Onderwyshulp: Hoe wyd lê die betekenis van lees? Die toepassing van metakognisie en modellering

  • 4

Prent: https://pixabay.com/photos/books-stack-literature-knowledge-5937823/

Johan Anker is deeltydse dosent betrokke by KSUT (CPUT) en sedert 2018 as buitengewone professor verbonde aan die Departement Kurrikulumstudie van die Universiteit Stellenbosch.

Hy is ook bekend as aanbieder by onderwyseropleidingsessies onder die vaandel van verskeie onderwysdepartemente en was meer onlangs landswyd betrokke by kursusse van die ATKV in verband met lees- en letterkunde-onderrig. Hy is bekend as navorser en opleier op die gebied van leesbegriponderrig en was betrokke by verskeie handboekreekse vir Afrikaans, vanaf grondslagfase tot graad 12.

Aangesien leesbegripstrategieë en die onderrig daarvan ’n reuse-probleem is in al die onderwyssektore, deel hy in die artikel hier onder die ervaring en kennis wat hy oor meer as drie dekades opgebou het met onderwysers en onderwyseropleiers.


............
Die betekenis van wat jy lees, lê net so wyd soos jou agtergrondskennis, woordeskat, belesenheid, denke, verbeelding en lewenservaring, in verhouding met die teks waarmee jy besig is. Daar word tereg baie gepraat en geskryf oor die gebrek aan leesbegrip, gebrek aan geletterdheid in ’n breër sin (betekenis), die onvermoë van soveel kinders om vroeg al te dekodeer, vloeiend te lees, woorde te herken.
................

Die betekenis van wat jy lees, lê net so wyd soos jou agtergrondskennis, woordeskat, belesenheid, denke, verbeelding en lewenservaring, in verhouding met die teks waarmee jy besig is. Daar word tereg baie gepraat en geskryf oor die gebrek aan leesbegrip, gebrek aan geletterdheid in ’n breër sin (betekenis), die onvermoë van soveel kinders om vroeg al te dekodeer, vloeiend te lees, woorde te herken. Hierdie aspekte is almal baie belangrik as ’n basis vir die leesproses om uiteindelik by die doel daarvan te kom: om met begrip te kan lees. Want ’n mens kan ’n hele sin vlot en vloeiend lees, maar nog altyd niks daarvan verstaan nie. Soos wanneer iemand vir my ’n teks oor elektronika of kernfisika gee om te lees!

Die vraag in hierdie bespreking gaan egter daaroor of ons genoeg dink oor wat leesbegrip alles inhou, hoe vervleg en geïntegreerd dit is met ander faktore soos agtergrondskennis, lewenservaring, konteks, omgewing, sosio-ekonomiese faktore?

...............
Die vraag in hierdie bespreking gaan egter daaroor of ons genoeg dink oor wat leesbegrip alles inhou, hoe vervleg en geïntegreerd dit is met ander faktore soos agtergrondskennis, lewenservaring, konteks, omgewing, sosio-ekonomiese faktore?
................

Miskien is dit eerstens belangrik om na te dink oor ons eie prosesse wanneer ons lees. Miskien moet ons eers bewús word van ons eie denkprosesse wanneer ons lees, voordat ons (veral as onderwysers en opleiers van onderwysers) daaraan dink om lees te onderrig en begripstoetse op te stel? Terselfdertyd moet dié wat kritiek uitspreek oor die onderrig van lees en leesbegrip ook eers nadink oor wat alles in hulle gedagtes gebeur wanneer hulle lees. Heelwat navorsers stel dit baie duidelik dat metakognisie (die denke oor jou leesproses terwyl en hoe en waaroor jy lees) die belangrikste aspek is wat eers ontwikkel moet word.

Ek probeer hier onder net my eie denke oor die lees van ’n teks weergee as ’n voorbeeld van hoe ’n mens hierdie denke oor ’n teks kan verwoord, hardop kan dink en so aan, leerders kan modelleer sodat hulle kennis kan neem van die soort denke en vrae wat deel vorm van leesbegrip. Die ontwikkeling van metakognisie (hoe ek dink oor my denke en my leesproses) is een van die belangrikste maniere om leesbegrip te verbeter, maar ek moet eers bewus word van my eie metakognisie voordat ek dit aan ander kan modelleer en ander kan ondersteun in die ontwikkeling daarvan.

..............
Die ontwikkeling van metakognisie (hoe ek dink oor my denke en my leesproses) is een van die belangrikste maniere om leesbegrip te verbeter, maar ek moet eers bewus word van my eie metakognisie voordat ek dit aan ander kan modelleer en ander kan ondersteun in die ontwikkeling daarvan.
................

