LitNet Akademies-resensie-essay: Kobra deur Deon Meyer

  • 0
Hierdie resensie-essay bevat gegewens uit Kobra wat die verhaalgebeure vir lesers mag bederf.
Wees dus gewaarsku indien jy nog nie die roman gelees het nie!

Titel: Kobra
Skrywer: Deon Meyer
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780798165044

 

Koop Kobra by Kalahari.com.


1. Inleiding

In die afgelope jare het die populariteit van speur- en misdaadfiksie nie alleenlik in wêreldliteratuur toegeneem nie, maar ook in die Afrikaanse lesersgemeenskap. “Indeed, this culture industry is now international: American programs are telecast around the world, creating in effect a global culture, a culture sustained to a considerable extent by fictions of crime” (Thompson 1993:1).

Dit is duidelik dat hierdie groeiende populariteit ook sy merk in Suid-Afrika gelaat het. Die sukses van skrywers soos Karin Brynard, Margie Orford, Piet Steyn en talle ander wat die afgelope paar jaar in hierdie vorme gedebuteer het, illustreer die onversadigbare obsessie wat vandag rondom misdaad bestaan. Dit is veral die internasionale sukses van die misdaadskrywer Deon Meyer wat hierdie tendens in die Suid-Afrikaanse literatuur aantoon. Met sy nuwe roman, Kobra, is speurder Bennie Griessel terug, en sy teiken: die Kobra. Die ou bekende speurders, Vaughn Cupido en Mbali Kaleni, maak ook weer ’n verskyning. Dan is daar ook die sakkeroller Tyronne Kleinbooi, wat per toeval in die ondersoek ingetrek word. Die inbedding van sy verhaal is van so aard dat hy opgestel word vir die misdaad wat hom, en sy suster so genadeloos by die verhaal gebeure betrek.

 
 


2. Kobra as tipiese speurverhaal

Met die aanvang van die roman kan daar opgelet word dat Kobra jou tipiese speurverhaal is. Daar bestaan verskeie kerneienskappe wat van ’n roman ’n speurteks maak, maar die belangrikste eienskappe lê by die speurder en die raaisel. In speurfiksie is dit die speurder, oftewel die speurinstansie, wat sentraal staan in die teks – “[a]lways at the centre of story’s action, most often the hero, and generally a keen observer who notices things missed by others” (Symons 1972:173–4). Bennie Griessel vervul hierdie rol in Kobra, waar hy as ondersoekleier optree:

Griessel rapporteer so bondig as moontlik, want hy was die eerste Valk op die toneel […] Eindelik: “Your’re JOC on this one, Bennie” […] Sy hart sink, want die laaste ding wat hy in sy huidige toestand nodig het, is die verantwoordelikheid van ’n gesamentlike operasionele bevelvoering, die sogenaamde Joint Operations Command. (26)

Griessel dien as dryfveer van die ondersoek en die leser ontmoet hom waar hy op die moordtoneel in Franschhoek ondersoek instel. Hiermee word sy sentrale rol as speurder bevestig:

Griessel tree versigtig nader. Hy sien die skietwond in die voorkop, skuins bokant die linkeroog. ’n Dun straaltjie bloed wat na regs afloop, nou byna swart. Onder die kop wat na regs rus, is ’n plas, dikker, so groot soos ’n piering. Uitskietwond. (5)

Die raaiselwaarde wat in Kobra gevind word, bevestig verder ook dat die roman ’n speurteks is. Die speurroman wentel rondom hierdie raaisel, en daar vind ’n epistemologiese beweging van onkunde na kennis plaas (McHale 1992:147).

Kobra gaan te werk met ’n sentrale raaisel waarom die hele ondersoek gestruktureer word. Hierdie raaisel word reeds op die buiteblad geaktiveer. Wie is die Kobra? “Blitsig. Dodelik. Meedoënloos. Kan Griessel hom keer?” Die vraag “wie” is dus onafskeidelik verbonde aan die speurroman met ’n speurder en ’n misdadiger wat aan die hart daarvan staan. Die Kobra is die karakteristieke skurk in hierdie verhaal en die moordtoneel wat Griessel ondersoek, waar die leser hom ontmoet, dien as die motoriese moord van die verhaal:

“Sien julle dit nie?”
“Sien ons nie wat nie?”
“Die gravering.” Hy hou die doppie nog nader, en draai dit stadig in die rondte … “Dit lyk na ’n slang. Wat bakkop staan.” (31)

Hierdie moord sluit aan by wat Tony Hilfer skryf oor dood in die speurverhaal: “The detective novel has death at the heart, a death that is mysterious. At the end of the book we know what we did not know to begin with, that is, who committed the murder” (1990:2). Moord is dus kardinaal tot speurfiksie, omdat dit moord is wat al die gebeure in die teks aan die gang sit.

