
...
Terwyl ek na hul prente teen die yskasdeur kyk, dink ek: Dit is hoe die politiekespanningsgenre deesdae lees. Dieselfde prentjie, net anders ingekleur. Chat GPT kan dit net sowel skryf.
...
Ek gaan aan die hand van die sluipmoordgenre, wat onder die politiekespanningsroman val, my standpunt verduidelik, aangesien dit die genre is wat ek – na meer as 30 jaar – die meeste lees. Ek voel egter sterk dat plaaslike misdaadfiksieskrywers sal baat indien hulle na die gevaartekens (én natuurlik ook geleenthede) kyk wat ek opper voordat hulle die uitsprake oor eie werk onder ywerige lesers se fluisteringe sou hoor.
Maar eers: Wie gee my, ’n man sonder enige literêre graad of ’n krimi agter my naam, die reg om so ’n gewaagde vraag soos die een in die titel te stel?
Ek het vir meer as 18 jaar in die tronk niks anders gehad as boeke om my 23 uur per dag besig te hou nie. My streng paroolvoorwaardes bied verder aan my genoeg leestyd. Ek kyk selde televisie. En as vryskutresensent, met my eie boekeprogram en boekefees, het ek in die laaste vyf jaar bitter min krimi’s deur my vingers laat glip. Ek versamel sekere sluipmoordboeke en is altyd op soek na nuwe stemme.
Ek lees graag die sluipmoord-terroris-spioen-komplot-genre, maar dit voel deesdae of die genre ’n versadigingspunt bereik het. Om die waarheid te sê, verlede jaar, rondom Kersfees, gee my vrou vir ons seuns dieselfde Kersprentjie om in te kleur. Terwyl ek na hul prente teen die yskasdeur kyk, dink ek: Dit is hoe die politiekespanningsgenre deesdae lees. Dieselfde prentjie, net anders ingekleur. Chat GPT kan dit net sowel skryf.
Indien jy verskil, is jy welkom om met elke boek ’n unieke lesersindruk neer te pen.
Kom ek daag jou verder uit: Skeur al die name van die voorblaaie af – Brad Thor, Brad Taylor, Dalton Fury, Jack Carr, ens. Dan vra jy jou af: Wat maak dat hierdie boek uitstaan? En indien ’n leser net een boek per jaar gaan lees, hoekom moet dit joune wees?
Die voorblaaie lyk meestal dieselfde – selfs die titels weergalm eenders: Black site, Operator down, Black flag, Takedown, Full black, Black list. In Afrikaans oorheers eenwoordtitels die krimimark; net ’n paar skrywers is waagmoedig genoeg om langer titels te gebruik om lesers se aandag te prikkel.
Onthou jy die dae toe jy ’n boek met ’n mooi of aanloklike titel gekoop het? Selfs in die politiekespanningsroman was daar titels soos The day of the Jackal, The Bourne Identity en The Brotherhood of the Rose wat my gedwing het om hulle ’n kans te gee en uiteindelik vir die genre verower het.
Onlangs het titels soos Theresa Papenfus se Sing, Mamma, sing en Jeanette Ferreira se Die Melkweg en die miskruier lekker op die oor geval. Ek weet, dit is nie krimi’s nie, maar juis: Daardie titels uit ’n ander genre het my nader gelok om hulle te lees.
Ek moet egter byvoeg: Ferreira se Melkweg en Etienne van Heerden se Gebeente het voorblaaie wat sag op die oog val. Hulle fluister: Lees my, lees my.
Wanneer laas het ’n voorblad op sy eie jou uitgenooi om die boek op te tel?
Ek daag jou uit: Laat staan hierdie skrywe vir ’n paar sekondes en google: “international political / assassins thrillers book covers”. Kyk dan watter één boek jy nét op die voorblad of titel sou kies.