Ek begin met my eie denke oor ’n teks en my uiteindelike interpretasie daarvan. Ek moet beklemtoon dat dit ’n persoonlike interpretasie is en kan verskil van leser na leser omdat elkeen se agtergrondskennis, teoretiese kennis, denke en assosiasies rondom woorde en begrippe (kan) verskil. Die geskrewe vorm is ook bedoel om eintlik as ’n hardopdink-proses voorgehou te word. Dit neem ook nogal lank vir ’n mens om só jou gedagtes terwyl jy lees uit te druk in woorde! Dit as sodanig is ook ’n proses wat geoefen moet word.

Ek begin met ’n gedig, omdat dit my vakterrein is. Die proses wat ek hier onder beskryf, kan egter op alle vakke toegepas word.

Ek begin met woorde wat ek raaksien soos wat ek vinnig deur die teks hier onder kyk. Nogal ’n gedig oor tegnologie, sien ek tot my verbasing. Woorde soos die volgende wat in die teks voorkom: program, tegnologie, skryf, jaarliks, klank, afstandbeheer, natuurlik, herhaal, outomaties. Bekende woorde? Ja, ek dink baie lesers het hulle al gehoor en gelees. Ek weet ook uit my agtergrond in die semantiek dat hierdie woorde net letters en klankverbindings is wat mondeling of skriftelik verwys na dinge of prosesse in die werklikheid. Die woord program byvoorbeeld verwys net na iets wat ’n program is – die woord program is nie die program self nie!

Maar nou ken ek verskillende soorte programme: sportprogramme, skoolprogramme, bemarkingsprogramme, rekenaarprogramme, ens. En so verskil elkeen van ons se agtergrondskennis van verskillende soorte programme, afhangende van ons ervaring en werk en omgewing.

Selfs die woord afstandbeheer kan na verskillende voorwerpe, programme en situasies verwys en het sedert Covid nog ander soorte “betekenis” bygekry! Só baie dinge moes “oor ’n afstand” beheer word. Dit is beslis nie net ’n proses waarmee jy TV-programme beheer nie.

............
Ons kan egter die woorde se betekenis beter afbaken eers as dit in ’n sin of teks of breër konteks gebruik word. En dan hang dit af van hoeveel ek van daardie konteks weet, wat my agtergrondskennis daarvan is.
.............

Ons kan egter die woorde se betekenis beter afbaken eers as dit in ’n sin of teks of breër konteks gebruik word. En dan hang dit af van hoeveel ek van daardie konteks weet, wat my agtergrondskennis daarvan is.

Kom ons begin met die woord tegnologie, die titel van die gedig. Watter verskeidenheid dinge, programme, voorwerpe kan ek verbind met dié woord wat een van die mees gebruikte woorde in die moderne wêreld is? Vir verskillende lesers wissel dit van slegs ’n bekende woord tot assosiasie met ’n hele wye netwerk en industrie. Ek dink my eie kennis daarvan (en dus ook woordeskat) is redelik beperk in vergelyking met die meeste jongmense s’n wat daarmee grootgeword het. Ek dink maar net aan selfone en hoe ek sukkel daarmee. Maar my kennisveld, die terrein waarin ek dit kan toepas, brei darem daagliks uit.

’n Terrein wat ek redelik goed ken, is die letterkunde, wat gedigte insluit. Nou wat het ’n woord soos tegnologie met die letterkunde of gedigte te doen, behalwe dalk nou in die wêreld van wetenskapfiksie? Hier kom goed nou by mekaar wat ek nie dadelik aan gedink het nie. Ek wonder maar net hardop.

Sou ’n mens dan nou ’n gedig kon skryf oor “tegnologie”? Die mense wat baie gedigte lees, sou vir jou ’n hele reeks kon noem. Ek dink dit sal egter beteken dat die teks heel moontlik anders gaan lyk as die gewone tegnologieteks wat ek al gesien het, met heelwat woordeskat uit die tegniese wêreld – formules, formele en presiese taalgebruik – of so dink ek nou daaroor.

 

Byvoorbeeld:

Tegnologie

Die program deur U self geskryf
word jaarliks herroep op harde skyf
en elke onderdeel digitaal bepaal

tog kan U deur middel van afstandbeheer
enige troostelose winter herprogrammeer
of dit natuurlik outomaties herhaal.

 

Wat gebeur nou in my leesproses? Ek is meer op my gemak, want normaalweg kan ek gedigte lees en geniet en redelik verstaan.

............
Wat gebeur nou in my leesproses? Ek is meer op my gemak, want normaalweg kan ek gedigte lees en geniet en redelik verstaan.
.............

