
https://pixabay.com/photos/glasses-spectacles-eyewear-472027/
In die vorige bydrae is ’n inleidende bespreking van leesbegrip, metakognisie en ’n voorbeeld van die modellering van metakognisie aangebied. Die tweede bydrae het hoofsaaklik gehandel oor die gebruik van voorlees as strategie om leesbegripstrategieë te modelleer en ook die beginner en swakker lesers te betrek.
Dit is duidelik dat die lees van ’n teks uit ten minste drie elemente bestaan: die skrywer wat ’n boodskap (dalk kennis of ’n storie) wil oordra, die teks self, en die leser. In die vorige bydrae het ek uitgebrei oor hoedat ’n leser so ’n teks kan lees (of daarna kan luister) en in die proses verskillende strategieë gebruik. Die leser is dikwels onbewus dat hy hierdie strategieë gebruik en die doel van metakognisie is juis om hierdie strategieë te herken, dit doelbewus te gebruik en toe te pas wanneer dit nodig is (totdat dit later onbewustelik plaasvind). In die onderrig daarvan sal dit aan die begin baie eksplisiet verduidelik en gemodelleer moet word. Die skoolkurrikulum beklemtoon ook dat daar stappe is vir die proses voor jy lees, terwyl jy lees en ná jy gelees het.
Eienskappe van die goeie leser
Dit is ook beklemtoon dat die leser ’n groot bydrae kan en moet lewer om op sy manier en met sy agtergrond betekenis te skep uit en met die inligting wat in die teks verskaf word. Al die betekenis staan nie sommer net direk daar nie. Dit is dus ’n kommunikasie wat tussen die leser/hoorder en die teks moet plaasvind.
............
Dit is ook beklemtoon dat die leser ’n groot bydrae kan en moet lewer om op sy manier en met sy agtergrond betekenis te skep uit en met die inligting wat in die teks verskaf word. Al die betekenis staan nie sommer net direk daar nie. Dit is dus ’n kommunikasie wat tussen die leser/hoorder en die teks moet plaasvind.
..............
Die vraag is wat die goeie leser dan doen (selfs onbewustelik) om hulle met soveel begrip te laat lees? Navorsing sedert die 1980’s sê vir ons ’n goeie leser pas die volgende strategieë toe: lees met ’n doel, herken die soort teks volgens die tekseienskappe en voorspel wat om te verwag, dink aan sy agtergrondkennis oor die onderwerp en die soort teks, vra gedurig vrae hieroor en oor die woordeskat en bedoeling van die teks, lê verbande tussen die inligting en woorde, maak konneksies tussen die kennis wat hy reeds het en die kennis wat nou in die teks verskyn, maak ook persoonlike assosiasies met sy eie ervarings en ander tekste oor dieselfde onderwerp, maak afleidings en gevolgtrekkings terwyl hy lees, weet wanneer hy iets nie goed genoeg verstaan nie, lees dele weer om dit beter te verstaan, maak ’n samevatting van die teks soos hy lees en ook aan die einde, dink oor die betekenis van die hele teks en evalueer of dit goed of interessant was, ensovoorts. Dit is ’n hele klomp strategieë wat dikwels ook geïntegreerd gebruik word! Tog het navorsing gewys dat dit wel onderrigbaar is aan alle leerders.
Om dit te onderrig, sal ek eers van my eie denke oor hoe ek dink saam met ’n teks moet bewus word en dit inoefen, voor ek dit aan ander kan oordra of modelleer. Hieronder volg ’n kort voorbeeld.
Modellering van die lees van ’n feitelike teks
Ek gebruik hierdie keer ’n feitelike teks omdat dit die soort teks is wat die leerders vanaf graad 4 tot naskools moet leer lees en begryp: lees om te leer!
(Onthou dat hierdie modellering hardop as ’n dink-met-die-teks gedoen word!)
In die boek Inseklopedie van Suider-Afrika deur Erik Holm skryf hy op bladsy 18 ’n gedeelte oor “die suksesstorie van insekte”. (Ek het gedink die titel is nogal ’n kreatiewe titel as woordspeling met “ensiklopedie”!)
Die inleiding is die volgende paragraaf.
Die suksesstorie van insekte
Teen die agtergrond van insekte se geskiedenis en spesiale bou kan ons probeer om die tergende vraag te beantwoord: Hoekom was insekte nog altyd so suksesvol tydens evolusie dat hulle driekwart van alle lewende spesies verteenwoordig? Daar is ’n hele paar redes waaraan mens al gedink het, maar dis moeilik om te bepaal watter die belangrikste is. Nietemin, hier is ’n paar van die voordele wat insekte tydens evolusie te beurt geval het.
