Die vertaling van eiename by Deon Meyer: ’n ondersoek na konsekwentheid

  • 0

Die vertaling van eiename by Deon Meyer: ’n ondersoek na konsekwentheid1

Marius Swart en Ruchelle Kleyn, Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 15(3)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Deon Meyer is ’n bekende en bekroonde Suid-Afrikaanse speurverhaalskrywer. Sy boeke is intrinsiek Afrikaans en beeld die Suid-Afrikaanse werklikheid uit. ’n Belangrike aspek van sy boeke is die eiename wat as kulturele merkers optree en die Suid-Afrikaanse kultuur in die Afrikaanse boeke uitbeeld. Dit is derhalwe belangrik om vas te stel of hierdie eiename die kultuur in die doelteks deur middel van vertaling konsekwent oordra of nie. Die artikel is dus gemoeid daarmee om eiename wat in Feniks (1996), Infanta (2004) en 7 Dae (2011) voorkom en die Suid-Afrikaanse kultuur uitbeeld te ondersoek en vas te stel of dié uitbeelding na die Engelse vertalings van die boeke oorgedra word. Dit word gedoen deur ’n teoretiese raamwerk daar te stel met behulp van Venuti (1995) se vertaalstrategieë vervreemding en domestikering, en Nord (1997) se funksionalistiese benadering. Die boeke is per hand deurgewerk om vas te stel hoe die eiename in die brontekste en in die ooreenstemmende doeltekste lyk. Eiename sluit byname, plekname, dorpsname, name van stede, persoonsname en streekname in. Die teorie word toegepas om vas te stel of die eiename konsekwent in die doelteks oorgedra word of nie, met behulp van Venuti se strategieë vervreemding en domestikering. Nord se funksionalistiese benadering word gebruik om op die teksfunksie eerder as op die vertaler self te fokus, omdat die uiteindelike vertaalproduk, eerder as die vertaalproses, die fokuspunt in hierdie ondersoek vorm. Met behulp van die funksie van die teks en Venuti se vertaalstrategieë word vasgestel hoe konsekwent die Suid-Afrikaanse kultuur met behulp van die eiename in die doelteks uitgebeeld word. Die gevolgtrekking is dat die eiename soms vervreemdend en soms domestikerend vertaal word, terwyl daar in ander gevalle blyke van beide strategieë is, asook van besluite wat oënskynlik lukraak geneem is. Dit kan tot gevolg hê dat die Suid-Afrikaanse kulturele inhoud, ’n sentrale element by Meyer se eiename, inkonsekwent in die doelteks se vertaalde eiename uitgebeeld word, wat nadelig op geloofwaardigheid kan inwerk.

Trefwoorde: 7 dae; eiename; Feniks; Infanta; kulturele merkers; Deon Meyer; kultuuroordrag; literêre vertaling

 

Abstract

Translating proper nouns in the work of Deon Meyer: an investigation into consistency

Deon Meyer is a well-known and award-winning writer of South African detective stories. His books are written in Afrikaans and depict South African reality. An important aspect of his books is that names (proper nouns) act as cultural markers and portray the South African culture in the Afrikaans books. It is therefore important to determine whether or not these names consistently transfer the culture to the target text through translation. This article is thus concerned with investigating the names which appear in Feniks (1996), Infanta (2004) and 7 Dae (2011) and whether the South African culture they depict is effectively and realistically transferred to the English translations of the books. This is done by using a theoretical framework with the help of the translation strategy foreignisation and domestication by Venuti (1995) as well as the functionalist approach of Nord (1997). Afrikaans names in the books were compared manually with their corresponding English translations. All names are considered, including nicknames, names of places, names of cities, names of people and names of regions. Venuti’s strategy of foreignisation and domestication is used as a tool for determining whether the transfer of names into English is handled in a consistent fashion. Nord’s functionalistic approach is used to focus on the text function rather than the translator, since the focus of this research is the translation process rather than the translators or the eventual translation products. Keeping in mind the function of the text and Venuti’s translation strategies, success in the transfer of elements of South African culture by means of translated names is investigated. The conclusion is that names are translated using domestication as a translation technique in some cases and foreignisation in others, while there are also cases where both techniques are used, or where techniques seem to be used at random. This could result in an inconsistent depiction of South African cultural content, which is a central element to Meyer’s names, and could have an adverse effect on credibility.

Keywords: 7 dae; names; proper nouns; Feniks; Infanta; cultural markers; Deon Meyer; cultural transfer; literary translation

 

1. Inleiding

Deon Meyer is ’n bekroonde Suid-Afrikaanse spanningsverhaalskrywer en sy boeke is al in 27 tale vertaal (deonmeyer.com, 2018) wat tot uitgebreide buitelandse erkenning lei. In 1992 debuteer hy met sy eerste speurverhaal, Wie met vuur speel. Daarna verskyn Feniks (1996), Orion (2000), Proteus (2002), Infanta (2004), Onsigbaar (2007), 13 uur (2008), Karoonag en ander verhale (2009), Spoor (2010), 7 dae (2011), Kobra (2013), Ikarus (2014) en Koors (2016).

Meyer se verhale is intrinsiek Afrikaans en hy dring daarop aan dat sy manuskripte eers in Afrikaans verskyn en dan vertaal word (Wessels 2012:190). Die verhale speel midde-in die Suid-Afrikaanse maatskaplike konteks af en beeld die outentieke Suid-Afrika van hier en nou uit. Meyer stel dit self soos volg: “It has to read not like a British or American novel set here, but like a South African novel set here” (Horler 2014). Dit is om hierdie rede, naamlik dat die verhale eg Suid-Afrikaans is, dat ’n ondersoek na die vertaling van Meyer se romans belangrik is.

Een belangrike element in die uitbeelding van die bronteksmilieu is die gebruik van bepaalde eiename. Volgens Van Coillie (2006:123) het elke eienaam in ’n teks ’n spesifieke funksie. Eiename word in spesifieke kulturele kontekste gevind en tree as kulturele merkers op om die bronteksmilieu uit te beeld. In die geval van speurverhale dra dit ook by tot die geloofwaardigheid van die verhaalgegewens. Vir die doeleindes van hierdie beskrywende ondersoek val die fokus dus op die vertaling van eiename. Eiename ontbloot telkens iets wat eie is aan die Suid-Afrikaanse kultuur en dra sodoende by tot sowel die geloofwaardigheid as die plaaslike aard van die tekste. Eiename sluit in hierdie ondersoek byname, plekname, dorpsname, name van stede, persoonsname en streekname in.

Uit hoofde van die verwysings na konteksgebondenheid van eiename, sowel as hulle funksie, is daar gekies om Venuti (1995) se benaderings van domestikerende en vervreemdende vertaling sowel as Nord se funksionalistiese benadering te benut. Nord sê tereg dat wat die doelteksleser lees, die heruitdrukking van ’n vertaler se interpretasie van die bronteks is (Nord 1997:32). Nord se benadering verskuif die aandag grotendeels weg van die vertaler en fokus eerder op die funksie van die doelteks. Om hierdie rede fokus die navorsing in hierdie artikel nie op die vertaler en vertaalprosesse as sodanig nie, hoewel daar kennis geneem word dat heelparty hedendaagse vertaalondersoeke ’n sterk sosiologiese invalshoek het. Die fokus val hier op die konsekwentheid van die vertaling van eiename as een van die sentrale elemente wat ’n rol speel in die teksfunksie en is dus produk- eerder as prosesgefokus. Die gewone leser sal nie noodwendig weet van, of fokus op, die vertaalproses as sodanig nie, maar sal eerder die teks oordeel op grond van die uiteindelike produk. Aan die hand van die funksie van die teks, in die vertaalkundige sin soos deur Nord uitgestip, en die vertaalbenaderings van Venuti, kan daar uiteindelik afleidings oor die uitbeelding van die bronkultuur in die doelteks gemaak word.

Soortgelyke ondersoekwerk na die vertaling van eiename het al nuttige resultate in die vertaalkunde opgelewer, byvoorbeeld Zandberg (2009) en Bruwer (2005) se werk oor die Harry Potter-reeks. Die sleutelverskil hier is egter dat hierdie navorsing gaan oor die hantering van eiename wanneer Afrikaanse speurverhale in Engels vertaal word, terwyl die bogenoemde studies en etlike ander in die ander rigting gewerk het. Verder val die fokus van hierdie ondersoek spesifiek op konsekwentheid in die vertaling van eiename.

