Terwyl ander huiwer, laat waai Suidoosterfees met spogprogram

  • 0

Dit is interessant om te sien hoe die Suidoosterfees op uitdagings rondom die COVID-19-regulasies reageer. Waar ander groter kunstefeeste huiwer en uitstel, woeker dié fees in die hart van die Moederstad voort om geleenthede en aktiwiteite vir kunstenaars en feesgangers te skep. En dit alles op ’n veilige, verantwoordelike wyse, met afstande wat gehandhaaf word en saniteringsprotokol oral.

Van 26 Maart tot 2 Mei 2021 maak die Suidoosterfees weer so, met ’n intieme programaanbod wat in verskeie smake voorsien. En dis mos onmoontlik om die uitnodiging van feeskunstenaars van die hand te wys as hulle jou só uitnooi:

Vanjaar spog die Suidoosterfees met uitsoekproduksies in Kunstekaap: interessante gesprekke, komedie, drama, musiek en kinderteater. Daar is ook weer ’n inryteateraanbieding by Atlantic Studios: Deon Meyer en Coenie de Villiers se supergewilde Karoo Suite-produksies, met ’n orkes op die verhoog en visuele materiaal deur van die wêreld se topfotograwe.

Klik op die foto vir volledige inligting oor dié spesiale geleentheid by vanjaar se fees:

Maar om dié dinge te laat gebeur in ’n tyd waar risiko ten alle koste beperk moet word, verg fyn beplanning en ’n ysere wil. Brian Figaji, voorsitter van die feesdireksie, verduidelik: “Ons borge en vennote ondersteun ons geweldig met buitengewone hulp en ondersteuning. Kunstekaap het byvoorbeeld hulle fooie aangepas sodat ons in dié uitdagende tye steeds ’n fees op die planke kan bring. As ’n kleiner fees met ’n groot fokus op ontwikkeling, is dit vir ons makliker om aan te pas by die omstandighede. Ons personeel is innoverend en toegewyd – en dit stel direksielede in staat om snags rustig te kan slaap.”

Brian Figaji, direksievoorsitter van die Suidoosterfees, en Jana Hattingh, uitvoerende hoof. (Foto's: verskaf)

Om produksies veilig aan te bied kos beplanning en nogmaals beplanning, vertel Jana, Hattingh, die fees se uitvoerende hoof. “Ons gebruik die nasionale regulasies as vertrekpunt, en ons kombineer vennote soos Kunstekaap en die Stad Kaapstad se ondervinding met ons behoeftes om die beste moontlike protokolle daar te stel.”

Figaji beaam: “Die program is so opgestel dat vertonings nooit op dieselfde tydstip eindig nie; daar is minder vertonings per dag as in normale omstandighede; feesgangers sal verskillende deure gebruik om in en uit te beweeg, en hulle ontvang ’n inligtingstuk wat die reëls uiteensit. Daar is ook amptenare wat sal sorg dat veiligheidsmaatreëls nagekom word. Kunstekaap en die Suidoosterfees sal alles moontlik doen om seker te maak dat ons feesgangers veilig is terwyl hulle ons fees geniet.”

Dat die feesorganiseerders vernuwend is, is nie sommer net praatjies van ’n trotse direksievoorsitter nie. Die fees is onlangs tydens kykNET se Fiësta-toekenningsgeleentheid mildelik beloon vir die kreatiewe oplossings waarmee hulle vorendag kom. By die Fiëstas is hulle juis erken vir die inryteaterkonsep wat verlede jaar met groot sukses by Atlantic Studios aangebied is. Mense woon dié vertonings by en kan produksies vanuit die veiligheid van hul motors geniet. Optredes wat op ’n buiteverhoog plaasvind, word terselfdertyd op ’n silwerskerm geprojekteer terwyl feesgangers die klankbaan oor hul motorradio’s volg.

Jana Hattingh vertel hoe die inryteateridee vorm gekry het. “As ’n fees wat sy aktiwiteite drasties moes aanpas, het ons verskeie opsies ondersoek en ook gekyk na wat op internasionale verhoë aan die gebeur is. Die inryteateropsie was vir ons aanloklik omdat dit so veilig is. Die tegniese en logistieke kostes daaraan verbonde is egter astronomies, maar danksy ons wonderlike vennote by Homebrew, met hulle harte wat vír die kunste klop, kon ons hande vat, kostes sny en produksies aanbied.”

