Die Suidoosterfees se Jakes Gerwel-gesprekke word vanjaar van 27 April tot 1 Mei in die Kunstekaap aangebied.
Gesprekke word gevoer oor aktuele kwessies en belangrike nuwe boeke.
Hoe het Einstein Eskom help skep? Hoe kan ’n Indonesiese vulkaan die Groot Trek verduidelik? En wat het koning Zwelithini en Charlemagne gemeen? Dít is enkele van die rare vrae wat die ekonoom Johan Fourie in sy nuwe boek, Our long walk to economic freedom, ondersoek.
Hy gesels op 30 April om 15:30 met Nicoli Nattrass en Rachel Jafta.
Bennie Linde gesels met Johan oor sy boek.
Johan, dit was my plan om die inleiding en eerste hoofstuk van jou boek te lees en daarna ʼn paar gedeeltes te kies en oorsigtelik deur te gaan voor ek hierdie onderhoudsvrae opstel, maar dit het nie so gebeur nie. Ek was onmiddellik geboei deur jou boek en het dit moeilik neergesit en maklik opgetel. Jy het ingewikkelde ekonomiese aspekte, asook heilige koeie, gemaklik bespreek en verstaanbaar gemaak, sonder om die intensiteit van jou studieveld te ondermyn. Dit het my herinner aan Outliers van Malcolm Gladwell en Authentieke Intelligentie van Elke Geraerts, wat ook akademiese studievelde maklik leesbaar en boeiend aangebied het. Het jy enige inspirasie gehad vir hierdie formaat van jou boek (buiten Settlers of Catan 😉 )?
Die inspirasie kom van ’n dekade se klasgee. Sedert 2011 gee ek ’n tweedejaarskursus in ekonomiese geskiedenis. Dis ’n uitdaging om geskiedenis relevant te maak vir ’n groep BComm-studente – en ek het daarom probeer om die klasse so te verpak dat daar in elkeen ’n “les vir vandag” sou wees. Toe grendeltyd verlede jaar aanbreek, besef ek dat dit ’n ideale geleentheid is om hierdie lesings neer te pen. Nadat ek ’n paar geskryf en met die studente gedeel het, het die positiewe terugvoer my laat wonder hoekom mens dit sou beperk tot net ’n gehoor van 80 studente. Ek het met ’n uitgewersvriendin gesels, en sy raai my toe aan om ’n kans te vat. Een oggend stuur ek toe ’n paar (naïewe) e-posse aan uitgewers. Tot vandag toe het net een geantwoord.
Jou boek spreek sensitiewe en omstrede sienings aan, soos dat die migrasie van Afrikane vanuit oos- en sentraal-Afrika rondom 300 nC in die huidige Suid-Afrika aangekom het, eerder as die siening van sekere groepe dat hierdie migrasie eers ná die Westerlinge oor Suid-Afrika se grense beweeg het (met die implikasie dat Afrikane die indringers was), asook dat geskiedenis wys “it is the builders rather than burglars who ultimately prosper” (19-20), verwysend daarna dat sukses nie outomaties na diefstal of korrupsie verwys nie. Hoe het jy sulke sensitiewe aspekte benader om dit nie weg te steek nie, maar ook nie ideologies aan te bied nie?
Ek dink nie die Bantoe-migrasie vanuit sentraal-Afrika is werklik sensitief nie. Inteendeel, ek dink dis jammerlik dat byna geen van my studente – tweedejaars by ’n top universiteit – al daarvan gehoor het nie. Ek sou dink dit moet ten minste iewers op skool aangebied word. Maar ek dink daar is ’n belangrike rede hoekom ons hierdie tipe tema as sensitief beskou. Dit is omdat ons byna alle geskiedenis uit die oogpunt van politieke geskiedenis beskou. Só ’n blik vertel ons dalk wát gebeur het (en dít word dan opportunisties gebruik in huidige gesprekke oor identiteit), maar nie noodwendig hóékom dit gebeur het nie. Daarom is ekonomiese geskiedenis so belangrik. Die Bantoe-migrasie is ’n goeie voorbeeld. Ons kyk daarna uit ’n ekonomiese oogpunt: Die migrante uit sentraal-Afrika was suksesvol omdat hulle twee nuwe tegnologieë tot hul beskikking gehad het: jams (of jamswortels), ’n soort patat, sowel as yster. Daar is baie ander sulke voorbeelde – slawerny, kolonialisme, globalisering – wat ons uit ’n ekonomiese eerder as politieke of maatskaplike hoek beskou.
