Antjie Somers, vleisvreters, en die vraag om verwikkeld te lees: ’n reaksie op Chan Croeser en Jacomien van Niekerk se kinder- en jeugboekseminaaressays

  • 0

As deel van LitNet se miniseminaar oor kinder- en jeugboeke in ’n nuwe era lewer Chan Croeser ’n betoog waarin ’n herverbeelding van die volkskarakter Antjie Somers bepleit word. In ’n essay wat enkele dae daarna verskyn, argumenteer Jacomien van Niekerk dat ’n oop, diverse publikasiekultuur wat terselfdertyd deur ’n kritiese leeskultuur – veral tussen ouer en kind – vergesel word, beter is as een waar sogenaamd problematiese tekste gekanselleer word. Beide dié betoë klink redelik en oortuigend. In ’n klimaat waar frases soos cancel culture en must fall gebruiklik is, is argumente vir die behoud en herverbeelding van geërfde kultuurgoedere ’n vars bries. Terselfdertyd opper die betoë afsonderlik, maar ook saamgelees, enkele vrae wat my ongemaklik laat. Dié essay sluit besinnings oor drie bepaalde vrae in. 

...............
Eerstens: Hoef daar vir ’n herverbeelding van Antjie Somers geargumenteer te word?
...............

Eerstens: Hoef daar vir ’n herverbeelding van Antjie Somers geargumenteer te word? Croeser se betoog is begrond in kritiek op die veronderstelde negatiewe karakterisering van ’n gendernonkonformistiese figuur. Somers, wat telkens as ’n man in vroueklere of as ‘n vrou met manlike karaktertrekke, maar deurgaans as animalisties, getipeer word, bied, aldus Croeser, ’n problematiese beeld van normoorskrydende genderidentiteit. Teen die agtergrond van geweld teen veral lede van die breë LGBTQIA+-gemeenskap is die argument vir positiewe uitbeeldings van gendernonkonformisme onweerlegbaar. Die probleem met die argument is egter die begronding daarvan in ’n oppervlakkige begrip van hoe volkskundige verhale en motiewe funksioneer en uiting vind. Anders as in die roman, kom en gaan volksverhale; hul karakters vervaag en word herdoop, en die waardes onderliggend aan ’n betrokke narratief word bevraagteken, ondermyn en met die verloop van tyd herinterpreteer. Folklore is ‘n inherent wispelturige kultuurverskynsel. Croeser erken dit ten dele wanneer hul die volgende stelling maak:

Daarby vertel elke gesin dié volksverhaal op ’n unieke wyse (Coetzee 1994:68). In die verlede was hulle al beskryf as die dorpspook, ’n berg- of riviergees, en selfs ’n laksman wat kwaaddoeners gemartel het en later selfdood gepleeg het (Coetzee 1953:56; 1994:68). Nes hul verhaal neem hul gedaante ’n ander vorm aan na gelang van die verteller.

Teen dié agtergrond hoef daar dus geen argument vir die herverbeelding van Somers gemaak te word nie. Kyk, daar bestaan ’n tradisie van Somers-verhale, maar dis uiteenlopend, konteks- en vertellergebonde, en dus uit die staanspoor oop vir herverbeelding. Al wat nodig is, is die vertel van ’n ander verhaal (soos Croeser 2018 ook reeds elders gedoen het). Dit is nie ’n unieke insig nie, want alle volksverhale openbaar, soos reeds genoem, dieselfde potensiaal vir omvorming.

Croeser gaan egter ’n tree verder, en maak die volgende stelling: “Deesdae staan Antjie Somers landswyd bekend as ’n paaiboelie, spook en heksagtige figuur en word altyd met beide manlike en vroulike eienskappe of gelaatstrekke uitgebeeld.” In vergelyking met die beskrywing van die historiese variasie van Somers-verhale word dié stelling nie deur ’n bron ondersteun nie. Hóé weet Croeser dat Somers “landswyd” ’n eenduidig negatiewe figuur, soos ’n paaiboelie, spook, of heksagtige figuur is? Hóé weet Croeser dat Somers “altyd met beide manlike en vroulike eienskappe of gelaatstrekke uitgebeeld” word? En indien waar, wat het wanneer gebeur dat dié tipiese volksverhaal skielik versteen het – en een van die belangrikste elemente van die folklore, naamlik variasie, verloor het? Daar word in Croeser se LitNet-profiel vermeld dat hul met PhD-navorsing besig is, met die moontlikheid dat daardie studie data verwerk wat die stelling kan ondersteun. In die essay self word egter geen bron verskaf nie.

