Deon Meyer en Coenie de Villiers se gewilde Karoo Suite-produksies word beskryf as die “mooiste liefdesbrief aan die Karoo”. Dié tweeluik – Karoo Suite en Karoo Suite 2: Karoonagte – wat in Desember 2020 uitgestel moes word weens die tweede vlaag van die Covid-19-pandemie, is nou op 30 April en 1 Mei 2021 vir Kapenaars beskore by Atlantic Studios, die tuiste van die kykNET-sepie Suidooster, se inryteater.
Albei produksies word elke aand ten bate van die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel Stigting se liriekskryf-mentorskapprogram as ’n “double feature” aangebied, soos in die intryteaters van ouds, kompleet met ’n pouse vir burgers en melkskommels.
Die supergewilde Meyer vertel self die stories op die verhoog, terwyl die legendariese De Villiers saam met ’n orkes vir musikale begeleiding sorg. Die aanbieding word aangevul met lieflike foto’s en videomateriaal van die Karoo-landskap deur die National Geographic-span, NASA, Deon Meyer self, asook animasiewerk deur Diek Grobler.
Meyer en De Villiers se talente sorg vir ’n gedugte kombinasie. Karoo Suite het gehore by verskeie feeste en teaters in vervoering gehad, en het daarna landswyd uitverkoop. Die nuwe Karoo Suite 2: Karoonagte word rug-aan-rug met die eerste produksie by Atlantic Studios se inryteater aangebied.
Die produksies verken die landskap van die Karoo, sy mense en hul vreugdes en pyn op hartroerende wyse. Die musikale span sluit van die land se bestes in: Mauritz Lotz op kitare, Jaconell Mouton op klawers, David Klassen op tromme en perkussie, en Coenie self agter die klavier.
Vir die Kaapse aanbieding het Meyer en De Villiers hande gevat met Atlantic Studios, Suidoosterfees, KKNK en die Jakes Gerwel Stigting. Kaartjies is by Computicket beskikbaar teen R400 per motor (met tot vier insittendes). Dit beteken feesgangers kan ’n Karoo Suite-produksie vir so min as R50 per persoon sien. Daar is elke aand slegs 40 BBP-kaartjies teen R300 per persoon beskikbaar vir binne die Atlantic-ateljees.
Deon Meyer en Coenie de Villiers beywer hulle lank reeds vir die ontwikkeling van jongmense met potensiaal. Hul eerste produksie kon, in samewerking met die Atterbury Trust, bykans ’n miljoen rand skenk aan leerders in die Karoo. Die opbrengs van hierdie kaartjieverkope sal aangewend word om die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel Stigting se liriekskryf-mentorskapprogram uit te brei met werkswinkels wat voortaan ook in die Karoo en Kaapstad aangebied sal word. As deel van dié ontwikkelingsprogram kry liriekskrywers die geleentheid om by die Suidoosterfees en KKNK op te tree.
Vir meer inligting, besoek www.suidoosterfees.co.za.
Kommentaar
Baie dankie. Verneem graag of Deon Meyer en Coenie de Villiers se boeke en/of CD's/video's beskikbaar is by Atterbury se kantore in Pretoria?
Beste Barry, besoek gerus https://karoosuite.co.za/ vir besonderhede oor hoe om Deon en Coenie se boek in die hande te kry.
Waar, hoe en teen watter prys is die boek/e beskikbaar?
Beste Dorea, besoek gerus https://karoosuite.co.za/ vir besonderhede oor hoe om Deon en Coenie se boek in die hande te kry en wat dit kos.
Ai ons mense in die Karoo sal so graag die opvoering van ons geliefde land wil sien, maar ai dis so ver! Hoekom nie een doen in Graaff-Reinet nie, of so iets? Tot PE kan werk! Asseblief.