Persverklaring: Aktuele sake onder bespreking by Suidoosterfees

  • 0

Die Suidoosterfees se Jakes Gerwel-gesprekke word vanjaar van 27 April tot 1 Mei in die Kunstekaap aangebied. Gesprekke word gevoer oor aktuele kwessies en belangrike nuwe boeke. Die fees is onlangs met ’n Fiësta bekroon vir die innoverende manier waarop hulle in 2020 aanbiedings op ’n veilige, genotvolle manier na die publiek gebring het, te midde van die Covid 19-pandemie.

Hoe het Einstein Eskom help skep? Hoe kan ’n Indonesiese vulkaan die Groot Trek verduidelik? En wat het koning Zwelithini en Charlemagne in gemeen? Dít is enkele van die rare vrae wat die ekonoom Johan Fourie ondersoek in sy nuwe boek, Our Long Walk to Economic Freedom. Hy gesels op 30 April om 15:30 met Nicoli Nattrass en Rachel Jafta.

Thembalethu Seyisi, ’n Matie-regstudent, het vir sy mondigwording 21 suksesvolle Suid-Afrikaners genader met die vraag: Watter lewenswaarheid wens jy het jy geken op 21? Die eindresultaat is ’n versameling stories van hoop en deursettingsvermoë deur merkwaardige persoonlikhede. Thuli Madonsela, Sandra Prinsloo, Rochelle Barrish en Susan Booyens is van dié inspirerende mense wat op 27 April om 13:00 gedagtes kom deel.

Die Covid-19-pandemie dwing die mensdom om opnuut oor ons verhouding met die natuur te besin. Adam Cruise, skrywer van It’s not about the Bats, praat hieroor op 28 April om 10:00 met David Bristow, wie se boek, Big Pharma, Dirty Lies, Busy Bees and Eco Activists ook oor omgewingsake handel.

In sy ontroerende Seuns sonder pa’s skryf Julian Jansen dat meer as 60% van Suid-Afrikaanse kinders sonder vaderfigure grootword, en in Gangster ondersoek Carla van der Spuy die impak van afwesige vaders op geharde en gerehabiliteerde bendeleiers. Dié skrywers gesels op 28 April om 13:00 oor hulle onderskeie boeke.

Die bekende skrywer en joernalis, Marianne Thamm, praat op 29 April om 10:00 met Wahbie Long oor sy boek, Nation on the Couch, waarin die lewe in ons geliefde land deur ’n psigoanalitiese bril bekyk word. Hulle verskaf interessante insigte oor maniere waarop Suid-Afrikaners hulleself behoort te sien.

Vir misdaadlesers is daar ook goeie nuus. Die gewilde Rudie van Rensburg gesels met Hanlie Retief oor sy nuutste naelkouer, Hartedief, wat by die fees bekendgestel word. Hierdie gesprek vind om 13:00 op 29 April plaas.

Patric Tariq Mellet se The Lie of 1652 het onlangs opslae in die media gemaak. In dié omstrede boek lewer Mellet skerp kritiek teen die koloniale geskiedenis. Hy plaas op 27 April om 10:00 die fokus op grondonteiening, die verwoesting van lewens en die brutaliteit van slawerny in Suid-Afrika.

Poësie kry ook ’n plek op die program en op 30 April om 13:00 gesels twee nuwe digterstemme, Ashwin Arendse en Veronique Jephtas, met Danie Marais oor hulle onderskeie debute, Swatland en Soe rond ommie bos.

Jeremy Topley kom op 1 Mei om 10:00 aan die woord saam met Michael le Cordeur en André Odendaal. Le Cordeur se boek, Davy Samaai – kampioen van die struggle, handel oor die lewe van die legendariese tenniskampioen. Odendaal, medeskrywer van Pitch Battles: Sport, racism and resistance, bespreek die onmenslike opofferings wat bruin en swart sporthelde onder apartheid moes maak.

Terwyl die gronddebat voortwoed, stel Ivor Price en Kobus Louwrens se Hartstories van ons land se boere lesers bekend aan die mense wat Suid-Afrika se kos verbou. Alfreda Mars en Whernit Dirks, Wes-Kaapse boere wie se stories in die boek opgeteken is, gesels op 1 Mei om 13:00 saam met die skrywers.

Al die gesprekke word gratis deur die Jakes Gerwel Stigting aangebied, maar dit is belangrik om jou sitplek te bespreek deur ’n e-pos aan Theo Kemp te stuur by [email protected]. Meer inligting oor die Stigting se projekte is beskikbaar by www.jgf.org.za.

Die volledige feesprogram is op die Suidoosterfees se webblad: www.suidoosterfees.co.za.