Ek sien dadelik raak dat dit ’n gedig is deur die vorm te herken: die titel en twee strofes wat elk drie reëls het. Ek dink dit word “tersines” genoem, dié strofevorm. Maar dit is nie nou belangrik nie. Ek wil eers dink waaroor die gedig handel, wat dit “beteken”. Ek stel dus eers belang in die inhoud daarvan. Ek weet ook ek sal die gedig meer as een keer moet lees om verwysings en woorde daarin beter te verstaan en die verband tussen hierdie woorde te probeer agterkom. My agtergrondskennis en ervaring gee vir my daardie raamwerk of “schema” in verband met gedigte om binne te dink (soos iemand anders na ’n wiskundeprobleem kan kyk!).

Die titel, weet ek, is baie belangrik in enige gedig, en ek wonder dadelik daaroor: “Tegnologie”. Watse soort tegnologie sou dit nou wees, of is dit, soos baie ander gedigte eerder ’n toepassing op mense se lewens (want dit is waaroor gedigte gewoonlik gaan –sê my ervaring). Al manier om uit te vind is om verder te lees, en soos ek lees, my eie vrae hier bo te beantwoord.

Die eerste, versigtige lees stel my gerus dat hier nie te veel “tegnologiese” woordeskat is wat dit vir my moeilik gaan maak nie. Ek ken die woord “digitaal” ook redelik goed, maar weet nie presies mooi wat dit beteken nie.

Soos ek lees, sien ek heelwat woorde wat wel na tegnologie verwys: ’n “program” wat geskryf word, soos ek al kollegas sien sukkel het met die skryf van rekenaarprogramme vir byvoorbeeld skoolroosters! So ’n program verstaan ek kan onder andere op hardeskyf bewaar en “herroep” word. Selfs “jaarliks”, bedoelende elke jaar. Maar “herroep”, dink ek nou, kan beteken dat dit weer net so gebruik gaan word, of dalk selfs herroep word om te verander? Ek sal eers later kan besluit watter betekenis dit het, of dalk selfs albei? In ’n gedig is daar soms woorde wat dubbelsinnig is, meer as een ding gelyktydig kan impliseer. Dis nog ’n rede om meer as een keer te lees.

Die laaste reël van die eerste strofe beklemtoon ook dat die besonderhede in die program spesifiek vasgestel en ingeskryf is: “digitaal bepaal”. Dis wat daardie woorde vir my beteken op hierdie stadium. Ek verstaan nie regtig hoe dinge “digitaal bepaal” word nie, maar weet dit gebeur!

My gedagtes gaan egter die hele tyd terug na die gebruik van die “U” met ’n hoofletter in die eerste reël. Wie is hierdie “U” wat hierdie program so presies geskryf het dat dit “jaarliks” dieselfde kan bly? Kan dit ’n Skeppergod wees? In my kultuur verwys ons so met ’n hoofletter na God, die skepper. Indien dit die geval is, gaan die gedig nie net oor tegnologie nie, maar ook oor die hele skepping, die mens ingesluit – so begin ek dink. Dit staan egter nie so in die eerste strofe nie – ek begin net daaraan dink! Maar dis in elk geval nog net die eerste strofe. Daar is ook ’n aandagstreep, wat vir my sê die volgende strofe gaan daarop uitbrei.

Die tweede strofe begin met “tog”, en “tog” beteken dat ten spyte van wat nou al gesê is, iets anders ook dalk kan gebeur. Weer word na die “U” verwys. Dieselfde “U” as in die eerste strofe, neem ek aan. Die een wat die program geskryf het. En nou word hier die eerste keer gepraat van “afstandbeheer”. Hierdie “U’ kan dan van baie ver, of in elk geval vanaf ’n afstand, blykbaar die program “herprogrammeer”. Die skepper van die program kan dus sy eie program moontlik aanpas? Dit is “tog” moontlik?

Die program waarna verwys word, sluit egter nou ook ’n seisoen in: “troostelose winter”. In watter opsig is die winter deel van ’n program? Is dit omdat dit een van die vasgestelde seisoene is wat jaarliks plaasvind, deel is van die natuur se siklus? En is alle winters dan nou “troosteloos”?. Wat beteken die woord “troosteloos”? Is dit dalk “sonder enige troos”, dus hartseer, vol smart en swaarkry? Winter word nogal in die letterkunde dikwels geassosieer met lyding, swaarkry en selfs die dood, terwyl lente en somer weer lewe voorstel of simboliseer. So sê my agtergrondskennis oor gedigte waarin na die natuur of seisoene verwys word.

Ek wonder nou verder hoekom die spreker in hierdie gedig die winter as “troosteloos” beskryf. Het hy hierdie winter as baie hartseer ervaar? Vra hy eintlik dat die skepper/God asseblief hierdie program herskryf vir die volgende jaar en die winter minder “troosteloos’ maak? As God dan in beheer is van hierdie program, is dit seker binne sy mag? Is dit wat hierdie reëls beteken? Dié soort gedagtes begin nou vorm kry as gevolg van die heen-en-weer-verwysings na die woorde en begrippe in die eerste en tweede strofe.

