Regie: Byron Davis
Draaiboek: Deon Meyer
Spelers: Leandie du Randt, Neels van Jaarsveld, Tim Theron, Bouwer Bosch, Danie Putter, Luan Jacobs, Edwin van der Walt en Tertius Meintjies
Karoo Films se Facebook-blad beskryf hulle eie film as “polsende aksie in ware 'Quentin Tarantino-styl' wat die kyker uitdaag”.
Kom ons vat Tarantino se eerste paar films as draaiboekskrywer en regisseur: Reservoir dogs, True romance, Pulp fiction en beide Kill Bills. Dit was grensverskuiwende skop-skiet-en-donder-flieks.
Die geweld was uitsonderlik grafies, maar ook vars en komieklik met tye. (Die oor-afsny-toneel? James Gandolfini wat Patricia Arquette die loesing van ’n leeftyd gee en sy wat vir hom lag?) Die aksie was vinnig, verbysterend. (Uma het moeiteloos wraak geneem in daardie geel sweetpakkie.) Die humor was donker. (Harsings in Samuel L Jackson se hare? Daardie adrenalien-inspuiting in die hart.) Die karakters was kompleks – goed en sleg, sjarmant en walglik. (Wie het nie verlief geraak op Patricia Arquette as prostituut wat als waag vir ware liefde nie?) Tarantino het die snaakse, dog vervelige one-liners van aksiefilms vervang met skerp, snaakse en relevante dialoog. (Elke liewe debat tussen Travolta en Jackson in Pulp fiction.) Tarantino het ook die konsep van ’n filmklankbaan herontwerp en clichés uit die water uit geblaas. Sy films het hart en siel, maar is bowenal ongelooflik lekker vermaak.
Kom ons kyk nou na Jagveld. Die geweld was vervelig. Onthou, kykers is deesdae gewoond aan baie meer grafiese/interessante/komiese geweld. Ons kyk True detective of Westworld saam met aandete en ’n glas wyn op ’n weeksaand. Moes dit skokkend gewees het oor die geweld in ’n Afrikaanse film gepleeg word? Moet ons nie beledig nie.
Die aksie was louwarm. Ses ouens jaag ’n meisie deur ’n Karoo-landskap. Sy maai hulle af op meestal onoorspronklike maniere. (Die strykyster was wel lekker.) Ek was opgewonde oor die plaasimplement wat sy in gedagte gehad het vir Bouwer Bosch se karakter, en toe wys die film nie hoe sy dit gebruik nie. Leandie was fisies oortuigend wanneer sy oor drade spring of by berge opklim, maar wanneer dit kom by die bakleiery, het dit opgestel en geoefen gelyk.
Die karakters was eendimensioneel en die toneelspel glad nie oortuigend nie. Ek het nie vir ’n oomblik geglo in die dwelmsmokkelaars se boosheid, in Tertius Meintjies se vaderlike liefde of in Emma se staal nie. Slegs Edwin van der Walt se Boela was uitsonderlik grillerig. Ek het Deon Meyer se komplekse, maltrap, maar uiters menslike karakters verwag.
Die dialoog was nie skerp of vars nie. Bosman blaf bevele. Piet sê jammer. Emma gil of huil. (Sy hyg ook ontsettend baie.) Daar was tonele waar die karakters te veel praat en te min doen. (Baz snuffel deur Emma se kar en rapporteer elke liewe dingetjie oor die radio aan Bosman. Uiters vervelig.)
Jagveld het nie veel vleis aan die been nie. Emma se pa was ’n recce. Hy het haar opgelei van ouderdom ses tot sestien. Ses dwelmsmokkelaars kom oor haar pad. Hulle sê les op. O, ja, haar ma is dood.
Vergelyk dit met David Mackenzie se Hell or high water. Dit gaan oor twee uiteenlopende broers – die een sag en eerbaar, die ander rof en sonder gewete – wat tog uit broederliefde die rooftogte saam aanpak. Die vriendskap tussen die twee sheriffs, die een wit, die ander ’n Indiaan, sê soveel oor rasseverhoudinge. Die feit dat die broers net geld by ’n spesifieke bank roof en met daardie geld hulle lening by daardie selfde bank gaan afbetaal, lewer kommentaar op hoe die gemiddelde Amerikaner geknou is deur die eiendomskandaal in Amerika. (Kyk gerus The big short indien jy dit nog nie gedoen het nie.)
Jagveld se storielyn is ook nie geloofwaardig nie. ’n Enkele verkeerskonstabel in die middel van nêrens gaan nie ’n kar aftrek om geen rede nie. As ’n tweede burgerlike kar dan boonop aftrek en hulp aan die polisieman aanbied, gaan die konstabel dadelik weet iets skort.