Jakes Gerwel-gesprekke

Vennote: NB-Uitgewers, Naledi, Protea Boekhuis, Jacana en Jonathan Ball

Titel

Die lang pad na ekonomiese vryheid

Met

Johan Fourie, Nicoli Nattrass en Rachel Jafta

Venue

Innovasiespasie

Datum en tyd

30 April 15:30

Tydsduur

60 min

Kaartjieprys

Gratis

Taal

Engels

Ondersteun deur

Jakes Gerwel Stigting

Beskrywing

Hoe het Einstein Eskom tot stand help bring? Hoe kan ’n Indonesiese vulkaan die Groot Trek verduidelik? En wat het koning Zwelithini en Charlemagne in gemeen? Dít is maar enkele van die rare vrae wat Johan Fourie ondersoek in sy nuwe boek, Our Long Walk to Economic Freedom. Kom luister hoe die skrywer en paneel gesels oor die verrykende reis deur ’n Afrika-gesentreerde geskiedenis en die pad probeer baan na ’n beter toekoms.

 

Titel

21 Lewenslesse van bekende Suid-Afrikaners vir 2021

Met

Thembalethu Seyisi, Thuli Madonsela, Sandra Prinsloo, Rochelle Barrish en Susan Booyens

Venue

Innovasiespasie

Datum en tyd

27 April 13:00

Tydsduur

60 min

Kaartjieprys

Gratis

Taal

Engels

Ondersteun deur

Jakes Gerwel Stigting

Beskrywing

Watter lewenswaarheid wens jy het jy geken op 21? Dít is die vraag wat ’n dinamiese regstudent van Universiteit Stellenbosch, Thembalethu Seyisi, aan 21 suksesvolle Suid-Afrikaners gestel het. Die eindresultaat is ’n versameling stories van hoop en deursettingsvermoë deur merkwaardige persoonlikhede. Presies die inspirasie wat jy nodig het vir 2021!

 

Titel

Dis nie die vlermuise se skuld nie

Met

Adam Cruise, David Bristow en Don Pinnock

Venue

Innovasiespasie

Datum en tyd

28 April 10:00

Tydsduur

60 min

Kaartjieprys

Gratis

Taal

Engels

Ondersteun deur

Jakes Gerwel Stigting

Beskrywing

Soos die Covid-19-pandemie die wêreld drasties verander het, is dit dringend tyd om opnuut oor ons verhouding met die natuur te besin. So redeneer Adam Cruise in sy nuwe boek, It’s not about the Bats. Hy gesels met David Bristow, wie se boek, Big Pharma, Dirty Lies, Busy Bees and Eco Activists: 20 Environmental Stories from South Africa, handel oor “pesticides, poaching, petrol, plastics, population, pollination, pollution, pods, politics, pharmaceuticals, people, prophets, power and poop.”

 

Titel

Waar’s die pa’s?

Met

Julian Jansen, Carla van der Spuy en Susan Booyens

Venue

Innovasiespasie

Datum en tyd

28 April 13:00

Tydsduur

60 min

Kaartjieprys

Gratis

Taal

Afrikaans

Ondersteun deur

Jakes Gerwel Stigting

Beskrywing

In Suid-Afrika ken meer as 60% van kinders nie hul pa nie. Die afwesigheid van ’n pa lei dikwels tot ’n gemis aan geborgenheid. Julian Jansen, Rapport-joernalis en oudonderwyser, ondersoek dié fenomeen en maniere hoe die probleem aangespreek kan word. Op haar beurt skryf Carla van der Spuy in Gangster oor geharde én gerehabiliteerde bendelede en hulle afwesige vaders.

 

Titel

Die nasie op die bank

Met

Wahbie Long en Marianne Thamm

Venue

Innovasiespasie

Datum en tyd

29 April 10:00

Tydsduur

60 min

Kaartjieprys

Gratis

Taal

Engels

Ondersteun deur

Jakes Gerwel Stigting

Beskrywing

In Wahbie Long se boek, Nation on the Couch, word die lewe in ons geliefde land deur ’n psigoanalitiese bril bekyk. Soveel sosiale kwessies waarmee ons vandag worstel is die gevolg van sosio-emosionele impulse – soos skaamte, jaloesie en hoop. Kom daag jouself uit oor die manier hoe ons onsself en ons mede-landsburgers beskou, en probeer sin maak oor hoekom ons is wie ons is en doen wat ons doen.

 

Titel

Hartedief

Met

Rudie van Rensburg en Hanlie Retief

Venue

Innovasiespasie

Datum en tyd

29 April 13:00

Tydsduur

60 min

Kaartjieprys

Gratis

Taal

Afrikaans

Ondersteun deur

Jakes Gerwel Stigting

Beskrywing

Gewilde misdaadskrywer Rudie van Rensburg se nuutste naelkouer, Hartedief, word by die Suidoosterfees bekendgestel. ’n Reeksmoordenaar jag in stormweer, en Rooi en Kassie moet hom vastrek. Die Hartedief kom met moord weg, en dan is Kassie se volle aandag ook nie eintlik by die saak nie, want hy is smoorverlief op ’n aanvallige mede-seëlversamelaar. Vlerksleep is nie vir sissies nie. Om sake vir hom en Rooi te vererger word hul baas daarvan verdink dat sy hul ondersoek in die wiele ry, en Kassie moet haar onskuld bewys. Intussen word Kaapse vroue vermoor wanneer daar onweer broei.