Vir hierdie ondersoek is ’n keuse van drie romans van Meyer gemaak, naamlik Feniks, Infanta en 7 dae, en hul onderskeie Engelse vertalings: Dead before dying (vertaal deur M. van Biljon), Devil’s Peak en 7 days (beide vertaal deur K.L. Seegers). Die romans is deur twee verskillende vertalers vertaal en is oor ’n tydperk van 15 jaar uitgegee. Die keuse is gemaak met die oog op verteenwoordigende data. Aangesien konsekwentheid in die finale produk die hoofonderwerp is wat hier ondersoek word, word daar nie gespekuleer oor die onderskeie insette van die betrokke vertalers, redigeerders en ander rolspelers nie, buiten om kennis te neem daarvan dat ’n gepubliseerde literêre vertaling bykans nooit slegs ’n vertaler se insette bevat nie, maar tipies die resultaat van verskeie betrokkenes se werk is. Daar word vir hierdie studie spesifiek ondersoek ingestel na konsekwentheid in ’n verteenwoordigende datastel.

 

2. Metodologiese raamwerk

2.1 Tekskeuse

Die eerste van die drie romans (Feniks) verskyn in 1996, slegs twee jaar ná Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing, toe daar aangeneem sou kon word dat duidelike kultuurverskille tussen mense in Suid-Afrika nog sou voorkom en dat verskillende plaaslike kulture moontlik minder van mekaar sou weet as wat op ’n latere datum die geval sou kon wees. Die volgende boek (Infanta) verskyn agt jaar later, in 2004. Dit bevat verhaalelemente wat die progressie van kulturele aspekte in die Nuwe Suid-Afrika aandui. Die laaste roman, 7 dae, verskyn in 2011 en bevat dan ook eietydse kulturele aspekte met betrekking tot eiename.

Die Afrikaanse romans sal as brontekste saam met die (Engelse) doeltekste beskrywend ondersoek word met ’n fokus op die vertaling van die eiename uit die Afrikaanse boeke in die Engelse boeke. Uit die praktiese ontleding en voorbeelde van eiename sal dan afleidings gemaak word oor die oordrag van die kulturele merkers wat eiename vorm.

2.2 Teoretiese raamwerk

Soos reeds gemeld, steun die ondersoek hoofsaaklik op die strategieë vervreemding en domestikering soos deur Venuti beskryf en op Nord se werk oor die funksionalisme. Venuti se strategieë fokus op die kulturele aspekte van die bronteks wat óf vertaal word óf vervang word in die doelteks. Nord (1997) fokus op die doel van die vertaling, en haar teorie is gebaseer op die skoposteorie van Vermeer (1998) wat die doel (skopos) van enige vertaling as die belangrikste aspek ag. Enige vertaling moet optimaal in die kultuur van die doelteks kan funksioneer (Vermeer 1998:50) en elke vertaling is, soos reeds genoem, potensieel ’n oordraggeleentheid van bepaalde brontaalkultuurelemente na die doeltaal. Dit is daarom belangrik om hierdie teoretiese uitgangspunte te gebruik, omdat die ondersoek op die kulturele aspekte, asook die doel van ’n vertaling, fokus.

2.2.1. Venuti se domestikering en vervreemding

Venuti se siening van domestikering en vervreemding maak voorsiening vir die beskrywing van die vertaling van eiename wat eie is aan die bronkultuur of die bronteks. Dit is belangrik om te ondersoek of hierdie eiename vertaal is in die doelteks en of dit in die brontaal gelaat is. Hierdie dualistiese benadering tot ’n doeltaal- en doelkultuurgeoriënteerde teenoor ’n brontaal- en bronkultuurgeoriënteerde onderskeid is nie ’n onlangse of unieke verskynsel nie. Schleiermacher (1813:49) meen reeds dat die vertaler ’n opsie het wanneer dit by die vertaling van ’n teks kom, naamlik: “Either the translator leaves the author in peace as much as possible and moves the reader toward him; or he leaves the reader in peace as much as possible and moves the writer toward him.”

Venuti se benoeming van die vertaalstrategieë, naamlik domestication en foreignization oftewel domestikering en vervreemding, is ’n uitbreiding op hierdie basiese onderskeid, en word vir hierdie ondersoek benut (Venuti 1995:20).

’n Vertaling wat volgens die strategie van domestikering uitgevoer word, is vlot en die doelteksleser vind die teks maklik om te lees (Venuti 1995:21). ’n Domestikerende vertaling skep die illusie dat dit deursigtig is, wat veroorsaak dat die teks as ’n oorspronklike teks aanvaar word en die vertaler onsigbaar voorkom (Venuti 1995:21). Die vlot styl waarin die teks vertaal word, veroorsaak ook dat die domestikering van die vreemde teks verhul word. Dit veroorsaak dat die vreemde teks op ’n domestikerende manier gebruik kan word, wat in die Britse en Amerikaanse kulture die globale hegemonie van Engels help uitbrei (Venuti 1995:21).

Volgens Hatim (2001:46) is domestikering eweneens

the hallmark of dominant translation traditions such as the Anglo-American, [...] seen as an approach to translation which, in order to combat some of the “alienating” effects of the foreign text, tends to promote a transparent, fluent style.

Die tweede benadering tot vertaling wat deur Venuti voorgestel word, is vervreemdende vertaling, oftewel vervreemding. ’n Vertaling wat volgens hierdie strategie uitgevoer word, is een waarin afgewyk word van die waardes, oortuigings en voorstellings wat in die doeltaal voorkom (Venuti 1995:15). Die “vreemde” aspekte van die bronteks word dus in die doelteks behou om die doelteksleser sodoende bekend te stel aan die kultuur van die bronteks. Dit beteken, in die direkte woorde van Venuti (1995:15), “sending the reader abroad”. Hatim (2001:46) verduidelik vervreemding as “a translation strategy which deliberately breaks target linguistic and cultural conventions by retaining some of the ‘foreignness’ of the source text”.

Schleiermacher en Venuti verkies ook laasgenoemde vertaalstrategie (Venuti 1995:15). Antoine Berman beskou die argument van Schleiermacher selfs as ’n tipe etiek van vertaling. Berman beskou vertaling as ’n proses wat vreemdheid aan lesers ontsluit deur middel van uiterse vreemdheid (Berman 1985:284). Hy meen ook dat vervreemdende vertaling ontwortel is van sy eie begronding in taal. Berman verkies dus, nes Venuti, dat vertaling uitgevoer word met die eienskap van vervreemding wat in die doelteks teenwoordig is. Nabokov (1955:115) het, soos Berman en Venuti, ’n voorkeur vir die vervreemdende benadering, waarby die vertaler sigbaar is. Nabokov (1955:121) kritiseer vertalings wat vlot lees en verkies letterlike vertalings. Verdere redes waarom Venuti (1995:16) vervreemdende vertalings verkies, is dat dit volgens hom kan help om etnosentrisme, rassisme, kulturele narsisme en imperialisme teen te werk.

Die mees tersaaklike deel van dié teorie vir die ondersoek wat hier uitgevoer word, is die onderskeid wat Venuti tref tussen tekste wat soos vertalings lyk, waar die vertaler sigbaar is, en vertalings wat vlot is en waar die vertaler onsigbaar is. ’n Vervreemdende vertaalbenadering bring ’n teks tot stand wat soos ’n vertaling lyk en sterk elemente van die “vreemde” (brontaal)kultuur bevat, terwyl ’n domestikerende vertaalbenadering ’n teks tot stand bring wat die indruk skep dat dit oorspronklik in die doeltaal geskryf is en eie aan die doeltaalkultuur is. In praktiese terme sou dit gestel kon word dat ’n doelteks wat vervreemding tot stand bring, woorde (in hierdie geval eiename) wat eie aan die bronkultuur is, sal behou. Verder sal daar ook voetnote of ’n woordelys toegevoeg word om woorde wat dalk nie deur die doelteksleser begryp sal word nie, te verduidelik. Om domestikering tot stand te bring, sal woorde (eiename) wat eie is aan die bronkultuur, vervang word met iets wat eie aan die doelkultuur is, of bloot op grond van semantiese inhoud vertaal word.

Op hierdie punt moet genoem word dat daar uiteraard kritiek teen Venuti uitgespreek kan word, aangesien hy oënskynlik deurgaans van mening is, of ten minste aanneem dat die bronkultuur en doelkultuur heeltemal van mekaar verskil. Indien daar na die vertaling van Meyer se romans gekyk word, kan die vraag gevra word of die kultuur van die Afrikaanse leser en die Engelse leser werklik so drasties verskil, veral in die geval van Suid-Afrikaanse Engelssprekende lesers. Aangesien hierdie lesers, naamlik die Afrikaanse en die Suid-Afrikaanse Engelse leser, albei in die Suid-Afrikaanse konteks leef, is dit nie noodwendig die geval dat die Engelse leser niks van die Afrikaanse kultuur sou weet nie.

