Wanneer bereik ’n genre ’n versadigingspunt?

  • 6

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Wanneer bereik ’n genre ’n versadigingspunt? En wat kan skrywers doen om weer nuwe asem daarin te blaas?

“The best fiction,” was die skrywer Philip Klass se raad aan ’n jong David Morrell in 1967, “came from a writer’s compulsion to communicate traumatic personal events.”

Morrell skryf in sy eerste kortverhaalbundel, Black evening, dat hy op die punt was om sy meestersgraad te voltooi, toe hy die skrywer genader het om aan hom persoonlike aandag te gee. Klass het nie tyd gehad nie, maar het Morrell uitgedaag om weekliks ’n kortverhaal aan hom stuur. Na ses weke het Klass hom ingeroep en gesê: “Your subject matter isn’t enough.” Sy raad aan Morrell was: “Find out who you are, which usually means find out what you’re most afraid of. That will be your subject for your life, or until your fear changes.” Hy het uiteraard nie van hoogtevrees of so aan gepraat nie.

Ons weet hoe hoog hierdie raad Morrell laat vlieg het. First blood (Rambo) was net die begin.

As ons na die huidige internasionale politieke spanningsverhale kyk, sal ons sien dat voormalige spesialemagteoperateurs die genre domineer. Delta Force, SAS, CIA, ensovoorts. Hulle boeke is deurweek met binne-informasie en getuig van persoonlike ondervinding. Hulle is deur die bank wapendeskundiges.

Ek lees graag die genre, maar dit voel deesdae of ek ’n versadigingspunt bereik het. Hoekom? Die genre beleef ’n bloeitydperk met voormalige operateurs wat daar was, en nie skrywers wat daaroor skryf nie. Op ’n manier is dit deel van die probleem: Jou agtergrond maak jou ’n kenner, maar nie noodwendig ’n skrywer nie. Dit is egter nie die fokus van my skrywe nie, ek wil net iets deur die ek-was-daar-ondervinding demonstreer.

Kyk ek meer krities na die boeke van Ben Coes, Dalton Fury, Jack Carr, ensovoorts, besef ek dit is omdat ek sukkel om met die hoofkarakters te vereenselwig. Ongeag hoe driedimensioneel hul karakters ontwikkel word (en dit gebeur selde), is hulle almal ’n tipe Jason Bourne-superfiguur. Die karakters laat my gewoonlik aan Duncan MacLeod van die TV-reeks Highlander dink, jy moet eers sy kop afkap voor hy vrek.

Alhoewel ek groot bewondering vir hul opleiding het, weet ek dat hulle die uitsondering op die reël is. Die meeste mans is nie eens werd om hul skoenveters vas te maak nie, hoe nog jouself inleef in sy karakter?

Dit bring my by die punt van my skrywe. Morrell skryf in Black evening: “The more frighting and vulnerable the heroes were, the more I identified with them.”

Loer ek nou vinnig terug op my leeservaring, staan James Grady se Six days of the condor vir my uit. Want ek kon myself met gemak in Ronald Malcolm se skoene sit. Baie van Robert Ludlum se helde was ook gewone mense soos ek en jy. En moenie van John Grisham vergeet nie, hy het gereeld die underdog koning laat kraai. Meer onlangs het Matthew Quirk se The night agent dieselfde patroon gevolg. (Het jy gesien dit is in ’n TV-reeks omskep?)

Dit bring my by die volgende twee boeke en ’n slotvraag:

All or nothing
Ollie Ollerton
Blink Publishing
9781788704977

Ek stel al baie lank uit om een van Ollie Ollerton se boeke aan te skaf, weens die afstand wat ek tans in die genre beleef. Billy Billingham (Call to kill) en James Deegan (Once a pilgrim) lê op my boekrak weens dieselfde rede.

Die meeste van die boeke wat met die plakker “SAS WHO DARES WINS” gebrandmerk word, is besig om cliché te word. As jy die een gelees het, het jy almal gelees. Selde is daar iets nuuts aan die hoofkarakter. Of plot. Of ...