Ek is nie die eerste wat dié kritiek ten opsigte van data en interpretasie lewer nie. In ’n 2021-studie wat in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis gepubliseer is, “Cross-dresser as a bogey: on the gender ambiguity of Antjie Somers in South African Folklore”, ondersoek Boris Gorelik die oorsprong, ontwikkeling en diversiteit van Somers deur die eeue heen. Gorelik se artikel is deels ’n direkte reaksie op Croeser asook Maryne Steenkamp se lees van Somers-as-problematiese-genderuitbeelding. As deel van sy inleiding redeneer hy as volg:

The problem with this research [Croeser (2020) and Steenekamp (2011)] is that it is highly impressionistic, showing little interest in findings by South African folklorists. The aforementioned version of the tale, which they presume to be canonical, was inspired by Daniël Francois Malherbe’s poem and written in the mid twentieth century. Instead of grounding their arguments and assumptions on the work of their predecessors, who studied Antjie Somers narratives for decades, these researchers seemingly preferred to be guided mostly by their intuition and by theorists of gender and cultural studies.

No doubt, a strong case can be made out for applying the methods of gender and cultural studies to Antjie Somers stories. For example, a researcher may investigate how this character has been used to entrench gender binarism, to enforce compliance with heteronormative ideals through scaring or to institutionalise gendered socialisation. Such research has potential to contribute to our understanding of the historical process of masculinity and femininity construction  and  empower  disenfranchised  or  silenced  segments  of  the  population.

However, before deconstructing and contesting meaning through language as well as analysing the socio-political factors that affected representations of this character, the reader needs to have a much better notion of the emergence and development of Antjie Somers tales and legends. Before exploring the implicit meanings and social functions of Antjie Somers narratives, it is necessary to trace the origins and construction of this character as a bogey. Empirical research would focus on the intrinsic characteristics of Antjie Somers providing a basis for factually and logically sound postulations. (Gorelik 2021:4–5)

Dis noemenswaardig dat Croeser wel ’n paar maal na Gorelik se artikel verwys (alhoewel die artikel nie in die bronnelys opgeneem is nie), maar nie sy belangrikste gevolgtrekking – ’n gevolgtrekking wat Croeser se argument weerlê – aanhaal of bespreek nie:

Antjie Somers stories do not seem to demonise gender transgression. Cross-dressing is a means to the character’s criminal ends rather than a demonstration of his gender self-attribution. The gender ambiguity appears to be peripheral to the main lesson of Antjie Somers narratives: if people abuse your trust, they can abuse you. (Gorelik 2021:1)

Dit staan Croeser uit die aard van die saak vry om met Gorelik te verskil, maar die afwesigheid van ’n gesprek met sy navorsing in die geheel, eerder as die aanhaal van enkele punte wat hul argument ondersteun, verdien kritiek. Siende dat dit reeds bevestig is dat volksverhale vry verander en omvorm (kan) word, is die argument daarvoor uit die staanspoor oorbodig; die enigste noemenswaardige analise wat dan gedoen kan word, is om die vraag om genderuitbeelding te ondersoek. Soos Gorelik uitwys, is daar nie veel van ’n vraag nie – tensy daar miskien alleenlik met ’n enkele weergawe van Antjie Somers geworstel word (wat natuurlik ook gangbaar is, mits die bepaalde Somers-weergawe uitgeken en as sulks benader word). 

............
Tweedens: Mag Antjie Somers herverbeel word?
...............