Alhoewel jou boek ʼn vloeiende storielyn het, gebruik jy spesifieke persone, insluitend randfigure, en gebeurtenisse rondom hulle om dit te beskryf. Natuurlik kon jy nie al die interessante historiese persone insluit in hierdie boek nie. Is daar ʼn ekonomiese historiese figuur wat jy uitgesluit het uit jou boek, maar oor wie jy wel in die toekoms sal wil skryf?
Die keuse van die individue is maar ’n refleksie van die onderwerpe. Ek het eerder gepoog om soveel as moontlik wêrelddele in te sluit. Dis eintlik vreemd hoe persoonlik baie van die hoofstukke is. Van die plekke wat ek bespreek in die boek – Uganda, Ysland, Iguazu, Gorée-eiland – is plekke wat ek self al besoek het. Maar dit is inderdaad so dat daar dalk een of twee plekke is wat dalk meer aandag verdien – ek dink spesifiek aan antieke Egipte en Nubië, en dalk Ethiopië. En hoewel Indië ’n paar keer genoem word, is dit dalk nodig om die kollig meer op hulle te vestig, gegewe hul grootte en toekomstige rol in die wêreldekonomie. Miskien moet ek maar ’n paar kaartjies vir die 2023-Wêreldkrieketbeker probeer aanskaf en my tasse pak …
Die meeste van die historiese figure wat jy in jou boek gebruik, is nie self ekonome nie, maar het wel ʼn rol in die geskiedenis daarvan. Een van die fassinerendstes is Sol Plaatje (hoofstuk 18) en spesifiek sy worsteling met die grondfases van apartheid wat in 1913 gelê is deur die promulgering van die Wet op Naturellengrond. Hierdie wet het natuurlik ʼn geweldige impak op die ekonomiese vryheid en gelykheid in Suid-Afrika gehad, maar daar sal ook ander gebeurtenisse wees wat daarin ʼn rol gespeel het. Watter gebeurtenis dink jy het in Suid-Afrika die grootste impak gehad wat tot ons huidige ekonomiese ongelykheid gelei het?
Die 1913-wet het natuurlik swart Suid-Afrikaners se eienaarskap van landbougrond beperk, maar historici beklemtoon ook dat die effek daarvan aanvanklik beperk was. Dis ook nie duidelik wat die alternatief was nie – die politieke realiteit van die dag was waarskynlik dat daar selfs minder grondgebied toegewys sou gewees het indien die Wet nie ’n spesifieke hoeveelheid gespesifiseer het nie. Mens moet versigtig wees dat jy nie kontrafeitelike voorbeelde skep wat nooit eens op die kaarte was nie. Maar dit is desnieteenstaande ’n interessante oefening.
As ek dalk ’n paar minder bekende gebeurtenisse moes uitwys, sou my eerste gedagte die Ekonomiese Beleidsraad se besluit in 1717 wees om Europese immigrasie te ontmoedig en slawe-invoere aan te moedig. John X Merriman sou byna twee eeue later daarna verwys as een van die mees rigtinggewende besluite in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. (Daar was natuurlik, weer eens, ekonomiese redes vir daardie besluit.) ’n Ander een sou wees die vrystelling van die slawe en die gepaardgaande kompensasie in die 1830’s. Wat sou gebeur het as die voormalige slawe die opsie gegee was om landbougrond te onvang, eerder as om na die stad te trek, of na sendingstasies, of aan te bly as werkers op die plase van hul voormalige eienaars? Die laaste voorbeeld is die referendum (in 1922) van wit Rhodesiërs oor of hulle by die Unie van Suid-Afrika wou aansluit of nie. Mens kan maar net wonder of demokrasie vinniger of stadiger sou gekom het in ’n Verenigde State van Suidelike Afrika wat moontlik Namibië, Botswana, Lesotho, Eswatini, Zimbabwe en die suide van Mosambiek sou ingesluit het.
