Prooi deur Deon Meyer: ’n resensie

  • 4

Prooi
Deon Meyer

Human & Rousseau
ISBN: 9780798177757

Om ’n Deon Meyer-boek te resenseer is nie altyd ’n maklike taak nie. Die woorde “Die gewildste skrywer in Afrikaans” pryk nie om dowe neute op die omslae van Meyer se boeke nie. Almal, van die Kaap tot in Slowakye, weet Meyer is goed. Konsekwent goed.

Met 13 romans en talle literêre toekennings agter die blad het Meyer die kuns van die Afrikaanse misdaadriller so te sê vervolmaak. En dit raak ál moeiliker om clichés en selfplagiaat te systap as dit by die resenseerwerk kom.

Meyer se jongste roman, Prooi, is (kom ons sê dit nou maar) ’n kragtoer.

Aanhangers van kaptein Bennie Griessel sal bly wees om te verneem dat hierdie gewilde karakter saam met sy kollega Vaughn Cupido weer terug aan die stuur van sake is in Prooi.

Bennie is deesdae al agt maande op die waterwa, sewe kilogram ligter en sien gereeld sy “shrink” om die duiwels van posttraumatiese stres en alkoholisme te besweer. Boonop is daar ’n ring in sy boonste laai by die werk wat hy vir Alexa Barnard wil gee.

Ondanks hierdie goeie verwikkelinge is daar maar altyd moeilikheid wanneer Griessel en Cupido in die omtrek is. En hierdie keer is dit moeilikheid met slagtande.

Die twee speurders is maar bra onwillig om ’n dossier wat op die Valke se elite-Eenheid vir Ernstige en Geweldsmisdade afgedwing word, aan te pak. Dis nou die saak van Johnson Johnson, ’n oudpolisieman wie se lyk langs die treinspoor naby Drie Susters ontdek is.

Die saak is so koud soos verlede week se Krismispoeding en boonop het die “rocky scientists” van die plaaslike SAPD al weer drooggemaak met die dossier. Dié hoër op is gretig om die saak as selfmoord af te maak. Johnson het glo self vanuit ’n luukse trein van Rovos Rail na sy dood gespring, maar die storie steek nie lekker inmekaar nie. Twee van die passasiers op die trein is dan “spoke” wat glad nie bestaan nie.

Soos Griessel en Cupido die drade begin volg, raak dit al hoe duideliker dat hierdie saak hulle gevaarlikste saak nog is, een wat hulle moontlik hulle loopbane kan kos. Want al die leidrade dui op een ding: staatskaping.

Die twee speurders se soektog na Johnson se moordenaar word afgelos deur die verhaal van Daniel Darret, ’n afgetrede KGB-sluipmoordenaar wat hom in Bordeaux gevestig het. Darret se rustige bestaan as die handlanger van ’n bekende antiekemeubel-restoureerder word omvergegooi wanneer hy deur sy oudkamerade opgeroep word om ’n sluipmoord op ’n president in Parys uit te voer.

Griessel en sy kollegas se jagtog na die treinmoordenaar en Darret se bekruip van sy eie prooi word uiteindelik in ’n kragtige klimaks saamgesnoer.

Prooi raak-raak aan ernstiger kwessies, soos Kaapstad se opdoemende Dag Zero, alkoholisme en die verpletterende gevolge van posttraumatiese stres. Dit is egter Meyer se sterk politiese kommentaar op korrupsie en die huidige ondersoek na staatskaping in Suid-Afrika wat die meeste trefkrag het.

Lesers wat nie heeltemal gelukkig was met Koors (2016) se distopiese elemente nie, kan ontspan. Prooi is klassieke Meyer op sy heel beste – deels Murder on the Orient Express, deels “buddy cop”-verhaal, met genoeg aksie, kwinkslae en intriges om te verseker dat jy die boek in een sitting sal wil verslind.

Diegene wat nie bekend is met Bennie Griessel nie, kan gerus eers in Meyer se Infanta (2005), 13 Uur (2008), 7 Dae (2011), Kobra (2013) en Ikarus (2015) met dié bobaasspeurder gaan kennis maak.

Oor die enigmatiese Daniel Darret wil ek nie te veel sê nie, behalwe dat die storielyn by Meyer se Proteus (2000) en Infanta (2005) aansluit.

 

Lees ook

Prooi deur Deon Meyer: ’n lesersindruk

  • 4

Kommentaar

  • Elsabé van Zyl

    Sover het ek ongeveer twee derdes van die storie (boek) gelees met rukke, want ek sukkel so bietjie. Ek is van mening dat die boek eerder in Frans vertaal moet word, want dit sal vir die Franse meer beteken. Die grootste deel van die storie speel in Frankryk af. Ek ken Frankryk nie (nog nooit daar gekuier nie) en al die verwysings na plekke, dorpe en strate beteken vir my niks en ek vind dit vervelig. Die storie gaan meestal oor Daniel Darret waarmee ek nie ’n probleem het nie, maar moet nie in die resensie soveel klem op Bennie Griesel plaas wat eintlik nie die hoofkarakter in hierdie storie is nie. Hopelik is daar meer van hom in die laaste deel van die boek. Ek is ietwat teleurgesteld en dink dit het met die onbekende Franse omgewing te doen wat heeltyd op die voorgrond is. Verder bly Deon Meyer een van die beste skrywers ooit!

  • Goeie boek,kon nie die boek neersit nie. Al Deon se boeke is so; jy kan dit nie neersit nie en as die boek klaar gelees is is ek kwaad want ek soek nog.

  • Anders dan Elsabé van Zyl ken ik Frankrijk een beetje, wat helpt om in de sfeer van 'Prooi' te komen. Bovendien ben ik in de eerste helft van het boek ruimschoots zo vaak in Kaapstad als in Bordeaux.
    Wat mij vooral opvalt is het feit dat de dialogen zo vaak in het Engels verlopen. Alsof de Afrikaanstaligen hun taal alleen schrijven en niet praten, ook niet met elkaar. Bovendien is voor de lectuur van het Afrikaanse origineel heel wat kennis van Engels slang vereist. Anders gaat veel verloren. Hoe moet je dit boek bijvoorbeeld in het Duits vertalen? of, inderdaad, in het Frans?
    Mijn eindoordeel schort ik op tot ik het boek volledig uitgelezen heb.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top