Tweedens: Mag Antjie Somers herverbeel word? Die treffendste gedagte in Croeser se argument is nie die idee van herverbeelding nie, maar van inbesitneming wat bepleit word: “[V]eral queermense [kan] dié gender-bender vir hulle toe-eien.” Dit lyk weer, met die eerste oogopslag, nie vreemd of noodwendig kontroversieel nie. Soos verder tereg uitgewys word, is daar ’n tradisie van herwaardering en kreatiewe toe-eiening van veral tradisionele negatiewe karakters deur ’n nuwe, jonger geslag lesers/kykers/toehoorders. Ek wil egter aandag op die woord toe-eiening vestig, wat in Engels as appropriation vertaal kan word. Indien cancel culture een term is wat deurgaans in die Van Coller-debat – indien nie op die voorgrond nie, dan in die skadu van ‘n menigte gesprekke en argumente – voorgekom het, en wat ‘n brandpunt in verskeie Westerse diskoerse weerspieël, is appropriation ’n term wat eweneens met emosie en uiteenlopende sienings belaai is.

.............
Dit is veral vreemd hoe daar vir die toe-eiening, of appropriasie, van Somers gepleit word wanneer daar in Gorelik se artikel ondersoek word hoe Somers uit verskeie mondelinge tradisies beïnvloed en omskep is.
...............

Dit is veral vreemd hoe daar vir die toe-eiening, of appropriasie, van Somers gepleit word wanneer daar in Gorelik se artikel ondersoek word hoe Somers uit verskeie mondelinge tradisies beïnvloed en omskep is. Dit is veral die mondelinge tradisies van Khoesankulture wat, aldus Gorelik, ’n belangrike voedingsbron vir Somers-verhale was/is. Daar kan dus geargumenteer word dat Croeser, in die bepleiting van die omvorming van Somers na gelang van ‘n problematiese genderuitbeelding, die Khoesanverhaalskat approprieer. Selfs indien daar geargumenteer word dat Somers gedeelde Afrikaanse erfenis is – ’n posisie wat ek voorstaan – kan die appropriasie-aanklag steeds gemaak word, siende dat die “oorspronklike” appropriasie nie aangespreek is nie. Hier wil ek dit duidelik stel dat ek nie met die geldigheid van die idee van appropriasie soos dit tans in die populêre diskoers uiting geniet, saamstem nie. Ek is dit eens met Kwame Appiah (2020) wat argumenteer dat appropriasie in ’n wanbegrip van kultuur begrond is nie – ’n begrip wat kultuur in terme van “besitbaarheid” en “ruilbaarheid” verstaan; terwyl kultuur inderwaarheid ’n veel verwikkelder sosio-historiese verskynsel is. Desnieteenstaande bestaan die diskoers van appropriasie, en Croeser self is ’n voorstander hiervan. In ’n onlangse resensie van Dianne Du Toit Albertze se memoir, bottelnek breek bek, kritiseer Croeser (2022a:96) die veronderstelde appropriasie van taal:

Terselfdertyd worstel ek met Albertze – ’n wit skrywer – se besluit om die verhaal in ’n mengsel van Standaardafrikaans, Namakwalandse Afrikaans, Gayle, Kaaps en Sabela te skryf. Die laaste drie taalvorme en/of -kodes word hoofsaaklik in bruin gemeenskappe gebesig en dus is dit sinvol vir die bruin karakters in die roman om een of meer van die vermelde taalvorme en/of -kodes te gebruik. Na my mening oorskry die roman egter die grens tussen waardering en kulturele toe-eiening omdat ook die wit karakters, wat in werklikheid eerder Standaardafrikaans of ander variëteite van Afrikaans sou praat, ook dieselfde mengsel van Gayle, Kaaps en Sabela praat.

Benewens die wanbegrip van die aard van taal (taal is nié iets wat besit kan word nie, en enige diskoers wat dit bevorder is begrond in ’n bepaalde koloniaal-modernistiese ideologie; vergelyk Blommaert 2008 en Seargeant 2009) en ’n foutief-reduserende rassekundige greep op Afrikaanse variëteite (beide Kaaps en Oranjerivierafrikaans word nié deur slegs swart Afrikaanssprekendes gebesig nie – vergelyk Staphorst 2022; bewysplase dat Sabela en Gayle “in werklikheid” nie deur wit Afrikaanssprekendes gebesig word nie, sal welkom wees), is dit duidelik dat Croeser wel met die heersende diskoers om appropriasie saamstem. Weer soos die geval met die navorsing van Gorelik staan dit Croeser natuurlik vry om te argumenteer dat hul argument vir die toe-eiening en omvorming van Somers nie daaraan skuldig is nie. Maar die argument moet gemaak word – veral wanneer die konseptuele raam waarbinne die argument vir die herverbeelding van Somers dieselfde is as aanklagte van appropriasie, naamlik sosiale geregtigheid.

