
Titel: Skorpio
Skrywer: Deon Meyer
ISBN: 9780798185677
Epub-ISBN: 9780798185684
Uitgewer: Human & Rousseau
Ek koop twee sakke hout, asook biltong en droëwors om aan te peusel. Twee pakke chips. Sout en asyn. 2,5 liter Coke, en vir die seuns Fanta.
Ek drink nie ys in my Coke nie; los dit wel in die vrieskas vir ’n uur. Dit moet net-net ys. Ek pak die braaier vir die eerste keer in twee jaar. Steek dit aan.
“Kom pelle vanmiddag rugby kyk?” vra my vrou.
Ek gaan lê met Deon Meyer se Skorpio op die hangmat. “Ek gaan saam met Griessel en Cupido ’n moordsaak oplos. Of twee.”
Griessel staan in ’n motorhuis in Kahlerstraat in Stellenbosch se Idasvallei-buurt en kyk na die lyk van die man wat langs die ou 3-reeks-BMW lê (33). Die man word geïdentifiseer as Brandon Maarman, ’n privaatspeurder (36). Brandon en Cupido was kollegas in die oue dae; hulle het saam as speurders begin by SANAB (45). Brandon se bynaam was Skinny (49).
Cupido, op sy beurt, is besig met sy eie ondersoek voor hy vir Griessel met die Skinny-dossier begin help. Brandstigting op ’n wynplaas. Die twee storielyne oorvleuel totdat hulle op bladsy 71 saamwerk aan die Skinny-dossier.
Nou en dan word die Vrye Weekblad-verslaggewer, Marinda Ferreira, se artikel (“Dertig jaar se moordsake – die oë wat alles gesien het”) oor Griessel ingeweef. Ek hou daarvan. Sommer baie.
Net soos met Lee Child se Reacher-boeke, kring dinge in Skorpio uit na iets groters. Ek het dit verwag. Meyer het immers met sy openingshoofstuk (“Dinsdag, 6 Junie – Metropol Hotel, Moskou”) vir ons lesers ’n duidelike leidraad gegee. Maar hierdie rusbankspeurder kon nie voorsien hoe die komplot gaan ontvou nie.
Dit is seker hier waar ek moet bieg: Ek het dekades lank agter aksie en spanning aan gelees. Dit is tog die kenmerk van die politieke spanningsverhale, wat tans deur voormalige spesialemagteoperateurs gedomineer word. Delta Force, SAS, CIA, ensovoorts. Ek het egter al meer begin voel dat hierdie leser (of is dit genre) ’n versadigingspunt bereik.
’n Goeie plot en sterk spanningslyn, met genoeg skop, skiet en donner, het intussen al hoe meer plek gemaak vir outentieke karakters. Die internasionaal bekroonde misdaadskrywer Mike Nicol – my gunstelingskrywer in enige taal en genre – se Of cops & robbers, Agents of state en Sleeper se karakters was so driedimensioneel geskep, ek wou die surfer / privaatspeurder wat dagga smous, Fish Pescado, en Vicki Kahn ontmoet. En natuurlik vir Janet, die hawelose vrou wat met haar komiese dialoog sy boeke in juwele omskep.
Nicol het my teruggeneem na skryfhelde – Andrew Vachss en Richard Stark – uit my jonger dae. Dit is wat ek meer wil lees. Dit is juis hoekom ek so versot is op Julio Agrella se aweregse speurder, Zeus van Wyngaardt, en Ann in Erla Diedericks se Die bewonderaar.
Meyer sluit hierby aan. Al skryf hy ’n boek waar Griessel en Cupido net met vakansie gaan sonder enige misdaad om op te los, sal ek dit steeds koop, lees en in my versameling sit. Om die waarheid te sê, ek het al vir Christelle Wessels, skrywer van Wegkruiper, genader om ’n kortverhaal vir Huisgenoot te skryf waar haar speurder, Uwe Fuchs, net mens is, want selfs speurders ontspan. Dit is juis hoekom dit verfrissend was om kolonel Waldemar “Witkop” Jansen agter sy werkwinkel beter te leer ken (97).
