemaak word om ’n geheelbeeld van Richter te kry. Die “waarheid” oor Richter is dus iets wat voortdurend wegglip voor die leser, en ons moet besluit wie om te glo en wie nie. Richter kan ook natuurlik as ’n moontlike onbetroubare verteller gelees word, grootliks weens sy naakte ambisie. Hy is dus die karakter wat die naaste kom aan die verpersoonliking van die Ikarus-figuur in die roman.
Richter, die internet-entrepreneur en grafiese ontwerper, put inspirasie vir Alibi.co.za uit ander webtuistes soos AshleyMadison.com en Maritalaffair.co.za. Alhoewel dit wil lyk of Richter in beheer is van ’n goudmyn, het die maatskappye reuse-hoeveelhede skuld, en hang ’n aantal besonder donker wolke oor Richter en Alibi.co.za se koppe. Richter is duidelik ’n haan onder die henne, en het geboer op die app Tinder, waar hy vroue kon vind om mee gesprekke aan te knoop.

Dit word duidelik soos die roman vorder dat Richter moeilike kinderjare beleef het en dat sy pa gesterf het toe Richter nog maar veertien was. Richter se ambisie spruit uit sy finansiële swaarkry saam met sy ma tot hy ’n grafiese-ontwerp-kursus doen by die Kaapse Skiereiland se Kollege van Tegnologie en ’n verskeidenheid apps begin ontwerp en verkoop, asook webtuistes help bou. Daar was “net-net genoeg geld om vir klasse te betaal. Ek het treingery stad toe, ek het naweke en vakansies gewaiter, my ma het oortyd gewerk sodat ons die boeke en alles kon bekostig” (84).

Richter het natuurlik nie by Alibi.co.za opgehou om na verdere geleenthede vir selfverryking en rykdom te soek nie, ’n besluit wat sy bestaan eindelik bedreig. Daar is ook ’n reeks werknemers wat as moontlike verdagtes vir sy dood geïdentifiseer word, asook dié met wie Richter besigheid gedoen het. Richter ontvang ’n reeks dreigemente, van werknemers sowel as godsdienstige fanatici, en ’n verdere spanningslyn behels die bekendmaking van Alibi.co.za-intekenaars soos wat die ondersoek vorder. Dit is geensins ’n verrassing om te sien hoe die ANC, onder andere, hier deurloop nie, net soos president Zuma aan die einde van Kobra as uiters korrup gebrandmerk is.

Die groep verdagtes is uiteenlopend, en Meyer bou met eksaktheid en geduld ’n tasbare spanningsvlak op. Reg tot aan die einde van die roman (370) is dit duister wie die skuldige in Richter se moordsaak is, en hoe die Richter-saak verband hou met die bekentenis van Du Toit.

’n Verskeidenheid perspektiewe tree na vore wat die leser help om ’n oordeel oor Richter se karakter te fel:

Vaughn kyk na die foto – dit stem ooreen met die gesig wat hy by die lykshuis gesien het. Dit wys ER in ’n denim en blou T-hemp waarop staan HTML, en daaronder (expert in) How to meet Ladies. Hy lyk jonk: dalk vroeë dertigs, hy lag, sy hande besig om iets te beduie toe die kamera hom vasgevang het. Skoongeskeer, dik, donker hare wat amper op die skouers hang, die lyf skraal. Hy het sy ma Bernadette se lang neus, maar sy wangbene is skerper en sy mond meer prominent. Dis nie hoe hy sou voorstel wat ’n alibi-webwerf operate nie, dink Cupido. Richter lyk decent. Normaal. The guy next door, soort van, as jy in ’n middle-class whitey suburb bly. Maar hy het deur die jare geleer: met whiteys moet jy nie op looks gaan nie. Very deceiving. (61)

Richter se ma se storie oor hom is een van verwyt, omdat sy nie vroeër met die polisie of ander oor haar ambisieuse se seun gepraat het nie: So verlief op mooi goed. Estetika. Van kleins af. En slim. Dis die probleem, hy was slimmer as sy of haar oorlede man. Slimmer as sy portuur. En saam met die slim kom daardie ding van stimulasie. Sy kon hom nog stimuleer toe hy op skool was, met die boeke, met die ekstra klasse. Maar met die web design-besigheid het hy verveeld geword. Hy’t alles bereik wat hy kon, hulle het groot geld gemaak, maar toe raak Ernst verveeld en hy verkoop sy aandeel, en hy gaan reis vir ’n jaar en toe hy terugkom met die Alibi-storie, en sy moes gepraat het, destyds, maar nou is dit te lat. So heeltemal te laat. (101)

Frankie Fillander se insigte in Richter is dalk die mees gepas: “nie ’n bad laaitie nie”. Sy “flaws” is dat hy ’n “people pleaser, player; en bietjie van ’n spogter” was (193–4).

