Titel: Verslag
Outeur: Clinton V du Plessis
Uitgewer: Roepman Uitgewers
ISBN: 9780620835404
Op 24 Maart 2019 skryf die digter Clinton V du Plessis op sy Facebookblad: “Tien was genoeg, tot hiertoe, en nie 'n bundel verder nie.” Volgens die digter is Verslag sy laaste gepubliseerde digbundel. Dit is gevolglik gepas dat Du Plessis se laatwerk Verslag heet, aangesien die digter met (volgens hom) die laaste digbundel bestekopname van ’n lewe neem, waarvan die eindproduk dié driedelige “verslag” beslaan.
Eerstens moet ek kommentaar lewer op die esteties geslaagde wyse waarop die bundel uitgegee is. Ek was besonder beïndruk met die hoë kwaliteit van dié selfpublikasie. Die keurige taalversorging asook die insiggewende kunswerke deur Liezél Els komplimenteer die gedigte. Die pragtige voorblad is ryk aan simboliek en skep die illusie van ’n kyker wat deur ’n sleutelgat loer. Die simboliek word verder gevoer met die sleutel wat op die agterblad verskyn. Laasgenoemde suggereer dat die gedigte – dus die bundel as geheel – die sleutel tot die spreker se lewe bied en sodoende die intieme wêreld van die spreker vir die leser ontsluit. Deur die sleutelgat bespied die leser die spreekwoordelike kronkelende lewenspad, die amper uitgebrande kers, die spoorlyn, die doringdraad en gebreekte glasbottel. Laasgenoemde beelde sinspeel op belangrike tematiek wat deur die bundel as geheel strek. Daarteenoor simboliseer die verskietende ster ook die meer positiewe en vreugdevolle momente van die spreker se lewe. Die leser hou by stek van sake ’n spreker se lewensverslag in sy/haar hand.
Die bundel is in drie afdelings verdeel naamlik “lewe”, “werk” en “dood”. Die bundel toon duidelike elemente van ’n sikliese lewensgang. So word dit dan ook in Liezél Els se sketse simbolies verbeeld: die fetus met ’n naelstring verbind aan die kruis, wat die verganklikheid van die mens simboliseer. Onder die titel “werk” verskyn mynhope, visnette en ’n moeder met haar baba op haar rug vasgebind. Hierdie afdeling fokus op die produktiewe fase van die spreker se lewensiklus terwyl die afdeling getiteld “dood” op gepaste wyse die laaste fase van die spreker se lewensiklus saamvat deur die gebruik van simbole soos ’n trein (wat vertrek op weg na ’n eindbestemming) en die woord “vertrek” tesame met die gepaste lewenslyn op die hartmonitor wat enige oomblik uitgedoof kan word. Die sikliese gang en menslike verganklikheid kom dus sterk aan bod.
Du Plessis haal John Mellencamp in die motto aan: “And I’m glad to say I’ve enjoyed every day / Of the full catastrophe of life”. Laasgenoemde aanhaling uit The full catastrophe versinnebeeld op humoristiese wyse die meerderheid mense se lewensiklus, maar kan veral op die spreker van toepassing gemaak word aangesien die toon van die bundel as geheel beide die hoogte- sowel as laagtepunte in die spreker se lewe verwoord. Die bundel open heel gepas met ’n gedig oor die geboorte van ’n kind in “Oh, boy!”:
Kleinding
jy beur vorentoe
tydsaam, geduldig
jy haas jou langsaam
dan …
pienkerig, nuuskierig
kop eerste, soos dit hoort
bars jy die onbekende ruimte binne
vreemd is die lig en die geluide en die gesigte
en die hande wat jou wil vashou en kyk of
jy voltallig mens is:
skaamteloos kaalgat word jy bekyk
dán skaal toe
die maat van die slag van jou hart
jou asemhaling
het jy al jou tone en al jou vingers?
Reageer jy op aanraking?
En die wagtende familie
wat net gretig wil weet
na wie trek jy?
fraai-klein is jy, vroetelend toe-oog
die hande gebal, gevuis, mond toe,
ma toe, moeder toe, hoeder toe.
Want kyk, ’n kind is gebore, ’n seun is ons gegee.
Wel, welkom
in hierdie lewe, in hierdie wêreld
mag jy verwonderd bly
soos nou
mag die onskuld en opwinding
van die eerste hoepel om die vaatjie
wees, vir jou ouers vreugde verskaf.
[…]
Maar, bowenal, wortel diep, anker jou
groei op ons elkeen, rank vas in almal in
sodat jy eendag koelte mag maak
vir vele.
Ook die reismotief kom in die eerste afdeling voor in gedigte soos “Karretjie” (waarin Du Plessis oor die Karretjiemense dig) en “Reisjoernaal”. Die digter ondersoek ook deur middel van die spreker die mens se soeke na sin in die lewe. Sosio-ekonomiese aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing tree sterk na vore in gedigte soos “Bossies”, “Dop” en “Things fall apart” wat intertekstueel met Chinua Achebe se gelyknamige roman in gesprek tree. In die liriese gedig “Gebed” verlang die spreker terug na die eenvoud van sy jeug op die platteland:
[…]
Gee my weer ’n kersfees
op ’n dorp op die platteland,
met slegs ’n kers se lig
wat dapper teen die dood se donkerte
bly brand,
nie al flouer sal flakker nie.
