...
My latere werk is egter meer “verbruikersvriendelik”, maar nog steeds nie noodwendig wat die smaakmakers sou verkies nie – ek vertel stories in versvorm.
...
Clinton, in die bundel Rangeer, wat jy voorheen na verwys het as jou “gunsteling”, het jy voorin vir my geskryf: “Ons het roet in ons are...” Maar ons al twee weet dat, hoewel ek fisies langs raserige treinspore grootgeword het, daar tog ’n grootse verskil was in grootword aan die “regte of verkeerde” kant van daardie ysterspore. In ons geval was dit die onderdorp, die rooipolitoerhuisies eenkant geskuif, ’n tipe segregasie op sigself, maar tog steeds bevoordeel – was jy ooit bewus van enige gevoel van samehorigheid met ander spoorweggesinne?
Selfs al was daar ’n gevoel van samehorigheid, van ’n gedeelde lot as gevolg van jou afrangering op die sosiale leer, is dit waar dit gebly het. Die skeidslyne is té duidelik getrek, daar was geen, of bitter min interaksie tussen “ons” en “hulle” nie.
’n Deurlopende kenmerk van die meeste van jou bundels is jou onvoorwaardelike liefde teenoor jou ouers. Jou oorlede vader Robert as gewone spoorwegwerker wat ook sekerlik jou bewus gemaak het van die fyner nuanses in die lewe (sy koerantlees en sy subtiele intrede met jou versugting om Die groen ghoen te kon lees...), en jou moeder Susan, wat reeds in haar negentigs is, as ’n ongeletterde huisvrou wat haar gesin versorg het. Jy het in verskeie ontroerende gedigte hulde gebring aan hierdie twee mense. Jy het al gewonder wat jou moeder sou kon verrig met geleerdheid, sou jy jou letterkunde met jou vader kon bespreek?
Ek het onbetaalde skuld teenoor my ouers, so hierdie is ’n manier om hulde aan hulle te bring, klein woordmonumente vir hulle te bou. Ja, ek dink my ma sou ver kon vorder indien sy die geleenthede gehad het, maar miskien is dit ook maar net die manier waarop dinge moes gebeur. Juis as gevolg van dit wat sy moes prysgee, maak my meer vasbeslote om iets te wil bereik.
My pa weer sou seker op die stoep kon sit met ’n boek of twee van my en op sy kenmerkende reguit manier my teregwys en sê: “Hier het jy die kat vieslik aan die stert beet.” Iewers in die 80’s het ek, vreeslik opgewonde, hom laat luister na ’n kasset van ’n alternatiewe Afrikaanse kunstenaar, hy het so droogweg opgemerk: “Hierdie ou sing skoon k*k.” Ek mis sy opinie, sy aansporing.
Ek is so dankbaar dat daai middelvinger penregop bly en nie gebuig mag/kan/sal word nie, want jy is vir my ’n “volksdigter”, ’n digter met die vermoë om uit die grond uit te skryf, wat soos ’n skerpskutter op grondvlak sarsies afvuur wat kontak maak en nie bloot salvo’s oor die boomtoppe die lug in laat vlieg nie. En ek, en baie, kan sekerlik vereenselwig met onvrede wat jou dwing om jou gewete en hart met jou woorde oop te kloof. Het die onlangse AVBOB-prys, in erkenning van jou woordkuns, gemengde gevoelens by jou ontlok? Want ek weet jy is die een digter wat nie spesifiek skryf vir kommersiële of letterkundige lofsange nie?
Definitief, gemengde gevoelens. Ek haat die kollig, maar sal lieg as ek nie ook erken dat hierdie tipe blootstelling, dan juis met ’n wengedig oor my pa en die baie underdogs en vergete mense, iewers my laat goed voel nie. Buite doen dit die gemoed goed, maar dit is soms effe koud en alleen ook.
Daar was ’n insident in jou matriekjaar waar jy die formele skoolafskeid geboikot het, omdat ’n medeleerling volgens jou waarneming onregverdig behandel is. Jy het die skerpkant van onreg en ongeregtigheid van vroeg af pynlik ervaar – ek dink weereens aan Die groen ghoen en Vrypas – ná 1994 het baie van “ons” ’n opgewonde euforie gehad; oor wat kan wees. Fast forward na 2022 en die land gaan gebuk onder algemene disfunksionaliteit en korrupsie, en diskriminasie en rassisme floreer steeds. Jy is uitgesproke in jou gedigte hieroor – ten spyte van baie positiewes, hoe ervaar jy groot dele van die gemeenskap wat nou dalk onder ’n nuwe, ander “apartheid” leef?
Vir groot dele van die bevolking is daar sedert ’94 (ongeag al die mankheid waaronder ons gebuk gaan) steeds voordele wat hulle nie voorheen beskore was nie, ons moet dit nooit vergeet nie. Dat daar erge vergrype is en ’n soort van “roughshod ride”-houding is, kan ook nie ontken word nie en dit moet met alle mag beveg en luidrugtig aan die groot klok gehang word. Tog bespeur ek ’n tamheid onder die ouer garde, en ’n ons-gee-nie-’n-hel-om-nie-houding onder die jonger geslag, wat kommerwekkend is, ’n soort van fatalisme as “things fall apart”.