Sy minnares, Sarah Woodruff, eintlik Louise Rousseau, het weer ’n ander kant van Richter om te openbaar: hy was “’n seun. Niks meer, niks minder … met ’n dringendheid aan hom, ’n intensiteit. Asof hy geweet het die einde is naby” (252).

Meyer skep ook onderhoude en interessante newekarakters in Reginald “Lithpel” Davids, die tegnofundi wat terugkeer sonder sy tongstoot; die sakeman en belegger Werner Habernicht; die finansiële direkteur van Alibi.co.za, ’n kort mannetjie wat diep en hard asemhaal; en die troefkaart, Peter John Maclean van die Kaapse Vlakte. Dan is daar ook die sjarmante Mooiwillem Liebenberg wat terugkeer na Kobra, die Valke se eie George Clooney, “ook effens voortydiggrys by die slape en in die pal kortgeknipte baard. Dit is eerder in die sjarme, die knie-swik-reaksie van vroue, die stille selfvertroue wat dit by hom kweek, en die feit dat hy elke ses maande ’n nuwe, aantreklike vriendin het” (99).

Daar is die senuweeagtige IT-fundi Vaughn Stroebel; Rick Grobler, “tricky Ricky” die seningrige, oudste, gesaghebbendste, stilste en geheimsinnigste rekenaarman, die misdaadfiksieleser. Dokter Barkhuizen en die patoloog, prof Pagel, maak ook weer hul verskyning, want waar Griessel gaan, daar is hulle ook. ’n Persoonlike gunsteling sedert 13 Uur, Vusi Ndabeni, maak weer sy verskyning. Vusi is net 1,72 meter lank, uiters netjies, en baseer sy styl op ’n jong Nelson Mandela. Hy is “alomgewild, danksy sy flegmatiese persoonlikheid” (126) en die feit dat hy die meeste van sy salaris huis toe stuur na sy ma, wat curio’s verkoop en in ’n township buite Knysna woon. Vusi self woon in ’n HOP-huis in Gugulethu. Die komiese-verligting-duo Arnold en Jimmy, oftewel Dik en Dun, is terug, en snaakser en skerper as ooit. Veral in hul interaksies met die nederige Vusi kom hul spitsvondigheid na vore.

Frank Fillander, rissiebiltong-liefhebber wat in die Paarl woon met sy vrou en seun, is ’n nuwe karakter vir Meyer, en in Ikarus vervul hy ’n belangrike rol sonder om ooit werklik op die voorgrond te tree. Hy is eerder subtiel en oefen stelselmatig ’n rol uit in die oplos van die moordsaak. Fillander is nog ’n toevoeging tot die galery waardige, beleefde ouer manlike karakters wat Meyer se forté is, en is karakters soos Mat Joubert, Orlando Arendse en Zatopek van Heerden se tydgenoot. Hy het min formele opvoeding, maar oorgenoeg wysheid:

Frank Fillander het vroeg in sy loopbaan as poliesman besef daar is baie kollegas wat vinniger werk as hy. En veel slimmer is. Hy het nog altyd net twee groot bates gehad: sy eindelose geduld en sy insig in mense. Nuttige eienskappe as dit by speurwerk kom. Daarom dat hy stadig maar seker tot by kaptein by die Valke gevorder het. Nie sleg vir ’n een-en-vyftigjarige bruin man uit die Pniel uit, met net standerd agt agter sy naam nie (187).

