Leo deur Deon Meyer: ’n lesersindruk

  • 0

Titel: Leo
Skrywer: Deon Meyer
ISBN: 9780798183383
Uitgewer: Human & Rousseau

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Hoor julle dit? Luister mooi. Nee, nie die voëltjiesang of die mense se gebabbel nie, ook nie die geklater van eetgerei nie, maar die gedonder van die Rolling Stones op YouTube. Luister:

I see a red door
And I want it painted black
No colours anymore
I want them to turn black

Swart soos Tops se Swart Vrydag-winskopie.

S
W
A
R
T
.
.
.

Krimiresensies wen nooit pryse nie!

Dalk kyk die beoordelaars na iets meer literêrs en kan resensente nie diep genoeg in ’n krimi daarvoor delf nie. Met sommige krimiresensies stem ek hartlik saam. Briljante skrywer, goeie storie, verrassende einde, geloofwaardige dialoog en sielkundige ryp karakters. Maar wat kan jy meer in ’n resensie sê sonder om soos ’n cliché te klink? Kragtoer? Die volgende Deon Meyer?!

Laasgenoemde is egter die probleem. Deon Meyer. Te veel speurders klink soos sy Bennie Griessel. Hoekom weet ek nie, want dis mos een van die onvergeefbare sondes in ’n boek, karakters mag nie dieselfde klink nie. Hoeveel te meer ’n genre. (Daar, ek’t dit gesê!)

I see a line of cars
And they’re all painted black

Sien, almal eenders. Boring. Depressing.

’n Paar nuwe stemme, soos Sidney Gilroy se speursersant Sollie Mthembu en Marie Lotz se kaptein Alek Strauss, is anders. Vars. Jaco Wolmarans (Ivoor en Dolos) skep ook doelbewus iets nuuts met sy voormalige recce Tex Texeira. En Dibi Breytenbach se Buit bewys vir my dat bogenoemde stelling onwaar is, want Buit is ’n literêre meesterstuk en moes, my insiens, vanjaar met ’n string pryse weggestap het.

Máár. Indien die bogenoemde stelling onwaar is, lê die fout aan die voete van die resensente? Nee, ek weier om dit te glo, want van die grootste name in die bedryf resenseer ook krimi’s.

I’ve seen people turn their heads
And quickly look away

Waar lê die fout dan? Of eerder, hoe voeg ons resensente – veral iemand soos hierdie leser wat hoofsaaklik net krimi’s lees – meer waarde toe aan hierdie genre?

Maybe then, I’ll fade away
And not have to face the facts
It’s not easy facing up
When your whole world is black

Gilroy glo dat die regte boek internasionaal sal gaan.

Hierdie aanname beteken dan dat die regte boek aan resensente genoegsame ammunisie sal gee om beoordelaars se aandag te vestig op krimi’s as waardige leesstof. Dus sien ek reikhalsend uit na Jonathan Amid, Elzette Steenkamp en Deborah Steinmair se resensies.

Die resensent

Hierdie resensent worstel met ’n baie erg vorm van posttraumatiese stres. Ek is sedert die Woordfees in so ’n donker plek in my kop dat ek selfs die Woord & Musiek-geleentheid saam met Deon Meyer en Marita van der Vyver in die Atterbury-teater misgeloop het. Tans is dit slaap en lees. Al wat keer dat ek my nie nou aan hemelliedjies oefen nie, is die suurlemoentert en Chai-tee voor my. Hoe de hel Bennie Griessel op ’n dieet kon gaan terwyl hy depressief is, weet die vader alleen.

Die reisskrywer Dana Snyman het vroeg vanoggend gebel omdat ek gisteraand die Swarthond-logo op my Facebook-profiel geplaas het. Vir my beteken dit: Fokkof, los my uit. Iemand soos Snyman weet dit is wanneer ons die lig die nodigste het. My vrees is dat die lig meestal soos ’n naderende trein voel. Op spoed.

Al waarna ek nou smag, is om soos in die Rolling Stones-liedjie alles pikgitswart te verf. Maar ek weet, twee tree regs en ek hang voor bladsy 490 aan ’n das.

Dit is hoekom ek lees. Al wat gedurende my 18 jaar plus agter tralies asem in my siel geblaas het as die Swarthond op my skoot kom lê het, was lees, lees en nogmaals lees. Boeke het letterlik my lewe gered. Ek het gelees, nie net om uit die vier hoeke te ontsnap nie, maar ook – veral – uit my kop.

I have to turn my head
Until my darkness goes

Afrikaanse boeke is egter vrek skaars in die tronk, tensy jy Ena Murray lees. Dit bring my by die skrywer.

Die skrywer

Die 65-jarige voormalige joernalis het in die literêre wêreld geen bekendstelling nodig nie. Deon Meyer is immers drie keer agtereenvolgend (2003 tot 2005) met die ATKV se gesogde prosaprys bekroon vir Orion, Proteus en Infanta. Ek mag verkeerd wees, maar ek dink dit is nie net ’n eerste nie, maar ook ’n enigste.

Op sy kerfstok pryk daar ook tientalle ander plaaslike en nog meer internasionale toekennings, onder andere die Deutscher Krimipreis, die Franse Prix Mystère de la critique, die Grand Prix de Littérature Policière en nog velle meer.

Sy boeke word reeds in 28 tale vertaal en na 40 lande versprei. ’n Paar is ook al verfilm.

Maar dit is nie die skrywer se ongeëwenaarde CV wat my aandag trek nie, maar eerder sy besliste baanbrekerrol in die oplewing van Suid-Afrikaanse misdaadfiksie. Sonder Meyer sou ek vandag nog net in Engels gelees het.