Dalk lees ek nou al te lank aan die genre. Of dalk het ’n paar skrywers (Andy McNab en Chris Ryan onder andere) die dwarslat so hoog gestel dat ek met net die beste tevrede is. Veral in tye waar die ekonomie druk en ’n boek meestal broodgeld beteken. Hoe dit ook al sy, ek’s nie meer bereid om die tweede beste aan te koop nie. Al verkoop die boeke hoe goed.

Genadiglik loop ek All or nothing op ’n winskopie raak. R69 om die waarheid te sê. Dit is ’n vinnige lees, dus die perfekte leesstof vir ’n vlug tussen Kaapstad en Johannesburg. Maar dis al. Hier waar ek vier dae na my vlug aan die argument werk, kan ek nie eens onthou waaroor die boek gegaan het nie. Ja, ek weet Alex Abbott se broer is jare terug doodgery nadat ’n seksoortreder hom uit die rivier gered het. Dat Alex onder die indruk verkeer het dat hy dood is. Dat sy sielkundige dit aan hom noem net nadat hulle seks gehad het. Dat hy die netwerk wou uitwis. Maar dis al.

Daar’s niks aan Alex wat maak dat ek meer geld op hom wil spandeer nie. Ek sukkel om tyd in te ruim om met my huidige reekse op datum te bly; ek het nie tyd vir ’n nuwe reeks (vier boeke) wat ek nie slaafs gaan volg nie.

Red mist
Ant Middleton
Sphere
9780751580440

Die 43-jarige skrywer en TV-persoonlikheid, Ant Middleton, is aan my bekend weens sy reeks inspirerende selfhelpboeke waarin hy sy ondervinding in die spesialemagte gebruik om aan mense lewenslesse oor te dra. Ollerton, waarvan ek hierbo skryf, was onder andere saam met hom en twee ander persone ’n medeskrywer van SAS who dares wins: Leadership secrets from the special forces.

’n Stuk fiksie uit sy pen was onvermydelik. In 2021 verskyn Cold justice.

In ’n onderhoud met The Sun (27 May 2018) erken Middleton dat “doodmaak die naaste ding is om soos God te voel”. Sy vigilante-karakter, Mallory, leef sonder twyfel hierdie beginsel in Red mist uit.

Wat verwag mens van ’n man wat op die adrenalien van avonture leef? Aksie op aksie, en in daardie opsig laat Middleton sy lesers nie teleur nie. Die enigste ding wat die tempo demp, is die karakter se beskrywing te midde van ’n geveg.

The knifeman came at him fast, not wanting to let him turn around and run for the door. A black leather satchel was at his side, the strap crossing his chest. He wore a black, long-sleeve T-shirt. Jet black hair tied in a ponytail. Brown eyes utterly focused on the job (bl. 65).

Aksiegedeeltes is ook meer effektief as dit in korter sinne geskryf word.

Hoe dit ook al sy (laat ek dit liewer nie sê nie, maar ’n skrywer), Simon Kernick som Red mist op as “a real page-turner”. Máár net soos met Ollerton, is hierdie reeks nie een wat ek gaan versamel nie. As ek wel op ’n lughawe na vinnige leesstof delf wat ek in die hotelkamer kan agterlaat, dan is Middleton op die lys.

*

Ek is te bang om dit hier te vra, maar ek wonder soms as ek net één boek ’n jaar deur ’n spesialemagteoperateur kon lees, wie sou ek kies? Ek wonder dan ook wat sou gebeur as skrywers die vraag in gedagte sou hou wanneer hulle skryf?

As ek nou regtig braaf wou wees, kon ek dieselfde vraag aan die krimikorps rig.

Wat laat ’n skrywer se boeke uittroon bo die res? En (ons fluister dit liewers): Is die beste regtig nog die beste? Bekendheid = boekverkope by die duisende, maar dit is nie dieselfde as gehalte nie.

Voor jy inspring en my aanval, het jy al ’n boek van een van jou gunstelingskrywers gelees en gewonder: Hoekom het hy hierdie boek geskryf? Was sy hele hart in die skryfproses of was sy oog net op sy bankbalans gefokus?

Die antwoord bring my by die twee vreesaanjaende gedagtes: Is die beste nie al vervang nie? Is ons net te bang om dit te noem?