Om die groep karakters mooi af te rond verwys ek graag na die syferman major Benedict “Bones” Boshigo van die statutêre misdaadgroep by die handelsmisdaadtak. “Bones”, wat gemaklik met homself en vol selfvertroue is, is een van Meyer se lekkerste karakters sedert hy sy verskyning in 7 Dae gemaak het, ’n Pedi uit Limpopo met konneksies, en ’n langafstandatleet wat die Comrades al sewentien keer voltooi het en die Boston- en New York-marathons elkeen een keer.

Afgerond, gelaai met intrige en snaarstyf gespan. Die hoe die “transkripsies” van die gesprek/onderhoud tussen advokaat Susan Peires en die wynboer van Klein Zegen, Francois du Toit, beskryf kan word. Met die afwisseling van vertelling tussen Peires wat self praat met Du Toit en die onpartydige derdepersoonsverteller skep Meyer ’n baie omvangryke en treffende beeld van die advokaat, wat in ander hande dalk net ’n muurprop sou gewees het. Sy is al 28 jaar lank ’n advokaat, en het meer as twee honderd mense in strafsake verteenwoordig. Sy is waardig, statig en aantreklik, maar het in die verlede gehoor dat sy ’n “kwaai gesig” het, iets wat haar wese tot in die kern raak.

Sy probeer dus om meer toeganklik maar steeds ferm te wees. Daar word ook melding gemaak van haar liefdesteleurstellings en verse, en so skep die skrywer ’n vlees-en-bloed-karakter wat instaan vir die leser met ’n mate van geloofwaardigheid eerder as om bloot net teenwoordig te wees in die vertelling (31–3). Peires neem in baie opsigte die plek in die leser, wat saam die Du Toit-legkaart stukkie vir stukkie bymekaarsit soos wat sy direkte vertelling voortstu. Ons word ook daarop attent gemaak dat “mense soos ’n komplekse wynversnit” is (76).

Du Toit sê vir Peires: Ek gaan vir jou alles vertel. Alles (22). Sy lyk vir Du Toit na ’n “instrument van geregtigheid” (59). Dis amper onmoontlik om nie onwillekeurig terug te dink aan die komplekse “bekentenis” wat die prostituut Christine aan die pastoor lewer in Infanta nie. Hier is daar egter veel meer van ’n poging deur die verteller (Du Toit) om so eerlik as moontlik met die waarheid om te gaan. Ek sou ook aanvoer dat die roman in sy geheel baie sterk onderskraging bied vir die Christelike geloof se erkenning dat die waarheid bevrydend is en sal wees.

Onmiddellik word die indruk ook by die leser gewek dat die moeite en tyd wat dit sal neem om hierdie boek te lees ook die moeite werd sal wees. Dit is beslis nie naastenby die enigste selfrefleksiewe oomblik van Du Toit se narratief nie, soos wat die volgende passasie (so eksplisiet geskoei op “storie”) dan ook met welslae illustreer:

Ek wil … Ek bedoel, die storie gebeur in ’n sekere konteks … Ek … Dis al wat ek het. My storie. En die hof, ek bedoel, die regsproses, dit werk op feite. Die een het dit gedoen, en daai een het dat gedoen, en die hof se eindelike beslissing. Ek dink nie die reg luister na stories nie. Maar ons stories is belangrik. Ons stories definieer ons. Ons is die stories, die produk van ons stories … Ek het ’n verhouding met stories, ek dink dit het … As mens so baie lees, van kleins af, dan wil jy hê jou lewe moet soos ’n boek wees, ’n sekere struktuur van stryd en oorwinnings, van chaos tot orde. ’n Einde wat van alles sin maak. Dis hoekom ek praat van die stories se konteks, want die konteks gee eindelik die insig. Deel van my konteks is … daardie ding van die sonde van die vaders … En die eersgebore seun, dis so half Bybels, die hele …

Hierdie besonder singewende passasie bied dan ook ’n sleutel om die roman as geheel te ontsluit, veral hoe daar van “chaos” na “orde” beweeg word namate meer inligting en duideliker verbande getrek kan word tussen verskillende drade en verhaallyne, en hoe die “konteks” van beide die Richter- en die Du Toit-spanningslyne die betekenismoontlikhede en ontrafeling van die misterie/vraagstukke vir die leser en speurder (leser as speurder) uitstippel. Lesers sal ook sonder moeite die implikasies van die “sonde van die vaders” kan ontsluit wanneer hul die roman lees, met die toeganklikheid van die intrige en vertelling wat die verbluffende kompleksiteit en die omvang van die navorsing in die skadu stel.