 

Titel

Hoe teater ’n boek met ’n gewete word

Met

Coenie de Villiers, Deon Meyer en Zahn Hulme

Venue

Innovasiespasie

Datum en tyd

28 April 15:30

Tydsduur

60 min

Kaartjieprys

Gratis

Taal

Afrikaans

Ondersteun deur

Jakes Gerwel Stigting

Beskrywing

Deon Meyer en Coenie de Villiers praat oor die tweede koffietafelboek wat hul supergewilde Karoo Suite-produksies vergesel. Die nuwe boek, Ons Karoo, verskyn saam met Karoo Suite 2: Karoonagte, waarvan die opbrengs ten bate van talentvolle kinders in die Karoo is. Met hulle eerste koffietafelboek het Meyer en De Villiers ’n miljoen rand ingesamel. Zahn Hulme van die Atterbury Trust wat die publikasies ondersteun, kom gesels saam.

 

Titel

Die leuen van 1652

Met

Patric Tariq Mellet en Tembeka Ngcukaitobi

Venue

Innovasiespasie

Datum en tyd

27 April 10:00

Tydsduur

60 min

Kaartjieprys

Gratis

Taal

Engels

Ondersteun deur

Jakes Gerwel Stigting

Beskrywing

In Patric Tariq Mellet se The Lie of 1652 lewer hy skerp kritiek teen die gevestigde pre-koloniale en koloniale geskiedenis. Hy plaas verder die fokus op grondonteiening, die verwoesting van lewens en die brutaliteit van slawerny in Suid-Afrika. Met uitgebreide navorsing en soeke na identiteit, lewer Mellet ’n dapper nuwe perspektief op die verlies aan grond en geborgenheid in ’n dramatiese tydperk in ons geskiedenis.

 

Titel

Die born frees van die Afrikaanse digkuns

Met

Ashwin Arendse, Veronique Jephtas en Danie Marais

Venue

Innovasiespasie

Datum en tyd

30 April 13:00

Tydsduur

60 min

Kaartjieprys

Gratis

Taal

Afrikaans

Ondersteun deur

Jakes Gerwel Stigting

Beskrywing

Twee kraakvars stemme klink vanjaar op: Ashwin Arendse met Swatland en Veronique Jephtas met Soe rond ommie bos. Swatland speel grootliks af in Malmesbury en word aangebied in Kaaps wat met die kenmerkende bry-klank van die streek weerklink. Jephtas – in 2020 deel van die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans se skrywersresidensie – sluit aan by die tradisie van protespoësie en skryf oor die wonde van die verlede wat halsstarrig bly sweer.

 

Titel

Die sporthelde van die Struggle

Met

Michael le Cordeur, André Odendaal en Jerome Topley

Venue

Innovasiespasie

Datum en tyd

1 Mei 10:00

Tydsduur

60 min

Kaartjieprys

Gratis

Taal

Afrikaans en Engels

Ondersteun deur

Jakes Gerwel Stigting

Beskrywing

Michael le Cordeur se boek, Davy Samaai – kampioen van die struggle, neem die leser op reis deur die lewe van ’n uitsonderlike man wat, ondanks apartheid, ’n internasionaal gerekende tennisspeler geword het. Op sy beurt ondersoek André Odendaal, medeskrywer van Pitch Battles: Sport, racism and resistance, die onmenslike opofferings wat bruin en swart sporthelde in die verlede moes maak. Hierdie gerekende navorsers gesels oor die helde van gister wat ons steeds inspireer.

 

Titel

Hartstories van ons land se boere

Met

Ivor Price, Kobus Louwrens, Alfreda Mars en Whernit Dirks

Venue

Innovasiespasie

Datum en tyd

1 Mei 13:00

Tydsduur

60 min

Kaartjieprys

Gratis

Taal

Afrikaans

Ondersteun deur

Jakes Gerwel Stigting

Beskrywing

Terwyl die gronddebat voortwoed, stel dié boek ons bekend aan die mense wat die kos verbou waarvan Suid-Afrika leef. Ivor Price en Kobus Louwrens bied ’n deernisvolle blik op boere se stryd, hartseer én hoop. Alfreda Mars en Whernit Dirks is Wes-Kaapse boere wie se stories in Hartstories opgeteken is. Hoewel hulle landboureis met klippe besaai was, bly hulle onlosmaaklik aan die grond verbind. Mars en Dirks was ook te sien in Price se TV-programme Vir die liefde van die land (VIA) en For the love of the land (People’s Weather).

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top