Dit beteken dus dat die feit dat ’n leser Engelssprekend is, nie noodwendig impliseer dat dié Engelse leser niks van die Afrikaanse kultuur weet nie. Net omdat die leser nie deel van die Afrikaanssprekende kultuur is nie, beteken dit nie dat hierdie leser geen benul van komponente van die Afrikaanse kultuur het nie. Verder kan daar ook nie net aangeneem word dat ’n Afrikaanssprekende persoon wat deel is van die Afrikaanse kultuur, alles van hierdie kultuur weet nie. Die punt is dat daar nie net aangeneem kan word dat persone in die twee betrokke kulture niks van mekaar se kulture weet nie. Indien een van Meyer se romans vertaal word vir ’n Duitse of ’n internasionale Engelssprekende leser, sal die twee betrokke kulture egter wel verskil, omdat hierdie lesers in twee verskillende lande woon. Indien ’n boek se vertaling in ’n ander land verskyn, kan Venuti se onderskeid dus wel geldiger verklaar word.

Vir die doeleindes van hierdie ondersoek bied Venuti se onderskeid nietemin ’n nuttige meganisme om konsekwentheid te ondersoek, en word dit as sodanig gebruik. Die strategieë van Venuti is egter nie op sigself omvattend genoeg om betekenisvolle gevolgtrekkinge uit die ondersoek te verkry nie. Alhoewel Venuti se twee vertaalstrategieë ’n basis vir hierdie ondersoek vorm, moet die spesifieke doel van ’n vertaling ook in ag geneem word. Die doel van die vertaling sal die uiteindelike keuse tussen domestikering en vervreemding beïnvloed. Die volgende teoretiese benadering wat benut word, is daarom die funksionalistiese teorie van Nord.

2.2.2 Nord se funksionalistiese benadering

’n Vertaling word altyd uitgevoer omdat daar ’n rede of ’n doel daarvoor bestaan. Die vertaling word gedoen omdat ’n vertaling aangevra word of vereis word. Die vertaling word nie “sommer net” gedoen nie, maar het altyd ’n motivering wat daaragter skuil.

Tydens die vertaling van ’n bronteks is dit moontlik dat die doel wat deur die doelteks bereik word, nie dieselfde is as die doel van die bronteks nie (Nord 1997:9). Dit is ook moontlik dat die gehoor wat deur die doelteks aangespreek word, nie dieselfde is as die gehoor wat deur die bronteks aangespreek word nie (Nord 1997:9). Dit beteken dat ekwivalensie – die direkte ooreenstemming van ’n brontekselement met ’n spesifieke doeltekselement – as sodanig nie noodwendig as hoogste maatstaf nagestreef word in sekere vertalings nie en daarom grond Nord haar teorie van funksionalisme op die teorie van Vermeer, naamlik die skoposteorie, wat soos volg deur Vermeer self omskryf word:

Any form of translational action, including therefore translation itself, may be conceived as an action, as the name implies. Any action has an aim, a purpose. [...] The word skopos, then, is a technical term for the aim or purpose of a translation. [...] Further: an action leads to a result, a new situation or event, and possibly to a “new” object. (Vermeer, aangehaal in Nord 1997:12)

Snell-Hornby (2006:52) sluit hierby aan en meen dat die skoposteorie die teks, maar ook vertaling, tersaaklik maak, oftewel, dat die fokus nie slegs op tekstuele ooreenstemming val nie, maar op die funksionele parameters waarbinne die vertaler te werk gaan. Dit beteken dat enige vertaling afhanklik is van die skopos, maar ook van die situasie waarin die vertaling voorkom.

Nord (1997:29) stel dit eweneens dat enige vertaling bepaal word deur die skopos daarvan. In Vermeer se konseptualisering van die skoposteorie word die sogenaamde skoposreël ook beskou as die belangrikste van die ses onderliggende reëls in enige funksionalistiese vertaling. Dit beteken dat die skopos van ’n vertaling die vertaalstrategie wat uiteindelik gebruik word, bepaal. Dit word ook ondersteun deur Nord (1988:47) wat dit stel dat die skopos van die vertaling die prosesse binne die vertaling beheer. Reiss en Vermeer (aangehaal in Nord 1997:29) stel dit kort en kragtig: “[T]he end justifies the means”, ’n oriëntasie wat later deur Nord se lojaliteitsbeginsel getemper word, soos later verduidelik word.

Die keuse van die vertaalstrategie hang dan van die skopos van die vertaling af. Dit beteken nie dat die vertaling moet aanpas by die doelkultuur se verwagtinge of voorkeure of die kultuur en waardes van die doelteksleser moet weerspieël nie. Nord (1997:29) meen dat dit meestal, soos bo genoem, sodanig verkeerd geïnterpreteer word. Dit beteken eerder dat die vertaling aan die vereistes van die doelteksleser, gegewe die betrokke teksfunksie, moet voldoen.

Om hierdie onderskeie vertrekpunte te illustreer, onderskei Nord (2001:187) tussen instrumentele en dokumentêre vertalings, waar eersgenoemde die leser nie eksplisiet bewus maak daarvan dat hy/sy besig is om ’n vertaling te lees nie, terwyl laasgenoemde die kulturele gaping tussen die bronteks en die doelteks duidelik uitwys en die leser bewus maak dat hy/sy en die skrywer hier bemiddeld kommunikeer en nie direk nie. Die aansluiting by Venuti se insigte (soos bo genoem) word hier duidelik. ’n Dokumentêre vertaling dokumenteer die bronteks soos dit is; ’n instrumentele vertaling instrumentaliseer die aangebode inligting aan die hand van die skopos.

Nord (1997:53) meen dat literêre vertaling aan die kant van dokumentêre vertaling val en dat dokumentêre vertaling eintlik die konvensionele vorm van literêre vertaling is. Die vraag wat ’n mens hier kan vra, is of literêre vertalings werklik altyd dokumentêr van aard is. Dit is tog noodsaaklik dat die leser van die doelteks die vertaling moet kan verstaan en nie heeltemal vervreem word nie. Blootstelling aan vreemde elemente is altyd nuttig om die doelkultuur bekend te stel, maar indien hierdie blootstelling die algehele boodskap oorskadu, kan dit ’n probleem wees. Dit is moontlik, indien die teks die leser heeltemal vervreem, dat die teks nie as ’n literêre vertaling in die doelkultuur bestempel kan word nie. Verder geld dieselfde situasie wanneer instrumentele vertaling oorweeg word: Indien die doelteks slegs uit ’n instrumentele vertaling bestaan, kan die bronkultuurelemente wat funksioneel in die teks optree, werklik nog bekend gestel word aan die doelteksleser? Indien daar geen vreemde elemente in die doelteks voorkom nie, hoe gaan die doelteksleser die idee van die bronkultuur kry wat vir die bronteksleser ’n wesenlike bydrae maak tot waarna Meyer se Suid-Afrikaanse stories verwys? Doen dit nie ook afbreuk aan die geloofwaardigheid van die verhaalgegewe wat onder andere deur die gebruik van (kultuureie) eiename ingeklee word nie?

Nord (2001:195) sê dat dit moontlik is vir die vertaler om die vreemdheid verstaanbaar vir die leser te maak en dat die leser toegang tot die ander kultuur kan kry en beter ooreenstemming met sy of haar kultuur kan vind. Dit is eintlik die verantwoordelikheid wat die vertaler teenoor die doelteksleser het, met inagname van die doelteksleser se spesifieke subjektiewe omstandighede. Nord (2001:195) noem hierdie verantwoordelikheid lojaliteit.

Volgens Nord (1997:125) maak lojaliteit die vertaler verantwoordbaar teenoor sowel die bronkant as die doelkant. Lojaliteit moet ook nie verwar word met getrouheid of akkuraatheid, wat gewoonlik verwys na die linguistiese verhouding tussen die bronteks en die doelteks nie. Lojaliteit is eerder ’n interpersoonlike begrip wat na ’n sosiale verhouding of stel verhoudinge tussen mense verwys. Hierdie persoonlike verhouding(e) bestaan tussen die vertaler enersyds en die bronteksskrywer, doelteksleser en opdraggewer andersyds. Nord (1997:127) sê verder dat indien die verhouding tussen die vertaler en die bronteksskrywer, doelteksleser en opdraggewer in ag geneem word, dit nie moontlik sou wees om te kan sê “anything goes” nie. Lojaliteit beteken die vertaler hou rekening met die “legitimate interests of the three parties involved” (Nord 1997:127).

Dié belange van die partye wat teenwoordig is, sluit in die opdraggewer se verwagting van ’n spesifieke soort vertaling, die doelteksleser se verwagting van ’n sekere verhouding tussen die bronteks en die doelteks, die bronteksskrywer se verwagting dat daar die respek betoon word aan sy werk, en ’n spesifieke verhouding tussen die doelteks en die vertaling daarvan (Nord 1997:128).