En aan skrywers: Wat gaan jy doen dat jou reeks nie ’n cliché word nie? Nie net gemeet teenoor ander skrywers nie, maar gemeet aan jouself. Verkoop jy nie net dieselfde storie anders verpak nie?

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 6

Kommentaar

  • Uitstekende argument, Stefaans. Ek het net Saterdag dieselfde gevra toe ons op Netflix 'n fliek soek om te kyk. Ek wil nie aksie, rillers, sci-fi, horrors of rom-coms kyk nie. Meet ek nou alle flieks aan die uitstekende dramas van 'n klompie jare gelede? Soos Shipping news, Atonement, Ladies in Lavender, As it is in heaven?

  • Misdaadfiksie is iets wat ek maar min lees. Daarom kan ek nie roem op 'n besondere ingeligte opinie nie. Daarby het ek ook nie 'n meestersgraad in krimikunde nie. Ek onthou net dat ek vreeslik aan Michael Connelly se Harry Bosch boeke verknog was as student, en die een na die ander verslind het. En toe was dit Deon Meyer, toe Karin Brynard, en later Rudi van Rensburg, maar iewers het die ywer getaan. Hierdie soort boeke is heerlik vir ontspanning, en ek beplan beslis om spoedig 'n klompie misdaadfiksie in te werk, so oor die feestyd. In my kop is joernaliste die perfekte misdaadfiksieskrywers. Al die genoemde mense was joernaliste, insluitend Connelly. Die tegnologie waarmee die polisie werk, ontwikkel maar gedurig, en ek reken skrywers van sulke boeke moet seker nogal goed op hoogte wees van dinge, soos joernaliste mos is. Maar daar is deesdae so baie misdaadfiksie, dat baie van hierdie skrywers seker nie joernaliste was nie. John Grisham ook gelees. Hy was weer 'n prokureer dink ek.

    Ek is bly ek is nie 'n skrywer, of 'n kunstenaar nie. Dit moet swaar wees om elke jaar 'n nuwe poptreffer te moet skryf. Of 'n krimi-treffer. Of welke treffer ook al. Ek glo egter daar sal altyd nuwe stories wees. Nuwe perspektiewe. Nuwe idees. Nuwe woorde en begrippe. Daar bly 'n eindelose behoefte aan hierdie soort boeke. Mense wil vermaak word.

    Altyd interessant om van al die boeke te lees waaroor jy skryf. Ek wens ek had tyd om hulle almal te lees.

  • Chris Marnewick SC

    Die SA krimi's het vir my vervelig geword; die karakters is meestal stereotipes wat nie naastenby met die werklikheid verband hou nie. Ek meen 'n reeks behoort tot 3 beperk te word - soos byvoorbeeld Zirk van den Berg (terloops ook 'n oud-joernalis) se uitstekende trilogie wat in die destydse Suidwes afspeel. 'n Verskuiwing van plek, tyd en karakters wat die leser boei.

    Met vermaak op die TV of in die fliek gaan dit net so.

    Deesdae lees ek liewer die klassieke boeke wat ek in my jeug oorgeslaan het, of nie verstaan het nie. Dit is verbasend (vir my altans) hoe aktueel die temas daar is, en wat afwesig is, is die vervelige "dronk speurder los weereens die oplosbare moord op". Ja, ek weet, Sherlock Holmes het op sy manier daardie genre ingelui.

    Enough already.

  • Sandra Pretorius

    Misdaadfiksie is al so holrug gery, so ook in Afrikaans, ek lees dit al lankal nie meer nie. Een misdaadskrywer wat wel kop en skouers bo almal uitstaan, is Chris Karsten. Niemand in Afrikaans kan by hom kers vashou nie.

  • Het die Abel-trilogie baie geniet, maar van die Ella Neser-verhale was vir my bietjie deurmekaar en moeilik om te volg.

  • Sandra Pretorius

    Karsten se nuwe boek "Op pad na Moormansgat" is sy beste nog - en dit is nie misdaadfiksie nie (al kom daar misdaad in die boek voor). Al hou ek van sy misdaadfiksie, hou ek nog meer van sy romans soos "Moormansgat" en "Frats". Ek wens hy wil meer sulke tipe boeke skryf en wegstap van die misdaadfiksie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top