Homebrew is die vervaardigers van kykNET se gewilde sepie Suidooster, en Jaco Loubser is die man in beheer van sake. Hy sê: “In dieselfde tyd waarin die Suidoosterfees na alternatiewe opsies gekyk het, het ons ’n geleentheid gekry om ’n buitevertoonskerm te bekom. Ons het die potensiaal gesien vir bekostigbare en veilige vermaak in die tye wat teaters se deure gesluit was.” Atlantic Studios beskik oor al die fasiliteite om films te wys en produksies op ’n buiteverhoog aan te bied, en om dit terselfdertyd na verskillende platforms te stroom.”

Boonop is die naam van die fees en die sepie perfek vir sinergie. “Dit is ’n logiese pasmaat omdat baie van die sepie-akteurs ook gereeld op teaterverhoë verskyn,” sê Jaco. Akteurs wat uitblink in die Suidoosterfees en NATi se Jong Sterre-projek, kry byvoorbeeld ook gasrolle in Suidooster.

In ’n tyd waarin daar spreekwoordelik doringdraad om verhoë gespan is, maak die Suidoosterfees se ywer om produksies te laat gebeur, ’n enorme verskil in die oorlewingstryd van kunstenaars. Figaji sê: “Ons is voortdurend bewus van hoe afhanklik kunstenaars en diensverskaffers van feeste is en die impak wat die pandemie op hulle het. Waar moontlik, maak ons planne om te help. In 2020 het ons ’n voorskot aan kunstenaars en diensverskaffers betaal om hulle aan die gang te help hou. Toneelstukke wat nie verlede jaar kon speel nie, word hierdie jaar geakkommodeer. Die Suidoosterfees fokus daarop om finansieel gelyk te breek met elke fees, eerder as om wins te maak.”

Die impak van die fees se ontwikkelingsprojekte op mense se lewens kan nie in finansiële terme gemeet word nie. Vennote soos NATi, die Jakes Gerwel Stigting en die Stad Kaapstad ondersteun projekte wat die potensiaal van belowende kunstenaars ontsluit – in en deur Afrikaans. Figaji sê: “Een van die fees se doelwitte is om doelbewus Afrikaans ’n taal van versoening te maak, sodat ons die taal se verdelende geskiedenis begin uitwis en vir alle taalgebruikers ’n gevoel van inklusiwiteit skep. Ons fees se primêre teikenmark is die middelinkomstegroep Afrikaanssprekendes, ongeag ras.”

Vennote gee nie net geld nie, hulle is aktief betrokke by die ontwikkeling van aspirantkunstenaars. “Dit is ’n egte vennootskap wat ek baie waardeer en waarop ek persoonlik baie trots is,” sê Figaji. “Wat my opgewonde maak, is wanneer ek ’n jong persoon sien wat uit ons Talentsoektog-kompetisie gekom het en nou uit eie reg op ’n verhoog staan.”

Volgens Jana word die element van ontwikkeling deurgetrek na groot produksies soos dié van Deon Meyer en Coenie de Villiers. “Toe die eerste Karoo Suite opgevoer is, het dit gehore regoor die land bekoor. Opbrengs hieruit word aangewend om kinders in die Karoo te laat studeer. Met dié aanbieding het die Suidoosterfees dadelik samewerkingmoontlikhede met die fees en die Jakes Gerwel Stigting se liriekskryfprojek gesien. Ons het toe met die KKNK hande gevat en ons liriekskryfprojek hieraan gekoppel.”

Met dié produksie, en elemente wat daarmee gepaard gaan, soos ’n boek, het Meyer en De Villiers saam met die Atterbury Trust reeds kort duskant ’n miljoen rand ten bate van kinders in die Karoo ingesamel. Ons Karoo, hulle nuwe boek wat aan die produksies gekoppel word, word juis by die fees se Jakes Gerwel-gespreksreeks bekendgestel. Inligting oor die boek, ook beskikbaar as ’n luukse versamelaarsitem, is hier beskikbaar.

