Hierdie lesersindrukke is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur. LitNet het die skrywer nie versoek om dit te stuur en geen vergoeding is aan die skrywer betaal nie.
...
Soos enige ywerige leser is ek heeltyd op soek na nuwe stemme, maar dan verwag ek dat daardie nuwe stemme my asem moet wegslaan. Dit is hoe ’n genre groei.
...
“Jy is baie krities. Sê jy die genre het uitgesterf? Ek geniet dan Stephen Leather se boeke.”
Die boodskap moet eintlik onderaan in die kommentaar van my LitNet-skrywe “Wanneer bereik ’n genre ’n versadigingspunt?” aan my gerig wees, as privaat. Maar kom ek antwoord dit hier.
Soos enige ywerige leser is ek heeltyd op soek na nuwe stemme, maar dan verwag ek dat daardie nuwe stemme my asem moet wegslaan. Dit is hoe ’n genre groei. Plaaslik weet ons krimiliefhebbers alte goed hoe waardevol Deon Meyer vir die Afrikaanse leesmark was. Hy het ’n genre lewendig geskryf. Hoeveel te meer vir sommige internasionale skrywers: Dan Brown het met sy internasionale blitsverkoper The Da Vinci Code lewe in die thriller genre geblaas, omdat dit ná die Koue Oorlog aan die uitsterf was. John Grisham het die hofriller op die map gesit. Stephen Frey het dieselfde vir die finansiële riller en Tess Gerritsen vir die mediese riller gedoen. So is daar ’n rits name wat ons aan ’n sub-rillergenre kan koppel.
Sommige skrywers doen dit met ’n debuutboek. Plaaslik het Marie Lotz se naam soos ’n veldbrand onder leserskringe versprei met haar kragtoer, Roofdier. Net so het Jaco Wolmarans vir hom ’n subgenre in Afrikaans oopgeskryf met Bos. Internasionaal is die voorbeelde legio, dink byvoorbeeld aan Martin Cruz Smith se Gorky Park, Robert Harris Fatherland, Lee Child Killing floor, Michael Connelly The black echo en David Baldacci Absolute power. In die sluipmoord- / spanningsgenre: Frederick Forsyth se onvergeetlike The day of the Jackal, Thomas Perry The butcher’s boy, Andrew Vachss Flood en Barry Eisler Rain fall. In die spesmagte-ek-was-daar-politieke-spanningsgenre staan Andy McNab met Remote control uit.
Sterk boeke met vars inslae veroorsaak dat lesers uitsien na die skrywer se volgende boek. Die meeste van ons verwelkom selfs ’n reeks. Maar wanneer ’n boek net insmelt – hoekom moet ek dit en nie iets van ’n ander skrywer nie lees?
Beteken dit dat ek glad nie meer hierdie genre geniet nie? Oor geen nuwe stem opgewonde raak nie? Nee. Hulle is daar. Soek en jy sal vind. Hier is twee waarvan ek hou, asook my persoonlike indruk van Leather.
Skrywer: Stephen Leather
Titel: Dirty war
Uitgewer: Hodder & Stoughton
ISBN: 978-1-529-36737-9
Ek dink nie die 67-jarige Britse skrywer Stephen Leather het enige bekendstelling nodig as jy verslaaf is aan die genre nie. Hy werk in die veld van spesmagte, spioenasie en terrorisme. Verskeie van sy boeke is verfilm; sy vierde boek The Chinaman (The Foreigner), met Jackie Chan en Pierce Brosnan in die hoofrolle, as my gunsteling. Hy is een van ’n handvol joernaliste wat hul kennis suksesvol in blitsverkopers omskep het. Dink aan Forsyth, Gerald Seymour (Harry’s game), Terence Strong (The tick tock man) en Gordon Stevens (Peace on Earth). Dit is veral hul boeke oor die Ierse konflik wat hulle onder my aandag gebring het.
