Suidoosterfees 2021: ’n onderhoud met Coenie de Villiers

  • 0

Twee legendes op een verhoog: die musikant Coenie de Villiers en die skrywer Deon Meyer vertel hulle kosbaarste Karoo-stories. Saam verken hulle die Karoo-landskap, sy mense, hul vreugdes en pyn.

Coenie de Villiers en Deon Meyer (Foto van Coenie de Villiers: Amy Coetzer)

Dié tweeluik – Karoo Suite en Karoo Suite 2: Karoonagte – wat in Desember 2020 uitgestel moes word weens Covid-regulasies, is nou op 30 April en 1 Mei 2021 vir Kapenaars beskore by Atlantic Studios, die tuiste van die kykNET-sepie Suidooster, se inryteater.

Meyer vertel stories op die verhoog, terwyl die De Villiers saam met ’n orkes vir musikale begeleiding sorg. Die aanbieding word aangevul met foto’s en videomateriaal van die Karoo-landskap deur die National Geographic-span, Nasa, Deon Meyer self, asook animasiewerk deur Diek Grobler. Die musiekspan sluit in: Mauritz Lotz op kitare, Jaconell Mouton op klawers, David Classen op tromme en perkussie, en Coenie self voor die klavier.

Albei produksies word elke aand ten bate van die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel Stigting se liriekskryf-mentorskapprogram aangebied.

Coenie de Villiers vertel meer. 

Wat maak jou opgewonde van die produksie?

Die vertonings by die Atlantic Studios-inry is merkwaardig – dis die eerste keer dat hierdie tipe uitvoering in so ’n konteks uitgevoer sal word. Wat dit des te meer besonders maak is die feit dat dit ’n oeroue formaat is (ware vintage!) wat nou binne ’n digitale omgewing werk. Ons is ontsaglik opgewonde – dis ’n eenmalige ervaring vir ons en hopelik ook vir die gehoor. Soos baie van ons wat effe ouer is, het ek vele herinnerings aan die inryteater – ek het jare gelede selfs ’n lied daaroor geskryf by name “’63 Plymouth”. Dit was groot pret – ons gaan probeer om daardie nostalgie te herhaal, kompleet met ’n double feature en ’n pouse met hamburgers, melkskommels en springmielies. Dan is dit altyd lekker om saam met Deon en die ongelooflike musikante te kan optree. Ons is steeds verstom oor die sukses van die produksies. Ek kan ook nie nalaat om te sê dat dit gewoon heerlik sal wees om weer te kan optree na maande en maande van inperking nie.

Wat kan die gehoor te wagte wees?

Wel, dit sal die eerste keer wees dat mense die twee vertonings rug-aan-rug kan hoor en sien. Covid het ons ’n streep getrek: Pas na die opening van Karoo Suite 2: Karoonagte het die regulasies in werking getree en alle vertonings vir die res van die jaar is gekanselleer. Dit was ’n teleurstelling, veral aangesien die ontvangs vir die nuwe produksie werklik goed was. Ons sien almal daarna uit om in ’n veilige omgewing te kan optree – vir ons en die gehoor. Benewens die verhale en die musiek is dit natuurlik ook ’n geleentheid om van die land se knapste musikante te hoor speel – die A-span is op die verhoog. Jaconell Mouton is op klawers, Mauritz Lotz op kitare, David Classen op perkussie en ek self probeer byhou op die klavier. En dit in ’n inry! – wie sou kon dink?

Wat is die inspirasie agter die produksie? Hoe is die idee van die produksie gebore?

Dis een van die lekkerste dinge in my verhoogloopbaan om saam met Deon te kan werk. Hy is ’n formidabele en inspirerende talent. Ons ken mekaar reeds dekades lank en ek dink daar is respek en waardering vir mekaar se werk wat in die produksies deurskemer. So ’n stuk of vier jaar gelede het die KKNK gevra dat ek ’n opdragwerk skep vir die fees en ek het gevra of Deon die teks sou doen en aanbied vir ’n verhoogproduksie. Hy het uiteindelik teësinnig ingewillig en die pragtigste teks geskep – boonop is al die verhale waar! Ek het die konsep en musiek rondom die stories geskep en beide produksies word deur sterk oudiovisuele materiaal versterk. Dis moeilik om te bepaal watter genre die produksie aan voldoen – dis ’n hibriede formaat wat ons gewoon hoop mense sal ontroer, veral in hierdie onsekere tye.

Waarom die Karoo? Vertel asseblief meer oor jou liefde vir die Karoo. Hoekom is die Karoo vir jou spesiaal?

Ek en Deon is baie, baie lief vir die Karoo en ons het albei ’n holte vir die voet daar – Deon in die Groot Karoo en ek in die Klein Karoo. Ons dink dit het te doen met die stilte en die eerlikheid van die landskap. En dan moet ’n mens ook nie die egtheid en gasvryheid van die Karoo-mense lig takseer nie!

