Joernaal deur Clinton V du Plessis: ’n lesersindruk

  • 0

Titel: Joernaal
Skrywer: Clinton V du Plessis
ISBN: 9781991256355
Uitgewer: Naledi

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Die digter Clinton V du Plessis het ’n nuwe digbundel met die titel Joernaal gepubliseer. Dit is Du Plessis se dertiende digbundel, en tensy ek onder ’n wanindruk verkeer, slegs sy tweede digbundel wat by ’n tradisionele uitgewery verskyn het. Op die agterblad van die bundel verskyn ’n aantal reëls uit die gedig “Ma, imagine net” (die volledige vers verskyn op bladsy 94). Dit is duidelik dat hierdie vers in ’n kort tyd nogal diep in menige hart ingekruip het. “Ma, imagine net” het in 2019 vir Du Plessis ’n prys gewen in die LitNet Vrouedag-skryfkompetisie, en dit is ook voorgelees deur die museumkundige Beverley Thomas as hoofspreker by geleentheid van die vieringe van Internasionale Museumdag op 28 Mei 2022[1] deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl.[2]

Wetenskaplike metodiek wil jou dryf tot omskryf, kategoriseer, klassifiseer, vergelykings tref en dissekteer, terwyl die Boeddhis in mens die woorde eenvoudig wil in- en uitadem, nie te veel daarop wil broei nie, dit wil laat wees wat dit is. Die aard van digbundels leen sigself nogal goed tot die eersgenoemde, in die manier waarop digbundels in afdelings gestruktureer word. Du Plessis se verse spreek waarskynlik veel meer tot die minder gesofistikeerde leser. Sy hele geskiedenis as digter getuig ook van die stryd van die skrywer teen gevestigde magsordes, die afbreek van norme en konvensie. In die heel eerste vers van Joernaal, word opnuut iets hiervan gehersirkuleer:

Ek was buite die kring
wat luidkeels lof wou besing
wat ’n vriend het ons in klieks
wat net glo tekste moet soos Grieks
ondeurgrondelik dig wees
Aldus ’n belese en berese boekgeleerde (bl 15)

’n Wonderlike vergelyking. Grieks is juis ’n legendaries sinteties taal, in vergelyking met Afrikaans, wat veel meer analitiese kenmerke vertoon.

Met die verskyning van ’n bundel by ’n tradisionele uitgewer gaan dalk so ’n titseltjie verlore van die romantiek van die skrywer teen die wêreld, en spesifiek teen die letterkunde-hekwagters. Maar dit boet nie in aan die leesgenot nie. Du Plessis se gevestigde aanhangers sal alles vind in Joernaal wat hulle oor die jare geleer het om van sy bundels te verwag. Joernaal is wel, by uitstek, ’n besonder persoonlike bundel. Dit skyn dat die outobiografiese ’n buitengewone rol in hierdie digbundel speel. Dit is nog altyd die geval met Du Plessis, en sy aanhangers ken en waardeer sy herinneringsverse. Benewens die herinneringsverse is ook die gebruiklike verse wat besin oor identiteit, die skryf oor verse skryf en perspektiewe op taal en letterkunde.

In teenstelling met Du Plessis se vorige bundel, 60 op 60, wat in 2022 verskyn het, is Joernaal in tradisionele afdelings opgedeel. Dit is veral in die afdeling getiteld “Verwante partye” waar die herinneringsverse die prominentste figureer, met ’n hele aantal verse oor beide sy ouers. Joernaal beslaan vier van hierdie afdelings, waarvan die kortste en laaste afdeling die titel “Amortisasie” dra, ’n skynbare sinspeling op Du Plessis se werk as rekenmeester, maar wat in verband gebring word met die skryfproses. Die verse in hierdie afdeling verwys na bekende Suid-Afrikaanse figure, van wie die meeste Afrikaanse skrywers is. Die meeste is ook ouer skrywers, soos TT Cloete (1924–2015) en DJ Opperman (1914–1981), maar dan is daar ook verse oor Gisela Ullyatt (1977–2020) en Desmond Tutu (1931–2021). Hoewel hulle nie voorheen in druk verskyn het nie, mag sommige van hierdie verse aan sommige lesers bekend wees, aangesien dit wel al aanlyn gepubliseer is, veral op Facebook.

Van Du Plessis se ouer digbundels kan daar nogal gesê word dat hulle redelik somber is in die aanslag en nihilistiese kenmerke openbaar. Dieselfde kan nie van Joernaal gesê word nie. Joernaal wyk egter nie veel af van die gevestigde metodiek van Du Plessis se latere bundels nie, benewens die feit dat dit nie weer ’n selfgepubliseerde bundel is nie.

Du Plessis se sukses as digter is waarskynlik veral daarin gesetel dat sy verse spreek tot ’n veel minder tradisionele lesersgehoor, mense wat dalk nie aldag tipies gelok voel tot poësie nie. Anders gestel, dit is verse wat waarskynlik as meer toeganklik vir die gemiddelde leser beskryf kan word. Iets daarvan vind ook neerslag in die talle verwysings na bekende rockmusikante (Bob Dylan, Leonard Cohen, Bruce Springsteen). En natuurlik is daar ook Charles Bukowski (1920–1994) wat weer figureer.

Hoewel Du Plessis in die verlede kritiese geluide gemaak het ten opsigte van Afrikaanse kanonisering, kommersialisering en, by implikasie, letterkundige pryse, het die verowering van die Avbob-prys in 2022 nuwe deure geopen en nuwe gehore vir sy verse ontsluit. Joernaal weerspieël veel van die tradisionele kenmerke van Du Plessis se latere digbundels, maar soos te verwagte, is die bundel veel meer naatloos.

Eindnota’s

[1] Afrikaanse Taalmuseum en -monument: Internasionale Museumdag-gesprek, “Die mag van museums”, 28 Mei 2022. https://www.youtube.com/watch?v=f5PLTPOHqH8 (5 November 2023 geraadpleeg).

[2] Die geleentheid het heelwat aandag in die media getrek, omdat ’n voorgestelde naamsverandering van die Afrikaanse Taalmuseum by die byeenkoms bespreek is.

Lees ook:

Elders gesien: Oor Kerkorrel en die flipside van “Gee, gee, gee”

“Ek haat die kollig,” sê Clinton V du Plessis aan Jo Els

Boekresensie: Verslag deur Clinton V du Plessis

Verslag deur Clinton V du Plessis: ’n lesersindruk

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top