Emma was te ver om werklik die skuldiges te kon identifiseer – hulle kon haar net laat spaander het en self padgegee het. As hulle haar dan móét agternasit, hoekom hardloop al ses ouens agter haar aan en los die kar vol dwelms alleen agter?
Emma se kopskuif van onskuldige slagoffer na opgeleide soldaat sou gebeur het toe Boela haar die eerste keer wou aanrand. Die situasie was ondraaglik. (Een van die meer suksesvolle tonele in die film.)
Die hele rugsak vol kampeertoerusting in haar kattebak is net te gerieflik. Haar aanvallers wat na die kattebak kyk en sommer weet sy het iets uitgehaal, is laf.
Emma kry ’n paar keer ernstig pak slae, maar sy is blykbaar Bruce Willis in Unbreakable. As iemand jou gesig deur ’n glasdeur kletter, gaan jy ’n paar steke nodig hê.
Die film is melodramaties – Emma se kopskuiftoneel byvoorbeeld. Die heen-en-weer tussen die bebloede mes, die nabyskoot van haar oë en die wye skoot van die dam was te dramaties vir woorde. Ek wou hardop sê: “We get the point.” Hier is ’n belangrike oomblik. Sy ondergaan ’n gedaanteverwisseling. Laat dit oor aan Leandie om die moment te speel.
Die hereniging tussen pa en dogter met die twee kreupel mense wat na mekaar toe hardloop, was ook een te veel. Boela se tantrum toe hy besef Emma het losgekom, was oordadig. So ook AJ wat omtrent drie keer naar word oor Boela se dood. Die lys gaan aan.
Ek het die Engelse onderskrifte heeltemal geïgnoreer, omdat ek Afrikaans geniet. Ek het een keer per ongeluk afgekyk en gesien “Dit is wat sy verdien” is vertaal met “That is what she deserts.” Eina.
Opsommend: die grootste sondebokke is die powere draaiboek en die rigtinglose regie.


Kommentaar
Uistekende resensie! Wil jy nie ook sommer "Misverstand" van Maritha lees en jou opinie waag nie? Kan nie dink dat ek al voorheen so 'n voetslepende swak boek gelees het nie. Is al drie weke en ek kom nie verder as p64 nie! So jammer dat "welbekendes" lui raak en afskeep. (Ek ondersteun graag Afrikaans, maar word sommer vies as ek in die publisiteitstrik trap en met sulke middelmatigheid tevrede moet wees!)
Jô, Zelda. Ek waag nie my hand (brein) aan boekresensies nie. Ek het nie genoeg kennis van boeke/literatuur nie. (Ek is nou wel nuuskierig om die boek te lees.) Dankie vir die kompliment.
Maak net seker dat jy ook n "plan B " het om te lees liewe Réney!
Wat my ook ondergekry het, is Emma wat telkens oop en bloot op die Karoovlakte staan (met skuilplek naby) terwyl sy op vlug is. Iemand met recce-opleiding?
Die lys is lank.
Goeie bespreking hierdie. Ek is seker die skrywer weet dit, maar miskien kan mense verwar wees: Tarantino was slegs die draaiboekskrywer van True Romance - oorle Tony Scott die regisseur. Met verwysing na Zelda se kommentaar hierbo oor Misverstand ... ek kan nie glo die boek word deurgaans so opgehemel nie. Selfs 'n plat leser soos ek is verstom deur die geykte storielyn, pretensie van die "kyk, ek ken dit" Fransgeit en die cliché-geteelde karakters. Dit wil voorkom asof gesonde Afrikaanse resensiekunde tersyde gestel word vir die gemeenskap se media-liefies.
Ek weet dit. Dit is waarom ek gesê het ons kyk na Tarantino se eerste films as regisseur en draaiboekskrywer. Dankie in elk geval. Mens kry soms jou feite verkeerd.
Julle maak my nou nuuskierig om 'Misverstand' te lees.
Aggenee! Alles was tong in die kies. Ek het dit geniet.'n Lekker lessie vir die hardegat manne.
Daar is goeie tong in die kies (Hot Fuzz, Teeth, Tropic Thunder), en dan is daar slegte tong in die kies (Jagveld). Dit is wat ek bedoel het met rigtinglose regie - hulle moes vooraf besluit het wat die 'toon' van die film gaan wees. Dit val in die middel van nêrens tussen tong in die kies, aksie en drama.
Dankie vir 'n onderhoudende resensie, Reney. Ek is ietwat verstom oor die manier waarop die kommentators een van my boeke insleep by 'n resensie oor 'n fliek waarmee ek niks te doen het nie, maar dit verminder nie my waardering vir jou resensie nie.
Hi Marita. Sjoe, dankie. Gelukkig is ek nie die een wat jou boek opgehaal het nie. 🙂
Om enige kunsvorm in die publiek aan te vat, is 'n reuse verantwoordelikheid - of mens nou 'n negatiewe resensie skryf, of kommentaar op een lewer.