Die volgende paragraaf dien dan as “inleiding” vir die groter Du Toit-“storie”:

Daar is twee goed wat jy moet verstaan: Die eerste is die tradisie van die eersgebore seun wat die plaas erf. Dis seker hoe die meeste plase in hierdie land werk, dit kom al sewe geslagte lank vir die Du Toits, van 1776 af. Dis net hoe dit is. My agter-agter-oupagrootjie het ses dogters gehad voor daar ’n seun was, hy was al in die veertig voor hy kon ophou kinders maak, dis ’n tradisie met implikasies, maar wat kan jy doen? (41)

Soomloos verweef in die groter Du Toit-narratief is dan ook die geskiedenis van die KWV, en ’n narratief wat strek oor Westelike Provinsie- en Springbokrugby asook Paul Roos. Om meer hieroor uit te brei sou die skrywerstapisserie ’n onguns aandoen.

 

Foto: Izak de Vries

Die bekentenis dat Peires elke dag koerant lees, bied Meyer die geleentheid om rond te krap in die psige van die (gemiddelde) Suid-Afrikaner wat tog so lief is om aan die etenstafel en op sosiale netwerke hul mond uit te spoel oor die treurigheid van die stand van sake in die land:

Die invloed van tegnologie in die verval van waardes; die land en die media wat weer op al die verkeerde plekke fokus – soos die misdaadsyfers en die doeltreffendheid van die SAPD. Terwyl dit eintlik gaan oor die morele stand van die Suid-Afrikaanse gemeenskap. Wat sê dit as ’n onderneming soos Alibi kan gedy? Die algemene siening van haar dampkring: Die nasie sien al hoe meer die skrif aan die politieke muur, en skarrel nou soos rotte om ’n laaste hedonistiese plesiertjie te geniet voor SKIP Suid-Afrika sink. Sy’t nie heeltemal daarmee saamgestem nie. (156)

Veral die narratief rondom Paul, die “psigopatiese” broer van Du Toit, word eenvoudig meesterlik deur Meyer aanmekaargesit. Behalwe die “onsekere” verband tussen Paul en “ontknoping van die verhaal” (208) het Du Toit se ma Helena probeer om die “tydbom” Paul se “voete op die aarde te hou” (218). Net soos die mitiese Ikarus het Paul egter ’n meer tragiese verloop van sake ervaar.

Met geen geweerskote wat klap en geen beklemmende jagtogte nie, is Ikarus beslis iets anders as sy aksiebelaaide voorgangers soos veral Kobra en 13 Uur. Anders as met die ietwat over-written en effe onbevredigende Spoor, waar die verskillende verhaallyne slegs gedeeltelik geslaagd met mekaar versoen word, en sekere narratiewe beslis vir die leser meer interessant as ander was (ek reken die Milla Strachan- en Lemmer-intriges as hier die indringendste), kry Meyer dit reg om twee wyd uiteenlopende verhale en wêrelde – wat tog sterk met mekaar weerklink – gelyk te vertel, sonder dat een meer aftrek kry as die ander. Dit is dan ook presies wat Meyer met soveel intensiteit, humor en insig in Kobra reggekry het, waar Cupido van ietwat van ’n randfiguur in Infanta na ’n baie meer volronde (en genotvolle) karakter in 7 Dae uiteindelik sy vlerke gekry het.

Beide die stadiger, meer kronkelende intrige rondom die Du Toit-familie – met die fokus op komplekse familieverhoudinge en -tragedies en hul intieme bande met die geskiedenis van wynmaak in die Kaap, die KWV, hoërskool Paul Roos, Westelike Provinsie as rugbyspan en ook die Springbokke – en die Richter-saak – waar die fassinerende vervlegting van forensiese ondersoek en die veldwerk van die ondersoekbeamptes intiem verband hou met ingewikkelde finansiële transaksies en tegnologiese besonderhede – behou enduit die aandag. Maskers en magsvertoon, grootheidswaan, revolusies in die kleine, korrupsie, onreëlmatighede en ongerymdhede – Meyer se onthouverhaal krap hom vir jou oop tot op die been, net so voor Kersfees, sonder pleisters.