In “Outsider” verleen die spreker die leser ’n blik op sy mees intieme binneste:
Buite,
op die kant, grensmens:
die tafel in die hoek
die aangebore vloek,
sku vir aandag, afsku
vir glans en lens.
Die suiwer stilte is syne.
Hy pluis die los drade
van sy binneste,
alleen uit.
Randfigure en die onderdrukte werkersklas se wekroep word in gedigte soos “Joe Hill” (die Sweeds-Amerikaanse vakbond- en werkersaktivis), “Sela”, “O, aarde”, “One-armed bandits”, “Sleur”, en “Matesis” (om enkeles te noem) belig. Du Plessis verwoord op juiste wyse die noodlot van die werkersklas en die stryd wat miljoene Suid-Afrikaners daagliks voer om te oorleef. Sy gedigte spreek tot die hart van die leser en slaag daarin om sonder enige soetsappigheid of blote soeke na empatie die spreekwoordelike skille van die leser se oë te verwyder. Die digter ontbloot die sosio-ekonomiese realiteit van Suid-Afrika op eerlike wyse deur die toeganklikheid van sy gedigte – sonder opgesmukte soeke na sensasie. So vertel die digter die verhale van Thandisizwe, die rotsbooroperateur asook “Lola, from Atlantis” wat haar liggaam vir oorlewing te koop moet aanbied.
Binne
Sel, slot en sleutel.
Dié lewe is ’n horlosie
wat hakkel-hakkel die minute aftel
hier is die dae veel korter
word die nagte een lang folterende hel
hier is brokkies son, wolk en hemel
vir ’n uur per dag, ’n luukse. […]
Die slotafdeling fokus hoofsaaklik op die dood hetsy deur misdaad of natuurlike oorsake. Hulde word ook deur middel van lykdigte aan bekende figure soos Dulcie September, Ryk Hattingh, Tom Gouws, Lionel Snyders, Faith Snyders en Charlton Alexander gebring. Een van die treffende gedigte in die afdeling lui soos volg:
Interlude
Vanaand wil ek niks verder skryf nie,
swyg, die woorde vir ’n wyle laat gaan
want kyk, reeds het Neruda sy hartseerste reëls gepen
die leë barre landskap van verdwene, verlore, vergete liefde pynlik
verken
ek hoop egter om nog ’n keer, soos ’n swaksiende met sy vingers,
verse op jou vel te voel, jou omgee-teks te lees
sonder haas, glo dat alles wat eens was,
miskien weer sal wees
op hierdie aand wil ek elke helder ster uit die hemelruim
oes, sodat daar altyd in ons duister kelders lig sal skyn
as die volgende winter koud en driftig verskyn
vanaand bid ons die horlosies moet om middernag gaan staan
sodat ons tyd uit mag koop,
om terug op ons twee se spoor te loop
en al die los drade weer versigtig vas te knoop
sodat ons, sonder onderbreking,
na die simfonie van ons saamwees mag luister
Die bundel word afgesluit met “Aard” – sekerlik een van die mooiste verse in die bundel.
[…]
Maar, as die reën se eerste druppels
plof in die stof
en die aarde stadig opstaan en oopgaan
wens ek ek kan God
verwelkom met ’n koue een
met Hom op die groot stoep sit
en die druppels fyn op ons wange voel.
Net hiér, net hiér, by dier
en veld en twyfel en worstel
en pol wat groen deur die roesbruin kors bars,
net hiér
moet jy my kom inspit
sodat ek in die aarde vas kan groei.
Verslag is ’n weldeurdagte bundel en sluit tematies sterk by Du Plessis se Aantekeninge teen die skemeruur aan . Du Plessis is myns insiens een van Afrikaans se mees onderskatte digters wat gedurende sy skryfloopbaan (tot op hede) nie die nodige erkenning ontvang het wat hom toekom nie. Dit sal ’n jammerte wees indien dit wel Du Plessis se laaste gepubliseerde digbundel is. Met Verslag demonstreer Du Plessis sy fyn aanvoeling vir die menslike psige. Hy is een van die min Afrikaanssprekende digters wat die lot van die gewone man en vrou op toeganklike dog deernisvolle wyse verwoord. Sodoende word ’n spreekwoordelike stem aan die stemloses en randfigure in ons samelewing gegee. Verslag is ’n geslaagde bundel wat ’n digterlike oeuvre wat dekades strek (indien dit die laaste een is) op gepaste wyse afsluit. Die digterlike siklus word hiermee voltooi.
Kommentaar
Lieflike werk Clinton du Plessis. Ek is baie erg oor hierdie man se skrywes.
Stem saam ek het hierdie bundel ook baie geniet.