Tvetan Todorov identifiseer ’n tweeledigheid by die speurverhaal en noem dat daar inderdaad twee stories naas mekaar afspeel: die storie van die misdaad en die storie van die ondersoek (1977:44). Hy gaan verder: “The first story, that of the crime, ends before the second begins” (1977:44). Die speurroman kan dus in twee narratiewe verdeel word: die ondersoeknarratief, die nasporing van Die Kobra, en die skadunarratief, die gebeure wat gelei het tot die moord en ontvoering van Adair, soos dit deur Donna Bennett (1979:241) geïdentifiseer word.

Bennett voer aan dat hierdie twee narratiewe by een belangrike punt oorvleuel, naamlik die kerngebeurtenis (1979:241). Die motoriese moord in Kobra, die moord op die lyfwagte en werknemer in Franschhoek, is dan waar die sogenaamde ondersoeknarratief begin om die verskillende raaisels wat in die teks geopper word, te beantwoord. Die speurverhaal is uiteraard ’n raaisel wat opgelos moet word; ’n legkaart van leidrade wat deur die speurder aanmekaar gesit moet word om die misdadiger aan die kaak te stel. “The detective novel, by the close of its pages, must leave no room for mystery” (Swope 1998:207).

Daar is verskeie raaisels wat in Kobra geopper word; die grootste daarvan is wie Die Kobra is. Dit is die oorkoepelende raaisel waarby alle ander sake gevoeg word. Hierdie dubbele aard van speurfiksie gee ’n interessante struktuur daaraan en is grootliks teenwoordig in Kobra. Dit is by die motoriese moord in Franschhoek waar die ondersoek na Die Kobra begin om dan al meer die leemtes van hierdie skadu wat in die teks bestaan, aan te vul (Bennett 1979:241). Die doppies met die slang daarop gegraveer is die enigste leidraad wat op die ontwykende Kobra dui.

Die moord in Franschhoek is die kollaterale skade van die ontvoering van ’n man wat op daardie punt in die verhaal nog onbekend is aan die polisie:

“Wat my die meeste pla: Die laaste slaapkamer wys daar was ’n gestoei. Nou hoekom sal ’n ou wat so kan skiet ’n man gaan stoei?” […]
“Fok,” sê Griessel.
“Kidnapping. Wanneer laas het ons dít gesien?”

Dit neem nie lank voordat daardie man geïdentifiseer word as David Adair, ’n professor in rekenaarwetenskap en wiskunde aan die Universiteit van Cambridge, nie. “Sy kyk na die foto van koningin Elizabeth teen die muur, dan terug na Nyathi. ‘We think he is David Patrick Adair’” (79). Die skadunarratief word stadig aangevul deur middel van leidrade wat in die teks voorkom. Dit kom aan die lig dat Adair verantwoordelik is vir belangrike antiterroris-sagteware:

“An internet search of his name will eventually lead you to the good professor’s responsibility for the so-called Adair Algorithm […] Have you heard of the Society for Worldwide Internet Financial Telecommunication, or SWIFT?” […]

“Gentlemen, the Adair Algorithm is one of the best-kept and most vital international security secrets in history. If it falls into the wrong hands.” (81–3).

Die belangrikheid van die Adair-algoritme word hier benadruk en skep dadelik ‘n motief vir die ontvoering van Adair.

Hierdie leidrade speel ‘n belangrike rol in die oopvlekking van die uiteindelike raaisel, maar word dikwels nie alleen daarvoor gebruik nie. Die grootste leidraad wat in Kobra voorkom, is op die titelblad, die neweteks, te vinde. Die titel van die roman speel uit die staanspoor ’n belangrike struktureringsrol in die teks. Die leser begin as ‘t ware die roman met die vooropgestelde idee dat Die Kobra agter die moord en ontvoering sit.

