Titel: Verslag
Outeur: Clinton V du Plessis
Uitgewer: Roepman Uitgewers
ISBN: 9780620835404
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
Om my gedagtes oor poësie en nuwe digbundels uiteen te sit is ’n uitdaging. Ek kan so maklik verval in sentimentaliteit – “Dis so mooi, so bitter baie mooi”, en dié tipe van ding. En ek reken ek sal vergeef word ook. Ek is mos darem nie ’n professor in poësie nie. Maar ek sal dit self dalk weer eendag lees – tot uiterste selfmarteling. Skielik wil ek nes die digter wees. Ek wil elke woord omdraai en inspekteer en weeg … Die ander tersaaklike probleem is dat baie poësie vir my onverstaanbaar is. Ingewikkelde kunswerke wat ek glad nie verstaan nie. Maar dit is nie die geval met Clinton du Plessis nie. Dit is lekker om te weet daar is ’n digter wie se verse ek sonder moeite kan verstaan. Waarin ek al die lief en leed van die land kan lees.
niks is myne
maar alles is tog ook myne
veral die tyd is myne (17).
Hoe swoeg en sweet die mens tog nie om iets bymekaar te maak in die lewe nie? Om ons deeltjie aardse besittings vir ’n wyle te kan afmerk en registreer as ons besittings, en in die proses gee mens dit weg wat die kosbaarste is – jou tyd.
“Boeke en lees versit die tentpenne in die kop” (21). Dit is sinne soos hierdie wat maak dat mens altyd terugkruip na jou gunstelingdigters se boeke toe. Want hulle is woordgimnaste. Of towenaars as jy wil.
Ek lees deesdae al meer Boeddhisme in al meer gedigte in. Die smagting na iets meer eenvoudig. Na ’n ongekunstelde wêreld van vergange dae – ’n lewe van eenvoud en nederigheid en ongekompliseerdheid. Dit het ook hier gebeur. Soos in Du Plessis se “Gebed”:
Gee my weer ’n kersfees
sonder ’n kreunswaar kersboom
in die hoek van die voorkamer
sonder ’n tafel met té veel (35).
Die werklikheid lê inderdaad nie tussen die lobbe van homo sapiens sapiens se loodswaar hoof nie. Want daar krioel dit met te veel bagasie.
Die bundel is opgedeel in drie dele, naamlik “lewe”, “werk” en “dood”. Daar is nie eintlik veel wat ek oor die bundel kan of wil sê nie – die verse spreek vanself. Dit is, soos altyd, poësie wat die hartsnare roer en die aandag gryp en mens meesleur. Verslag is Du Plessis se tiende bundel, en volgens hom ook sy laaste. Dit sal ’n verlies wees vir Afrikaans as dit die geval is dat hy nooit weer gedigte sal publiseer nie.