Nord wil ook die moontlike probleem wat tussen die bronteksskrywer en die vertaler voorkom, met die begrip lojaliteit oplos (Nord 1997:126). Omdat skrywers nie altyd kenners op die gebied van vertaling is nie, sal hulle moontlik aandring op ’n vertaling wat getrou is aan die struktuur van die bronteks. Indien hulle egter die vertaler se lojaliteit vertrou, sal hulle instem tot veranderinge en aanpassings in die doelteks. In hierdie konteks beteken dit dat die doelteks se doel versoenbaar moet wees met die oorspronklike skrywer se bedoelings. Indien dit nie moontlik is om ’n direkte koppeling tussen die bronteksskrywer en die doelteksleser te vind nie, is die oplossing om ’n dokumentêre vertaling te maak (Nord 1997:126).

Dit is verder die vertaler se verantwoordelikheid om die leser op moontlike veranderinge in die doelteks te wys en, indien so deur die funksie bepaal, begripsleiding te gee. ’n Voorbeeld is waar ’n vertaler besluit om alle kultuurelemente van die bronteks onveranderd in die doelteks te hou, maar die leser die teenoorgestelde verwag het. Dit is dan die vertaler se plig om die lesers hieroor in te lig deur byvoorbeeld vreemde woorde met definisies in ’n woordelys te plaas. Die vertaler oorbrug die gaping tussen twee kulture deur beginsels van funksionaliteit plus lojaliteit toe te pas. Dit sluit aan by die siening van Nord (1997:128): “[I]f there is any conflict between the interests of the three partners of the translator, it is the translator who has to mediate and, where necessary, seek the understanding of all sides.”

Hierdie beginsel kan in die geval van Schleiermacher en Venuti se vervreemdende vertaalbenadering behels dat die vertaler, in navolging van die lojaliteitsbeginsel, aanvullende inligting in die vorm van elemente soos voetnote, woordelyste en ander paratekstuele gegewens verskaf.

Die bogenoemde sou moontlik as idealisties getipeer kon word en daar sou kritiek gelewer kon word teen die keuse van ’n funksionele benadering vir die vertaling van literêre tekste. Tymoczko (2007:35) meen byvoorbeeld dat dit nie altyd so maklik is om die funksie van die vertaling vas te stel nie en dat dit ook onduidelik is presies hoe daar te werk gegaan moet word om dit te doen. Daar moet miskien besluit word watter funksie(s) uit ’n veelheid die belangrikste(s) is (2007:36). Sy stel verder voor dat daar meer debat gevoer behoort te word oor die aanname dat die doel van die bronteks en die doel van doelteks dieselfde is of sal wees (2007:35). Laastens moet krities nagedink word oor of die keuses wat die vertaler tydens die vertaalproses maak, wel in die behoeftes van die doelteksleser sal voorsien (Tymoczko 2007:35). Vertalers moet immers eerstens die teks interpreteer. Dit gee aanleiding tot die moontlikheid dat die interpretasie subjektief of ongeloofwaardig kan wees, of dat vertalers nie in genoegsame mate bewus is van hul eie ideologiese ingesteldheid om dit van hul vertaalwerk te kan skei nie (Tymoczko 2007:36).

Hoewel daar kennis geneem word van hierdie moontlike problematiek, bied die funksionalistiese teorie, en spesifiek Nord se benadering daartoe, steeds ’n nuttige basis om hierdie praktiese ondersoek mee uit te voer.

2.3. Praktiese ondersoek

Volgens Lambert en Van Gorp (1985:46–7) kan vertalings op die para-, die makro- en die mikrotekstuele vlak ondersoek word. Op die mikrotekstuele vlak behels die ondersoek aspekte soos woordkeuse, direkte en indirekte rede en verskillende taalvlakke (insluitend dialekte). Dit is daarom gepas vir hierdie ondersoek wat spesifiek op die vertaling van eiename fokus. Hiernaas word vasgestel of eiename in die betrokke tekste oorwegend domestikerend of oorwegend vervreemdend vertaal is.

Daar word afleidings oor elke vertaling gemaak en waarom die tekste moontlik op ’n sekere wyse vertaal is. Die praktiese voorbeelde en die vergelykings van die brontekste en die doeltekste sal gebruik word om hierdie afleidings te maak. Die afleidings word gemaak ten opsigte van die oordrag van die uitbeelding van die Suid-Afrikaanse kultuur met betrekking tot die vertaling van die eiename in die doelteks op ’n domestikerende, vervreemdende of ander wyse, en teen die agtergrond van Nord se begrip van lojaliteit.

Die ondersoek wat hier uitgevoer word, sal vir praktiese doeleindes slegs op die Engelse Suid-Afrikaanse leser as doelteksleser fokus en nie op die internasionale Engelssprekende leser as doelteksleser nie. Dit gebruik ook die Suid-Afrikaans-gepubliseerde Engelse tekste.

 

3. Bespreking

Die volgende afkortings word in verwysings na die onderskeie boeke gebruik: Feniks: F; Dead before dying: DBD; Infanta: I; Devil’s Peak: DP; 7 dae: Dae; en 7 days: Days.

3.1 Persoonsname, insluitend byname

3.1.1 Voorbeelde van domestikerende vertaling

By die domestikerende vertaling van eiename is die eerste verskynsel die aanpassing van ’n naam wat op -ie uitgaan na ’n -y-uitgang in die Engelse teks, byvoorbeeld Bennie (F:16, I:24, Dae:9) wat Benny (DBD:13, DP:24, Days:3) word, Mollie (I:147) wat Molly word (DP:160), Cappie (F:280) en Cappy (DBD:291), en Jackie (Dae:375) wat vertaal word met Jacky (Days:353). Die Afrikaanse naam word dus verander na ’n Engelse ekwivalent wat ongeveer dieselfde klink, maar volgens Engelse konvensie gespel word. So ook word Willie (F:16) vertaal met Willy (DBD:13), maar elders in dieselfde roman ook as Willie (DBD:278). Die naam Stoffies (F:67) as noemnaam vir iemand met die van Stofberg word vertaal as Jerry (DBD:89), maar elders word ’n soort verkorte Engelse vorm in die vorm van “Stoffs” gebruik (DBD:98). Die domestikering is dus nie konsekwent nie.

’n Soortgelyke verskynsel kom voor wanneer Theodor in die bronteks (F:93) vertaal word met Theodore (DBD:125) en die Afrikaanse Andries (F:92) met Drew vertaal word (DBD:124). Hier word dus ’n vorm, hetsy vormlik soortgelyk of afgelei, gebruik wat gewoon meer Engelsklinkend aandoen. Ook Karina (F:124) wat Carina word (DBD:124), en Mat (I:32) met die vertaling Matt (DP:33), toon hierdie werkswyse. Nog ’n opmerklike voorbeeld is die Afrikaanse Floris (F:102) wat eers Ferdy (DBD:138), dan Fredy (DBD:315) en later weer Ferdy word (hoewel hierdie inkonsekwentheid waarskynlik nie deel van ’n vertaalstrategie as sodanig uitmaak nie, maar eerder op ’n redigeringsprobleem dui). Sommige name word eerder vormlik soortgelyk gehou as klanklik, byvoorbeeld waar Anneri (F:159) verander in Anne (DBD:222).

Noemname word eweneens domestikerend hanteer deur byvoorbeeld Bart Jnr. (DBD:187) in Engels te gebruik in plaas van die Afrikaanse Kleinbart (F:134), dit wil sê met behoud van die verkleiningsvorm, terwyl die verkleining elders wegval, byvoorbeeld waar Jakkie (F:124) vertaal word as Jacques (DBD:173).

Laastens word erkende Engelse ekwivalente vir bybelse name ook algemeen benut, byvoorbeeld Johannes (F:159) en John (DBD:222), of Mattheus (F:165) en Matthew (DBD:230).

Byname word domestikerend hanteer in gevalle soos Twee Neus (F:50) en Two Nose (DBD:54), Geel Gevaar (F:60) en Yellow Peril (DBD:65), Die Fokken Dom Poliesman (F:135) en The Fucking Stupid Policeman (DBD:143), Dik Drol (F:270) en Fat Fart (DBD:280), Maergat (I:62) en Skinny (DP:66), Mevrou Fokken Preuts (I:89) en Missus Fucking Prude (DP:96), meneer Rooi Das (I:309) en Mister Red Tie (DP:339), Die Vet Valk (Dae:92) en The Hefty Hawk (Days:84), Spiertier (Dae:159) en Muscle Man (Days:148), en laastens Vinkel en Koljander (Dae:307) wat in idiomatiese terme geneutraliseer en volledig gedomestikeer word in die vertaling “A matching pair” (Days:291).

3.1.2 Voorbeelde van vervreemdende vertaling

Deur die onderstaande vertalings as vervreemdend te tipeer, word nie bedoel dat Engelse lesers hulle as sodanig as vreemd sal ervaar of dat geen Engelse persoon een van hierdie name of vanne het nie. Dit is vervreemdend in die sin waarin Venuti die term gebruik, oftewel, in die sin dat hier brontaalelemente is wat net so in die doeltaal behou is.

