Elgin Grabouw-krimifees 2019: waar kom al die misdaadverhale vandaan?

  • 2

Jonathan Amid, Bettina Wyngaard, Rudie van Rensburg, Karin Brynard en Deon Meyer (foto: Naomi Bruwer)

En wat sou gebeur as my motor hier, by die krimifees, gesteel word? Want binne die terrein staan die motors buffer teen buffer geparkeer. Vir oulaas druk ek die knoppie op die afstandbeheer. My motor, ’n ent verder aan langs die pad, is gesluit.

Interkom. Die hek skuif oop.

Nog meer motors hier binne as wat ek gedink het. Die opkoms by dié fees is groot.

Diegene wat die siele van die misdadigers so goed ken dat hulle in hul velle inklim en daarin kan rondloop en hul stories vertel, is reeds in die saal. Die baie lesers van hulle boeke is ook daar. Ek kom betyds aan vir net een gesprek.

Tema: “Boek of bars: Hoe hanteer misdaadskrywers die druk om te moet aanhou produseer?”

Ek gaan sit agter. Voor is die paneel van skrywers: Deon Meyer, Rudie van Rensburg, Bettina Wyngaard, Karin Brynard.

Jonathan Amid, krimikenner, lei die gesprek behendig. Hier onder volg ’n poging tot ’n opsomming van sekere gedeeltes van die gesprek.

Waar Deon Meyer begin het

“Ek het begin met kortverhale. My filosofie is: Leer die vaardigheid van skryf aan deur te skryf. Stuur vir tydskrifte, en leer daaruit.

“My eerste boek se storie was Ikarus. Dit was die eerste Afrikaanse spanningsliteratuur aan die begin van die Nuwe Suid-Afrika. Tafelberg het nie ’n spanningsliteratuuruitgewer gehad nie. En hulle het gesê ’nie een-woord-titels nie’. Toe kies hulle Wie met vuur speel.

“Die eerste boek is soos om ’n broer in die tronk te hê. Jy kan dit nie ontken nie, maar jy wil nie daaroor praat nie.”

Karin Brynard oor die skuif van die joernalistiek na die misdaadroman

“Joernalistiek was inperkend, want dan moet ek kort skryf.

“Maar papier is geduldig, ek kan aangaan so lank soos wat ek wil. Maar ek was baie gelukkig in my veld as joernalis. Dis opwindend, en as mens ’n baie kort aandagspan het soos ek, maak dit nie saak hoe jou dag begin nie, dit eindig anders. Dis die een ding na die ander. Dis hoe geskiedenis gemaak word – soos Winston Churchill gesê het, “one damn thing after another”. Ek wou dieper skryf, en terwyl ek navorsing daarvoor gedoen het (vir joernalistiek), het Plaasmoord gevolg. En namate ek my navorsing gedoen het, het die raaisel al hoe sterker geword. Op die ou end kan ek dit blameer op Deon. Ek het met hom ’n onderhoud gevoer vir Rapport. Aan die einde van die onderhoud het hy gevra: ‘Wanneer skryf jy iets?’ Sy uitgewer het my agterna gebel.”

(Deon maak ’n opmerking: “Ek het nog nie ’n sent daaruit verdien nie.” Karin: “Jy het my vriendskap daaruit verdien.”)

Rudie oor sy eerste roman na jare in die versekeringsbedryf

“Ek wil net eers noem: Besef julle van die mees geslepe misdaadbreine is vir die eerste keer onder die dekmantel van ’n fees hier bymekaar?

“Ek het altyd die droom gehad om te skryf, maar ek het nie die begeerte gehad om vieruur in die oggend op te staan nie. Toe ek weg is by Sanlam in 2009, het ek Slagyster geskryf.”

Bettina, hoekom misdaadfiksie?

“Karin het vir Deon die skuld gegee, ek gee vir Karin die skuld. My eerste boek was ’n roman en dis hoe ek en Karin mekaar ontmoet het. Toe sê sy vir my: ‘Hoor hier, ons het meer vroue nodig.’

“Omdat ek in ’n vorige lewe ’n litigasieprokureur was, het ek belanggestel in die skryf van misdaad.”

Deon Meyer se raad

“Vir my gaan dit oor die storie. Jy moet skrywer en leser terselfdertyd wees.

“As mense raad vra, is die beste raad: Lees, lees, lees. Hoe meer jy die bestes in die wêreld lees, hoe meer kan jy oordeel of jy daardie stories kan lewer. Hoe hef mens dus jou eie subjektiwiteit op? Jy meet jou stories aan die stories van ander.

“Ons leef in ’n onregverdige wêreld. Jy kry geregtigheid in misdaadfiksie. Met ’n goeie musiekstuk is daar altyd ook eers ’n mate van diskordansie. Daar is ’n loslaat van die spanning. In ’n boek ook. Dis jou plig om daardie diskordansie te skep en dit op te los. Met ’n gevoel van geregtigheid.”

Karin Brynard oor temas

“Ek lees baie niefiksie. En ek is verskriklik nuuskierig. Dis dié land van ons. Mens kan nie in dié land lewe sonder om aangegryp te word, sonder om aan die hart gegryp te word nie.

“As jy Die Burger se voorblad sien, kan jy sien hoe ’n kind siek is en in die hospitaal is, en die kind sterf daar. En dan, as ek dit lees, wil ek meer te wete kom. Ek wil begryp. Ek wil verstaan wat ons maak soos wat ons is.