Danksy die ontwikkelingsprojekte kry opkomende kunstenaars die geleentheid om saam met gevestigde name op die Suidoosterfees-verhoog te verskyn. “Dikwels word jong talent ontwikkel,” sê Jana, “maar daar is geen speelvakke of geleenthede ná die ontwikkeling nie. Ons probeer vir deelnemers ’n vastrapplek in die bedryf gee.”

Rafiek Mammon is een van die mentors van die Suidoosterfees se NATi Jong Sterre-projek.

Rafiek Mammon, een van die mentors betrokke by die NATi Jong Sterre-projek, kan sy opgewondenheid skaars beteuel oor die nuwelingproduksies wat op vanjaar se feesspyskaart is. “Ons het sewe aanbiedings wat debuteer, met verskillende temas waarop gefokus word, en elkeen in ’n unieke styl.

“Daar is ’n komiese perspektief op die verhouding tussen mens en tegnologie in Die workshop, geskryf deur Fabian Rainers. Ons het ook ’n skreeusnaakse, moderne Suid-Afrikaanse klug, Al dra ’n aap ’n goue ring, deur Margo Kotze. Andrico Goosen se But, baby, I love you is ’n tweemanstuk wat afspeel in ’n boksgimnasium en gaan oor manlikheid en geslagsgebaseerde geweld. Dan is daar Carlo Daniels se fisieke, surrealistiese Kokon wat op die Cape Flats afspeel en vertel van ’n hoërskoolleerling wat sukkel met sy seksuele identiteit.

“Gerhard Visagie se Mannetjie daag eufemismes rondom boeliegedrag en seksuele mishandeling uit en wys watter verskriklike uitwerking dit op kinders het. Misha Krynauw se The infinite woman is ’n huldeblyk aan die kosbaarheid van moederliefde, en Xolisa Ngubelanga se It’s my baby spreek plaasmoorde en rassekwessies aan.”

Rafiek vertel dat mens uiteraard “hare op jou tande” moet hê om nuwelinge se produksies vir die verhoog te ontwikkel, “veral as jy met sterk persoonlikhede in die kunste werk”. Maar daar is ’n ekstra beloning: “Daar is groot, gevestigde name wat in dié debuutproduksies optree of dit regisseer: Stian Bam, June van Merch, Lee-Ann van Rooi, Tinarie van Wyk Loots, Gaerin Hauptfleisch, Ivan Abrahams …”

Klik op die foto vir die volledige NATi Jong Sterre-program:

Besoekers aan vanjaar se Suidoosterfees kan hulle ook verlustig in die NATi Teaterfees wat spog met produksies waarin ervare staatmakers te sien is, soos Sandra Prinsloo (Spertyd), Rehane Abrahams en Lukhanyiso Skosana (Brandbaar), Cintaine Schutte (Die dinge van ’n kind), Deon Lotz en Brendon Daniels (Kamp), Buhle Ngaba (Swan Song) en Natalia da Rocha (Not my children).

Kyk na die NATi Teaterfees-program deur op die foto te klik:

Vir musiekliefhebbers is daar produksies in verskillende genres. In Drome het vlerke bring Frazer Barry liedjieskrywers byeen wie se oorspronklike materiaal en komposisies in 2020 tydens die Jakes Gerwel Stigting se eerste liriekskryfskool verfyn is. Theo Kemp, hoof van die stigting, beskryf dié produksie so: “Ons het die voorreg gehad om in 2020 vyf fantastiese jong liriekskrywers onder ons dak in Somerset-Oos te kon hê. Hulle het getokkel en geskryf, gesing en gesweet. As jy wil sien hoe die drome van hierdie jong musikante vlerke gekry het, moet jy op 1 Mei om 20:00 by Kunstekaap wees. Met die meesterlike Frazer Barry – mentor van die projek – en Deniel Barry, asook die jong snare Breyten Treurnicht, Brumelda Bell, Nicol Klopper, Gabriel Plaatjies en Naaim Briesies.”