Die eerste voorbeeld is dié van kolonel Bart de Wit (DBD:13), ’n swart polisieman met ’n ironiese van waarvan die ironie moontlik nie so sterk deurkom wanneer die Afrikaanse vorm in Engels behou word nie.

Afrikaanse vanne, of name én vanne, soos Wessels (DBD:6), Myburgh (DBD:12), Odendaal (DBD:84), Pretorius (DBD:89, DP:117), Stander (DBD:140), Geldenhuys (DBD:334), Arendse (DP:66), Wasserman (DP:159), Van Wyk (Days:150), Aalbers (Days:222), Matthys (Days:187), asook Gerbrand Vos (DBD:14), Basie Louw (DBD:31), Hans van Rensburg (DBD:149), Bertus Botha (DBD:348), Martie van Rooyen (DP:35), Werner Gelderbloem (Days:83), Faroek Klein (Days:59), Willem Potgieter (Days:352), Johanna Delport (Days:351), Frederik Johannes Scholtz (DP:254), Wilhelm “Boef” Beukes (DP:263) en verskeie ander word behou. Laasgenoemde voorbeeld sluit boonop ’n bynaamkomponent ook in.

Die Afrikaanse spelling van sommige name wat op -ie uitgaan bly eweneens in die Engelse teks behoue, byvoorbeeld Bonnie (DBD:9), Lizzie (DBD:38), Maggie (DBD:171), Manie (Days:11), Ollie (DBD:248) en Sollie (Days:351), teenoor dié wat domestikerend ’n -y-uitgang kry, soos reeds bespreek. Soortgelyk word “Erik” vervreemdend vertaal (Days:362) en nie byvoorbeeld met “Eric” nie.

Name uit ander tale as Afrikaans word ook vervreemdend hanteer. Emily (F:135) word byvoorbeeld Nofomela (DBD:189), en Maponya (DBD:18) Ngobeni (DBD:211); die naam Vusi Khumalo (DBD:270) word ook in die Engelse teks behou, tesame met name soos Zola Nyathi (Days:120), Ambrose Thenjiwe Masondo (Days:146). Dieselfde geld name soos Pakamile (DP:12), Lukas Khoza (DP:14, 49), Nzululwazi (DP:30), Madalidiphu (DP:369) en Nxele (DP:368). Laasgenoemde twee name het sterk kulturele waarde.2 Hier moet wel genoem word dat hierdie name in die Afrikaanse teks ewe min bekend vir die Afrikaanse leser sou kon wees as wat Afrikaanse elemente vir die Engelse leser kan wees, aangesien dit daar reeds uit ’n ander taal en/of kultuur kom. Hier is dus eerder sprake van die oordrag van ’n alreeds vervreemdende brontekselement na die doelteks. Die fokus van hierdie artikel is egter of dit konsekwent gedoen word al dan nie, en nie soseer op die oorgedraagde element as sodanig nie.

Byname waarby daar vervreemdend te werk gegaan word, is betreklik skaars. Die volgende voorbeelde kom wel voor: Kaptein Rooies (DP:35), Flossies (DP:36), Swart Piet (DP:44, Days:106), Souties (DBD:116), Rip van Winkel (DP:313), en Fielies (DP:327). So ook Wollie (Days:209), Benna (Days:239) en Jan Taks (Days:353)

Laastens is die vertaling van Jantjies (F:25) eers as Jantjies (DBD:35) en daarna as Janitjies (DBD:35) moontlik eerder ’n redigeringsprobleem as ’n vertaalafwyking.

3.1.3 Deels domestikerend en deels vervreemdend

’n Voorbeeld wat sowel domestikering as vervreemding toon, is dié van die naam Cliffie Mketsu (I:128) wat vertaal word met Cliffy Mketsu (DP:138). Die voornaam word domestikerend hanteer volgens die Engelse konvensie, soos met die name in die afdeling hier bo, maar dié vanuit die brontaal word in Engels net so behou. Dieselfde geld die volgende bynaam: Fanie Gefok (Dae:24) teenoor Fanie Fucked (Days:18). Deur die naam Brackenfell Brak (Days:100) onveranderd te hou in die Engels, gaan die vertaler ook vervreemdend te werk, hoewel ’n deel van die bynaam uit ’n erkende pleknaam bestaan. Dieselfde geld Die Groot Ukuphupha (Dae:296) wat as The Big Ukuphupha (Days:279) vertaal is – weer eens is daar gedeeltelik vervreem en gedeeltelik gedomestikeer.

3.1.4 Musikante en liedere

’n Subkategorie name wat verdien om afsonderlik bespreek te word, is die name van werklike (Suid-)Afrikaanse musici. Uit die vertaalontledende oogpunt beskou, is hier opmerklike vertaalbesluite geneem. Die name Fokofpolisiekar (Days:84), Theuns Jordaan (Days:4) en Lize Beekman (Days:4) word byvoorbeeld in die Engelse doelteks behou en in die woordelys opgeneem. Daarteenoor word die name van Anton Goosen, Karen Zoid, Gian Groen, Emo Adams (Days:10), Koos Kombuis en Laurika Rauch (Days:87) ook in die Engelse teks behou, maar nié in die woordelys opgeneem nie. Dit is onduidelik op grond waarvan hierdie onderskeid getref is.

’n Liedtitel, “Soetwater”, word domestikerend vertaal deur in die doelteks te sê: “Soetwater, Sweet water” (Days:34). Daarteenoor word nog ’n liedtitel, “Kouevuur”, net so behou sonder enige verdere bewerking (Days:3).

3.2. Geografiese name, insluitend straatname

3.2.1 Erkende vorme

In die geval van plek- en straatname is die onderskeid tussen suiwer domestikerende en suiwer vervreemdende voorbeelde nie binêr nie. Heelparty van die name word amptelik erken in ’n vorm wat ’n Afrikaanse of deels Afrikaanse komponent insluit, byvoorbeeld Houtbaai (F:137) en Hout Bay (DBD:192). Vir die Engelse Suid-Afrikaanse leser, wat in hierdie ondersoek die teikengroep is, sal hierdie soort name waarskynlik nie vervreemdend wees nie. Dit is egter ook nie domestikerend nie, omdat iets soos “Cape Flats” (DBD:239) bloot die erkende Engelse pleknaam is en nie werklik die vertaler se vertaling van “Kaapse Vlakte” (F:170) nie.

In die oorgrote meerderheid gevalle is dit dan ook die strategie wat gevolg word – name soos Vishoek (F:233), Strandgebied (F:109), Groentemarkplein (F:287), Langstraat (F:239), Voortrekkerweg (F:14), Vrystaat (I:7), Seepunt (I:51), Robbeneiland (I:168), Plettenbergbaai (I:347), Bo-Oranjestraat (I:168), Hendrik Verwoerd-rylaan (I:112), Tafelberg (Dae:11), Seinheuwel (Dae:30), Valsbaai (Dae:182), Bertromstraat (Dae:175) en Roelandstraat (Dae:283) word gewoon vervang met hul erkende Engelse vorme, naamlik onderskeidelik Fish Hoek (DBD:333), Foreshore (DBD:149), Greenmarket Square (DBD:409), Long Street (DBD:342), Voortrekker Road (DBD:10), Free State (DP:3), Sea Point (DP:54), Robben Island (DP:183), Plettenberg Bay (DP:348), Upper Orange Street (DP:183), Hendrik Verwoerd Drive (DP:121), Table Mountain (Days:5), Signal Hill (Days:240), False Bay (Days:169), Bertrom Street (Days:163) en Roeland Street (Days:267).

Eweneens word ’n groot aantal plekname in hul oorspronklike taal behou. Dit is meestal name wat nie ’n erkende Engelse vorm het nie en is dus weer eens nie vervreemdend as sodanig nie, maar verteenwoordig bloot die behoud van ’n erkende geografiese naam. Enkele voorbeelde in dié verband is Plattekloof (DBD:41), Wynberg (DBD:150), Kraaifontein (DBD:333, DP:75), Khayelitsha (DBD:49), Malgas (DP:382), Kanoneiland (DP:401), Brandvlei (DP:397), Langkloof (DP:260), Blouberg (Days:79), Villiersdorp (Days:125), Klein Soutrivier (Days:324), Syferfontein (Days:351), Bo-Kaap (Days:24) (vergelyk ook met die bespreking oor “Upper Cape” in die volgende afdeling), Bothasig (Days:311) en Sonnendal (Days:315).

Dit moet hier genoem word dat name wat in die Afrikaanse tekste reeds ’n Engelse komponent bevat, byvoorbeeld Loxtonstraat (Dae:197) of Prestwichstraat (Dae:223), wel voorkom, maar nie deel van hierdie afdeling uitmaak nie, omdat Engels die doeltaal in hierdie ondersoek is en dit dus hier gaan oor name wat nié uit die staanspoor reeds deels of volledig Engels was nie.