Tog. Leather het jare lank in die middel nader aan onder op mý willees-lys verskyn. In daardie jare is die genre gedomineer deur Robert Ludlum, Forsyth, Seymour, Tom Clancy en andere. (Ja, ek is so oud.) Die middelkorps – dink Strong, Stevens en Leather – vermaak, maar het nooit die genre soos Ludlum en Forsyth help formuleer nie. Nog later het voormalige operateurs soos McNab, Chris Ryan (Stand by, stand by) en Duncan Falconer (The hostage) veroorsaak dat Leather se boeke stof opgaar.
Tot en met Dan “Spider” Shepherd.
Weliswaar nie met Hard landing nie, maar sedert Soft target, Cold kill en Hot blood het Leather sy nis in die genre gevind. Selfs Ryan verkondig sy lof met: “Stephen Leather writes really exciting action. It’s like being there yourself.”
Dirty war is die 19de boek in die Spider-reeks. Die eerste gedeelte van die boek (“August, 2021”) bestaan uit 106 bladsye, sonder enige hoofstukindeling. Slegs die derde wêreldoorlog sou jou verhoed om die boek tot dan neer te sit. In hierdie gedeelte help Spider ’n jahadis gedurende die laaste dae van die Afghanistan-oorlog om in die VK te kom. McNab en Ryan op sy beste!
As jy wou piepie, is dit hier. Hierna pis jy in jou broek voordat jy die boek neersit. Dit het vir die rede ook geen hoofstuk (breek) nie. Onthou jy Wolmarans se laaste 100 bladsye in Dolos? Hier het jy 267 pure aksie, Olympus has fallen-styl. Aksie. Aksie. En nogmaals aksie. Alles op vinnige spoed.
Die boek was so bindend dat ek Jeffrey Archer se Traitor’s gate onder my toring resensie-eksemplare uitgetrek het. Dit is vir my die grootste getuigskrif van ’n boek: Ek wil dadelik iets soortgelyks lees.
As jy van Stevens se Klara’s game en Nelson DeMille se The lion gehou het, is jy in vir ’n slapelose nag.
Skrywer: Tom Marcus
Titel: Capture or kill
Uitgewer: Macmillan
ISBN: 978-1-5098-6359-4
Tom Marcus se 2018-debuutfiksie, Capture or kill, val 100% in die ek-was-daar-formule van die laaste twee dekades, maar weens sy jarelange agtergrond in die intelligensie-wêreld, is sy aanslag vars, en dit alleen het die lees die moeite werd gemaak. Ek het reeds Defend or die gekoop.
Sy skryfstyl herinner weliswaar aan McNab se vroeë werke, maar dit is sy persoonlike kennis as ’n voormalige MI5-spioen wat die lewe van ’n hedendaagse spioen in detail vir ons inkleur, wat lesers gaan verower. Ons sit (nog) nie hier met ’n tipe James Bond/Jason Bourne-superspioen nie, nog minder met ’n John le Carré- / Charles Cumming- / Olen Steinhauer-intelligensie-skaakspel. Die middeweg is ’n kombinasie tussen ’n intelligente magspel en skop-skiet-donner. En dit werk vir hierdie leser.
Die mesaanval in die dieretuin waarin Matt Logan se vrou en seun sterf, was uiters voorspelbaar (dink aan Vince Flynn se American assassin), want dit dwing die hoofkarakter om deel te word van ’n deniable eenheid wat vanuit MI5 spruit, genaamd Blindeye. Die twee aanvallers se eintlike teiken is die Buitelandse Sekretaris. Dit maak nie net die mesaanval in die dieretuin vir my onnodig nie, maar ook ongeloofwaardig. Ek is nie seker of terroriste voor so ’n groot aanval aandag op hulle sou vestig nie. Nietemin, ’n dag later vermoor Logan iemand – Khalid – om die twee broers se ligging te probeer uitsnuffel. Daarna is dit ’n tour de force.
Die skrywer – soos die meeste skrywers met spesmagte-agtergrond – sal baat om belangrike skrywerstegnieke soos dialoog en karakterisering onder die knieg te kry. Maar hierdie skrywers weet dat die lesers nie omgee nie, solank daar soveel aksie in hulle boeke is dat die bladsye bloed drup. En daarvan is daar oorgenoeg.
