
Boekomslag: Leo deur Deon Meyer (Human & Rousseau, 2023)
Titel: Leo
Skrywer: Deon Meyer
Uitgewer: Human & Rousseau, 2023
ISBN: 9780798183383
e-Pub ISBN: 9780798183390
Dis altyd intimiderend om ’n resensie oor Deon Meyer se nuutste boek te doen. Ek meen nou maar, die man het 13 misdaadromans op sy kerfstok en sy boeke word in 23 lande verkoop. Hy het elke moontlike skrywersprys onder die son ingepalm en het selfs vanjaar by die KKNK die Afrikaans Onbeperk-prys vir literêre bydrae ontvang.
Boonop is Donkerdrif (vertaal as The dark flood) genomineer vir die 2023 CWA Dagger vir vertaalde krimifiksie, die mees onlangse internasionale nominasie (een van ’n lang lys), en Bennie Griessel het selfs sy eie televisiereekse wat op M-Net en Netflix te sien is.
Tik jy Deon se naam en “Leo” op die internet in, is daar hope webwerwe wat om jou aandag skree. Dis egter op die Britse Blake Friedman Literary Agency wat ek raaklees: “In Meyer se kenmerkende styl weef LEO verskeie skynbaar onverwante stringetjies in ’n spannende en aangrypende ondersoek.” Fyn opgesom.
Dis ook hier waar ek weer besef hoe gewild sy boeke wêreldwyd is – selfs onder ander groot skrywers soos Michael Connelly (“Deon Meyer behoort op elkeen se leeslys te wees”) en Tess Gerritsen (“Deon Meyer se naam op die omslag is ’n waarborg van krimiskryf op sy beste”).
........
Bennie en Vaughn is nou al volksbesit en mens glo amper hulle woon regtig iewers in die Kaap en los elke dag misdade op, terwyl die polisiediens uitmekaar val en hulle soos uitgewekenes voel.
........
Nou wonder jy seker, liewe leser, hoekom ek die resensie skryf amper vyf maande nadat die boek verskyn het as sy boeke so goed en gewild is.
Dis Deborah Steinmair se sentiment in haar aanlyn resensie waarby ek die meeste aanklank vind, waar sy verklaar jy moet Leo koop en ’n dag of twee se verlof by die werk insit, want “so ’n boek moet op een slag verorber word ... anders gaan iets verlore, die momentum word gestuit.”
En dis die verskoning waarmee ek volstaan. Ek het begin – een hoofstuk een aand laat; twee hoofstukke op ’n Saterdagmiddag voor ek wasgoed opgehang het – maar nou eers tyd gehad om daardie twee dae op te krul met die boek en (weer begin) om dit van voor tot agter deur te lees. Ja, al 494 bladsye, want as jy die laaste blad van erkennings oorblaai, is jy effe armer daaraan toe wat insigte betref.
Goed, terug by die storie-opsomming soos dit deur NB Uitgewers aan my gestuur is:
’n Student se dood in die berg by Stellenbosch lyk verdag. ’n Oudrecce vermoor as ’n boodskap. Aan iemand: Hou julle bekke. ’n Korrupte politikus se lyk in die sandkuil van Arabella se sestiende putjie. Met ’n onontsyferbare kode daarby. ’n Mooi veldgids, gewerf as ’n heuningwip vir die grootste dollarrooftog in die land se geskiedenis. En staatskapers wat elkeen van die ondersoeke saboteer. Jy't ’n koel kop nodig om dit alles te ontrafel, om die enorme druk te kan hanteer. Jy moet kalm en gefokus en nugter wees. Maar Bennie Griessel se kop is nie koel nie. Hy’s bedruk. Bekommerd. Bevrees. Want op 12 Junie moet hy trou, ’n datum wat op hom afkom soos ’n sneltrein. En hy’s glad nie reg vir dié ding nie.
Dis ’n resep vir ’n ramp.
Griessel en Cupido is terug. Hier kom moeilikheid, GROOT moeilikheid.
Bennie en Vaughn is nou al volksbesit en mens glo amper hulle woon regtig iewers in die Kaap en los elke dag misdade op, terwyl die polisiediens uitmekaar val en hulle soos uitgewekenes voel. Die karakters verwys deurentyd daarna, maar dis op bl 179 waar Bennie verklaar: “Jy is deel van ’n polisiediens wat uit is op sy voete,” wat die boodskap die duidelikste vervat.