............
Dit bring my dan by die derde en laaste punt: Hoe kan ons Antjie Somers herverbeel?
..............

Dit bring my dan by die derde en laaste punt: Hoe kan ons Antjie Somers herverbeel? Hier reageer ek meer op Van Niekerk se argument, spesifiek die voorhou van ’n kritiese leeskultuur as antwoord op die vraag om omgang met kwansuis problematiese tekste. Dit is redelik maklik om na tekste uit die 1950’s en 1960’s – met Ma kaalvoet en swanger in die kombuis, Pa by die werk, en Boet wat balskop in die agterplaas terwyl Saartjie help skottelgoed was – te kritiseer. Kan/mag/sal dieselfde kritiese leesbril so maklik ingespan word wanneer die betrokke verhaal in Gideon von Wielligh se Boesman-stories en Wilhelm Bleek en Lucy Lloyd se Specimens of Bushman folklore opgeneem is, en waar binêre genderrolle geweldig streng uitgebeeld word? Wanneer die titel van ’n versameling Ju/’hoan-verhale uit die Kalahari Women like meat heet – ’n titel wat dubbelsinnig toespeel op die idee van vroulike wellus enersyds en die behandeling van vrouens as vleis andersyds? Kan/mag/sal wit, middelklas Afrikaanse lesers nie hulself aan ’n wit blik skuldig maak deur verhale uit byvoorbeeld Khoesankulture te kritiseer vanweë uitbeeldings van genderrolle nie? En indien die Khoesanverhaalskat geïgnoreer word, hoe kan’n verruimender, oop leeskultuur werklik bestaan? Soos met die vraag om appropriasie is my siening een wat ’n radikale oop leeskultuur – vry van totaliserende idees om “witheid”, en die perke wat dit op die verbeelding plaas – voorstaan. Van Niekerk blyk egter, vanuit haar publikasies elders, die begrip, en die inspan daarvan by die ontleding van gebeure en tekste, te ondersteun (vergelyk Van Niekerk 2016 en Van der Westhuizen en Van Niekerk 2019). Wanneer daar na Croeser se argument teruggekeer word, kan die volgende gevra word: Indien dit korrek is dat Antjie Somers vanuit die Khoesanverhaalskat omskep is, en indien Croeser se interpretasie van die sentraliteit van Somers se gender as problematies mee saamgestem word, hoe kan wit, middelklas Afrikaanse lesers met hul “witheid” Somers lees en herverbeel sonder om skuldig te wees aan ’n appropriatiewe kritiek wat die leser se “witheid” sentreer? Wanneer daar weer na Croeser se kritiek op Du Toit Albertze gekyk word, blyk die antwoord op die vraag ’n besliste “Dis onmoontlik” te wees. En indien dit wel onmoontlik is, moet ons die gesprek hier stop; dan leef ons voort in, deur en volgens koloniale en apartheidsdenkraamwerke.

Die twee meningstukke openbaar, soos reeds in die inleiding vermeld, uit die staanspoor ‘n welkome invalshoek ten opsigte van kwessies om kultuur en kultuurgoedere, naamlik ’n oop gemoed. Wanneer die bronne, veronderstellings en redenasies egter ontleed word, duik daar verskeie uitdagings op tot wat aanvanklik as redelike klinkklare argumente beskou kan word. Die vraag is dus hoe om daadwerklik verwikkeld te lees; hoe om tekste, karakters, en geskiedenisse te benader op só ’n manier dat verwikkeldheid na vore gebring kan word, eerder as dat (ge)maklike, en op die oog af eenvoudige, oplossings voorgestel word. Daar is slegs een sekerheid vir my: (On)gelukkig is geen opregte leespoging vry van die oë van ander nie.

