Tien vrae: Deon Meyer oor Ikarus

  • 3

Skrywers oor hul nuwe boeke: Deon Meyer oor Ikarus.

Waarom het jy Ikarus geskryf – en was daar een idee/emosie waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?

Met die “waarom” gaan ek sir Edmund Hillary se Everest-antwoord gee: “Want dit was daar.” Ek is baie versigtig vir die “inspirasie”-ding. Skryf is maar meestal perspirasie. En dit voel altyd dislojaal aan die tientalle idees wat hul weg in ’n boek in vind deur die nimmereindigende navorsings- en skryfproses deur net een of twee te noem. Maar Ikarus het tog twee ontstaansidees: die eerste was Red Obsession, die boeiende dokumentêre rolprent van David Roach en Warwick Ross oor die internasionale wynbedryf; die tweede was ’n artikel in Time oor ’n Franse webwerf wat aan ontroue eggenote ’n alibidiens lewer.

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?

Die afwesigheid van “die tydbom”.

Laat ek probeer verduidelik. In sy legendariese gesprek met die beroemde Franse filmregisseur Francois Truffaut het Alfred Hitchcock die volgende onderskeid tussen verrassing en spanning getref:

We are now having a very innocent chat. Let us suppose that there is a bomb underneath the table between us. Nothing happens, and then all of a sudden, “Boom!” There is an explosion. The public is surprised, but prior to this surprise, it has seen an absolutely ordinary scene of no special consequence.

Now, let us take a suspense situation. The bomb is underneath the table and the public knows it, probably because they have seen the anarchist place it there. The public is aware that the bomb is going to explode at one o'clock and there is a clock in the decor. The public can see that it is a quarter to one. In these conditions this innocuous conversation becomes fascinating because the public is participating in the scene. The audience is longing to warn the characters on the screen: “You shouldn't be talking about such trivial matters. There's a bomb beneath you and it's about to explode!”

In the first case we have given the public 15 seconds of of surprise at the moment of the explosion. In the second we have provided them with 15 minutes of suspense. The conclusion is that whenever possible the audience must be informed.

Ek het al dikwels voorheen die “tydbom”-konsep gebruik in ’n poging om bykomende spanning in ’n misdaadroman te skep. In Dertien uur was dit die geskarrel om ’n jong Amerikaanse toeris se lewe te red. In 7 Dae het ’n sluipskutter elke dag ’n polisielid geskiet. In Kobra was dit die jag na ’n sakkeroller. Dit is ’n nuttige instrument om die tempo aan te jaag, en mens hoop dit help om die leser te boei. Dit beteken ook dié boeke was ’n mengsel van speur- en spanningsverhaal.

Met Ikarus het ek ’n baie doelbewuste besluit geneem om ’n meer tradisionele misdaadroman te skryf, waar die karakters se interne konflik en die wie-het-die-moord-gepleeg-raaisel die primêre aandrywers van spanning is. Die grootste uitdaging was om steeds ’n flink storietempo te handhaaf sonder die tydbommeganisme.

Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Dalk is my siening net van toepassing op die genre waarin ek skryf (want dit is al wat ek as skrywer regtig ken), maar ek glo die skryf van ’n boek is onder meer ’n proses van probleemoplossing. Daar is natuurlik talle probleme wat opgelos moet word – in terme van die intrige, geloofwaardigheid, karakterontwikkeling, tempo, ens. Sommige is klein en maklik oplosbaar, ander verg ’n dag of twee se gefokusde nadenke, of bykomende navorsing. Maar alle probleme is oplosbaar, wat beteken dat daar nie regtig “dooie punte” is nie.

Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema?

Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord. Ten eerste impliseer dit dat ek tydens die skryfproses kognitief nadink oor al dié aspekte van ’n roman, wat glad nie die geval is nie. Ek skryf in die eerste plek vir die enigste leser wat ek ken – ek. En die storie moet reg voel, in elk van hierdie onderdele, soos hulle nodig het om die genre te dien. In ’n spesifieke hoofstuk sal karakter belangrik wees, in ’n ander speel ruimte ’n groter rol. In die laaste kwart van ’n boek is plot, spanning en tempo weer van kardinale belang.

Maar ek dink nie oor enige van dié dinge na nie. As dit reg voel, los ek dit uit. As dit verkeerd voel, probeer ek regmaak.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Ek is ’n  baie bevoorregte skrywer: my twee primêre redigeerders is my redakteur, Etienne Bloemhof, en my agent, Isobel Dixon. Ek werk al hier by die 20 jaar saam met dié twee fenomenale mense, en ek vermoed die grootste komponent van dié verhouding is vertroue. My vertroue in hulle is absoluut. Ek glo vas ’n skrywer is altyd subjektief oor sy eie werk, en ’n  kundige, objektiewe buitesiening is noodsaaklik as jy ’n  produk van gehalte wil lewer. Daarom luister ek altyd as hulle kommentaar lewer.  Maar dit is nie ’n diktatorskap nie. Nou en dan sal ons ’n verskil in siening uitredeneer, maar meestal is hul reaksie in die kol.

