Twee legendes op een verhoog: die musikant Coenie de Villiers en die skrywer Deon Meyer vertel hulle kosbaarste Karoo-stories. Saam verken hulle die Karoo-landskap, sy mense, hul vreugdes en pyn.

Coenie de Villiers en Deon Meyer (Foto van Coenie de Villiers: Amy Coetzer)
Dié tweeluik – Karoo Suite en Karoo Suite 2: Karoonagte – wat in Desember 2020 uitgestel moes word weens Covid-regulasies, is nou op 30 April en 1 Mei 2021 vir Kapenaars beskore by Atlantic Studios, die tuiste van die kykNET-sepie Suidooster, se inryteater.
Meyer vertel stories op die verhoog, terwyl die De Villiers saam met ’n orkes vir musikale begeleiding sorg. Die aanbieding word aangevul met foto’s en videomateriaal van die Karoo-landskap deur die National Geographic-span, Nasa, Deon Meyer self, asook animasiewerk deur Diek Grobler. Die musiekspan sluit in: Mauritz Lotz op kitare, Jaconell Mouton op klawers, David Classen op tromme en perkussie, en Coenie self voor die klavier.
Albei produksies word elke aand ten bate van die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel Stigting se liriekskryf-mentorskapprogram aangebied.
Deon Meyer vertel meer.
Wat maak jou opgewonde van die produksie?
Die geleentheid om ver buite my gemaksone met briljante mense soos Coenie de Villiers, Mauritz Lotz, Jaconell Mouton en David Classen voor ’n lewende gehoor te kan saamwerk, is ’n intimiderende, heerlike ervaring wat my altyd opgewonde (en benoud!) maak. Die Suidoosterfees-optredes is boonop uniek — ons gaan inry toe.
Waarom die Karoo? Vertel asseblief meer oor jou liefde vir die Karoo. Hoekom is die Karoo vir jou spesiaal?
Dis eenvoudig: Die Karoo praat met my hart. Ek kan vir jou sê dit is ’n kombinasie van die ruwe, dramatiese landskap, die uiterstes, die stilte, die lieflike mense, die wye horisonne, die naghemel wat jou asem wegslaan, maar eindelik is dit maar net ’n gevoel dat jy daar vrede kry.
Vertel asseblief meer oor die stories wat deel vorm van die produksie – wat kan die gehoor te wagte wees? Wat het die stories inspireer? Is dit ware verhale?
Elkeen van die twee vertonings (Karoo Suite en Karoonagte) begin met ’n voorwoord, ’n inleiding wat ons hoop die toon sal bepaal en die gehoor na die Karoo sal lei. Die res is almal ware stories oor Karoo-mense, soos oom Ben Bruwer wat die doodskis uit die vloed gered het, oom Joe van Wyk se onderonsie met die Chinese, of Petrus Hendrik Hugo van Pampoenpoort buite Loxton wat ’n legendariese vegvlieënier in die Tweede Wêreldoorlog geword het. Ook inkommers wat deur die Karoo beïnvloed en verander is, soos die twee Franse studente wat hul straf op Jakhalsdans kom uitdien het. Daar is humor én trane.
Hoe is die ervaring vir jou as skrywer om jou stories self te kan vertel in hierdie produksie?
Om boeke te skryf is maar ’n eensame proses, en jou interaksie met die gehoor is eers maande daarna, wanneer die boek verskyn. Dié interaksie is dan boonop nog meestal op ’n afstand, deur e-pos of sosiale media. Met die konserte is daar ’n onmiddellike en baie direkte gehoorreaksie, wat vreesaanjaend én verrykend is. Dié deel is vir my lekker.
Daar word van jou foto’s ook in die produksie gebruik. Hoe verskil die ervaring vir jou om die Karoo in foto’s vas te vang teenoor stories?
Daar is nie vir my ’n verskil nie. In beide gevalle is die hoop en bedoeling om my liefde en waardering vir die Karoo te deel, en om ’n storie te probeer vertel.
Jy en Coenie het ’n hegte vriendskap – hoe is dit om met hom saam te werk? Wat bewonder jy van hom?
Ja, ons ken mekaar al by die veertig jaar lank, en ek is steeds verbyster deur sy talent en intellek. Dit is vir my baie lekker om met hom saam te werk, want Coenie is eerlik en reguit, baie pittig, hy weet wat hy wil hê, en sy standaarde is hoog. Ek bewonder sy visie (dis ’n rare ding), sy meesterlike klavierspel en sy verstommende vermoë om my storietjies tot iets veel groter te verhef met sy meesleurende musiek.
- Die vertoning vind 30 April om 20:00, sowel as 1 Mei om 20:00 by die kykNET Atlantic Studios plaas.
.....
Karoo Suites 1 en 2
In samewerking met: Jakes Gerwel Stigting en KKNK
Met Coenie de Villiers, Deon Meyer, David Classen, Mauritz Lotz en Jaconell Mouton
Datum: 30 April 20:00
1 Mei 20:00
Tydsduur: 120 min
Venue: KykNET Atlantic Studios
Ouderdomsbeperking: Geen
Kaartjieprys: R400 per motor
.....
- Vir meer inligting, besoek die Suidoosterfees se webtuiste.
Lees ook:
Persverklaring: Deon Meyer en Coenie de Villiers se Karoo Suites by Kaapse inryteater
Terwyl ander huiwer, laat waai Suidoosterfees met spogprogram
Persverklaring: Aktuele sake onder bespreking by Suidoosterfees