Alhoewel die titel een van die grootste stuurkragte agter die ondersoek is, is dit ook een van die grootste afleidings wat in die teks bestaan. Die titel skep die aanname dat Die Kobra slegs een persoon is. Hierdie aanname word aldeur die teks versterk:

SM: Have you ever heard of such markings?
X: Yes, yes, I’ve heard the rumours, lots of rumours. It’s The Cobra. Very dangerous guy.
SM: Does he work for a 'Ndrangheta?
X: No, (expletive) no, he’s a freelancer, he works for anybody, he’s a gun for hire. (104)

En dan weer op bladsy 120:

“Ons kyk net na buitelandse vlugte sedert Donderdag,” sê Griessel. “Ons weet hy’s bruin, ons weet hy sal seker ’n hoed of ’n bril dra, hy sal bewus wees van kameras, so hy sal wegkyk of sy kop laag hou.” (120)

Die gravering op die geweerdoppies ondersteun verder ook hierdie aanname in die teks:

“Weet hulle iets?”
“Ja, ‘iets’ is seker die beste beskrywing […] Dit is die sestiende internasionale moord met dié ‘slang-handelsmerk’, soos hy dit noem, waarvan hulle weet” […]
“Elke keer die doppies met die slang op?”
“Dis reg.”
“En die teikens?”
“Dis een van die snaakse goed. Hulle sê hulle het min twyfel dis ’n huurmoordenaar.” (100).

Alhoewel hierdie aanname aldeur die teks gesteun word, het Griessel reeds aan die begin van die ondersoek sy bedenkinge daaroor: “Een skieter vir al twee slagoffers, het Dik en Dun gesê. Maar om ’n man te ontvoer gaan moeilik wees vir net een mens” (46).

Daar is verskeie uitsteltegnieke wat in speurfiksie voorkom. Daar word gebruik gemaak van fragmentasie, afleiding en dubbelsinnigheid (Bennett 1979). Die belangrikste tegniek in Kobra is afleiding. Afleiding verwys na die verskuiwing van die aandag na die skadunarratief eerder as die ondersoeknarratief (Bennett 1979:248). Bennett brei uit: “Distraction in the detective story characteristically takes the form of moving the reader’s attention from scionarrative to discourse narrative” (1979:248).

Hierdie vertragingstegnieke kan in die hantering van leidrade in die narratiewe teks gesien word, veral met betrekking tot Griessel se opmerking oor die ontvoering. Hy opper dit teen die agtergrond van sy bespiegeling oor die skadunarratief en daar kan duidelik gesien word hoedat dit dáárteen verdwyn. Die leser se aandag word op die skadunarratief gefokus en hy/sy slaan dus nie ag op moontlike leidrade wat tot die ondersoek kan bydra nie.

Met die ontvoering van Nadia Kleinbooi vind die leser uiteindelik uit dat Die Kobra inderdaad meer as een persoon is:

Die bestuurder kyk vinnig op. Die X-Trail het skielik stilgehou. Die deure gaan oop en twee mans kom aangedraf, elkeen met ’n pistool in die hand […] Die twee mans is hier bý hulle, beweeg onmoontlik vinnig. En sekuur. Die een rig ’n wapen op die voorwiel. ’n Sagte plof, dan die sisgeluid van die band wat afblaas. (168)

Hierdie openbaring kaats as ‘t ware terug in die teks en belig die onderdrukte leidrade wat tevore in die teks teenwoordig was. Wanneer die polisie die twee doppies teëkom en die ooggetuies noem dat twee mans uit die motor geklim het, word daar uiteindelik bevestig dat Die Kobra meer as een persoon is. Daar word dus verder in die teks na “Die Kobras” verwys. Hier word die samestelling van die raaisel en die subtiele hand van die skrywer duidelik sigbaar, al is dit slegs vir ’n oomblik.