Capture or kill is geskryf om te vermaak, en moet ook so gelees word. Tog raak Marcus aan ’n baie belangrike tema, naamlik: Is die doodmaak van ’n paar geregverdig om die dood van baie te keer? ’n Reeks gee vir ons die skrywer se antwoord hierop. Ek sien wel uit na hoe sy karakter hieruit ontwikkel.
Dit is seker ’n doellose gedagte hier aan die einde, maar dit voel vir hierdie leser of die skrywer homself terughou. Of hy nog nie seker is hoe hy sy persoonlike kennis mag inspan sonder om die reëls te breek nie. Sonder om te veel weg te gee. Sodra hy daardie ritme vind, gaan sy naam met reg saam met McNab en ander genoem word.
Lesers wat van die voormalige Direkteur Generaal van MI5 (1992–1996), Stella Rimington, se boeke gehou het, gaan Tom Marcus se boeke begin versamel.
Skrywer: Billy Billingham
Titel: Call to kill
Uitgewer: Hodder & Stoughton
ISBN: 978 1 529 36458 3
Ek lees vir genot en nie om deur indiepte-kennis beïndruk te word nie. Anders het ek nét boeke soos Bravo two zero (McNab) en The one that got away (Ryan) gelees.
Die skrywersnota voor in Call to kill begin:
I’m guilty of screaming at the TV sometimes, especially if I’m watching a movie or a show about special forces operations which gets the operational detail wrong.
Ek voel dieselfde oor voormalige spesmagte-operateurs wat geen moeite doen om skryftegnieke aan te leer nie, wat net op hul kennis staatmaak en dink al ons lesers moet daarmee tevrede wees. Daar is ’n paar sleutel-skrywersbeginsels wat van jou ’n skrywer maak. Lees mens in hierdie genre, weet lesers dat dit nie noodwendig die hooffokus gaan wees nie.
Wanneer ’n skrywer wel van hierdie beginsels in sy boek volg, trek hy dadelik my aandag. Alhoewel ek debutante bewonder wat met die intrapslag skokgolwe veroorsaak, is ek meer as bereid om saam met ’n skrywer ’n pad te stap. Solank hy iets nuuts tot die genre bring.
So, kom ons kry dadelik al die klippies uit die skoen. Niks aan Billy Billingham se karakter, Stafsersant Matt “Mace” Mason, maak my opgewonde om vir hom staanplek op my boekrak te maak nie. Verder kan die skrywer baat om show vs tell onder die knieg te kry. Call to kill is ook uit verkillende perspektiewe geskryf. Matt Mason, Erica Atkins, Ibrahim Manar, Agent Redford, Scooter Williams, net om ’n paar te noem. Die boek kon doen met minder.
Maar iets aan hierdie boek (dalk is dit die hoogs geloofwaardige storielyn) het my soos ’n magneet aangetrek. Elke keer wanneer ek die boek wou neersit om met James Deegan se Once a pilgrim te begin, het ek net nog ’n hoofstuk gelees.
Die storielyn speel teen hierdie agtergrond af: ’n Christen-priester word in ’n oorloggeteisterde Jemen deur die Islamitiese Revolusionêre Wag gyselaar gehou. ’n Span SAS-operateurs, onder leiding van Mason, skuil ’n ent verder, gereed om toe te slaan. Maar dan word ’n SAS-operateur per ongeluk agtergelaat ná ’n mislukte reddingspoging. Die intrige word verder gekompliseer deur ’n vroulike CIA-operateur wat ’n Iranse generaal jag. Dan is daar nog ’n Amerikaanse wapenhandelaar, asook internasionale korrupsie.
Billingham is deel van ’n rits voormalige operateurs wat die SAS: Who dares wins-stempel op hul voorblaaie dra. Hy was 17 jaar deel van hierdie elite eenheid en sy boeke weerspieël sy ondervinding. Lesers wat gaande is oor Ollie Ollerton, Ant Middleton en Deegan, sal weet wie Billingham is.