
Skrywer: Mike Nicol
Titel: The rabbit hole
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415210543
Koop die boek by Graffiti.
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
...
Alhoewel Fish, die surfer / privaatspeurder wat dagga smous, my sterk aan Vachss se Burke – eks-gevangene, misdadiger wat ander misdadigers roof en besteel, privaatondersoeker en soms sluipmoordenaar – laat dink, is dit sy newekarakters wat die boek as eg Suid-Afrikaans brandmerk en ’n outentieke geur gee.
...
Die meeste krimiskrywers klim suksesvol in die koppe van speurders. Hulle beeld polisieprosedure geloofwaardig uit en werk ’n plot – soms meer as een deurmekaar geweef – haarfyn uit, vermaak lesers met ’n kitsduiwel of twee en ’n verrassende slot. Hul booswigte het selfs, te danke aan intense navorsing, sielkundige rypheid bereik.
Die spanningslyn word snaarstyf getrek met aktuele kwessies wat soms herinner aan sensasionele hofsake, kort hoofstukke en staccato sinne. Soms net ’n enkele woord. Oppervlakkige inligting wat in koerante opgelees kan word, verander die boeke in veelkleurige blitsverkopers.
Dit is ’n formule wat werk.
Die kuns lê deesdae daarin om ’n unieke speurder te skep. Weg met Bennie Griessel-tipe karakters, in met speursersant Solly Mthembu en kie.
Tog. Min krimiskrywers verstaan misdaad soos gesien uit die oë van ’n gevangene. In die Suid-Afrikaanse konteks is dit bykans onmoontlik om die onderwêreld se hiërargie uit te beeld sonder om ’n in diepte kennis van die Nommer-bendes te hê.
Tydens ’n skoolbesoek wys ek die Nommer-bendes se kentekens op die skoolterrein aan ’n onderwyser uit. Naby my huis moes ek een donkernag (ná ’n vlaag inbrake) aan die buurtwag wys waar die 26’s hul gebied met graffiti afgebaken het. In ’n winkelsentrum groet ek ’n blou baadjie aan die hand van sy tatoeëermerke. Dit is hierdie onsigbare straatlewe waarby ons daagliks verby leef. Alhoewel ons nie dié lewe raaksien nie, mis hulle ons nie.
Inteendeel. Joe Faull, ’n vriend, leen eenkeer my kar, maar word duskant McDonald’s deur straatverkopers bestorm omdat hulle vir “General” wou groet en ’n vreemde man sien bestuur. Want net soos in die tronk, gebeur niks ongesiens nie. Selfs die hawelose wat in die waterpyp slaap, het oë en ’n naam. Hul nuusnetwerk hardloop vinniger as ’n polisie-ondersoek. Dit is nie ongehoord dat Radio Bandiet vóór die polisie weet wie die skieter in ’n bendeverwant-sluipmoord was nie.
Dit bring my by Mike Nicol, skrywer van The rabbit hole.
Sedert ek sy vertaalde boek Woes in Desember 2021 ontdek het, het ek op ’n skattejag gegaan en, alhoewel ek op The rabbit hole fokus, is al sy boeke – die Revenge-trilogie en die Fish Pescado en Vicki Kahn-reeks so misdaadrealisties uitgebeeld, dit voel of ek weer in ’n smokkelnetwerk leef. Want sy karakters is mense saam met wie ek tyd gestoot het. En hul taal hou my saans uit die slaap.
Sonder om soos Andrew Vachss, skrywer van Flood, Strega, Blue Belle en Hard Candy in donker dieptes te swem, skilder Nicol straatkarakters verby wie ons Sondae kerk toe ry. En waar Vachss op psigopate fokus wat op kinders teer, kombineer Nicol die onderwêreld met bendes, misdaad en die skadukant van politieke magspel met die glans wat toeriste na Kaapstad lok. Sy boeke word ook gekenmerk deur terugflitse na die vorige bestel se polisie-moordbende en is op werklike gebeure gegrond.
Alhoewel Fish, die surfer / privaatspeurder wat dagga smous, my sterk aan Vachss se Burke – eks-gevangene, misdadiger wat ander misdadigers roof en besteel, privaatondersoeker en soms sluipmoordenaar – laat dink, is dit sy newekarakters wat die boek as eg Suid-Afrikaans brandmerk en ’n outentieke geur gee.
In die tronk waar ons lewens daarvan afhang om niemand te vertrou nie, is dit juis ons vertroue in sekere mense wat ons lewens red. Dit is daardie band tussen Fish en die haweloses, veral die kleurryke Janet met haar komiese dialoog, wat sy boeke in juwele omskep.
Aksiegedeeltes lees altyd vinniger in kort sinne – Nicol se sinne is egter besonders kort. Amper of hy oorlog verklaar het. Dus lees sy blitzkrieg-skryfstyl soos ’n AK-47 wat tydens ’n transito afgevuur word. Dit is net sy skerp humor wat die spanning verslap.
The rabbit hole, die vyfde in die reeks, volg op Sleeper. In laasgenoemde is Vicki se hanteerder Henry Davidson tydens ’n sluipmoordaanval vermoor. Sy het ongedeerd weggestap, maar sien nou ’n sielkundige. En brand om die sluipmoord op te los.
Fish is Fish. Drink bier, verkoop dagga, surf en kan enige iemand, ongeag waar hy/sy wegkruip, opspoor. Hy vat ook nie kak nie. Mart en die Amalfi-familie is op sy spoor.
Dié boek, net soos sy voorgangers, is ’n bloedbad – proudly South African. Lees dit en raak verslaaf aan die Nicol drug.