Buiten vir hulle skerp humor, is die twee kapteins duidelik herkenbaar. Hoor net hier:
Ek is ’n speurder. Adjudant-offisier. Op Stellenbosch. My hand is hier op my Z88. Nege mil para, vyftien in die magasyn. (13)
Cool bananas, colonel. I’m on my way. Laat die blougatte net vir my ’n pin drop. (18)
As jy vertroud is met sy karakters, het ek nie eens nodig om vir jou uit te wys wie se dialoog is wie s’n nie, so outentiek is hulle stemme. Selfs ’n verdagte soos Beyers Botha, met sy ellelange dialoog, klink net soos ek hom sou opgesom het (177–8).
Ek het nog nooit die voorreg gehad om Meyer te hoor voorlees nie, maar as ek kon, sou ek hom vra om dialoog tussen Griessel en Cupido te lees, want Cupido laat Vlakte-Afrikaans soos ’n poëtiese masjiengeweer kletter (241). Dit val alte lekker op die oor.
Piet Steyn het in Die Afrikaanse Skryfgids gesê: “Om ’n spanningslyn vir 400 bladsye snaarstyf om die leser se nek getrek te hou, werk nie.” Hy beveel aan dat ’n karakter geskep word om die spanning te breek. In Tou, Steyn se derde boek met superintendent Pine Pienaar aan die stuur van sy misdaadreeks, maak hy gebruik van die myner Kris Frieslich en sy gesin om die spanning van die Hof onder die Kruis-bende se vigilantemoorde te breek. Cupido se dialoog doen dit deurentyd.
Terwyl ek by dialoog stilstaan, ’n laaste punt. Meyer gebruik ook dialoog doeltreffend om inligting oor te dra sodat dit nie na information dumping klink nie. Op bladsy 170, byvoorbeeld, sê Cupido vir Arnold en Jimmy – die forensiese ondersoekers Dik en Dun: “Nee. Don’t show off. Explain lat ek vir my thirteen-year-old stepson vanaand kan lat verstaan.” En dit is wat hulle oor die volgende drie bladsye doen.
Toe ek destyds begin skryf het, het Johan Jack Smith (toe uitgewer by Wenkbrou) aanbeveel dat ek al Deon Meyer se boeke lees voordat ek verder skryf. Want 1) hy oriënteer dadelik sy lesers: Wie is aan die woord; waar en hoe laat speel die storie af – ongeag waar jy sy boek oopmaak. Ek doen wat baie Bybellesers doen en maak Skorpio oop. Bladsy 79. Ek blaai om na die begin van die nuwe hoofstuk en lees:
Cupido kom eers teen halftien aan by die huis op die Welgevondenlandgoed wat hy deel met Desiree Coetzee en haar seun uit ’n vorige verhouding, die dertienjarige Donovan. (80)
En dan: 2) Hy kleur dadelik met ’n paragraaf die omgewing in:
Sauls vra hom om te kom sit.
Die kantoor is keurig maar spartaans, ’n mengsel van ligte eik en wit Duco in die muurkaste, boekrakke en lessenaar. Teen die muur is die geraamde sertifikaat van PSIRA, die sekuriteitsbeheerliggaam, waarby private ondersoekers moet registreer. Daarnaas, in nog ’n raam, die PSIRA-gedragskode.
Griessel sit sy moordtas neer en gaan sit oorkant Sauls [...]. (62)
Hierdie twee punte het hy oor die jare met minimale hale leer skilder.
Meyer het geen bekendstelling nodig nie. 15 spanningsromans, twee bundels kortverhale, ’n novelle en ’n draaiboekversameling. ’n Magdom van sy boeke is al verfilm. Pryse wat aan hom toegeken is, is nog meer. Ek wil nie eens dink wat hy vir die Afrikaanse boek- en filmbedryf in geheel beteken het nie. Hy het vir almal gewys wat moontlik is, en Skorpio wys hoe almal nog luister as hy praat.
In 2025 het ’n magdom goeie spanningsliteratuur verskyn; Skorpio is die kersie op die koek.
Terloops
Ek het die Bokke se game teen Japan gemis; ek het op iemand se WhatsApp-status gesien dat hulle gewen het. 61/7.
Lees ook:
Nog lesersindrukke en idees oor genres wat ’n versadigingspunt bereik
Kan ’n genre ’n versadigingspunt bereik? Of lê die fout voor die deur van die leser(s)?
Mike Nicol se roman The rabbit hole is trots Suid-Afrikaans, ’n lesersindruk