Ek sien hy gaan dan voort om in ses paragrawe van die voordele te noem, maar kom ons konsentreer eers net op hierdie eerste inleidende paragraaf. ’n Inleidende paragraaf het dikwels die funksie om die res van die teks saam te vat of te verduidelik wat gaan volg, sodat die leser beter kan fokus daarop. So begin ons dink oor die gebruik van tekseienskappe: in hierdie geval die titel en inleiding.
Eerstens die titel: “Die suksesstorie van insekte.” Vraag: wat weet ek van insekte en wat bedoel hy met “suksesstorie”? Ek weet nie veel van insekte nie, en om die waarheid te sê, hou ek nie baie van die meeste van hulle nie, behalwe skoenlappers en liewenheersbesies. Dis goeters soos muskiete en ander klein goedjies met ses pote. My pa het altyd gesê ’n spinnekop is nie ’n insek nie, want hy het agt pote! (Ek aktiveer nou agtergrondkennis en vra vrae en maak my eie assosiasies.) En die “suksesstorie”? Kan insekte so iets soos ’n suksesstorie hê? Regtig? Maar ek kan voorspel dat die res van die teks wel daardie inligting gaan verskaf. My hele kennisraamwerk gaan nou vir my agtergrond gee waarteen ek die teks moet lees. Maar nou weet ek maar min van insekte. Ek het ook nie biologie op skool geneem nie! Julle wat wel biologie/lewenswetenskappe verder as graad 9 geneem het, het nou baie meer agtergrondkennis as ek wat maar deur algemene kennis ’n paar dinge geleer het. Ek dink wel die volgende diertjies is ook deel daarvan: miere, bye, skoenlappers, motte, krieke, vlooie, naaldekokers… Hierdie agtergrond is deel van my skema, my kennisraamwerk, wat heel moontlik nou uitgebrei gaan word deur hierdie leesstuk, en so leer ’n mens! Lees om te leer! En volgende keer is my skema of kennisraamwerk oor insekte dus groter.
Die skrywer begin met: “Teen die agtergrond van insekte se geskiedenis en spesiale bou kan ons probeer […].” Ek lei nou af dat die geskiedenis en bou reeds vroeër in die boek bespreek is. (Afleiding.) Miskien sal ek later maar eers die eerste deel ook moet lees? Wat sou die “spesiale bou” byvoorbeeld wees? (Vraag.) Ek onthou wel iets van ’n harde buitenste laag en saamgestelde oë en ’n metamorfose wat ek iewers gelees het (agtergrondskennis), maar ek onthou nie altyd die volgorde van die metamorfose so goed nie.
En dan praat die skrywer van ’n “tergende vraag”. Is dit nou ’n vraag wat moeilik opgelos gaan word? (Vraag oor woordeskat.) Daar is ’n dubbelpunt, miskien gaan hy nou verder verduidelik! (Voorspelling.) Ja, hy sê dat insekte tydens al die ontwikkeling – dis wat “evolusie” hier beteken, dink ek (woordeskat) – “driekwart van alle lewende spesies verteenwoordig”! Ek het dit nie geweet nie. Dis ongelooflik baie. Hulle is die hele wêreld vol! Nou raak ek so ’n bietjie nuuskierig. Hoe is dit moontlik? (Vraag.) Die doel om verder te lees, kan dalk wees om hierdie redes uit te vind. (Doel.) Die skrywer waarsku egter dis moeilik “om te bepaal watter een die belangrikste is”. Is dit nodig om te weet watter rede die belangrikste is? (Vraag.) Of is daar maar net soos met baie ander dinge in die lewe meer as een rede waarom dinge gebeur? (Eie assosiasie.)
Die laaste sin lees ’n bietjie moeilik: “Nietemin, hier is ’n paar van die voordele wat insekte tydens evolusie te beurt geval het.” Beteken “nietemin” ongeveer: in elk geval, al weet ons nie alles nie, hier is ’n paar voorbeelde? Ek dink so. En dan sê hy: “[…] wat insekte tydens evolusie te beurt geval het.” Die “tydens evolusie” is dan gedurende al die eeue se ontwikkeling – hoe lank gelede weet ek regtig nie. En “te beurt geval het”? Is dit pure geluk, was hulle net op die regte tyd op die regte plek? (Vrae.) Ons sal maar eers daaroor kan oordeel as ons die redes gelees het. Dit gee nog ’n doel met die lees daarvan.