3.2.2 Nie-erkende vorme, domestikering en vervreemding

Benewens die gevalle waar die erkende vorm van ’n naam behou word, is daar ook ander interessante gevalle wat in hierdie afdeling belig word.

Die naam Melkbosstrand (F:112) word vertaal as sowel Melkbos Strand (DBD:153) as Melkbosstrand (DBD:171), hoewel die erkende vorm Melkbosstrand is (Cape Town Official Tourism Website 2014). Ook die inkonsekwente hantering van Tamboerskloof (I:99) as Tamboerskloof (DP:269) en Tamboers Kloof (DP:106) is opvallend. Ewe opvallend is die vertaling van Kuilsrivier (F:50) as Kuilsriver (DBD:62), terwyl die erkende vorm Kuils River is (Kuils River: Accommodation, Activities, Restaurants & Points Of Interest s.j.). Die naam Transvaal (F:55) word vertaal met Gauteng (DBD:69); Noord-Transvaal (F:122), daarenteen, word Northern Transvaal (DBD:171). Die name verwys na die gebied self, nie na byvoorbeeld ’n sportspan nie. Die afleiding kan gemaak word dat die naam Transvaal nog bekender was toe die roman oorspronklik verskyn het as wat dit was ten tye van die verskyning van die vertaling, maar dit is slegs spekulasie.

Die Hottentots-Hollandberge (F:170) is beurtelings Hottentots Holland range (DBD:239), ’n nie-erkende vorm, en Hottentots Holland Mountains (DBD:297), die erkende vorm (Bradfield 2011). ’n Verdere moeilik verklaarbare vertaalkeuse kom voor waar Burgstraat (F:86) in Engels Adderley Street word (DBD:117). Laasgenoemde is waarskynlik ’n bekender straat as eersgenoemde, maar uit die oogpunt van die literêre- vertaling-ondersoek is so ’n keuse opvallend ongewoon. Die verwysings na die Kompanjiestuine (I:100) word in die Engelse vertaling gewoon verwyder, hoewel Tuine (I:108) met Gardens (DP:116) vertaal word.

Die pleknaam Soutrivier (I:180) word met Sout River (DP:196) vertaal, terwyl die erkende vorm eintlik Salt River is (World Design Capital s.j.). Hier word tegnies gesproke in die een deel van die naam vervreemdend te werk gegaan (“Sout” bly “Sout”) en in die ander deel domestikerend (“Rivier” word “River”). ’n Soortgelyke voorbeeld is Laer Kloofstraat (I:270) wat vertaal word met Laer Kloof Street (DP:297), waar “-straat” met “Street” vervang word, maar “Laer” nie met “Lower” uit die (erkende) vorm Lower Kloof Street nie.

In Infanta word gepraat van die Makathiniplein (I:184). Hierdie vorm is moontlik verkeerd geskryf, omdat die erkende pleknaam Makatinivlaktes is (Joyce 2008:117). In Engels word dit weliswaar Makathini plains (DP:200); verdere bewys dat daar eintlik in die Afrikaanse teks na die vlakte verwys word. Dit is waarskynlik nog ’n voorbeeld van ’n redigeringsprobleem.

Enkele name word wel domestikerend vertaal eerder as om met ’n erkende ekwivalent vervang te word. Die pleknaam Bo-Kaap (F:25), wat ’n erkende pleknaam is (Cape Town History s.j.), word byvoorbeeld met Upper Cape vertaal (DBD:25). Parkweg (I:74) word in die Engels Park Street (DP:79). So ook word Vriendestraat (I:108, Dae:247) in die Engels in Devil’s Peak Friend Street (DP:116), maar in 7 days Vriende Street (Days:232). Hier word dus in een vertaling domestikerend te werk gegaan, maar in die ander weer vervreemdend. Dit is ’n noemenswaardige inkonsekwentheid.

’n Oënskynlik domestikerende vertaling wat ook vreemd aandoen, is dié van Burgersentrum (Dae:71) met Town Hall (Days:64) – dit kan ook gewoon ’n fout wees, aangesien die erkende vorm Civic Centre is (Emporis s.j.) en Kaapstad ook wel ’n Stadsaal hét wat afsonderlik van die Burgersentrum is. Die polities gelade straatnaam Hendrik Verwoerd-rylaan (Dae:338, I:112), wat in Devil’s Peak met Hendrik Verwoerd Drive vertaal word (DP:121), word in 7 Days met Hendrik Verwoerd Road vertaal (Days:319) – eweneens ’n opvallende voorbeeld van inkonsekwentheid wat ook ’n vertaalfout insluit.

Die naam Kabeljoubank (DP:386) is die enigste een wat werklik vervreemdend hanteer word. Dit kan moontlik die Engelse leser vervreem omdat dit nie na ’n werklike plek verwys nie en nie die erkende vorm van ’n werklike naam is nie.

3.3 Name van instellings, insluitend sakeondernemings

3.3.1 Bestaande vorme en semantiese vertalings

Die meerderheid name van instellings en sakeondernemings word gewoon in Engels vertaal sonder dat daar ooglopend domestikerend of vervreemdend te werk gegaan word, en/of die erkende of bestaande Engelse vorm word gebruik. Dit is spesifiek die geval by name wat algemene verwysings is wat nie ’n uniek Suid-Afrikaanse inhoud het nie. Vergelyk byvoorbeeld name van polisie-afdelings soos Forensies (I:69) en Forensics (DP:74), en gesondheidsorginstellings, byvoorbeeld Tygerberg-hospitaal (I:73) en Tygerberg Hospital (DP:78). In Feniks kom ’n verwysing na die ABSA-groep voor (F:23) wat in die Engelse teks gewoon weggelaat word.

Net so word die name Moord en Roof (F:71), Ou Skip-woonwapark (F:112), Oasis Kafee (I:370), Wetsontwerp vir Seksuele Oortredings (I:189), Vriende van die Opera (I:181), Koue Oorlog (I:144), Alkoholiste Anoniem (Dae:9), Geweldsmisdaad (Dae:194), De Vos en Genote (Dae:319) en die afkorting vir die Skiereilandse Eenheid vir Ernstige en Geweldsmisdade, EGM (I:38), gewoon met erkende Engelse ekwivalente of vertalings vervang: onderskeidelik Murder and Robbery (DBD:94), Old Ship Caravan Park (DBD:153), Oasis Café (DP:400), Sexual Offences Bill (DP:207), Friends of the Opera (DP:197), Cold War (DP:156), Alcoholics Anonymous (Days:3), Violent Crime (Days:181), De Vos and Partners (Days:302) en SVC (Days:212), die afkorting vir Peninsula Unit for Serious and Violent Crimes.

Name wat in die Afrikaanse teks reeds Engels is, byvoorbeeld Wallace Quickmail (F:38) en in die Engelse teks so behou word, maak nie verder deel van hierdie bespreking uit nie.

3.3.2 Nie-erkende vorme, domestikering en vervreemding

Die besigheidnaam Die Outspan (F:73) word in Engels The Outspan Hotel (DBD:95), moontlik om die Engelse leser duideliker bewus te maak daarvan dat dit ’n hotel is. Die behoud van die naam Outspan kan moontlik as vervreemdend getipeer word volgens ʼn streng klassifikasie aan die hand van Venuti se benaderings, terwyl hier ook ʼn digtheidsverandering (vergelyk Pym 2016:226–8) aangebring word deur die aard van die onderneming meer eksplisiet te stel.

Hoërskool Eben Dönges (F:333) word Olckers High School (DBD:333). Laasgenoemde is nie, soos eersgenoemde, ’n werklike skool in Kraaifontein nie. Dit kan gestel word dat hier deels domestikerend te werk gegaan is deur die politieke assosiasie van Dönges as Nasionale Party-politikus (vergelyk Bekker 2005) te verwyder, maar ook deels vervreemdend deur steeds ’n Afrikaansklinkende skoolnaam te behou. Hier gaan dus iets van die uitbeelding van ’n landsgeskiedenis verlore, maar ’n soort plaaslike geur bly steeds behoue.

’n Eweneens opmerklike voorbeeld is dié van Monomotapa (I:59), wat verander in Alchemists Inc. (DP:63). Hier word die naam van die antieke ryk waar die kommersiële waarde van goud betekenisvol was (Balsan 1970:240) gedomestikeer deur in Engels na die alchemie, oftewel die poging om onedel metale in goud te verander (Odendal en Gouws 2005:40), te verwys.

