Die laaste tango
Draaiboek en regie: Deon Meyer
Rolverdeling: Louw Venter, Antoinette Louw, Marius Weyers, Stian Bam, Lukmaan Adams, Rob van Vuuren
![]()
Ek was maar bedug om hierdie fliek te gaan kyk. Die tango as metafoor van die dans van die lewe is oorbekend, die Karoo word dikwels oorromanties voorgestel, en dan is daar boonop die pragtige jong meisie wat “spesiaal” en “anders” is. Maar ten spyte van dié formuleagtige elemente het Die laaste tango my behoorlik oorrompel.
Die fliek begin met ’n aksietoneel: De Wet (Louw Venter), ’n speurder van die Valke, trek uiteindelik ’n reeksmoordenaar (Stian Bam) vas, maar hy verloor kop en slaan die man tot in die hospitaal. Groot reperkussies, en De Wet word vir twee weke Karoo toe gestuur om af te koel. Intussen kan hy sommer die saak ondersoek van ’n Loxtonse polisieman wat ge-awol het. De Wet sukkel om af te skakel en bied sy hulp aan die stasiebevelvoerder (Marius Weyers). Dié gee hom opdrag om vir Ella Winter (Antoinette Louw) te help met ’n los werkie; sy is ’n kankerlyer en het nie meer veel tyd oor nie.
Afrikaans se topspeurskrywer, die internasionaal bekroonde Deon Meyer, verras toe almal met sy uitstekende regie. Hy kombineer twee genres, ’n liefdesverhaal en ’n spanningsverhaal, uiters suksesvol – iets wat baie moeiliker is as wat dit lyk. Veral na die einde toe, wanneer vinnig gewissel word tussen die aksietonele en die groot tangotoneel, loop die spanning hoog.
Die akteurs en toneelspel is uitstekend. Louw Venter en Antoinette Louw is ’n puik kombinasie en verdien groot lof, maar veral Venter, wat ek voorheen nog net in komiese rolle gesien het, beïndruk as aksieheld én sensitiewe siel. Kleiner rolle wat vir my uitgestaan het, is Lukmaan Adams as ’n polisieman en Rob van Vuuren (Venter se vennoot van doerie jare met Corné en Twakkie) as die slymslak-prokureur. En dan natuurlik Marius Weyers, maar dit hoef ’n mens skaars te sê.
Haakplekke? Dialoog wat hier en daar ’n bietjie te styf is (’n Karooman wat van ’n kothuis praat?) en aksente wat nie heeltemal oortuig nie (klein Willem van Loxton klink reguit van Pretôria af). Verder het die reeksmoordenaar se gekneusde gesig en die dowwerige foto van die vermiste polisieman vir my na dieselfde mens gelyk, sodat ek eers heel op ’n dwaalspoor was.
Maar dit tersyde: Die laaste tango was ’n heerlike kykervaring. Gee vir ons nog!
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


Kommentaar
I was pleasantly surprised. A friend recommended it, otherwise I would never have gone (have been disappointed in Afrikaans movies too many times, so yes, I am a bigot) and I found it a totally absorbing and excellent film. The Karoo was not over-sentimentalised, but was as beautiful as ever: I particularly liked the night scenes. The opening scene was exciting in its ambivalence (not knowing if indeed the men in waiting were part of the problem or the solution!) and I thought the Kolonel character was great in her exasperation and care for her staff. And finally, that De Wet character would be a better James Bond than Daniel Craig!