Onsigbaar deur Deon Meyer: uiters relevant vir vandag se leser

  • 0

Klik en koop!

Onsigbaar
Deon Meyer
Human & Rousseau
ISBN-13: 978-0-7981-4896-2
Sagteband met flappe
384 pp


Liefhebbers van die werk van Deon Meyer sal bly wees oor die verskyning van dié nuwe spanningsroman van hom, getitel Onsigbaar; en hulle het rede om bly te wees. Meyer hanteer die genre van die spanningsverhaal met groot vaardigheid, wat hom, volgens die reklame op die buiteblad, “die gewildste spanningsverhaalskrywer in Afrikaans” gemaak het; maar hy gee ook ‘n diepte aan sy verhale wat hulle aantreklik maak vir lesers wat na meer as spanning soek.

Die hoofkarakter, Lemmer, vroe?r lyfwag van meer as een minister, hou hom besig met reparasies aan sy huis op Loxton wanneer hy die opdrag kry om as beskermer op te tree vir Emma le Roux, wie se veiligheid deur onbekende mans bedreig word. Spoedig word Lemmer ook betrek by Emma se soektog na haar broer, wat jare gelede onverklaarbaar verdwyn het, maar van wie daar tekens is dat hy nog lewe.

Vir die leser op soek na die bekende bestanddele van die spanningsverhaal is hier meer as genoeg. Daar is ‘n stewige kwota van gevegte, verwondings en moorde; ‘n knypie seks; en uiteindelik ook ‘n dosis liefde. Spanning is daar in oorvloed - spanning wat terugreik na die verlede asook na die toekoms. Spanning oor die verlede het onder andere te make met raaisels omtrent Lemmer, van wie die leser weet dat hy ‘n tyd in die tronk deurgebring het, maar sonder om die besonderhede van die tronkverblyf te ken.

Lemmer is iemand wat nie maklik gesels nie en dit verg ‘n uitsonderlike situasie om hom aan die praat te kry. So ‘n situasie ontstaan wanneer Emma ernstig gewond word en in ‘n koma gaan. Haar spesialis raai Lemmer aan om met haar te gesels om haar brein te stimuleer – maar die wyse dokter besef waarskynlik dat ook Lemmer die terapie van ‘n openhartige gesprek nodig het. In ‘n aantal pragtige tonele bieg Lemmer dan aan die bewustelose vrou oor homself en sy verlede; terselfdertyd dring die besef geleidelik tot hom deur dat sy gevoel vir Emma meer is as ‘n professionele verantwoordelikheidsin teenoor sy kli?nt.

Raaisels oor die verlede het ook te make met Jacobus le Roux, die verdwene broer van Emma. Soos Lemmer, is hy verwond deur die verlede, maar nie in staat om te praat oor die dinge wat hom verskriklik seergemaak het nie. Uiteindelik openbaar hy tog sy geheime verlede aan Lemmer, en hierdie vertelling werk helend vir hierdie twee mans met soortgelyke littekens – vir Jacobus open die gesprek nuwe moontlikhede vir uitkoms, en Lemmer slaag vir die eerste keer daarin om empatie te toon.

Naas spanning oor die verborge verlede hou die skrywer die leser voortdurend in spanning oor wat verder in die verhaal gaan gebeur - of Lemmer die skuldiges gaan vind en vastrek. Die roman loop op tot ‘n klimaks, ‘n dubbele spanning, wanneer die verhaal van Jacobus le Roux afgewissel word met die vertelling van die groot geveg op ‘n afgele? plaas tussen Lemmer en ses skurke wat daarop uit is om hom te vermoor.

Sentraal wat die spanning betref is natuurlik die vraag: Wie is die skuldige(s)? Op ‘n meesterlike wyse speel Deon Meyer ‘n spel van misleiding met die leser; die verhaal ontwikkel deur die een verrassende wending na die ander, tot by die uiteindelike briljante ontknoping. Dit word, by herlees, heel prettig om na te gaan hoedat Lemmer, selfversekerd in sy veralgemenings, hom keer op keer misgis in sy oordeel oor ander, en die leser meevoer in sy foutiewe oordele. Lemmer se mistastinge hou verband met die feit dat hy homself nie wil oopstel vir ander om hulle van nader te leer ken nie.

Die verhaal word in die eerste persoon en in die teenwoordigetydsvorm vertel – Lemmer vertel dus self wat gebeur terwyl hy die handelinge uitvoer. Hierdie ietwat gekunstelde vertelperspektief is besonder funksioneel - dit suggereer dat Lemmer, in al sy optredes, steeds gevange in die “ek” bly. Daarom is dit vir hom so ‘n bevryding wanneer hy deur Emma se broer Jacobus die kans kry om deel te wees van ‘n verhaal waarin “’n ander ek” op die voorgrond tree, sodat hy buite die kring van die self kan tree.