Die Sendingkerk (I:336) word die Mission Church (DP:367). Hierdie eg-Suid-Afrikaanse spreektaalverwysing wat tipies na die Verenigende Gereformeerde Kerk verwys deur die verkorte vorm van die voormalige naam daarvan te gebruik, word hier gedomestikeer deur op soortgelyke wyse die Engelse verkorting van Dutch Reformed Mission Church te gebruik. Eweneens word KJA (I:290), die afkorting vir Kerkjeugaksie (Odendal en Gouws 2005:1421), domestikerend vertaal met Students Christian Association (DP:318). Laasgenoemde voorbeeld behels ook ’n digtheidsverandering volgens Pym (2016:227) se definisie, aangesien hier geëkspliseer word in die vertaling deur te verduidelik eerder as om ʼn erkende Engelse ekwivalent te gebruik.

Die verwysing na ’n radiostasie as Afrikaans Stereo (F:130), die vorige naam van die nasionale uitsaaier se Afrikaanse diens en ook ’n radiostasie met sterk skakels met die Afrikaner-establishment (Froneman 2008:155), word deels vervreemdend hanteer deur die nuwer vorm RSG te gebruik (DBD:182), hoewel hierdie vertaling ook as deels domestikerend gesien kan word, omdat die nuwer naam RSG moontlik meer bekend sal wees aan die Suid-Afrikaanse Engelse leser as die ouer vorm, Afrikaans Stereo.

Verdere voorbeelde van vervreemding is Boeremag (Days:235), Umkhonto we sizwe (Days:261), Ingcebo (Days:269) en Gariep Minerals (Days:269) wat in die Engelse teks staan.

3.4 Name van publikasies en ander werke

Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die voorbeelde in hierdie afdeling in die meeste gevalle eie is aan die Suid-Afrikaanse werklikheid, anders as die meerderheid name in die vorige afdeling. Hier word dus onderskei tussen voorbeelde wat na die domestikerende kant neig en voorbeelde wat na die vervreemdende kant neig. Vir hierdie gedeelte word name en titels wat reeds in Engels is en so behou word, soos die tydskriftitel Cosmopolitan (DBD:64), nie bespreek nie.

3.4.1 Voorbeelde van domestikerende vertaling

Die meerderheid name word domestikerend vertaal, hetsy deur ’n werklike Engelse weergawe se naam of titel te gebruik, of deur die naam of titel gewoon volgens semantiese inhoud te vertaal. Voorbeelde hiervan is Kookboek vir ’n nuwe geslag (F:198) na Cookbook for a New Generation (DBD:281) en Huisgenoot (I:204) na YOU Magazine (DP:224).

Die filmtitels ’n Roos vir Janie (F:171), Sewe Soldate (F:171) en Oom Drieman (F:171) word domestikerend vertaal as A rose for Janey (DBD:240), Seven Soldiers (DBD:240) en A woman in love (DBD:240).

3.4.2 Voorbeelde van vervreemdende vertaling

Die tydskrif De Kat se titel word in die Engelse teks behou (DBD:64), so ook die tydskriftitel Sarie (DBD:64) en die koeranttitel Rapport (DP:224). Die koerantnaam Die Burger word ook deurgaans vervreemdend behou. Die tydskriftitel Huisgenoot word nie oral domestikerend hanteer nie. Op sommige plekke word ’n vervreemdende strategie gevolg, byvoorbeeld waar dit Huisgenoot bly in Devil’s Peak (DP:383). Ewe vervreemdend is die behoud van Die Burger se snuffelgids in die Engelse teks (DP:130).

3.4.3 Deels domestikerend en deels vervreemdend

Die koerantnaam Die Burger word op verskeie plekke behou as Die Burger, wat vervreemdend is, maar in enkele gevalle word dit domestikerend aangevul deur byvoorbeeld “The Afrikaans Cape newspaper, Die Burger” (DBD:18). Hierdie soort uitbreiding kan eweneens getipeer word as Pym (2016:220) se digtheidsverandering – en meer spesifiek as ’n veelvuldige vertaling (Pym 2016:228), aangesien hier in wese twee vertalings van dieselfde begrip gegee word. ’n Soortgelyke strategie word gevolg in die geval van die tydskriftitel Wild en Jag (Days:124), waar die karakter dan sê: “Wild en Jag, Game and Hunting. It is a magazine.” Nog so ’n aanvulling word gevind waar die nuusbrief Hlomelang se titel in die Engelse teks onveranderd behou word, maar met die volgende byskrif: “the official Internet newsletter of the Youth League” (Days:257), hoewel die verwysing “Youth League” moontlik steeds vervreemdend kan wees. Ook hier moet in gedagte gehou word dat die oorspronklike Zoeloe-titel reeds in die Afrikaans gestaan het en dat die tipering daarvan as vervreemdende vertaling nie impliseer dat Engelse lesers dit noodwendig as vreemd sal ervaar nie. Dit is “vervreemdend” in die sin waarin Venuti dit gebruik, oftewel, dat hier ’n element uit die bronteks net so in die doelteks behou is.

 

4. Gevolgtrekkings en slot

Die ontleding op die mikrotekstuele vlak van Feniks, Infanta en 7 Dae het getoon dat daar nie konsekwent gewerk word wanneer dit by die vertaling van eiename as kultuurmerkers kom nie. Sommige eiename word domestikerend vertaal, ander word vervreemdend vertaal en in sommige gevalle word daar oënskynlik gewoon lukraak te werk gegaan. Laasgenoemde kom veral in die vertaling van Feniks voor. Persoonsname word soms met ongewone Engelse ekwivalente vervang en ook sonder duidelike rede inkonsekwent vertaal of gespel. Die motivering vir sekere vertaalkeuses is ook nie duidelik nie. Gedagtig daaraan dat Feniks se vertaling die oudste van die drie is, is dit moontlik dat daar teen die tyd toe die ander vertalings gedoen is, reeds meer aandag aan konsekwentheid gegee is. Die bestaan van hierdie moontlikheid is egter bloot spekulasie, aangesien dit ook ’n ander vertaler betref as in die ander twee boeke wat in hierdie ondersoek gebruik is.

Die enigste roman wat ’n woordelys bevat, is 7 Dae, en alhoewel dit ook in ag geneem word, is daar bewys dat hier ook nie konsekwent gewerk word met die insluiting van eiename in die woordelys nie. Dit dui weer eens daarop dat die vertaling inkonsekwent hanteer word. Vertaalbesluite moenie lukraak geneem word nie, aangesien dit die oordrag van die intrinsiek Suid-Afrikaanse elemente, ’n kernelement in Meyer se werk wat onder andere in die eiename tot uitvoering gebring word tot nadeel strek.

Die algehele gevolgtrekking met betrekking tot die mikrotekstuele ontleding is dat eiename, wat in heelparty gevalle as merkers van die Suid-Afrikaanse kultuur optree, oënskynlik inkonsekwent vertaal word. Dit kan die uitbeelding van die Suid-Afrikaanse kultuur in die doelteks belemmer, aangesien inkonsekwentheid met elemente wat sentraal staan in die geloofwaardigheid van die verhaalgegewe, logieserwys afbreuk aan daardie verhaalgegewe kan doen. Dit is veral belangrik wanneer in gedagte gehou word dat hierdie skrywer se romans beskryf word as “intrinsiek Afrikaans” en as uitbeeldings van “die outentieke Suid-Afrika van hier en nou” (Wessels 2012:190). Daar sou tog aangeneem kon word dat dié attribute deel is van wat in vertaling moet voortleef, aangesien misdaadfiksie as sodanig nie iets unieks is wat Afrikaans aan die Engelse leser (hoef te) bied nie.

Teen die agtergrond van Nord (2001:125) se stelling dat die vertaler die vreemdheid in ’n bepaalde teks vir die leser verstaanbaar kan maak en sodoende vir die leser toegang tot die brontaalkultuur kan gee, wat ’n kernkomponent is van wat sy beskryf as die lojaliteitsverhouding tussen die vertaler en die bronteksskrywer, die doelteksleser en die opdraggewer (Nord 2001:125), sou dit hier gestel kon word dat die vertaling van eiename in Meyer se romans dalk nog meer lojaal sou kon wees teenoor die betrokkenes in die proses as wat dit tans is. Daar is ’n mate van steuring vanweë die inkonsekwente of selfs oënskynlik onnadenkende wyse waarop sekere besluite geneem is en die vraag kan gevra word of sodanige vertalings werklik die “legitimate interests of [all the parties] involved” (Nord 1997:127) bevredigend in ag neem.