Die breë Stellenbosch-omgewing, met vertakkings na Kaapstad, veral Parklands en Table View, word wonderlik as ruimte vir die aksie ontgin. Karakters eet en drink byvoorbeeld by die koffiewinkels Hazz en Lizas, en gaan tuis by restaurante soos Pane e Vino en Basic Bistro. Stellenbosch-sentraal, en veral Dorp- en Kerkstraat, het laas soveel dekking geniet in misdaadfiksie met Karin Brynard se Onse vaders, en voor dit het Andrew Brown hierdie universiteitsdorp se donker kant in Coldsleep Lullaby oopgevlek.

Oor Stellenbosch as misdaadsentrale noem Desirée Coetzee:

Hy was drie weke missing. Net weg. Sy kar is in Plankenburg gekry. Hier naby die township. Dis Stellenbosch hierdie. Weet jy wat die crime statistics is? Muggings by die universiteit, die balaklava-bende op die plase, die varsity prof by die Strand vermoor, wat sou jy gedink het? Hoe lank voor jy twee en twee bymekaar sou sit? (112)

So ook die volgende:

Table View is een van die snelgroeiendste metropolitaanse gebied in die Skiereiland. En die groei is in die laer middelklas, onder andere duisende immigrante van Nigerië, Somalië, Malawi en Zimbabwe in die Parklands-gebied, waar amper sestig present van die misdaad wat sy stasie moet hanteer, nou gepleeg word. (28)

Die aanhalings dui nie net duidelik op die wyse waarop die tentakels van misdaad op alle dele van die samelewing toesak, en hoe dit al hoe moeiliker word om binne- en buitestanders van mekaar te skei nie, hoe die samestelling van die nuwe Suid-Afrika se bevolking besig is om te verander nie, maar ook hoe subtiel Meyer die misdaadaktualiteit van Suid-Afrika soomloos in sy eie fiktiewe ondersoeke inwerk. Dit was veral die geval in 13 Uur en dalk nog meer in 7 Dae, waar die Inge Lotz/Fred van der Vyver-saak so opmerklik gefiksionaliseer was, al sou Meyer sagkens daarop aandring dat die werklikheid van misdaad in Suid-Afrika nie in sy narratiewe weerspieël word nie.

By meer as een geleentheid fokus Meyer die aandag op die mees tradisionele, klassieke insig oor misdaad, spesifiek moord: die “grootste versteuring van hierdie orde. Daarom bring dit vrees”; “Iets het gebeur om die normaliteit van voorstedelike Edgemead te versteur” (157, 14).

Op bladsy 259 het inspekteur Vaughn Cupido dan die volgende insig: “Daai is die problem met crime. “’n Detective kom en hy detect en hy arrest en hy gaan staan in die witness stand, and then you move on. Ma’ die crime stop nie da’ nie, it touches people’s lives, dis soos daai klippie in die water, die ripples hou nie op as die accused gesentence word nie.”

Dit is dan vir Meyer van kardinale belang om (in die formulering van Tzvetan Todorov in The poetics of prose) beide die storie van die misdaad en die storie van die ondersoek te vertel, asook die effek van die betrokke misdaad op die partye wat die naaste aan die slagoffer staan. Meyer stel dus net soveel daarin belang, sover as wat die ondersoek homself daartoe leen, om die persoonlike eerder as politieke dimensies van misdaad te ondersoek in Ikarus. In Proteus, byvoorbeeld, wys Meyer dan hoe die persoonlike en die politieke moeilik van mekaar geskei kan word, soos wat die oorgang van apartheid na postapartheid, onderdrukking na demokrasie, posvat.

Koerantberigte, onderhoude, klankopnames met die wynboer Du Toit wat bieg voor die advokaat, ’n alomteenwoordige derdepersoonsverteller wat ons groter insigte bied in karakters, terugflitse, asook sterk en sentrale dialoog, waar daar gewissel word tussen Afrikaans, Engels, Kaapse Afrikaans vir Cupido, en wat besonder ryk aan tekstuur is, bied ’n magdom uiteenlopende vertelstrategieë wat die leser gedurig noop om remme aan te draai en kennis te neem van die manier waarop Meyer sy storie vertel.