Klik op die foto vir ’n volledige oorsig oor al die musiek- en komedie-aanbiedinge by vanjaar se fees:

Die Jakes Gerwel Stigting bied oudergewoonte ’n uitstekende gespreksreeks gratis vir feesgangers aan. Prominente skrywers en meningsvormers is op die program, en die jongste boeke word bespreek of bekendgestel. Deelnemers sluit mense soos Thuli Madonsela, Sandra Prinsloo, Don Pinnock, Julian Jansen, Carla van der Spuy, Marianne Thamm, Rudie van Rensburg, Hanlie Retief, Coenie de Villiers, Deon Meyer, Patric Tariq Mellet, Tembeka Ngcukaitobi, Ashwin Arendse, Veronique Jephtas, Michael le Cordeur en Ivor Price in.

Klik op die foto vir die volledige aanbod van die Jakes Gerwel-gesprekke:

Vanjaar val die Suidoosterfees in die skoolvakansie, en die fees se kinderteaterproduksie saam met NATi en die KKNK is net die ding waarmee ouers die jongspan besig kan hou. Pietersielie en Roosmaryn vertel stories! vertel van twee karakters wat die wêreld vol reis met hul towerkaravaantjie, op soek na vriende, boeke en kinders om stories mee te deel. Die boodskap aan jong teatergangers is opvoedkundig en fokus op die belangrikheid van verdraagsaamheid, die waardering van mense se uniekheid, om jouself te wees en, natuurlik, die waarde van lees.

Bianca Flanders en Dean Bailie in Pietersielie en Roosmaryn vertel stories! (Foto: Suidoosterfees)

Ekstr-r-r-avaganza, in samewerking met Kunstekaap, is ’n genreverskuiwende produksie wat geskik is vir die hele gesin. Hierin kom die beste van die beste in Kaapse vermaak op die verhoog byeen, en dit wissel van sirkustoertjies tot dans, van klassieke musiek tot sang – alles smelt saam met komedie en grapjasse in ’n feestelikheid saam om die hele gesin te betower!

Agter die feesprogram is daar natuurlik ’n wenspan wat nie bang is om moue op te rol nie. As uitvoerende hoof word Jana Hattingh bygestaan deur ’n kernspan van drie voltydse personeellede en bekwame vryskutwerkers. “Om in die kunste te werk is ’n leefstyl, nie ’n loopbaan nie – jy is sewe dae aan diens. My diepste buiging gaan aan hulle wat gereed staan vir enige uitdaging,” sê sy.

Francois Abrahams en Faren Esau (Foto's: verskaf)

Faren Esau en Francois Abrahams is twee van dié kernmedewerkers. As die projekkoördineerder fokus Faren onder andere op die fees se Talentsoektog-projek en die NATi Jong Sterre. “Ek wou altyd in die vermaaklikheidsbedryf werk en ek dink die fees is die beste platform vir my om net nog meer te leer. Ek sê altyd ek beoefen eintlik my stokperdjie en ek word daarvoor betaal.”

Vir Faren is daar geen beter gevoel as wanneer jy kunstenaars op die verhoog sien nadat jy hulle drome help waar maak het nie. “Mens kan baie gou negatiewe emosies voel wanneer goedjies soms nie uitwerk soos jy beplan het nie, maar sodra die kunstenaars die verhoog vat en die gehoor is op hulle voete, dan voel alles die moeite werd.”

Net soos Faren kan ook Francois Abrahams nie wag vir die dag dat die pandemie net ’n slegte herinnering is nie. Vir Francois, wat al vier jaar by die fees as kantooradministrateur en assistent vir die uitvoerende hoof werk, is die lekkerste om met mense te werk, te kommunikeer en nuwe dinge te leer. “’n Mens is ’n mens deur mense,” sê hy. “Dit bring tevredenheid en dankbaarheid mee as ’n mens se harde werk beloon word deurdat elke rolspeler in die ekosisteem van die kunste dit geniet. Dit sluit die gehoor, kunstenaars sowel as die donateurs en vennote in.”

 

  • Spesiale afslagpakkette vir feesgangers, wat hotelverblyf en produksiekaartjies insluit, is beskikbaar:

Lees ook:

Suidoosterfees 2021: ’n onderhoud met Deon Meyer

Suidoosterfees 2021: ’n onderhoud met Coenie de Villiers

Suidoosterfees 2021: ’n onderhoud met Johan Fourie

Suidoosterfees 2021: An interview with Adam Cruise

Suidoosterfees 2021: An interview with Thembalethu Seyisi

Kalender: Suidoosterfees 2021 ‒ Die leuen van 1652

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top