“Almal van ons is besig daarmee: die aard van boosheid. Ons almal het ’n geneigdheid om boosheid buite onsself te soek. Die vraag is: Waar is die boosheid binne myself? As ek daardie bose soort persoon in myself kan herken, het ek ’n diepere begrip vir die broosheid van mense. Want dis waar mense faal, en dis waar misdaad begin.

“Maar dit gaan oor die verhaal. Die agtergrond van die land, dit is net een ding.

“Sodra as ek begin met navorsing, of gewoon net lees, dan raak die verhaal los. Die verhaal het my so warm gebloei en ek wil net ontslae raak daarvan. Die lekker daarvan is dan hoe die karakter die storie uitleef. En dis hoe ek lief raak vir hulle. Ek weet ’n karakter het geslaag as die karakter my laat huil.”

Rudie van Rensburg oor betrokke literatuur

“Goeie misdaadfiksie is betrokke literatuur. Deur die jare word dit ’n verhalelaboratorium van maatskaplike kwessies. Jy skryf oor betrokke aangeleenthede.

“Die metafoor van die leesproses is dis soos ’n skildery. Jy lees, lees weer. Kyk en kyk weer.

“Ek het begin belangstel in die donker kant van mense se psige. Dis verskriklik ontstellend om onderwerpe aan te raak wat buite my gemaksone is. Jy is bang jy gaan die grense van fatsoenlikheid oorskry.”

Bettina oor haar skryfwerk en wat in die bedryf aan die gebeur is

“Ek is ’n feminis, ek skryf oor gender-issues. Dis vir my baie belangrik om oor genderkwessies te skryf. Dis vir my baie belangrik dat die vrou nie noodwendig die “damsel in distress” is nie. Sy moet haarself kan red. In vele gevalle red sy die mans rondom haar. Ek dink nie dis ’n feministiese agenda nie, maar in my verhale reflekteer ek die vroue wat ek rondom my sien. Die vroue wat ek rondom my wil sien. Ek sien ook dat daar meer stories en dramas deur swart en bruin skrywers gepubliseer word. Dit wat verskyn, word ’n meer getroue weerspieëling van hoe die land is.”

Agterna is my motor nog daar en ek ry weg, tussen die vullissakke van die dorp se hoofstraat deur. Rondom my skarrel die mense wat op ’n Saterdag inkopies met die taxi kom doen het. Ek weet daar gaan video’s van die gesprekke geplaas word; ek weet daar kom ’n oorsig op LitNet. Ek het nie nodig om hieroor te skryf nie, en kon kon boonop nie eens bybly om alles neer te skryf wat tydens die gesprek gesê is nie. Die skrywers is nie net bedrewe op papier nie, maar is ook vernuftige en intelligente sprekers. Die res van die langnaweek lê voor. Ek eet beskuit en speel “30 Seconds” saam met my gesin; ek stap in Kogelberg en kyk na die nuwe tekens van lewe na die brand.

Maar heelnaweek prut dit en broei dit, soos ’n lyk onder die grond. Dit bemes stil-stil, en die erdwurms en die goggas kom vreet en word vol.

Ek kan nie voorgee om oor die hele fees te berig nie, want ek het slegs een geleentheid bygewoon. Tog bly dit my by, terwyl die res van die lewe voortgaan.

Ek dink aan Karin Brynard se stories, die voorbladnuus. Nog ’n kind wat sterf in die voorportaal van ’n hospitaal.

Ek dink aan Rudie van Rensburg se opmerking dat dit nie net onbeholpe polisielede is wat dossiere foutief voltooi en sodoende veroorsaak dat ’n saak nie in die hof draai nie. ’n Ander baie groot rede is dat die gemeenskap waar die misdaad plaasgevind het, die bewysstukke verwyder. Uit vrees vir vergelding.

Wat maak mens met al die misdaad in hierdie land? Al die doellose, eindelose bloedvergieting en verdriet?

Hulle het begin deur dit neer te skryf. Die land self beantwoord die vraag op die gespreksleier se lippe: hoe kry mens dit reg om aan te hou lewer en boek ná boek te produseer?

Hulle het hulle oë oopgemaak en rondom hulle rondgekyk. Hulle het die talent gehad om neer te skryf wat hulle gesien het. Want daar is oneindig baie stories om te vertel.

Elgin-Grabouw Krimifees | Elgin Grabouw CrimeFest

Bettina Wyngaard oor die Elgin-Grabouw Krimifees | Elgin Grabouw CrimeFest

Krimifees ’n Suid-Afrikaanse eerste

  • 2

Kommentaar

  • Ek het gehoor hoe vra jy voor ons in die ry of jou kar veilig is buite. Dis nou 'n gawe verrassing om artikel van dieselfde sessie wat ons bygewoon het hier op litnet raak te lees.

    Dis funny, was tot einde jaar voor laas my hele lewe lank in Johannesburg - daar gewoon, gewerk, groot geword - en ek het nie een keer gewonder of geworry of ons kar veilig is waar ons buite die venue parkeer het nie.

    Ek voel soveel rustiger, gemakliker, en veiliger, hier in die Helderberg (en selfs in Kaapstad waar ek verlede die hele verlede jaar was) as bo in Johannesburg. Ek voel regtig gelukkig (lucky en happy) dat ek nou hier is.

    Dankie vir die deel Naomi. En vir die "toevaligheid" dat jy voor ons in die ry was.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Een van die hoofkenmerke van die hedendaagse Suid-Afrika is misdaad. Skryfwerk oor misdaad is dus te wagte.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top