Dit het feitlik ‘n waarmerk geword van die werk van Meyer dat die hoofkarakter iemand is wat innerlike heling ondergaan. Dit is dan ook hier die geval. Lemmer se reparasies aan sy huis op Loxton is simbolies van die psigiese “reparasies” wat hy self moet ondergaan. Vir sy psigiese heling kan hy, anders as met die huisbouery, nie sonder ander se hulp klaarkom nie. Lemmer is een van die “onsigbares” van sy werk, dié wat op die periferie beweeg, wat “saamsmelt met die omgewing waardeur die kli?nt beweeg” (p 27). Hierdie onsigbaarheid, wat deur die titel van die roman beklemtoon word, bring ‘n identiteitsloosheid mee. “Ek wil van geweet wees,” sê Tiemie in die drama Siener in die suburbs. So ook besef Lemmer mettertyd: “Ek wil gesien word” (p 175). Om ‘n identiteit te verwerf moet hy deur iemand anders raakgesien word, moet hy deel van ‘n netwerk van verhoudings word. Op Loxton beland hy vir die eerste keer in ‘n gemeenskap waar hy raakgesien word; deur Emma leer hy wat verkeerd met die wêreld is, en ook met hom, Lemmer:

Almal het oorfone en almal leef in hierdie klein, eng wêrelde waarin niemand iemand anders wil hoor nie, elkeen wil net na sy eie musiek luister. Ons sluit onsself af (...) Ek wil nie só leef nie. Ek wil mense hoor. Ek wil mense ken. Ek wil vir jóú hoor. Nie wanneer jy praat as die stil, sterk lyfwag nie. As ‘n mens. Met ‘n geskiedenis. Met menings en perspektiewe (...) Dit is hoekom mense rassiste word, en seksiste en terroriste. Omdat ons nie praat nie, omdat ons nie luister nie, omdat ons nie wéét nie, omdat ons net in ons eie koppe leef” (p 95).

Dit is veral Emma wat Lemmer tot persoonlike betrokkenheid lei; maar uiteindelik moet hy ook self ‘n keuse uitoefen om ‘n identiteit te verkry. Dit gebeur wanneer hy besluit: “Ek wil iets word (...) Ek wil ‘n verskil maak. Ek wil ‘n onreg omkeer” (p 318). Deur ‘n verskeidenheid faktore het daar nou genesing gekom van die psigiese skade wat hy in sy ouerhuis gely het; die gewelddadigheid wat as gevolg daarvan in hom ontwikkel het, is gestuit; en hy het ‘n mens geword, met ‘n sigbare identiteit.

Die tema van heling het ook ‘n relevansie vir die land as geheel, in sonderheid vir die blankes. Die verstandige Minister van Vervoer, wie se lyfwag Lemmer eens op ‘n tyd was, stel dit soos volg:

Umuntu ngumunto ngabantu (...) Dit is waar die woord "ubuntu" vandaan kom. Dit beteken baie dinge. Ons kan net ‘n mens wees deur ander mense. Ons is deel van ‘n geheel, van ‘n groter groep. Onlosmaaklik. Die groep is die individu. Dit beteken ons is nooit alleen nie, maar dit beteken ook skade aan ‘n ander is skade aan jou. Dit beteken meelewing en respek en broederliefde en deernis en empatie (...) Dit is wat die wit man in Afrika moet soek. En as hy dit nie kry nie, gaan hy altyd ‘n vreemdeling in hierdie land wees (p 256).

Die erns van die roman word goed gebalanseer deur die sprankelende, humorryke dialoog. ‘n Mooi voorbeeld kom uit die gesprek tussen Emma en Melanie Posthumus, die liefdevolle, dommerige meisietjie wat op Emma se broer verlief geraak het. Sy vertel van haar eerste ontmoeting met Jacobus:

En toe kom Cobie verby, hy was koöperasie toe om goed te gaan haal met sy bakkie, en al wat hy sien, is hierdie meisie wat met haar arms op haar sye langs haar pap wiel staan en toe stop hy. "Is dit nie serenity nie?" Eers met die tweede gebruik van die woord snap ek sy bedoel seker "serendipity" (pp 105–6).

En wanneer sy vertel van ‘n ou myn in die omgewing, sê Melanie op ‘n gesaghebbende toon: “Daar’s Afrika-mense wat al 40 000 D C goed uit die grond gehaal het” (p 107). 

Onsigbaar is ‘n spanningsvolle, speelse, prettige en diepsinnige boek - uiters relevant, veral vir die Afrikaanse leser van vandag. Net twee keer maak die boek ‘n gedateerde indruk: die twee keer dat verwys word na wat alles met ons rugby verkeerd is. Die roman is kennelik voltooi voordat Eddie Jones sy opwagting by die Springbokspan gemaak het!


 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top