So wat sê die inleiding vir my? (Vraag.) Min of meer dat insekte so spesiaal gebou is dat hulle by verre (driekwart!) die meeste spesies van lewende wesens verteenwoordig en dat daar ’n paar goeie redes daarvoor is. (Opsomming van inleiding.)
Wat wil ek nou verder weet? Wat die redes is en of dit klink na goeie redes? (Doel.) Miskien kan ek dan as ek klaar gelees het, daardie redes ook opsom om seker te maak ek onthou dit. (Lees om te leer en jou skema uit te brei.)
Let op hoeveel leesstrategieë van die goeie leser ons nou reeds toegepas het voor ons die hele teks lees: aktiveer agtergrondkennis, gebruik tekseienskappe, vra vrae, dink oor woordeskat, dink aan ’n doel vir die lees, maak afleidings, vat saam en som op, maak eie assosiasies, dink oor hoe ek lees, dink oor wat ek met ’n eerste lees nie dadelik heeltemal verstaan nie… En ek kry ’n doel vir die lees van die res van die teks!
Ek gaan nou die tekseienskappe eers gebruik om te voorspel wat volgende in die leesstuk/teks gaan gebeur.
Die eerste wat ek duidelik sien is ses paragrawe wat elkeen sy eie vetgedrukte opskrif het. Ek weet in ’n feitelike teks soos hierdie een (dis duidelik nie net ’n storie nie) gaan die opskrif heel moontlik die hoofgedagte of feit van die paragraaf aandui. Wanneer ek kyk na die opskrifte kry ek ook ’n geheelbeeld van die inhoud: dit is wat in die teks aan my verduidelik gaan word. (Al hierdie gedagtes is ’n skema oor feitelike tekste wat ek heel moontlik reeds het.)
Hier volg die opskrifte:
Die stigtersbeginsel
Die vermoë om te vlieg
’n Onderlip
Die eksoskelet en klein liggaamsgrootte
Metamorfoses
Die raaisel van kewers
Vir julle wat die agtergrondkennis reeds het, is dit dalk reeds alles baie duidelik, maar ek wonder nou ’n bietjie oor die “stigtersbeginsel” by insekte en die belangrikheid van die onderlip en die raaisel van kewers? En in die geheel wonder ek hoekom al hierdie dinge veroorsaak het dat insekte so ongelooflik suksesvol was en is. (Vra vrae nog voor ek die paragrawe begin lees en die doel is om die antwoorde te kry!)
Onthou my doel aan die begin was om die redes uit te vind en hoekom dit goeie redes is.
Ek gaan nou maar eers paragraaf vir paragraaf lees.
Die stigtersbeginsel
Dit is ’n wet in die ekologie dat die eerste spesie wat ’n ekologiese nis vul, ’n voordeel verwerf wat dit moeilik maak vir enige ander spesie om met hom te kompeteer. Geleedpotiges was van die eerste landbewoners en kon dus nisse monopoliseer.
Ek verstaan onder “stigtersbeginsel” dat die groep/spesie die eerste in daardie omgewing was (“die eerste spesie”): die stigters van hulle terrein en lewe daar. Dan kan ek aflei dat die woorde “ekologiese nis” min of meer moet beteken dat dit hulle plek in die ekologie (die hele natuurlike omgewing waarin lewende wesens met mekaar saam bestaan) is – dus die gaping in die omgewing wat hulle nou kan vul. As ander spesies nou daar opdaag, is dit vir hulle moeiliker om ook daar ’n “blyplek” in te rig; die kompetisie is moeilik omdat die ander reeds gevestig is! Die insekte is dus die “geleedpotiges” wat heel eerste op land kom woon het (“landbewoners”) en hulle “monopoliseer” nou hierdie spesifieke omgewing. Die woord “monopoliseer” is ook nie een wat ek elke dag gebruik nie, maar dis seker amper soos Monopoly speel. Jy koop eerste die plek en nou is dit net jou besitting. “Mono” beteken tog net een!
Die eerste rede vir die “suksesstorie” van die insekte is dus dat hulle heel eerste op land vir hulle ’n gebied of “nis” kon kies wat hulle soort bestaan bevoordeel. En hierdie gebied verskil van spesie na spesie. (Dis my afleiding en opsomming ná ek die eerste paragraaf gelees het.)
Die tweede paragraaf (kan ek nou voorspel) gaan vir my nog ’n rede verskaf.