Loer ook sommer hoeveel titels gewoon The assassin of bloot net Assassins is: Ted Bell, Tom Fletcher, Andrew Britton, Gayle Lynds, Clive Cussler ... om net ’n paar te noem. Sommige skrywers doen ten minste moeite om met die woord assassin in die titel te speel: Assassin Eighteen (John Brownlow), Hour of the assassin (Matthew Quirk), The assassin’s betrayal (Auston King), Path of the assassin (Brad Thor) en The President’s assassin (Brian Haig). Hoe ver het ons nie geval sedert The day of the Jackal (Frederick Forsyth), The butcher’s boy (Thomas Perry), In the name of the Father (AJ Quinnell), Hard candy (Andrew Vachss) en andere nie. Hier en daar word ons gelukkig verras met Orphan X (Gregg Hurwitz) en The silver bear (Derek Haas), titels wat nuuskierigheid prikkel.
Ek weet nie wat jou gewoontes is nie, maar ek gaan nooit mall toe net om boeke te koop nie; ek het meestal ná inkopies net ’n paar minute (en nog minder geld) om na ’n nuwe stem te soek, en dan is dit óf die titel óf die voorblad wat my aankope bepaal. Ek het ongelukkig met sulke hit-and-run-aankope te min tyd om die sinopsis op die agterblad te lees.
As ons na die huidige internasionale politiekespanningsromans kyk, sal ons sien dat voormalige spesialemagteoperateurs die genre oorheers. Delta Force, SAS, SBS, CIA, Marine Snipers, ens. Hulle boeke is deurdrenk met “insider information”. Almal ken uiteraard hul vuurwapens en die karakters is ’n kloon van een of ander spesialemagteoperateur. Selfs met die storielyne voel dit asof as jy een gelees het, het jy almal gelees. Skiet en dôner, of ’n eenvoudige moordstorie is nie goed genoeg vir hierdie lesers nie.
Waar is hierdie dekade se boeke wat met The charm school (Nelson DeMille), The hunt for Red October (Tom Clancy), The day of the Jackal en I am Pilgrim (Terry Hayes) vergelyk kan word? Laasgenoemde is in 2012 met die stelling “The only thriller you need to read this year” op die voorblad bemark, en dit is waarna ek as leser soek – daardie een of twee boeke wat bo die res uitstaan.
Hoeveel eenwoordtitels lok jou om die boek te koop? Vergeet eers die skrywers se name (ek sal immers al Deon Meyer se boeke lees al word dit net genommer) – ek praat van die titels. Dink byvoorbeeld Roofdier en Zola.
In die krimiarsenaal is daar geen tekort aan die binnewerk van die polisie nie. Deon Meyer, Johan Jack Smit (Zola) en Dirk Jordaan (Arendsnes) verander ons lesers in rusbankspeurders. Wat ons kort, is meer komplekse storielyne soos wat Karin Brynard met Onse vaders, Dibi Breytenbach met Buit en Marie Lotz met Breekpunt reggekry het. Boeke wat die leser uitdaag om te dink.
Sedert Kas van den Bergh (Jou uur het geslaan), ID Lamprecht (Sonder ’n spoor) en Danie Gouws (Sending selfmoord) het Meyer met sy misdaadfiksie ’n moerse sprong gegee. Ons het Piet Steyn en dies meer nodig gehad om die fondament te lê, maar daarna wou te veel skrywers die volgende Meyer wees. Die afgelope dekade is Afrikaanse krimilesers egter bederf met ’n paar baanbrekers soos Brynard (Plaasmoord), Lotz (Roofdier), Jaco Wolmarans (Bos) en andere wat die genre kort-kort na nuwe hoogtes lei – dit is húlle wat ons ook in die sluipmoordgenre nou die nodigste het.
My betoog is dan ook ’n uitdaging aan die Afrikaanse leesmark – skrywers, uitgewers, beleggers en kopers: Ek is vas oortuig dat ons reeds die nodige talent het om internasionaal mee te dwing, nie net met Meyer nie, maar ook met van die name wat ek hier aangeraak het.
As ek mag uitsonder: Jaco Wolmarans se Ivoor en Dolos en Dibi Breytenbach se Buit sal nie net die leemte vul wat ek tans in die genre voel nie, maar sommer ook die genre opgradeer. Indien albei boeke in Engels vertaal en reg bemark word, is daar geen rede waarom hulle nie op die New York Times se blitsverkoperslys kan verskyn nie. Ek belowe dit is nie omdat hulle plaaslike stemme is nie, maar omdat hul vars aanslag nuwe diepte in die politiekespanningsgenre bring.
