Die laaste tango
Draaiboek en regie: Deon Meyer
Rolverdeling: Louw Venter, Antoinette Louw, Marius Weyers, Stian Bam, Lukmaan Adams, Rob van Vuuren
Dis ’n verrassende verskynsel dat die meeste resensente hierdie film lof toeswaai, en gehore – byna sonder uitsondering – die film geniet. Hier skuil egter ’n wesenlike gevaar.
Dis ’n prima voorbeeld van hoe die filmbedryf in Suid Afrika – pas ’n paar jaar aan’t herlewe – nou die swak produk van ’n te vinnige produksielyn moontlik maak. In Amerika beland tienduisende films in die snippermandjie; net die bestes word versprei. In die klein landjie Suid-Afrika moet ons met meer omgee met ons beperkte mark omgaan.
Die Laaste Tango is ’n vermorsing van ’n geleentheid, soos ons in te veel plaaslike films aantref. As Suid-Afrikaanse films op hierdie trant voortgaan, sal dit uiteindelik sy eie sterfte ontwerp, en niks vir die nageslag nalaat nie.
’n Film soos Faan se Trein, wat sonder twyfel gewild en uitstekend sal wees, sal hopelik hierdie mode verander: wanneer mense vermaak word, én trakteer is op kwaliteit. Dat ’n film gewild is, beteken nie hy is goed nie.
Waarin lê die verskil?
Faan se Trein het aan boord: spelers, kameraspesialis, ervare regisseur. Die teks het hom al op die verhoog bewys, maar is herskryf vir film, en sal hom nog dáár moet bewys. Mag hierdie kultuurskat die teendeel van die swak, gewilde film bewys.
Hoekom is die Afrikaanse film op die randjie van kulturele ineenstorting? Dis die moeite werd om Die Laaste Tango te ontleed as tydige wakkerskrik. Hier is seker Suid-Afrika se mees bekroonde en vertaalde skrywer. Hy het na aanleiding van sy sukses as skrywer al etlike TV-reekse geskryf. Hy het nog nie sy hand gewaag aan ’n wyedoekfilmteks, met een van sy eie boeke as bron nie. Die Laaste Tango het hy spesiaal as film geskryf. Die vervaardiger, Diony Kermpen, was aan die stuur van suksesse soos Jakhalsdans. Deon Meyer sit self in die regisseursstoel.
’n Regisseur skep ruimte vir akteurs, sy kameraspan, sy beligtingspan, sy stelinkleders en sy kostuumdepartement om die karakters wat teenoor mekaar optree, in ’n lewensgetroue, realistiese, “slice of life”-situasie teenoor mekaar te kan laat “leef”. In Die Laaste Tango sit – behalwe die tango en die twee aksietonele – elke akteur passief en lewer dialoog. Sodoende is 80 persent van realistiese aksie – die alledaagse optrede van mense, die magiese van mense se fisiese gedrag, hul magnetiese aantrek tot of afstoot van mekaar, en die spel tussenin, daarmee heen. Akteurs moet geforseerd desperaat lewe gee aan onnatuurlike, passiewe situasies. Om hulle heen, weer met uitsondering van die tango-toneel, is stelinkleding karig. Leë lessenaars is byvoorbeeld nie die omgewing van speurders in die filmwêreld nie.
Die ruimte wat vir akteurs gestel word, is wat hulle werk aangenaam en uitdagend maak. In Tango word spel en verhaal nie aangevul met geloofwaardige prentjies nie.
’n Regisseur moet ook sy prentjies en teks aanwend as parallelle, om die kyker elke tree saam te neem op die pad van die storie. ’n Gehoor wat verwar word, moet hulle geld kan terugvra.
Nog voorbeelde van sulke verwarring in Tango is:
1. ’n Man ontsnap in die Kaap. Die ontsnapte kyk op Loxton deur ’n venster na sy slagoffers. Hy vermoor hulle. ’n Waenhuisdeur in die Kaap gaan oop, en ’n motorvoertuig met ’n Noord-Kaapse (die wêreld van Loxton) registrasienommer word gewys. Die motor, met die moordenaar agter die stuur, ry nou uit die Kaap na Loxton.
2. Die hoofkarakter dwing die polisieman om die tango aan te leer. Skielik stel sy hom voor ’n ultimatum: hy moet vir haar sê hoekom hy die tango wil leer. Die antwoord moet voor die hand liggend wees: Want jy dwing my!
3. Die tegniese goue reël van films – om nie “oor die lyn” te verfilm nie, geld hier nie. Talle kamerahoeke verwar, omdat dieselfde karakter van een skoot na ’n volgende in ’n ander rigting kyk. Neem die aand toe die speurder in die donker staan en kyk na waar hy die meisie verwag, en die nabyskoot daarna.
4. Met beligting vermag die kinematograaf ’n geheimsinnige gevoel, maar skep goeie vermaak en kuns as hy die “figuur in die donker” effe belig. Net die silhoeët van die persoon kan sigbaar wees, eerder as om die belangrikste karakter in ’n visuele medium in die donker weg te steek.
5. Talle visuele aspekte dra verder tot die teleurstelling by. Die skelm word doodgeskiet en sy gesig word gewys met ’n verleë, skolastiese kameraskoot. Die rigting waarin Stian Bam se karakter in die hospitaalbed kyk, onderskat die intelligensie van die kyker erg. Tydens die wyer kameraskoot op hom kyk hy na iemand langs die hospitaalbed. Wanneer ’n nader kameraskoot gebruik word, word die rigting waarin hy kyk, so verskriklik aangepas dat dit lyk of hy na iemand bo hom kyk.