Die vermoë om te vlieg
Vliegvermoë was vir tientalle miljoene jare beperk tot insekte, wat hulle weer eens in staat gestel het om eerste oral te wees en die stigtersbeginsel eerste te ontgin. Hulle kon ook alle voedselbronne vinniger bereik en uitbuit, en beter aan rampe en gevare ontkom – alles kompeterende voordele teenoor hakstappers en swemmers.
Die eerste sin gee reeds twee voordele wat nog verder bydra tot die gebruik van die stigtersbeginsel wat in die vorige paragraaf genoem is. (Ek verbind dus die twee paragrawe, maar sien ook nuwe feite.) Die twee ekstra voordele is dat hulle kon vlieg en dus ander dele van die land eerste kon bereik – baie wyer as die ander wat op hulle pote moes stap (hakstappers) of selfs net kon swem. Dit het hulle nog meer kompeterend gemaak (“kompeterende voordele”). En dan word nog ’n voordeel bygevoeg: hulle kon hulle eie voedselbronne eerste bereik en baie daarvan gebruik voor die ander diere opdaag. Daarby kon hulle ook vinniger en verder padgee as rampe, soos vloede en brande, voorkom én as ander gevare of spesies hulle bedreig.
Die voordele van vlieg is dus: eerste ’n wye landskap ondersoek en beset, eerste voedsel bereik en vinnig vlug van gevare. Dit alles kon hulle makliker laat oorleef en vermeerder. (My opsomming.)
Die derde paragraaf het ’n interessante opskrif: “’n Onderlip.” Nou hoe sal ’n onderlip ’n insek kan help? Maar dink nou maar gou hoe ons as mense makliker eet as gevolg van ons onderkaak en -lip!
’n Onderlip
Nog ’n rede hoekom insekte veel beter op land gevaar het as veral die ander geleedpotiges (Anthropoda), soos skerpioene (Scorpiones), spinnekoppe (Aranea) en honderdpote (Chilopoda), was die blote toevoeging van ’n onderlip (labium) – iets wat hierdie ander groepe nooit gehad het nie. Terwyl die ander geleedpotiges dus tot ’n taamlik morsige of suigende manier van vreet beperk is, kon insekte nou vaste kos op land begin kou sonder dat dit uit hulle mond val.
Eers lyk die paragraaf ’n bietjie moeilik met die wetenskaplike name vir die spesies tussen hakies, maar dan kom ’n mens gou agter die verklaring daarvoor word in elk geval verskaf. (Woordeskatherkenning.) Die rede vir die suksesvolle aanpassing van insekte klink redelik vanselfsprekend: hulle kan ordentlik kou en so is ’n breër verskeidenheid van voedsel tot hulle beskikking.
Die volgende paragraaf lyk langer en belangriker. Ons sal maar eers moet lees en sien watter goeie redes nog genoem word.
Die eksoskelet en klein liggaamsgrootte
Die beskerming wat ’n buiteskelet [nou word die “eksoskelet” sommer verduidelik as ek nie geweet het nie] teen uitdroging bied, moes vir geleedpotiges op land uit die staanspoor ’n groot voorsprong gegee het. Die klein grootte wat die konstruksie vereis, het op land – waar swaartekrag ’n faktor is – die bonus ingehou dat ’n menigte nisse oopgegaan het vir insekte wat vir groter diere onbereikbaar was (en steeds is). In ’n boom is daar vir insekte ’n honderdtal plekke; hulle leef daarin as wortelvoeders, basvreters, bestuiwers, blomvreters, saadboorders, vrugvreters en komposvoeders (Hoofstuk 10). Dieselfde boom kan egter hoogstens ’n handjievol werweldiere onderhou.
Die titel waarsku my dit gaan hier oor twee dinge: die harde buiteskelet en die grootte van die insekte. Die beskermde buitelaag kon op land – waar dit nie oral koel en vol water is nie – keer dat die insekte vinnig uitdroog (en vrek). Dit klink na ’n goeie rede vir oorlewing en hy sê: “[U]it die staanspoor,” wat beteken reg van die begin af. Die kleinheid van die insekte het veroorsaak dat daar ’n klomp plekke (nisse) was en is waar hulle kon inkruip en bly; soos die skrywer sê: “’n [B]onus.” Baie meer as vir die groter diere. Nog ’n goeie rede. Dan word ’n klomp soorte insekte genoem wat verskillende funksies vervul en wat almal in een boom sou kon “tuisgaan”! Omdat hulle verskillende funksies vervul, kompeteer hulle nie met mekaar nie (dink ek nou). En die skrywer gee die groot teenstelling tussen ’n “honderdtal plekke” en net ’n “handjievol” werweldiere. So die “handjievol” beteken maar min!