Met my laaste vraag gaan ek jou waarskuwing in hoofstuk 34, dat geleerdes nie moet voorspel nie, uitdaag. Dit is my voorspelling dat in die volgende 50 jaar kunsmatige intelligensie en outomatisering algemene arbeid meestal gaan vervang en dat pligte wat met tradisionele werksgeleenthede uitgevoer word, eerder in die toekoms deur gig-werk gedoen gaan word, maar dat ons in Suid-Afrika geweldige (en gewelddadige) teenstand daarteen gaan ervaar, waar protesoptredes en stakings die behoud van poste gaan afdwing deur arbeidswetgewing. Dit gaan natuurlik ʼn kunsmatige behoud van uitgediende poste wees wat nie finansieel volhoubaar sal wees nie en wat op een of ander stadium gaan lei tot ʼn massiewe werksverlies en uitermate hoë werkloosheidsyfer alvorens ons arbeidsmag gaan aanpas. Wat is jóú voorspelling vir ons arbeidsmark vir die volgende 50 jaar?
Die lekker ding van 50 jaar in die toekoms voorspel is dat ek waarskynlik nie daar gaan wees om die akkuraatheid van my voorspellings te toets nie – en so ook nie die meeste van die lesers nie. So laat ek ’n kans waag: Jy’s reg dat baie tradisionele werkgeleenthede – beide geskoold en ongeskoold – gaan verdwyn. Maar ek dink nie dit hoef noodwendig tot proteste aanleiding te gee nie. Eerstens sal maatskaplike toelae soos die basiese-inkomste-toelaag binnekort ’n realiteit word. Dit sal mense help om ’n sekere lewenstandaard te handhaaf ongeag of hulle ’n salaris verdien of nie. (Dit is nie ’n perfekte instrument nie; soos ek in my boek beklemtoon, vind mense betekenis in werk.) Maar ek dink daar gaan baie ander tipes werksgeleenthede in die dienstesektor geskep word wat ons gaan help om meer vervulde lewens te leef – ons het klaar loopbaanafrigters, influencers, fiksheidsinstrukteurs, kunsraadgewers, skoonmaakdienste, partytjie-organiseerders, lyfwagte, geestelike begeleiers, om net ’n paar te noem. Dink maar net hoe belangrik persoonlike kontak steeds in onderwys en gesondheid is. Ek verwag dat die persoonlikedienstesektor geweldig gaan uitbrei, en met ons hoër inkomstes wat ons verdien uit die outomatisering van vervaardiging gaan ons bereid wees om daarvoor te betaal. My hoop is dat arbeidswetgewing verslap word terwyl oordragte vermeerder – meer inkomstesekerheid, maar ook meer vryheid om te werk waar geleenthede ontstaan.
....
Kom luister hoe die skrywer en paneel gesels oor die verrykende reis deur ’n Afrika-gesentreerde geskiedenis en die pad na ’n beter toekoms probeer baan.
Die lang pad na ekonomiese vryheid
Met Johan Fourie, Nicoli Nattrass en Rachel Jafta
Datum: 30 April 15:30
Tydsduur: 60 min
Venue: ATKV Innovasiespasie
Gratis
....
- Meer besonderhede oor nog Jakes Gerwel-gesprekke by vanjaar se Suidoosterfees: https://suidoosterfees.com/jakes-gerwel-gesprekke
- Meer besonderhede oor die Suidoosterfees 2021: https://suidoosterfees.com
Lees ook:
Persverklaring: Aktuele sake onder bespreking by Suidoosterfees
Terwyl ander huiwer, laat waai Suidoosterfees met spogprogram