Dit is ’n belangrike punt: Meyer se stories is nie net boeiend nie, maar dis veral die wyse waarop hy ’n netwerk van betekenismoontlikhede deur afwisseling en noukeurige struktuur vir die leser (in)bou wat indrukwekkend is. So neem Meyer die deurdagte besluit om Ikarus uiters tradisioneel te laat begin, met die ontdekking van die Richter-liggaam, oftewel die tradisionele “misdaadtoneel”, en om daarná die leser weer aan die hoofkarakter, Griessel, bekend te stel.

Dit is ’n komplot tussen hemel en aarde wat ER se lyk ontbloot. Asof die heelal saamsweer om geregtigheid ’n hupstoot te gee. Eers is daar die storm van 17 Desember, net na agt die oggend. Dit is seldsaam, maar nie hoogs uitsonderlik nie, gebaar deur ’n verstote afsny-laagdruk: ’n blouswart, kolkende monster wat indonder van oor die Atlantiese Oseaan net noord van Robbeneiland … Maar met die oopspoel van die liggaam is die aarde se bydrae meer beskeie; bloot dooie kontoere van die veld anderkant Blouberg, waar die suidooster soos ’n blinde beeldhouer die duine gevorm het om die stortvloed so toevallig te kanaliseer. Dit kalwe ER se voete oop, die een kaal en tragies, aan die ander ’n swart sokkie, halfmas en komies. (7). ’n Kwadkopter neem alles af voor die polisie gekontak word, en klem val weer eens gedurigdeur op presiese tyd, soos die geval was met 13 Uur.

Alhoewel feitlik alle Meyers begin met ’n toneel waar daar óf op die slagoffers óf op die misdadigers gefokus word, het Meyer, met uitsondering van Kobra, tot op hede die tradisie van die moordtoneel op die eerste bladsy vermy. Intense aksie (Proteus, 13 Uur, Spoor), of onheilspellende opbou met ’n hoofkarakter in die spervuur of aan die spits (Feniks, Infanta, 7 Dae) is gewoonlik Meyer se inleidende aanslag. In feitlik al sy romans word die tweede hoofstuk of daaropvolgende vertelling dan geskoei op in medias res- inzoem op die speurfiguur, of dit dan Zatopek van Heerden of Bennie Griessel of ’n ander karakter is.

Meyer lê weer eens baie klem op forensiese besonderhede, soos in Infanta, 7 dae en Kobra, weens die feit daar met ’n moordsaak gewerk word. Hier behels dit, onder andere, ’n ondersoek na presies hoe lank Richter dood was voordat sy lyk gevind is, en watter stowwe op sy liggaam en klere gevind word. Hier keer die heerlike duo Dik en Dun terug vir verdere komiese verligting, kwinkslae en skerpsinnighede. Die toneel waar Richter se iPhone 5 slegs met vingeridentifikasie oopgesluit kan word, is een wat uitstaan. Aan die ander kant van die spektrum gee selfoonrekords, oproepe, stembriewe, internetgebruik en algehele tegnologiese kundigheid deur veral Reginald “Lithpel” Davids die deurbraak in terme van niefisiese bewysstukke.

Soos gewoonlik is Meyer se navorsing uit die boonste rakke, en het hy hom so goed van sy taak gekwyt dat daar slegs ’n vliesie skeiding tussen die waarheid en fiksie blyk te wees. Bygesê: Watter leser sou hom voor die lees van die roman daarop kon roem dat hy ingelig was oor zero-day vulnerabilities – foute wat per ongeluk insluip met elke applikasie of bedryfstelsel wat vir rekenaars ontwikkel word, wat krakers toelaat om deur versteekte deure toegang tot rekenaars en data te verkry?

Elke goeie storie vereis ’n goeie (nie noodwendig gelukkige nie) einde, en die hoogs bedrewe Meyer bied eindelik vir die leser ’n slot wat beide bevredigend en verbluffend is. Dink net byvoorbeeld aan die plofbaarheid van Proteus en Infanta, beide met die byna vierdimensionele eks-MK-kryger Thobela Mpayipheli, of aan Lemmer in Onsigbaar, en dis duidelik dat Meyer geen gelyke het wanneer dit by aksiebelaaide dog emosioneel uitmergelende ontknopings kom nie.