Vertel asseblief meer oor die musiek waarvoor jy verantwoordelik is.

Ek het ’n klank- en musiekpalet geskep ter ondersteuning van Deon se verhale. Dit het ’n sterk klassieke inslag, en sommige dele herinner aan die werk van Vangelis met ’n goeie skeut outentieke Afrika-instrumente soos die kalimba bygeroer. Ek het ook die klank van die magneetvelde van verskillende planete in ons sonnestelsel gebruik – ons kon dit via Nasa bekom. Elke planeet klink anders – ek gebruik die klank van onder andere Jupiter, Neptunus en Uranus in die klankbaan.

Die produksie word ook aangevul met foto's, oudiovisuele materiaal en animasiekuns – vertel asseblief meer hieroor.

Deon is ’n formidabele fotograaf uit eie reg en ons het ruimskoots van sy materiaal gebruik in die eerste Karoo Suite-produksie. Ons het die oudiovisuele element uitgebrei in die tweede produksie wat fokus op die Karoo se pragtige nagte. Die sterrekunde-professor Matie Hoffman was ons raadgewer, en ons het verstommende materiaal by Nasa bekom, onder meer van die Hubble-teleskoop se deurvlug deur die wolke van Orion. Dan was ons gelukkig verby om twee van National Geographic se voorbladfotograwe te kon oorhaal om saam met ons te werk en alle fotografie te skiet – dit sal ook in die boek verskyn wat ons in 2021 vrystel. Daar is selfs animasiekuns deur die bekende kunstenaar Diek Grobler – hy doen min projekte en ons was begunstig deur sy talent met hierdie ronde.

Jy en Deon het ’n hegte vriendskap, soos jy gesê het - hoe is dit om met hom saam te werk? Wat bewonder jy van hom?

Ja, ek het genoem dat ons mekaar lank reeds ken, maar ’n mens leer mos ’n ander dimensie van iemand ken as jy moet saamwérk. Ek het opnuut onder die indruk van Deon se talent gekom, sy kreatiwiteit en dan natuurlik sy integriteit: Hy tob en verstel elke klein detail van elke verhaal totdat dit blink soos ’n juweel. En dis heerlik om hom te beleef as verteller op die verhoog. Hy het eers teësinnig ingewillig, maar ek dink hy geniet dit nou. Daar is ’n hegte rapport tussen ons op die verhoog, maar jy kan eenvoudig nie Deon se teenwoordigheid onderskat nie. En hy is ’n fantastiese kok!

Hoekom is dit vir julle betekenisvol om die Karoo met ’n gehoor te deel?

Die Karoo suip maar aan die agterspeen – mense reis so vinnig as wat hulle kan deur die streek en verspeel die geleentheid om die Karoo se dimensies en skakerings te leer ken. Dis ’n skugter landstreek wat haar skoonheid slegs deel as ’n mens stil word om daardie stilte en eerlikheid te waardeer. Ons moet ook nie vergeet hoe broos die ekosisteem van die Karoo is nie – as ons nie daarna omsien nie, sal dit gewoon eendag verdwyn. Die naglug, die ooptes, en mense en die stilte kruip onder jou vel in. Ek hoop ons vat ’n bietjie van die towerkrag in hierdie twee produksies vas en hopelik kan mense ’n stukkie daarvan saamneem huis toe.

  • Die vertoning vind 30 April om 20:00, sowel as 1 Mei om 20:00 by die kykNET Atlantic Studios plaas.

.....

Karoo Suites 1 en 2

In samewerking met: Jakes Gerwel Stigting en KKNK
Met Coenie de Villiers, Deon Meyer, David Classen, Mauritz Lotz en Jaconell Mouton

Datum: 30 April 20:00
                 1 Mei 20:00

Tydsduur: 120 min

Venue: KykNET Atlantic Studios 
Ouderdomsbeperking: Geen

Kaartjieprys: R400 per motor

.....

Lees ook:

Suidoosterfees 2021: ’n onderhoud met Deon Meyer

Persverklaring: Deon Meyer en Coenie de Villiers se Karoo Suites by Kaapse inryteater

Terwyl ander huiwer, laat waai Suidoosterfees met spogprogram

Kyk hoe nooi Suidoosterfees-sterre jou uit na die fees!

Persverklaring: Aktuele sake onder bespreking by Suidoosterfees

Suidoosterfees 2021: ’n onderhoud met Johan Fourie

Suidoosterfees 2021: An interview with Adam Cruise

Suidoosterfees 2021: An interview with Thembalethu Seyisi

Kalender: Suidoosterfees 2021 ‒ Die leuen van 1652

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top