6. Van kontinuïteit is daar by Die Laaste Tango nie sprake nie. ’n Toneel waartydens dit buite nag is, se binnetoneel is skielik daglig. Dis een voorbeeld van vele.
7. Hoekom sal talle tonele nie een van twee of meer karakters, trouens niémand, in fokus wys nie?
8. Die kleurbehandeling van verskillende kameraskote is nie gedoen nie. Dis die proses wanneer die film geredigeer is en tegnici moet sorg dat kleure en lig van opeenvolgende skote in dieselfde milieu ooreenstem.
9. In die klassieke teater is alreeds beskryf hoe ’n goedgeskepte karakter een is waarby ontwikkeling plaasvind. Die beginsel geld by talle aspekte van vermaak. Selfs oomblikke is talle vlakke diep. Hier is elemente daarvan in byvoorbeeld die hoofkarakter se “kortvat” van die speurder. Ongelukkig ontwikkel dit geensins nie. In plaas daarvan dat die keurige aktrise gelei word deur die tallose verskeidenheid moontlikhede van “mens”, spring haar oomblikke tussen tranerige emosie en moerigheid. Is die teks nie juis bewys van hoe verruklik hierdie persoon is nie? Hoekom sal sy nie doodgewoon passasies beleef waar sy pure pragtige, saggeaarde mens is nie? ’n Uitstekende geleentheid waar die aktrise, met die hulp van ’n regisseur, sou kon uitstyg, soos wat sy die vermoë het om te doen, is wanneer sy vir die speurder sê dat sy nie tyd aan haar kant het nie. Die hele argument is emosiegedrewe, wat die geleentheid steel om die gehoor te verras. Sou sy as doodgewone mens dialoog kon lewer, dan so emosioneel word as sy haarself nie meer kan handhaaf nie, en uitbars met emosie: “Ek het nie tyd nie.” Daardie verrassing, wat die kyker se emosie onkant betrap – dis wat die rol van die akteur, die rol van die regisseur, en die rol van die skrywer so spesiaal maak. Hierdie aktrise is ’n interessante keuse, en is – gemeet aan ander werk van haar in verskeie media – heeltemal in staat hiertoe. Maar sy het die leiding nodig van iemand wat kan regisseer op die standaard wat Deon Meyer kan skryf.
10. Talle akteurs/aktrises het al pryse gewen met aggressiewe spel – die maklikste vorm van toneelspel. Dis bloot die aksie, intensiteit en energie wat ’n beoordelaar wat nie sy sout werd is nie, laat dink dis goeie spel. Die teenoorgestelde – wanneer ’n akteur werk met nuanses van allerlei aard – is ’n baie moeiliker opdrag. En hier het die “low key”- poging van die hoofakteur, as hy in sy PTS-toestand probeer funksioneer, bloot te lae energie.
11. Die monoloë wat, soos ’n radioverhaal met prentjies, off set is; met ander woorde, terwyl die volgende toneel se prentjies nog aan is, begin die verteller al praat oor die toekoms – of die omgekeerde hiervan – kan mooi werk. Maar die vertellinge is ongelukkig voorgedra soos eisteddfod. Illse Oppelt is ’n billike aktrise wat, met leiding, beter sou kon gevaar het.
12. Die speurder wat op ’n klein dorpie beland waar hy nie eens sy deur hoef te sluit nie, loop oral rond met sy rewolwer wat soos ’n onbeheerste penis op die sy bobeen rondspring. Dit strook glad nie met die interessante inhoud van hierdie storie nie.
Die media reageer wisselend op die film. Leon van Nierop gee dit twee sterre. Die Afrikaanse koerante gee dit 4 sterre. Die Burger bevraagteken die sukses van die karakters, met die uitsondering van Marius Weyers – hy slaag glo. Geen vermelding word gemaak van die bekwame Stian Bam nie; nóg na die verrassende aktrise, Stephanie Badenhorst, wat ’n dokter in moeilike omstandighede met intensiteit en begrip speel.
En waarheen, Gehasi, met die Afrikaanse film, as ’n film teen elke element denkbaar moet veg om ’n redelik goeie teks te laat slaag? Want slaag, slaag die film – as storie ... relatief. Maar is die geleentheid verspeel om ’n egte filmproduk, as opwindende fliek vir die kyker, en eerlike ikoon vir die nageslag, daar te stel?
Hierdie fliek sou ’n titel kon gehad het soos Cowboy en die sitmense, en lewer dieselfde vergeetbare bydrae as films soos Susanna van Biljon en Stilte. Mag Faan egte koningskos vir die fynproewer wees. Tyd sal leer …
Kommentaar
Ek sien nie hoekom dit verrassend is dat ’n gemiddelde kyker die fliek sal geniet nie. Geniet is tog nie die oortreffende trap van iets nie. Wat my wel verras, is die volgende stelling: “In Amerika beland tienduisende films in die snippermandjie; net die bestes word versprei.” Kom ons kyk: White House Down, A Good Day to Die Hard, After Earth, Broken City ...
Faan se Trein? Hopelik gewild sal wees? Hallo. In die klein landjie Suid-Afrika verwag ek van resensente om minstens voor te gee dat hulle objektief is.
Polonius; kom uit agter die gordyn! Netnou kry jy 'n mes so deur die gordyn waaragter jy skuil.
Soveel aanvegbare stellings het ek selde gesien: dit regverdig nie die tyd om dit een vir een te bespreek nie!