Waarom skryf jy?

Want dis lekker.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

Ek is amper klaar met ’n nuwe, oorspronklike filmdraaiboek, en begin direk daarna met die nuwe boek.

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)? 

Enigiemand wat ’n boek klaar skryf en gepubliseer kry, is my held.

En ek weet ek gaan belangrike mense se name uitlaat, maar laat ek net ’n handjievol noem: JM Coetzee, Marlene van Niekerk, Etienne van Heerden, Ingrid Winterbach, Karen Brynard, Marita van der Vyver, Mike Nicol, Andrew Brown, Diale Tholwe,  William Gibson, Michael Connelly, Robert Harris, Ian Rankin, Lee Child, Michael Ridpath, John Sandford, George P Pelecanos, Douglas Kennedy, Mark Bowden, Anthony Beavor,  John D MacDonald, Ed McBain, John le Carré, Frederick Forsyth, Ted Allbeury, Robert B Parker ...

Wat dink jy van die Afrikaanse letterkunde op die oomblik – die boeke wat verskyn (en dalk ook in die onlangse verlede verskyn het)?

Ek kry al hoe meer die gevoel dat  ’n nuwe goue era aan die kom is met ’n jonger geslag van skrywers soos Dominique Botha, Francois Smith,  Willem Anker, Tinus Horn en Jaco van Schalkwyk, om maar net ’n paar te noem.

En wat is jou gedagtes oor die toekoms van die Afrikaanse boek (of dalk oor wat uitgewers behoort uit te gee)?

Afrikaans uitgewers doen uitstekende werk deur voortdurend te waag met nuwe skrywers, ondanks die finansiële risiko’s. En hulle ken die bedryf veel beter as ek, daarom laat ek die “wat behoort hulle uit te gee” graag in hul kundige hande.

Eindelik is die Afrikaanse boek se toekoms is onlosmaaklik gekoppel aan die toekoms van ons land, op elke denkbare vlak – polities, ekonomies en kultureel.

Deon Meyer (foto verskaf)

Ikarus word by die US Woordfees 2015 bekendgestel. Koop kaartjies by Computicket.

www.deonmeyer.com

  • 3

Kommentaar

  • Ek het lanklaas iets gelees wat so nugter en objektief is oor die skrywer self sowel as oor sy boeke. Dit laat my dink aan wat W Somerset Maugham geskryf het in "The summing up". (Weet enigiemand vandag nog daarvan?)

  • Ons, sowat 80 Afrikaner "expats" werk in die noordweste van Tanzanië in drie verskillende goudmyne en ons werk is hoofsaaklik ingenieurs-ondersteuningstelsel gedrewe.

     Deon Meyer is gereeld 'n besprekingspunt tussen ons. Die interessante aspek daarvan is dat ons ook heelwat Australiese en Kanadese "expat" kollegas hier het, wat uiteraard nog nie van Deon gehoor het nie - dan moet jy al die kulturele kommentaar en onderrig hoor wat daarmee gepaard gaan om hulle koppe te draai.

     'n Hoogtepunt is natuurlik wanneer daar 'n mede-burger is wat nog nie van Deon gehoor het nie en al die hoon en afkeur wat dit tot gevolg het: "Wat! Weet jy nie wie Deon Meyer is nie? Het jy 'n gat in jou kultuur? Die man het in Klerksdorp grootgeword en jy het daar gewerk op 'n stadium - kan jy ooit lees?"

    Wat die manne veral boei is die akkuraatheid en realisme, wat 'n karaktertrek van Deon se stories is. Sy raakvat beskrywings van die deursnit Afrikaner se prioriteite, swakhede, status bewustheid en skynheiligheid, is iets waarmee ons onself vereenselwig. Daardie "tipies Afrikaner" kommentaar wat na vore kom.

     Tydens 'n onderhoud met RSG, verlede jaar, het Deon genoem dat die vrouelesers van Lemmer hou en dat hy nie presies weet waarom nie. Deon, het jy vergeet dat Lemmer 7de Laan kyk? Natuurlik sal al wat 'n vrou is van hom hou.

    Dankie Deon, ons geniet jou boeke baie en dan het jy natuurlik ook 'n paar "biker" pelle in ons midde.             

  • Vlerke du Plooy

    Deon Meyer se boeke beteken moeilkheid, groot moeilikheid, groot-groot moeilikheid!

    As ek eers my oë in sy boeke het, word daar net niks gedoen nie.  Nie kos gemaak nie (my honde en katte kry darem), nie huis skoon gemaak nie, nie geslaap nie, want ek kan net nie die boek neersit nie!

     Uitstekende werk! Baie dankie Deon vir jou liefde vir skryf!

    Doen so voort seblief

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top