 
 

Hiernaas verskuif die raaisel om die vraag “waarom?” te beantwoord. Die raaisel in Kobra is veelvoudig en daar is verskeie teorieë aangaande die ontvoering van David Adair. Dit het duidelik iets te doen met sy antiterrorisme-werk, maar wie het die meeste om te verloor? Soos met enige speurverhaal is motief die kern van die raaisel, en wanneer dit kom by die Adair-algoritme, is daar baie partye wat geweldig baie het om te verloor. Die banke, terroristegroepe en georganiseerde misdaad is van dié wat verdag gemaak word. Wanneer Griessel-hulle te wete kom van David Adair se identiteit, word die banke onder verdenking gebring:

“His main argument was that the black market is worth about two thousand billion dollars per anum internationally, and tracking that money can have a huge impact on the containment and prosecution of organized crime.” […]
“So they’re doing that now?”
“No, sir.”
“Why not?”
“Die banke het dit nie gelike nie, nè […] [T]hey’re making big bucks from black market money.” (90)

Hiernaas word die Britse owerhede se motief vir Adair se ontvoering geopper:

“Ons vermoed hy het daardie nuwe algoritme sonder amptelike sanksie op die SWIFT-stelsel ontplooi. Ons vermoed hy het só inligting bekom oor korrupsie onder die Britse parlementslede.” (202)

Lilian Alvarez betrek georganiseerde misdaad, die banke en die Britse owerhede wanneer sy praat oor al die dreigemente wat Adair ontvang het:

En dan was daar die ernstige probleem wat sy as “his situation” beskryf het: Enersyds sy werk met hoogs geheime teenterrorisme-algoritmes, en andersyds sy protestasie teen die Britse owerhede en die bankbedryf […]
“You should see the threats he received …”
“Death threats.”
“From who?”
“They didn’t exactly sign their names, but he knew it was from people in organized crime.” (302–3)

Alvarez vertel verder ook van die nuwe kategorie mense wat deur die program geïdentifiseer is: “And then he realized that this new group of suspects were probably spies” (311). Die inligting wat Adair se program verskaf, is van onskatbare waarde vir die regte persone, maar wie sit agter sy ontvoering? Met die arrestasie van Joaquim Curado en die opspoor van David Adair word daar geopenbaar wie agter die hele sameswering sit:

“What was on the card?” vra Nyathi.
“A lot of data,” sê Adair.
“What kind of data?”
“The monetary evil that men do.” […]
“Damning evidence of dirty banks […] And then there’s the quite impressive and intimidatingly long list of corrupt government officials.”
“South African government officials?” vra Mbali.
“I’m afraid so” […]
“Good heavens, no. They worked for the banks.” (377–8)

Hierin kan die terugwaartse aard van speurfiksie gesien word en hoedat die speurverhaal gestruktureer is om terug te beweeg. Dennis Porter voer aan dat speurfiksie daarop gemik is om inligting te herwin, “moving forward in order to move back. The detective encounters effects without apparent cause, events in a jumbled chronological order, significant clues hidden among the insignificant” (1981:29).

Wanneer hierdie inligting ontbloot word, kaats dit terug op die verhaal en word sekere gebeure in agterdog geroep. Die versteekte motief van die SSA om betrokke te raak by die saak en hul uiteindelike oorneem daarvan word belig: “‘That is why I asked you to switch of your cell phones’ […] ‘Because I am now absolutely sure that they are eavesdropping on our calls’” (179). Die SAPD se ondersoek word keer op keer belemmer deur die SSA.  “‘That is how they got the SSA and the CI involved,’ sê Nyathi” (378). Hierdie is dan die finale openbaring van die skadunarratief en wys terug op die kerngebeurtenis van die verhaal.

Vir Bennett is die kerngebeurtenis die middelpunt van die verhaal, van waar die vertelling prospektief en retrospektief aangevul word. Sy skryf:

It is the hidden scionarrative that most properly can be said to have been conceived of in reverse by the author, built from its core backward, but obviously this act of “reverse” conception also in some sense antedates and determines the discours, the narrative of detection. (Bennett 1979:242)

Daar is dus ’n sirkelwerking in die teks teenwoordig. Die einde van die ondersoek wys terug op die skadugebeure en bring die leser uiteindelik terug na die kerngebeurtenis in die verhaal, die motoriese moord, die ontvoering in Franschhoek.