Daar kan binne die grense van kreatiewe literêre vertaalwerk steeds verseker word dat vertaalbesluite sodanig geneem en deurgevoer word dat dit nie aanleiding gee tot teks wat vir die leser steurend of ongeloofwaardig kan wees, op onverklaarbare wyse storie-elemente uit die Afrikaanse bronteks gewoon verander of weglaat, of byvoorbeeld selfs feitefoute inbou of na plekke verwys wat tegnies nie bestaan nie. Konsekwentheid impliseer ook nie onkreatiwiteit nie, maar eerder respek vir die teks en die vooropstel van lojaliteit aan die rolspelers wat Nord definieer. Hoewel fiksietekste juis dit is, fiksie, is daar tog in hierdie verhale ’n werklikheidselement wat literêr benut word en kan lesers maklik byvoorbeeld ’n kaart gebruik om sekere reise in die verhaal te volg of om sekere besonderhede na te gaan as deel van hul verdieping in die verhaal. Eweneens is dit sekerlik nie vergesog om te vermoed dat lesers van speurverhale die speurtog meemaak nie, en dit impliseer ’n belangstelling in ’n sistematiese aanpak met ’n beredeneerde en logiese uitkoms, alles binne ’n vermaaklike storielyn. Die voorstel hier sou wees dat diegene wat die Engelse vertalings van Meyer se romans bewerk, voortaan nog noukeuriger met hierdie potensiële gegewens omgaan.

Daar kan vervolgens aanbeveel word dat daar byvoorbeeld in die vervolg vóór die vertaling onderneem word, samehangende besluite geneem word oor die vertaalstrategie(ë), veral met inagname van sowel die tekortkominge as die goeie oplossings in die bestaande vertalings. Daar kan byvoorbeeld besluit word om taal- of kultuurspesifieke elemente in verskillende kategorieë te verdeel en per kategorie ’n hanteringstrategie te bedink. Hierdie besluite moet dan deur die hele vertaalproses deurgevoer word om sodoende ’n konsekwente en geloofwaardige vertaling te verseker. Daar is ook verskeie bestaande vertalings wat rigting en leiding by komende vertalings kan gee.

Dit is uiteraard nie die navorsers se verwagting dat een vertaalbenadering gekies en dan 100% blindelings toegepas moet word op elke geval van ’n eienaam nie. So iets is meganies en onrealisties. Daar is egter bewyse dat hier soms ongemotiveerde of selfs onverklaarbare vertaalbesluite geneem is, terwyl daar vervolgens min blyke van ’n sistematiese aanpak is.

Dit is ook belangrik om te onthou dat dit in die praktyk selde slegs die vertaler is wat inspraak het in die uiteindelike teks en die vertalings wat wel verskyn en gelees word. Die doel hier is eerder om aan te toon dat inkonsekwentheid wel voorkom, en dat daar benaderings en metodes binne die vertaalkunde voorkom waarmee vertaalbesluite wat soms problematies of ongemotiveerd is, meer verantwoordelik, en waarskynlik met selfs beter vertaalwerk as ’n gevolg, geneem kan word. Eerstens en laastens ter wille van die storie.

 

Bibliografie

Balsan, F. 1970. Ancient gold routes of the Monomotapa kingdom. The Geographical Journal, 136(2):240‒6.

Bekker, A.E. 2005. Eben Dönges: Balansstaat: Historiese perspektief. Stellenbosch: Sun Press.

Berman, A. 1985. Translation and the trial of the foreign. In Venuti (red.) 2004

Bradfield, J.L. 2011. Hottentots Holland Mountains of the Western Cape – Part 3. About this ʼn that blog. https://johnlbradfield.com/environment/hottentots-holland-mountains-of-the-western-cape/ (23 Oktober 2014 geraadpleeg).

Bruwer, D. 2005. Die Afrikaanse vertaling van eiename in Harry Potter: Konsekwensies vir kultuuroordrag. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Cape Town History. s.j. Bo-Kaap. http://capetownhistory.co.za/?page_id=236 (23 Oktober 2014 geraadpleeg).

Cape Town Official Tourism Website. 2014. Melkbosstrand. http://www.capetown.travel/attractions/entry/Melkbosstrand (23 Oktober 2014 geraadpleeg).

Delabastita, D., L. D’hulst en R. Meylaerts (reds.). 2006. Functionalist approaches to culture and translation: selected papers by José Lambert. Amsterdam, Philadelphia: John Benjamins.

Deonmeyer.com. 2018. Biography. http://www.deonmeyer.com/bio.html.

Emporis. Civic Centre. s.j. http://www.emporis.com/building/civiccentre-capetown-southafrica (23 Oktober 2014 geraadpleeg).

Froneman, J. 2008. Finding a home in Afrikaans radio. In Hadland e.a. (reds.) 2008.

Hadland, A., E. Louw, S. Sesanti en H. Wasserman (reds.). 2008. Power, politics and identity in South African media. Kaapstad: HSRC Press.

Hatim, B. 2001. Teaching and researching translation. Londen: Pearson Education limited.

Horler, V. 2014. For Deon Meyer, it’s all about the story. https://www.iol.co.za/dailynews/lifestyle/for-deon-meyer-its-all-about-the-story-1745147 (24 September 2018 geraadpleeg).

Joyce, P. 2008. Wêreldatlas vir Suid-Afrikaners. Kaapstad: Sunbird Publishers.

Keto, C.T. 1995. Makhanda (Nxele) c. 1790 to 1820 Independent South Africa. https://dacb.org/stories/southafrica/makhanda/ (23 Oktober 2014 geraadpleeg).

Kuils River: Accommodation, Activities, Restaurants & Points Of Interest. s.j. http://www.wheretostay.co.za/town/kuils-river (23 Oktober 2014 geraadpleeg).

Lambert, J. en H. van Gorp. 1985. On describing translations. In Delabastita e.a. (reds.) 2006.

Meyer, D. 1996. Feniks. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1999. Dead before dying. Vertaal deur M. van Biljon. Londen: Hodder & Stoughton.

—. 2004. Infanta. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2007. Devil’s Peak. Vertaal deur K.L. Seegers. Londen: Hodder & Stoughton.

—. 2011. 7 dae. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2012. 7 days. Vertaal deur K.L Seegers. Londen: Hodder & Stoughton.

Nabokov, V. 1955. Problems of translation: Onegin in English. In Venuti (red.) 2004.

Nord, C. 1988. A functional typology of translations. In Trosborg (red.) 1988.

—. 1997. Translating as a purposeful activity. Functionalist approaches explained. Manchester: St Jerome.

—. 2001. Loyalty revisited: Bible translation as a case in point. The Translator, 7(2):185–202.

Odendal, F.F. en R.H. Gouws. 2005. Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Kaapstad: Pearson.

Pym, A. 2016. Translation solutions for many languages. Histories of a flawed dream. Londen: Bloomsbury.

Schleiermacher, F. 1813. On the different methods of translating. In Venuti (red.) 2004.

Snell-Hornby, M. 2006. The turns of translation studies. Amsterdam: John Benjamins Publishing Co.

South African History Online. s.j. Struggle icon Nxele Makana drowns while escaping from Robben Island. http://www.sahistory.org.za/dated-event/struggle-icon-nxele-makana-drowns-while-escaping-robben-island (23 Oktober 2014 geraadpleeg).

Trosborg, A. (red.). 1988. Text typology and translation. Amsterdam: John Benjamins.

Tymoczko, H. 2007. Enlarging translation, empowering translators. Manchester: St Jerome.

Van Coillie, J. 2006. Character names in translation: A functional approach. In Van Coillie en Verschueren (reds.) 2006.

Van Coillie, J. en W.P Verschueren (reds.). 2006. Children’s literature in translation: Challenges and strategies. Manchester: St Jerome.

Venuti, L. 1995. The translator’s invisibility: A history of translation. New York, Londen: Routledge.

Venuti, L. (red.). 2004. The translation studies reader. 2de uitgawe. New York, Londen: Routledge.

Vermeer, J.H. 1998. Starting to unask what translatology is about. Target, 10(1):41–68.

Wessels, A. 2012. Resensie: 7 dae. Tydskrif vir Letterkunde, 49(2):189–92.

World Design Capital. s.j. Salt River Village –- Urban Renewal Projects propose integration of related space-making projects towards an invigorated public realm. http://www.wdccapetown2014.com/projects/project/220 (23 Oktober 2014 geraadpleeg).

Zandberg, A. 2009. Die rol van die vertaler as kulturele bemiddelaar: Die Afrikaanse Harry Potter as gevallestudie. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

 

Eindnotas

1 Hierdie artikel is gebaseer op ’n navorsingswerkstuk van Ruchelle Kleyn aan die Departement Afrikaans en Nederlands, US, onder studieleiding van Marius Swart.

2 Daar moet genoem word dat dit juis belangrik is dat hierdie name behou word, omdat die Engelse leser nie noodwendig sal weet dat Nxele (DP: 368) en Mdalidiphu (DP: 369) Xhosa-leiers was nie (Keto 1995). Daar word sterk kulturele waarde aan hierdie name geheg (South African History Online s.j.). Die doelteksleser kan dus vervreem word met die behoud van hierdie name in die doelteks.

 

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top