Deborah se weergawe van Bennie Griessel is sekerlik die mooiste wat ek nog gelees het: “My gunstelingspeurder is Bennie Griessel. Die vernielde alkoholis met donker, amandelvormige oë en slordige hare wat altyd ’n kap kort. Wat Kaapstad liefhet. Wat gedrink het en steeds dors bly omdat hy te veel voel. Wat brandend omgee vir ander mense en almal wil red. By wie moordtonele bly spook. Wat altyd in homself twyfel.”
Bennie se eie weergawe van homself sluit mooi aan by sy opvatting oor sosiale media. Die karakter is nog nie 50 nie, maar het beslis nie tred gehou met die jonger klomp se fassinasie met sosiale media nie. Op bl 175 en 176 beskryf hy dit so: “Sosiale media is Stellenbosch se suurstof. Jy sien eers die selfoon aankom, dan die student daaragter, almal van hulle selfie-behep en -betotteld. TikTok, Instagram, Twitter en YouTube, die onheilige vier-eenheid, en die boodskap wat elke plasing uitskree, is: ‘Kyk na my, kyk na my.’ Dit fok alles op.”
Hy verduidelik dat sy perspektief “sterk gekleur is deur sy agtergrond van Parow-armoede, van ’n ma wat hom geleer het om nie sy eie beuel te blaas nie. Gebaseer op skaamte vir haar eie swak keuses van ’n huwelik met ’n onambisieuse spoorwegwerker, en hul onvermoë om uit blouboordjie-middelklas te ontsnap. Moenie aandag trek nie, dit was die konstante boodskap.”
Hy erken die sielkunde agter sosiale media ontstem hom. “Veral die dryfkrag daaragter: Daardie verterende smagting om spesiaal te wees, om uit te staan, om gesien te word. Hy is al langer as ’n kwarteeu ’n poliesman en hy kan as kenner getuig, dat, een: Dit is dikwels die enjin agter misdade van gierigheid. Gaan kyk maar na die bedrieërs en swendelaars se profiele op die internet.
“Die aanduidings was maar altyd daar, dieselfde pogings om voor te gee hulle is meer as wat hulle is. Twee: Niemand is spesiaal nie. Almal is maar gewone fokkers wat sukkel. Party het ’n bietjie meer geluk as ander. Maar spesiaal? Nie regtig nie. En drie: Dis ’n verslawing, die verknogtheid aan sosiale media-aandag. En hy ken verslawing. Dit ontneem jou van alles, van jou greep op die werklikheid, van jou beeld van jouself, van jou verhouding met jou geliefdes.”
Interessante siening van iets wat amper onlosmaaklik deel van ons lewens geword het – jonk en oud, want soos die gesegde lui: “As dit nie op sosiale media is nie, het dit nie gebeur nie.” Tog het sosiale media ook ’n beduidende bydrae gelewer tot die oopvlekking van misdaad, en heel dikwels help Jan Publiek se video’s of foto’s om wenke en leidrade te verskaf.
Die boek herinner my baie aan die trant van Jaco Wolmarans se boeke oor die avonture van Tex Texeira, wat soos die oudrecce’s in Leo ’n verbysterende kennis van wapens, skurke, plofstof en vliegtuie het.
........
Leo is voorwaar nie ’n boek om in grepe te lees nie.
........
Jaco, Deon, Rudie van Rensburg en Zirk van den Bergh het jare gelede vir Sanlam se kommunikasie-afdeling gewerk. Dit moes iets in die water gewees het wat hulle sulke goeie skrywers gemaak het.
Wat ek ook van hou van Leo is die klein notas onderaan om konteks te gee aan sake waarna die speurders verwys wat die tema van vorige boeke was, want ek glo die meeste mense wat al sy vorige boeke gelees het, het (soos ek) almal op hul rak en kan vinnig terugverwys as hulle sou wou.
Leo is voorwaar nie ’n boek om in grepe te lees nie. Daar is baie om mee tred te hou; baie plekke waar verskillende dele van die verhaal gelyktydig afspeel, en ek vermoed dis die rede hoekom die skrywer heelwat dinge herhaal, sodat die leser kan bybly: Tau se “hy is niemand se speelmaatjie nie”; Vaughn se “shenanigans”; die groep se bymekaarkomplek by Country Pumpkin op Barrydale; die R27 buite Calvinia ...
Sit daardie verlof in; kry die glas wyn of koppie tee; fluit vir die hond of lok die kat. Jy gaan vir twee dae buite aksie wees.
En dan spyt wees dis verby.
Lees ook:
Commendatio: Deon Meyer vereer met die KKNK Afrikaans Onbeperk-prys vir literêre bydrae