Selfs tot op die heel laaste nippertjie tuimel verdere geraamtes uit verskeie kaste, en het Meyer by my as leser die indruk geskep dat die geliefde Bennie Griessel dalk vir eers vir die leser verlore sal wees. Dat Ikarus ’n wegholsukses is, sal geen aanhanger of krimileser teen dié tyd in die minste verras nie.

Meyer is immers die land se gewildste krimiskrywer, die wydste vertaal, die beste verkoper. Hy is ook die manlike krimiskrywer met die meeste romans op sy kerfstok, en ’n oeuvre wat veral sedert die publikasie van Infanta teen ’n snelle pas gegroei het, sonder om gehalte in te boet. Meyer is bekend daarvoor dat hy ’n vaardige en deernisvolle storieverteller is, dat sy besliste oortuiging dat elke element van sy romans in diens van die storie self moet staan, sy lesers uiters lojaal maak.

Die emosionele kern van die roman, en ’n toneel wat my baie lank nog sal bybly, vind ook toevallig plaas in die middel van Ikarus, tussen bladsy 210 en 216. Die toneel vind plaas by Richter se huis, en Griessel, Cupido, Liebenberg, Fillander en Vusi sit en gesels terwyl hulle koeldrank drink. Hier word die direkte verwysing gemaak na die mitiese Ikarus, seun van Daedalus, wat uiteindelik verdrink het na sy poging om met tuisgemaakte vlerke die hoogtes in te vlieg: Dit is Vusi wat die verwysing dadelik snap … “Not bad for a darky from Gugs, Vusi,” sê Cupido. “Greek mythology, nogal. But please, keep it to yourself. I can just see some Mitchells Plain mama calling her son Icarus Fortuin when that gets out.” Hulle lag, harder as wat hulle bedoel, en Fillander sê: “Kêrels, saggies, die bure gaan kom kla. Anyway, Ikarus, dis die kêrel. En toe vlieg hy te hoog, en die son smelt die candle weg, en hy crash en burn in sy moer in.”

Daar word dan na Richter as die Ikarus-figuur verwys, maar net so onmiskenbaar hier is die eiesoortige Suid-Afrikaanse konteks van die humor, die warmte en toegeneentheid van die interaksie, die boodskap van broederskap wat die toneel oordra en gebrek aan rasse-/kleurgrense wat hierdie gesprek so spesiaal maak.

Eerder as om ander te oordeel op grond van hul velkleur en taal, maak Meyer in Ikarus dit duidelik dat Suid-Afrikaners, net soos sy karakters self, ’n sin vir gemeenskap het en ’n reis van selfontdekking kan ondergaan deur werklik oop te wees vir die menswees en ervarings van ander. Hier is dit ook vir my duidelik dat Meyer die berekende risiko geneem het om in ’n Afrikaanse krimi karakters suiwer Engels of ’n mengsel van Engels en Afrikaans met mekaar te laat praat, om te illustreer presies hoe belangrik dit is dat elke karakter in sy mees gepaste en natuurlike stem moet praat om so na as moontlik te kom aan die waarheid wat individuele uitdrukking behels.

Meyer is tot dusver merkwaardig in die wyse waarop hy, soos die mitiese Proteus, sy keuses van karakters, hul stemme en unieke stories kon aanpas by die tipes misdaad en vorme van geregtigheid wat hy wou ondersoek. Met Ikarus is dit eindelik vir my duidelik dat Meyer inderdaad nie soos Ikarus met hierdie roman te na aan die son gevlieg het nie. Eerder kan sy lesers hom ag as ’n skrywer wat iets van die mitiese Prometheus in hom saamdra: hierdie Titaan het aan die mensdom vuur verskaf; Meyer verskaf aan sy lesers die vuur van verheldering en belig subtiel die moontlikhede vir ’n Suid-Afrikaanse samelewing waar gemeenskaplike belange eerder as ras die septer sal swaai, mits die inwoners van die land elkeen verantwoordelik met hul eie vuur omgaan.

Klik op die prent hieronder om te lees:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top