Krimifees ’n Suid-Afrikaanse eerste

  • 2

Deon Meyer, Karn Brynard en Rudie van Rensburg

Jonathan Amid skryf in ’n onlangse Vrye Weekblad-artikel dat misdaadfiksie ongeveer 36 persent van boekverkope wêreldwyd uitmaak. Dis ’n ongelooflike sterk mark en dit groei elke jaar.

Teorieë oor die redes hoekom lesers so graag die skrik op die lyf gejaag wil word, is legio. Wat onbetwis staan, is dat Suid-Afrika krimiskrywers van hoogstaande gehalte oplewer. Dink maar aan Deon Meyer, of Rudie van Rensburg, of Martin Steyn. Karin Brynard het onlangs gehoor dat sy op ’n internasionale kortlys (CWA International Daggers) van krimiskrywers is vir Weeping Waters, die vertaling van Plaasmoord. Die plaaslike Engelse mark lewer ewe veel uitstekende skrywers, soos Sally Andrew en Joanne Hichens. Peter Church is nog ’n naam om voor uit te kyk.

Al hierdie skrywers, en nog vele meer, is die komende naweek van 9 tot 11 Augustus by die Elgin Grabouw Krimifees. Hierdie fees, breinkind van Christy Weyer Loedolff en myself, is ’n Suid-Afrikaanse eerste. Izak de Vries en Jonathan Amid, beide bekendes in boekkringe, voltooi die krimi-span. Terwyl elke plaaslike literêre fees ’n paar panele vir krimi-skrywers het, is hierdie die heel eerste fees wat gewy is aan misdaad skryf in al sy aspekte. Alhoewel daar grootliks gefokus word op fiksie, is gesoute nie-fiksieskrywers soos die joernalis Julian Jansen en die advokaat Andrew Brown ook teenwoordig om te gesels oor die realiteite van misdaad.

Die fees vind op dieselfde naweek as die Elgin Winterfees plaas. Ons program is so saamgestel dat Krimifeesgangers ook geleentheid sal hê om die vele vreugdes van die Elgin-vallei te smaak. Elke paneelbespreking is 60 minute lank, met ’n pouse van 60 minute tussen panele.Ons hoop dat feesgangers hierdie pouses sal gebruik om die omgewing te verken, ons wyne, plaasmarkte en restaurante te besoek, of net by die twee lokale te ontspan. Beide lokale, Trails End en Southhill, is gesogte besoekpunte uit eie reg.

Die Ceres Railway Company het spesiale aanbiedinge wat feesgangers in staat stel om met die stoomtrein tot by die Elgin Railway Mark te reis, fees te vier, oor te slaap en die volgende middag eers terug Kaapstad toe te reis. Normaalweg is die heen-en-weerreis op dieselfde dag. Wat ’n stylvolle manier om by die krimi-fees aan te kom!

Elke aanbieding is uiters relevant in ons huidige omstandighede. Ons kan, en wil, spog met die room van krimi-literati.

Maar hierdie rubriek is nie net ’n advertensie vir die Krimifees nie. Ek wil ook my persoonlike indrukke deel en my dank uitspreek teenoor soveel mense sonder wie die fees nooit sou realiseer nie.

Ek en Christy speel nou al ’n paar jaar met die idee van ’n fees in die Elgin Grabouw-omgewing. Dis my grootworddorp en die laaste paar jaar haar tuisdorp, waar sy verskeie boek-inisiatiewe begin het. Behalwe haar boekwinkel, Liberty Books, het sy ook die Brandweerwa-boekwinkel by Peregrine en die Boekbus by die Elgin Railway Mark. Vanjaar het die idee van ’n fees in ’n konkrete plan gekristalliseer. Sonder Christy wat soveel ure agter die skerms werk en al die logistieke hanteer, sou die fees nie gebeur nie. Skrywers se verblyf, die lokale, kaartjieverkope en soveel meer het in haar skoot beland. Haar energie en entoesiasme verstom en inspireer my elke dag.

Izak het ure gesit om te skaaf aan die program en seker te maak dat die fees interessant en genotvol is. Hy is ook die persoon op die span met die meeste praktiese ondervinding van die reël van feeste. Sy koel kop en baie logiese raad het ons vele kere van onsself gered.

Izak de Vries

Jonathan bied heelparty van die panele aan en is die onbetwiste krimi-kenner in die span. Sy raad en idees het die tapisserie van die krimi-beplanning net soveel meer skakerings gegee. En ek weet die perspektiewe wat hy in elke paneel gaan bied oor die naweek, gaan die gesprekke op ’n heel ander vlak plaas.

Jonathan Amid

Naomi Bruwer, voorheen van LitNet en nou by die WAT, het onlangs by ons aangesluit as die amptelike videograaf wat foto's en video's van die fees sal neem. LitNet het goedgunstiglik ingestem om alle videos te berg op hul webwerf en borg ook gedeeltelik die maak van die videos. Ons is hulle innige dank verskuldig.

Dan is daar die skrywers, wat almal sonder huiwering ingestem het om aan hierdie fees deel te neem. Sommiges het hul planne vir die langnaweek verander om te kan deelneem.Die entoesiasme waarmee ons idee begroet is, het regtig ons wildste verwagtinge oortref. Elke enkele skrywer wat ons genader het, het ingestem. Die uitgewers se ondersteuning is ’n absolute riem onder die hart.

Bettina Wyngaard

Intussen moes Beyers de Vos en Michéle Rowe onttrek weens persoonlike omstandighede, wat natuurlik ook te verstane is. Die lewe gebeur.

Laastens: wat is ’n fees sonder ’n gehoor? Kaartjieverkope verloop goed. Kom kuier saam.

It takes a village. En die Elgin Grabouw Krimifees is bevoorreg om regtig die mees fantastiese gemeenskap van krimi-liefhebbers te ken.

Kaartjies is beskibaar by Liberty Books in Grabouw. Kontak Christy by christy@libertybooks.co.za, of bel 021-8591174. Beperkte kaartjies sal by die deur beskikbaar wees.

  • 2

Kommentaar

  • Chris Marnewick SC

    "Hierdie fees, breinkind van Christy Weyer Loedolff en myself, is ’n Suid-Afrikaanse eerste."

    Ag nee, wat, Bettina, not even close. Ons het so 10 jaar gelede al 'n "Crime-Fest" in Johannesburg gehad. Vra maar vir Margie Orford, of Anthony Altbeker (Fruit of the Poisoned Tree), of Peter Harris (In a Different Time). Ek onthou vaagweg Wessel Ebersohn was ook daar. En 'n halfdosyn ander.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top