Dis op die ou end maklik om op te som: die harde eksoskelet (lekker groot woord om te gebruik!) beskerm teen uitdroog en seerkry. Die kleinheid skep baie plek en moontlikhede van nisse – laat ons die woord ook nou maar gebruik; dit pas by die taal van die vak.
Voor ek die volgende paragraaf lees, moet ek nou eers mooi dink. (Voorafkennis.) “Metamorfose”, die opskrif van die paragraaf, weet ek is ’n groot verandering, maar ek weet ook dit het by insekte ’n spesifieke volgorde of fases. Wat is dit nou weer? Ek vra ’n bietjie hulp by my vrou wat wel biologie gehad het. Sy sê ’n volledige metamorfose sal by sommige insekte vier fases insluit: die lê van die eier(s), die vorming van ’n larwe, die oorgang na ’n papie waarbinne die insek groei en dan die verskyning daaruit as ’n volwassene.
Nou lees ek maar eers deur die paragraaf.
Metamorfose
Die spesifieke sukses van insekordes met papies veral kewers (Coleoptera), skoenlappers en motte (Lepidoptera), tweevlerkiges (Diptera) en vliesvlerkiges (Hymenoptera) moet te danke wees aan hulle metamorfose, want hierdie ordes het later as die meer primitiewe insekte ontstaan en het inderwaarheid die stigtersbeginsel teen hulle gehad. Die groot voordeel van metamorfose is dat die larwes en volwassenes van ’n spesie verskillende ekologiese nisse vul, en dus nie met mekaar kompeteer nie. Op dié manier kan ’n spesie sy getalle effektief verdubbel. Dié voordeel kom tot sy reg met die volledige metamorfose wat deur ’n papiestadium moontlik gemaak word.
Dis duidelik nie ’n maklike paragraaf nie (seker omdat my skema oor insekte nog maar beperk is), maar hier is darem ’n terugverwysing na dinge wat ek nou al reeds gelees het: die “stigtersbeginsel” weet ek al iets van en “ekologiese nisse” en die kompetisie om plek in die omgewing. Ek sukkel nog ’n bietjie oor die Latynse name, maar weet nou ook al dis dalk nie die belangrikste om te onthou nie. Ek lees mos eintlik met die doel om die redes vir die groot sukses van die insekte as spesie vas te stel. Een van die redes, sê die titel vir my, is die proses van metamorfose, dat hulle in verskillende fases ontwikkel. Die eerste sin sê dis “te danke” daaraan. Dan volg die woord “want”, wat ek nou al weet ’n rede gaan gee hoekom dit vir die spesies geld: hulle het blykbaar “later” ontstaan in die ontwikkeling of evolusie (waarvan in die inleiding gepraat is).
Dit moet ook ’n groot faktor wees, want hulle het dan een van die groot voordele, die stigtersbeginsel “teen hulle gehad”. En die stigtersbeginsel het mos beteken dat die wêreld oop was vir vestiging, sonder kompetisie (dis wat in die tweede paragraaf beweer word). Hoekom het die metamorfose dan so ’n groot voordeel gehad? (Vraag.) Die antwoord staan daar: die larwes en volwassenes gebruik verskillende ruimtes of plekke (nisse) en daarom kompeteer hulle nie om dieselfde ou plekke nie! So word verder in die teks gesê, het jy dubbel soveel plek beskikbaar en “kan ’n spesie sy getalle effektief verdubbel”.
Daar is wel ’n effense voorwaarde of beperking dat die volledige metamorfose ’n “papiestadium” moet insluit. Dit, as ek reg verstaan, is wanneer die insek groei in die papieomhulsel en direk daaruit as volwassene voorkom. As volwassene kies hy/sy dan hulle eie nis of plek daarna.
Hoe moet ek al die feite nou saamvat? (Opsomming.) Die insekordes (is “ordes” nou die verskillende soorte insekte, lei ek af) met ’n papiestadium is bevoordeel omdat hulle in verskillende nisse of plekke kan bestaan en dus minder kompetisie van ander en fases van hul eie spesie gehad het.
Nou lê nog net een paragraaf voor en dit gaan blykbaar nie om nog ’n aparte rede nie, so ek kan so ’n bietjie ontspan.