Bibliografie

Appiah, KA. 2020. Should I tell my aunt that her costume is racist? The New York Times. https://www.nytimes.com/2020/01/21/magazine/should-i-tell-my-aunt-that-her-costume-is-racist.html?searchResultPosition=14 (29 April 2020 geraadpleeg).

Biesele, M. 1993. Women like meat: the folklore and foraging ideology of the Kalahari Ju/’hoan. Johannesburg: Wits University Press.

Bleek, WHI en LC Lloyd. 1911. Specimens of Bushman folklore. Londen: George Allen.

Blommaert, J. 2008. Artefactual ideologies and the textual production of African languages. Language & Communication 28(4):291–307.

Croeser, C. 2018. 2018. The heaped bones of August (or a wilting whisper of Antjie Somers). New Contrast 181(45):69–73.

—. 2020. A wilting whisper of Antjie Somers: a meditation on the witchery and gender-nonconformance of Afrikaans folklore figure Antjie Somers. Scrutiny2: Issues in English Studies in Southern Africa 25(2):23–39.

—. 2022a. bottelnek breek bek. Tydskrif vir Letterkunde 59(2):95–7.

—. 2022b. Miniseminaar: Antjie Somers, ons oudste gender-bender. LitNet, 6 September. https://www.litnet.co.za/miniseminaar-antjie-somers-ons-oudste-gender-bender (26 November 2022 geraadpleeg).

Gorelik, B. 2021. Cross-dresser as a bogey: on the gender ambiguity of Antjie Somers in South African folklore. South African Journal of Cultural History / Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis 35(1):1–19.

Seargeant, P. 2009. Metaphors of possession in the conceptualisation of language. Language & Communication 29:383–93

Staphorst, L. 2022. Ongehoord: Voices unaccented; voices unharmonized. Afrikaans and South Africa’s First Peoples in Discourses of Higher Education Transformation. MA-verhandeling, Nelson Mandela Universiteit.

Steenekamp, M. 2011. Antjie / Andries Somers: Decoding the bodily inscriptions of a South African folklore character. MA-verhandeling, Universiteit van die Witwatersrand.

Van der Westhuizen, L en J van NiekerkJ. 2019. “Wit” armoede en “wit” bevoorregting in enkele Afrikaanse jeugromans. Literator 40(1): a1592.  

Van Niekerk, J. 2016. “baie woorde”: Identiteit en transformasie by Antjie Krog. Pretoria: Van Schaik.

—. 2022. Miniseminaar: Moenie kanselleer nie, publiseer net meer. LitNet, 13 September. https://www.litnet.co.za/miniseminaar-moenie-kanselleer-nie-publiseer-net-meer 26 November (datum? 2022 geraadpleeg).

Von Wielligh, GR. 2009. Versamelde Boesmanstories 1. Pretoria: Protea.

—. 2010. Versamelde Boesmanstories 2. Pretoria: Protea.

Lees ook:

Onderwyshulp, deel 2: Leesbegripontwikkeling – hardoplees en leesbegripstrategieë

Onderwyshulp en leesbegrip: Johan Anker beantwoord lesers en opvoeders se navrae

Onderwyshulp: Hoe wyd lê die betekenis van lees? Die toepassing van metakognisie en modellering

Onderwyshulp en leesbegripstrategieë 3: Metakognisie en agtergrondkennis

Die bydraes vir LitNet se miniseminaar, “Kinder- en jeugboeke vir ’n nuwe era”, is hier beskikbaar:

Miniseminaar: Kinder- en jeugboeke vir ’n nuwe era

Miniseminaar: Sterretjie gedenk aan my

 

Miniseminaar: Boeke vir alle kinders in Suid-Afrika

Oop gesprekke oor genderuitbeelding in jeugverhale

Wydlopende kommentaar deur akademici op Van Coller-debat

Afrikaanse jeugboeke vandag: ’n perspektief deur PRH/LAPA Uitgewers

Trompie ’n chauvinis?

Jeugboeke se storm en drang: Onstuimige gesprekke en versugtings na tienerreekse wat die ouers onthou

Lede van SA Akademie se Letterkundekommissie bedank oor Hennie van Coller se omstrede rubriek

Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top