Ek gee toe Wolmarans volg Andy McNab en Chris Ryan se formule, maar anders as die voormalige SAS-helde skryf hy asof hy op steroïdes is. Hy het ’n bewondering vir die recces sonder om ’n windgat ek-was-daar-atmosfeer te skep. Sy karakters is ook nie Rambo-superfigure nie. Hulle is emosioneel weerbaar.
Waar baie skrywers op tegniese besonderhede fokus om lesers in aanhangers te verander, spits hy hom daarop toe om met sy videovervaardigersoog sy omgewing visueel te skets. Dit voel amper of ons as lesers in die recces se voetspore loop. Sy bostonele leef met reuk en klank.
Breytenbach is ’n ervare krimiskrywer en gebruik haar ondervinding om vyf storielyne in Buit met mekaar te verweef. Kan jy dit glo – selfs ’n kannibaal en sadistiese reeksmoordenaar. Dit voel asof ons arme lesers teen die grootmeester Bobby Fischer skaak speel.
Omdat sy nooit op operasionele gebied was nie, gebruik sy die natuur om lesers uit hul slaapkamer te ontvoer en tot diep die in bos te sleep. Dit is egter haar metaforiese gebruik van natuurbeelde om die leser deurentyd in die bos gevange te hou wat Buit laat uittroon. En asof dit nie genoeg is nie, span sy die natuurbeelde meesterlik in om spanning op te bou, en selfs om spanning mee te skep. Een van die bekendste visuele simbole in die rolprentvervaardiger John Woo se flieks (The killer en Mission: Impossible 2) was die wit duiwe wat gereeld tydens skietgevegte rondgevlieg het. Breytenbach doen iets soortgelyks met duiwe wat koer, kwêvoëls, bromvoëls en uile wat roep. Sy fokus veral in die eerste helfte van die roman daarop, asof sy die leser daaraan wil herinner dat jy nou in “donker” Afrika weghardloop. Sodra die leser die bosgeluide gewoond geraak het, raak dit stiller. Soos die stilte voor die storm.
Beide Wolmarans en Breytenbach se boeke staan reeds in my boekrak op aandag, reg langs dié van AJ Quinnell, Stephen Hunter (Point of impact), Glenn Meade (Snow wolf) en James Thayer (White star).
Wie wil nie Bettina Wyngaardt se Lokval saam met Wolmarans en Breytenbach op die New York Times se topverkoperslys sien nie?
Ek wil met Steve Jobs se woorde afsluit: “People don’t know what they want until you show it to them.” In die uitgewersbedryf is dit ons werk om dinge te lees wat nog nie op papier is nie.
Gee aan die wêreld ’n nuwe naamlys, proudly South African.
Lees ook:
Jeanne Gooosen: Dis ’n slegte gewoonte om altyd oor kultuur te praat
Dave Chislett: My voice is being heard in different ways
Pieter GR de Villiers: Afrikaans se grootste topverkoper
Koos Kombuis: Die lekker van lekkerleesboeke


Kommentaar
Misdaadfiksie is vir my amper onleesbaar. Ek het in 2024 een so boek gelees van 'n bekende skrywer, en moes myself dwing om deur te druk tot die laaste bladsy. So nou en dan lees ek 'n krimi, en beskou dit as ontspanning. Maar, die vraag na misdaadfiksie is eintlik mos maar onversadigbaar, en gevolglik sal dit altyd verkoop en aanhou gepubliseer word. Nuwe skrywers kry dit altyd reg om eventueel 'n ander aanslag te ontwikkel, en dit sal sekerlik ook so wees dat misdaadfiksie uiteindelik weer vernuwe, hoewel die basiese elemente van die krimi altyd minder of meer dieselfde bly. Suid-Afrika het sekerlik wonderlike stories wat vertel kan word, en is bekend vir rekordvlakke van misdaad, wat 'n teelaarde vir nuwe stories is.
Barend vd Merwe, ek lees liewer Louis L'amour-cowboyboeke, as misdaadfiksie. Ek het al agtergekom dat daar storielyne is wat verander, maar karakters bly dieselfde en baie voorspelbaar.