Ek besit (feitlik) al jou digbundels, maar keer op keer vind ek myself terug by Die groen ghoen, ’n stuk lewensgreep wat my soos ’n dolk in die sy steek, die onreg wat ’n kind aangedoen is, ’n onthou van my eie sorgvrye skoolvakansies deurgebring in Adelaide en Molteno se biblioteke; geen toegang voorbehou nie.
“Baas Mike – Ag Here, Robert, dis tog net ’n kind, en ’n boek, wie kan vir so iets nee sê.” Kan jy nog ’n gesig by die naam sit? Net die naam Mike...
Vaagweg, ja. Ek is hom oneindig dankbaar, eintlik albei van hulle vir die “ondermyning”.
Met die komende bundel 60 op 60 betree jy ook nou die sogenaamde “winterjare” – jy het al voorheen aangedui dat jou vorige bundel die laaste een sou wees, tot uitroepe van protes deur jou aanhangers. Asseblief, kan ons steeds uitsien na nog woordkuns om jou lesers te ontroer en te ontstig, na ’n 70 op 70 selfs? ’n Rebel se oorlog is nooit verby nie.
Skryf kom sit in jou bloed, jy bly hoer met jou spoke, van boek na boek. Daar is nog woord- en versverset in my oor, of ek egter die energie het tot 70, weet ek nie.
Nuus vir die aanhangers – daar is tans ’n nuwe digbundel tussen ’n keurder/redigeerder en Naledi vir vrystelling iewers volgende jaar.
Dis redelike algemene kennis dat Clinton V du Plessis nie ’n swemmer saam met die hoofstroom is nie, wat meestal effe eenkant van die hooftrop loop, die uitsondering op die gewone reël. Jy gee (meestal) jou eie boeke uit, dit het sekerlik voor- en nadele? Wat was die dryfveer hiervoor?
Aan die begin van my skryfloopbaan het ek baie eksperimentele anti-poësie geskryf. Dit was beswaarlik bemarkbaar of vir die breë leserspubliek bestem – ek het die meeste gratis of spotgoedkoop beskikbaar gestel – die winsmotief het toe sleg tweede gekom.
My latere werk is egter meer “verbruikersvriendelik”, maar nog steeds nie noodwendig wat die smaakmakers sou verkies nie – ek vertel stories in versvorm. Daar is ’n algemene wanpersepsie dat om self uit te gee ’n daad van literêre selfbevlekking is. Ek sien die Nederlanders praat van “uitgee, onder eie beheer” – dit som hierdie verskynsel beter op.
Jy kan, met die huidige tegnologie en die beskikbaarheid van goeie vryskuthulp, ’n verkoopbare boek publiseer, wat nie te sleg afsteek teen dié wat die tradisionele pad gestap het nie.
Voordele oorskry, vir my altans, die nadele. Jy neem die risiko en die groter opbrengs maak sin. (Ongeveer 12% outeursgelde op ’n bundel gedigte is darem maar skaars geld, en in ’n bloemlesing deel ’n bondel skrywers en die samestellers die sente.) Een groot nadeel is dat jy nie die promosiemasjien tot jou beskikking het wat die hoofstroomuitgewers agter ’n boek kan indruk nie. Hulle sorg dat skrywers gesien en gehoor word (want die belegging moet ’n opbrengs lewer, en dit is hulle besigheid en brood), maar dit staan my nie aan nie.
Ná baie jare as ’n (volks-)digter en skrywer het jy skouers geskuur, om etenstafels gekuier, feeste bygewoon saam met jou tydgenote in die letterkunde. Is daar besondere herinneringe of ontmoetings wat oombliklik in jou geheue uitstaan, ten opsigte van ’n oomblik of ’n spesifieke persoon?
“Volksdigter” is ’n gevaarlike en gelaaide konsep (nee, ek verstaan wat jy bedoel).
Definitief was daar ontmoetings wat, al was dit ’n vlugtige handdruk of uitruil van woorde, ’n groot indruk op my gemaak en gelaat het. Dit sal onregverdig wees om net een te noem, alles het ingewerk op my verstaan van die land en hierdie taal en die besef: “Almal is nie so nie.”
Op my e-posse lê daar twee skrywes van Adam Small (ek koester albei), ander ontmoetings: Breyten Breytenbach op Richmond, Gerrit Komrij in Durban, Nijmegen en Stellenbosch, ’n kuier by Wessel Pretorius, Johan van Wyk, Jan Rabie, Jeanne Goosen en Etienne Leroux.
Kommentaar
Jo Els en Clinton du Plessis, twee here wat ek albei bewonder. Dit is nou werklik 'n wonderlike onderhoud. Baie dankie aan beide vir die lieflike onderhoud. Ek sou dalk wel korter vrae en langer antwoorde wou sien (met die eerste klompie vrae, dit word wel later aan beter). Maar ek kom jou geensins by nie Jo inteendeel. Ek het darem self jare terug klomp onderhoude moes doen vir my geskiedenisnavorsing wat ek desjare onderneem het en nou ja, ons kan ongelukkig nou nie almal 'n Hanlie Retief wees nie, nie waar nie ne? Dit bly 'n fantastiese artikel ongeag my klagte.
Baie dankie vir hierdie be artikel. Ek "ken" hom nou bietjie meer.