3. Simboliek van Die Kobra

Na afloop van die voorgaande bespreking van die speurstruktuur van Kobra sou dit nalatig wees om nie vlugtig te praat oor die simboliek van Die Kobra nie. Michael Ferber skryf in A Dictionary of Literary Symbols oor die slang:

The most important serpent for western literature, of course, is the one in the garden of Eden, who persuaded Eve to eat of the tree of knowledge of good and evil […] The serpent was thus connected with knowledge or wisdom, though a false or even fatal knowledge, and human mortality. (Ferber 2007:186)

Buiten die assosiasies wat in die teks geskep word met die beeld van die slang as dodelik en blitsig, is Die Kobra in die teks op soek na kennis, na die inligting op die SD-kaart, die spreekwoordelike appel van goed en kwaad, en hy/hulle sal enigiets en enigiemand gebruik om daarby uit te kom. Daar is dus meer as die ooglopende simboliek aan die werk in Kobra. Die slang skep die beeld van geslepenheid en aktiveer die Eden-verhaal, Die Kobra as verleier wat die dodelike inligting op die SD-kaart wil versteek. Die verhaal mimeer as ‘t ware die sondeval van die Eden-verhaal, waar Die Kobra die paradys van Franschhoek versteur met die moord op die lyfwagte en die ontvoering van David Adair. Die daaropvolgende misdaad en verwoesting wat gesaai word, is dan die onvermydelike gevolg van hierdie uitval, met die ondersoek as poging om hierdie vervalle paradys te herwin.


4. Slotopmerkings

Met die uiteindelike openbaring van die raaisel in Kobra kan daar gesien word hoedat dié oopvlekking nie alleen op die gebeure en leidrade in die teks terugkaats nie, maar ook op die gebeure in Suid-Afrika, die deurlopende korrupsie en die onlangse “information bill” waarop Mbali wys:

“He was part of the struggle, colonel. Back when the secret service conducted all the important criminal cases […] When everybody was spying on each other. And everything was hushed up in the media […] Now parliament is passing this Security Bill. Why? Because they want to hide things. Now this. State Security  eavesdropping on us, and taking over a criminal case. Just like in the apartheid years. We are destroying our democracy, and I will not stand by and let it happen.” (196)

Alhoewel Meyer se oogmerk nie is om kommentaar te lewer oor misdaad in Suid-Afrika nie, kan daar nie oor die onderwerp geskryf word sonder om dit teen die agtergrond van kontemporêre Suid-Afrika te doen nie. Symons (1979:182) skryf immers:

Murder, and any other crime, is not a part of entertainment, but an integral part of life. We are all murderers, we are all spies, we are all criminals, and to choose a crime as the mainspring of a book’s action is only to find one of the simplest methods of focusing eyes on our life and our world.

Dié jongste roman uit die pen van Deon Meyer is nie alleen ’n kragtige bydrae tot Meyer se oeuvre nie, maar ook tot Suid-Afrikaanse speur- en misdaadfiksie as ’n geheel. Sy meesterskap is duidelik sigbaar in die tekstuele liggame wat hy agterlaat.

 

 

Bibliografie

Bennett, Donna. 1979. The Detective Story: Towards a Definition of Genre. PTA: A Journal for Descriptive Poetics and Theory of Literature, 4:233–66.

Head, Pepler. 2013. Tyd as strukuurelement in speur- en misdaadfiksie met spesifieke verwysing na drie tekste deur Deon Meyer. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Kaapstad.

Hilfer, Tony. 1990. The Crime Novel: A Deviant Genre. Austin: University of Texas Press.

McHale, Brian. 1992. Constructing Postmodernism. Londen: Routledge.

Meyer, Deon. 2013. Kobra. Kaapstad: Human & Rousseau.

Porter, Dennis. 1981. The Pursuit of Crime: Art and Ideology in Detective Fiction. New Haven, CT: Yale University Press.

Swope, Richard. 1998. Approaching the Threshold(s) in Postmodern Detective Fiction: Hawthorne’s “Wakefield” and Other Missing Persons. Critique, 39(3):207–27.

Symons, Julian. 1972. Bloody Murder: From the Detective Story to the Crime Novel: A History. Londen: Faber & Faber.

Thompson, Jon. 1993. Fiction, Crime and Empire: Clues to Modernity and Postmodernism. Urbana: University of Illinois Press.

Todorov, Tzvetan. 1977. The Poetics of Prose. Oxford: Basil Blackwell.  

 

 


Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top