Met 13 uur bewys Deon Meyer opnuut hy is in ’n klas van sy eie

  • 0

Titel: 13 uur
Skrywer: Deon Meyer
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798150101
Publikasiedatum: Oktober 2008
Aantal bladsye: 384

 

Toe Deon Meyer deur die loop van verlede jaar bekend gemaak het dat hy vanaf die begin van 2008 voltyds gaan skryf, kon aanhangers van dié skrywer en sy spanningsverhale hul geluk nie glo nie. En met goeie rede, want skaars 'n jaar na die verskyning van Onsigbaar (2007) is sy volgende boek op die rakke. 13 uur volg ook in die spore van Wie met vuur speel (1994), Feniks (1996), Orion (2000), Proteus (2002) en Infanta (2004) en soos sy vorige boeke, stel dit nie teleur nie. Meyer geniet toenemend internasionale aansien, palm verskeie pryse in, plaaslik en oorsee, en sy boeke is al in onder andere Engels, Frans, Duits, Nederlands, Italiaans, Noorweegs (en so kan 'n mens aangaan) vertaal.

Die tempo waarteen Meyer se stories ontvou, veroorsaak dat die meeste lesers sy boeke heel gewillig in een sitting deurlees. In 13 uur kry dié tempo 'n verdere hupstoot. Met die boek wat in sogenaamde reële tyd geskryf is, word geen minuut van dié "tipiese 13 uur van Suid-Afrikaanse wetstoepassing" (aldus die flapteks) aan die leser se verbeelding oorgelaat nie. Vanaf die oomblik dat speurder-inspekteur Bennie Griessel vroegoggend wakkergebel word met die nuus van 'n moord, word die leser déél van die chaos van die dag, déél van die storie wat hom grootliks afspeel in die skaduwee van Tafelberg.

Griessel, wat ook voorheen in Feniks en Infanta sy verskyning gemaak het, is geen perfekte held nie: gewikkel in 'n voortdurende stryd teen sy alkoholisme; uit die huis geskop deur sy vrou, Anna; en op soek na die aanvaarding van sy twee kinders. By sy werk is hy een van die "dinosouriërs van die SAPS, (...) 'n bedreigde, uitsterwende spesie, politieke aardverwarming, rasse-klimaatsverandering moes hulle lankal geëis het, maar hier is hulle nog steeds, (...) ou karnivore in 'n oerwoud, die ledemate stram, die tande stomp, maar nog nie heeltemal ondoeltreffend nie" (312). 'n Goeie speurder, nietemin, met 'n nuwe werksbeskrywing: mentor van jonger speurders. En dit is dié mentor-rol wat Griessel die skakel tussen twee storielyne, twee misdade, maak.

Inspekteur Vusumuzi Ndabeni is verantwoordelik vir die ondersoek na die moord op 'n Amerikaanse toeris, wat aansienlik meer dringend raak toe dit blyk dat dié se vriendin, Rachel Anderson, steeds in lewensgevaar verkeer en as't ware gejag word. Skaars 'n kilometer daarvandaan moet inspekteur Fransman Dekker 'n ander moord op Adam Barnard, die eienaar van die platemaatskappy AfriSound, oplos. In sy "raadgewende" hoedanigheid is Griessel heeldag aan die rondjaag tussen die twee sake. Dit bly egter nie net by raadgee nie, en kort voor lank belowe hy die Anderson-ouers dat hy hul dogter veilig sal terugkry.

Meyer se vaardigheid, en waarskynlik sy boeke se gewildheid onder Suid-Afrikaanse lesers, lê in die manier waarop hy 'n bekende omgewing gebruik en ten volle ontgin as agtergrond vir sy stories. In 13 uur hardloop die lesers saam met Rachel Anderson deur Oranjezicht en Tamboerskloof se strate, volg hulle die spoor saam met Griessel en sy "leerlinge" deur 'n nagklub en backpackers, in 'n omgewing wat so bekend en tasbaar is dat die boek vir Suid-Afrikaanse lesers meer lewe en gestalte kry as wat met 'n oorsese boek die geval sou wees.

Die herkenbaarheid strek egter verder as die blote fisiese omgewing: 13 uur en sy mense is onmiskenbaar Suid-Afrikaans. Elemente soos korrupsie (ook in die polisiemag), kwotas, rassisme en seksisme, alles so deel van die land, kom telkens na vore. Die moord op Barnard betrek verder die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, kompleet met gospelsangers en divas en ander egotipes. En soos met sy vorige boeke getuig die jongste van deeglike navorsing en 'n verstommende insig in veral die polisiemilieu.

Op 'n strukturele vlak is die boek verdeel in hoofstukke met verskillende tydgleuwe (altesaam dertien uur) as titels. Saam met die terloopse tydverwysings wat met die verhaal verweef is, ondersteun dit die gevoel van onmiddellikheid by die leser. Die alomteenwoordige verteller skets gebeure telkens vanuit verskillende karakters se perspektiewe om meer spanning te veroorsaak. Maar die verskillende deeltjies word soomloos geïntegreer om saam dertien uur, 400 bladsye te vorm wat besonder maklik (en lekker!) lees.

Die wedloop teen die tyd om die jong Amerikaanse vrou te red veroorsaak oorgenoeg aksie en spanning om lesers hul naels te laat kou. Aspirantspeurders sal saamwonder oor die AfriSound-moord. En die uiteindelike ontknoping van al twee die storielyne sou min mense kon voorspel. 'n Goeie spanningsroman, dus. Maar 13 uur bewys weer dat Meyer in 'n klas van sy eie is juis omdat die karakterisering so goed is: die dialoog en uitdrukkings, die denkpatrone en maniërismes, die blote menslikheid van Griessel-hulle boei enduit.

Deon Meyer se groeiende gewildheid wêreldwyd veroorsaak dat sy lesers teen hierdie tyd elke nuwe Meyer-skepping met hoër verwagtinge benader. Met 13 uur slaag hy weer daarin om dit te oortref. 'n Mens kan nie anders as om dit te geniet nie. En om uit te sien na (hopelik) volgende jaar dié tyd nie ...

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top