Ek het êrens gelees hy beskou sy eerste boek, Wie met vuur speel, soos ’n boetie in die tronk – jy praat nie daaroor nie. Wie met vuur speel was egter my eerste Deon Meyer en ek het vas geglo hy’s die volgende Kas van den Berg. Min het ek geweet hy gaan met sy eenwoordtitels die misdaadfiksie-genre herdefinieer.

Ek kom later terug na hierdie punt, maar kom ons plaas eers sy karakter onder die vergrootglas.

Die karakter

Bennie Griessel wat ons in Feniks ontmoet, staan op dieselfde podium as Harry Bosch (Michael Connelly) en Harry Hole (Jo Nesbø) wanneer die Internasionale Polisie Assosiasie hul jaarlikse topspeurders aankondig. Die bobaasspeurder wat ’n stryd teen alkoholisme/depressie voer en die ondersoeke in 13 uur7 daeKobra, Ikarus en Prooi lei, is weer te sien in Leo.

Wat is ’n speurder sonder ’n misdaad om op te los of Bennie sonder dranklus om te onderdruk? In Leo word sy troudatum ingespan om ekstra spanning op te bou. Toe sy verloofde, Alexa, hom in kennis stel dat sy vir Lize Beekman bespreek het om op hul troue te sing en “Jissis” uit sy mond glip, voel ek hom. My vrou wil weet hoekom vat ek nie meer aan haar nie. Daar’s niemand anders nie, nie op die internet of in my gedagtes nie, dis net dat ek besig moet bly. Vir Bennie is dit ’n volgende saak, vir my is dit ’n resensie, ’n onderhoud ...

Dit is hoekom ek so baie van Benna hou. Ons is lief vir die vroue in ons lewens, maar ons demone ry ons bloots, dan smag ons na ontsnapping. Anders as hy, is my drankbottel ’n boek.

Bennie het egter baie verander sedert ons twee ontmoet het. Vir een, sy taalgebruik. Dit is amper of hy oor die jare onder sy bevelvoerders verengels het.

Die skrywer van 19 blitsverkopers fokus in hierdie Griessel-dossier ook meer op verhoudings as die fynere detail van polisie-ondersoeke waaraan ek gewoond geraak het. En tegnologie. Dit is waar sy talent as skrywer vir my lê. Alexa is in die begin amper net kort selfoongesprekke. Asof Meyer bang is om sy geliefde karakter totaal aan haar oor te gee. Dit op sigself bou vir my verdere spanning. Shit, sê nou hulle trou nie. Of sê nou iets meer onheilspellends is aan die kom. Ek wil nie spoke opjaag nie, maar Vaughn Cupido is al net so ’n sterk karakter as Bennie. Trouens, met sy skreeusnaakse dialoog steel hy deesdae meer die kollig. En het Meyer nie reeds Mat Joubert vir Bennie ingeruil nie?

Dit is asof die ouer Meyer se rustigheid na sy karakter oorgespoel het. En op ons lesers. Sy eerste boeke kon ek lees terwyl ek ’n vleisie oor die kolle draai, bier in die hand. Wees eerlik, dit is hoe jy vir Lemmer en Joubert sien. Dié boeke het my soos ’n orkaan getref. Met hierdie boek voel ’n glasie rooiwyn na die mees korrekte drankie, want dit het dieselfde elegansie wat ons in gedigte en kortverhale vind.

Vlooi van Jaarsveld van Spoor is ook terug. Blerriewil hoogtyd, moet ek sê. Sy is ook waardig as karakter ontwikkel. Dalk vir ’n alleenstaande boek? En dit bring my by die plot.

Die plot

Ek het nie met die eerste lees van Spoor daarvan gehou nie. Dit het vir my gevoel of Meyer drie afsonderlike boeke begin en dit met ’n paar draadjies verbind het. Dit was egter met die herlees dat ek sy briljantheid daarin gesien het. Hy’t hiermee aan lesers gesê dat hy nie ons intelligensie onderskat nie.

Ek het dieselfde gevoel gekry met hierdie boek, al wissel die niks-met-mekaar-te-doen-dele mekaar (anders as in Spoor) af. Om die leser verder uit te daag, is die boek in klomp fragmente opgedeel, maar nie net met Bennie, Vaughn en Vlooi as fokaliseerders nie. Meyer neem die leser se hand; plaas ons dadelik in die milieu.

Sy troudatum is uiteraard die spanningslyn. In die eindspel voel die aftikkende tyd bo-aan elke fragment soos ’n bom.

Net soos in Prooi en Donkerdrif herinner die boek my aan nuusgebeure. Nuus oor staatsvergrype lig nooit my bui nie.

I wanna see it painted
Painted black
Black as night
Black as coal…

Slot

Ek ruil Rolling Stones se lied vir Fleetwood Mac se “Never going back again” sodat ek dit kan luister wanneer ek weer Alexa se verduideliking daarvan lees.

Meyer se boek kon my nie uit my depressie lig nie. Dit is iets waarmee ek saamleef, iets wat ek self moet oorwin.

Ek lees Hestelle van Staden se bemoedigende WhatsApp oor en oor ... Fokus op wat die Here oor jou sê, nie dit wat jy sien of oor jouself dink nie ... dink nie ... dink...

Ek blaai terug na die gedeelte wat ek op bladsy 226 met pen bekrap het:

Ek weet dis een van my groot probleme, want die fok weet, ek het baie foute in my lewe gemaak. Maar die ding is, dis net so ’n groot fout om stil te staan by mislukkings. Ek dink dis nou tyd om vorentoe te gaan. Ek meen, ons het ons straf uitgedien, Stefaans. Dubbel en dwars ...

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top