Die raaisel van kewers
Die fenomenale sukses van kewers bly steeds ietwat van ’n raaisel. Hulle het nie vroeg in die evolusie ontstaan nie. Hulle harde voorvlerke maak hulle besonder goed gepantser, maar daar is byvoorbeeld ewe veel hardeskildstinkbesies en wespes. Ek het nog geen rede gehoor hoekom die kewers so buitensporig suksesvol was nie.
Die kewers moet dus besonder volop wees: die skrywer sê “fenomenale sukses” en later “buitensporig”, ten spyte van die feit dat hulle ook nie deel van die vroeë ontwikkeling was wat die stigtersbeginsel kon gebruik nie. (Hoor hoe geleerd klink ek nou.) Maar die slotsin sê duidelik dat hy nog geen “oortuigende rede” gehoor het waarom nie. Die harde voorvlerke is as rede dus nie goed genoeg nie.
Wat het ek geleer in die leesproses? Samevatting:
- Insekte verteenwoordig 75% van alle lewende spesies op aarde;
- daar is verskillende redes vir hulle sukses.
- Dit sluit in:
- Die stigtersbeginsel (en ek weet nou wat dit beteken),
- hoe die vermoë om te vlieg hulle bevoordeel,
- die waarde van ’n onderlip vir voedselverbruik,
- die waarde van die eksoskelet en klein liggaamsbou,
- die voordeel van metamorfose,
- dat die sukses van kewers nog onverklaarbaar is.
- Die betekenis van die volgende woordeskat:
Stigtersbeginsel, geleedpotiges, ekologiese nisse, gemonopoliseer, hakstappers, Latynse name, wortelvoeders, komposvoeders, insekordes.
- Ek moet nog verder inligting kry oor:
Die verdeling van diere in spesies, geleedpotiges, ekologiese nisse, metamorfose by diere, vliesvlerkiges, ander aspekte van insekte, hoe hulle verskil.
Ek dink die boek Inseklopedie sal heelwat inligting verskaf.
Begripstrategieë:
Watter metodes of strategieë het ek gebruik met die lees van die teks?
Besluit dit is ’n feitelike teks – ek moet dus lees om te leer.
Ek het die volgende tekseienskappe geïdentifiseer en gebruik om voorspellings te maak oor die inhoud:
- Titel, inleiding, opskrifte, vetgedrukte woorde, kort paragrawe;
- eers gedink oor my agtergrondkennis en besef ek kan heelwat nuwe kennis opdoen;
- doelwitte gestel vir die lees van die teks en paragrawe;
- vrae gevra voor, terwyl en ná ek gelees het deur die paragrawe;
- dele weer gelees (herlees);
- afleidings gemaak;
- gedink oor woordeskatbetekenis;
- paragrawe se inhoud met mekaar verbind (verbande gelê);
- konneksies gemaak met my eie kennis en ervarings;
- kennis saamgevat aan die einde;
- doelstellings gestel vir verdere leeswerk.
Die klem in hierdie bydrae was nog altyd die denke oor my lees en die bewuswording daarvan, vir my as leser en vir die leerders wat luister. Die rol van metakognisie.
’n Volgende keer moet ons dalk gesels oor die beplanning van hierdie soort onderrig en hoe enkele strategieë onderrig kan word.
Verdere bronne vir inligting:
Anker, J. 2020. Vakgerigte geletterdheid en leesbegripstrategie-ontwikkeling. Litnet Akademies, 17(93):787–814.
Block, C.C., Gambrell, L.B. en M. Pressley (reds.). 2002. Improving Comprehension Instruction. Rethinking. Research, Theory and Classroom Practice. Danvers, MA: Jossey-Bass.
Keene, E.O. en S. Zimmermann. Mosaic of Thought. Portsmouth, NH: Heinemann.
Kelley, M.J. en N. Claussen-Grace. 2007. Comprehension Shouldn’t Be Silent. Newmark, DE: International Reading Association.
Lees ook:
Onderwyshulp: Hoe wyd lê die betekenis van lees? Die toepassing van metakognisie en modellering
Onderwyshulp en leesbegrip: Johan Anker beantwoord lesers en opvoeders se navrae
Onderwyshulp, deel 2: Leesbegripontwikkeling – hardoplees en leesbegripstrategieë
Kommentaar
Baie dankie vir die insiggewende navorsing, kennis en nuttige wenke wat u met ons deel, prof. Anker.
Baie dankie, Dewald, vir die bemoedigende en positiewe kommentaar. Komende van jou verskaf dit motivering om voort te gaan met hierdie soort skrywes.
Johan Anker