Ek begin dink die gedig is eerder metafories, of dan beeldspraak, as wat dit na ’n werklike rekenaarprogram verwys. Die ooreenkoms tussen ’n rekenaarprogram en die verwysing na ’n seisoen is dan die spesifieke en herhalende aard van seisoene elke jaar. Die hele siklus van seisoene jaar na jaar werk dan volgens die spreker soos ’n goed-opgestelde program.

Maar nou is daar is nog ’n reël: “of dit natuurlik outomaties herhaal”. Is dit ’n gevoel van gelatenheid by die spreker dat dit in die skepper/God se hande is en dat die natuurlike proses van lewe en dood, vreugde en hartseer maar so sal voortgaan? Moet die spreker nou maar vrede maak daarmee dat dit is hoe dinge gebeur, en gebeur het? Selfs die woord “natuurlik” word nou ook dubbelsinnig: Dit is die natuurlike verloop van dinge of dit is uit die aard van die saak, natuurlik, vanselfsprekend in die skepper se hande. Die mens het nie eintlik ’n invloed op daardie besluit nie?

Na al die gedagtes lees ek maar weer die gedig om nou my verskillende idees bymekaar te sit en te toets of dit sin maak. As ek nou terugdink aan wat ek gelees en gedink het, bly die gedagte by my dat die spreker “tog” maar mooi vra of dit nie moontlik is om een keer of net een slag die volgende winter bietjie te “herprogrammeer” nie. Asseblief. Want hierdie een wat nou verby is was darem regtig ’n bietjie erg!

Hoekom dan “tegnologie”? Is dit die verwysing na die vasgestelde, natuurlike siklus in die skepping op aarde, of, en ook, die idee dat ’n skepper/God wat beheer het daaroor, dalk soms na mense ook luister? Dat die “tegnologie” tog nie die finale beheer het nie maar dat die skepper van hierdie program aanpassings kan maak soos nodig? Lees maar nog ’n slag om te kyk of hierdie gedagtes nou nog sin maak.

So verweef ’n mens se gedagtes, vrae, antwoorde en verbindings tussen gedagtes en woordbetekenisse asook jou as mens se ervarings en assosiasies. En die gedagtes sal kan verskil tussen leser en leser. Vir lesers wat al baie hartseer ervaar het, lees dit seker ook anders as vir ander wat min daarvan beleef het. Die emosie en empatie kan verskil. Die geloofsvrae wat kan ontstaan, kan ook nou verskil na gelang van elkeen se persoonlike denke oor die skepper se beheer oor wat met die aarde en mense gebeur.

Bostaande is net ’n voorbeeld van hoe ’n mens ’n gedig kan lees of hoe die lees van gedigte kan werk vir mense wat dit dikwels doen. Dit is nie die enigste manier of enigste betekenis nie! Die idee is nie om vir leerders te sê “dit is hoe julle daaroor moet voel en dink” nie. Dit gaan eerder oor die maniér van dink, die herlees en vrae stel, die wonder oor die betekenis van woorde en die verbande tussen woorde. Dit gaan oor die bewuswording van hoe ’n mens se gedagtes en assosiasies en kennis en ervarings bydra tot jou eie skep van die betekenis vir jouself uit die teks. Die betekenis is nie net in die teks self nie, dis in baie opsigte in jou eie kop! Saam word ’n betekenis gevorm deur die verweefdheid van verskillende soorte denke en gedagtes. En later, as ’n mens dit weer lees, kan jy selfs weer ander aspekte raaksien of daaraan dink. Dink byvoorbeeld net hoe mense die gedig na die ervaring van COVID-19 anders kan lees as in die tyd toe dit geskryf is – lank gelede.

Met die herlees van die modellering is dit tog interessant om te sien watter leesbegripstrategieë alles gebruik is ten opsigte van die leesproses: daarvóór, tydens die lees en daarna:

Die aktivering van agtergrondskennis: oor teks, onderwerpskennis, leesstrategieë.

Toepassing van betekenis van woorde.

Konneksies maak met eie assosiasies, ander tekste en algemenekenniswêreld.

Vrae vra.

Afleidings maak.

Verbande lê tussen woorde en begrippe.

Monitor eie begrip en vrae oor eie begrip.

Gebruik van tekseienskappe en tegniese kennis van vak/genre.

Stel doelstellings vir lees.

Herlees vir begrip.

Voorspelling van betekenisse of volgorde.

Wyer denke as net gedig: die lewe in die algemeen.

Betrek eie ervarings.

Dink oor dubbelsinnigheid en styl (metafories?).

Dink oor spesifieke tegnieke en taalgebruik.

Vra vrae oor die doel van die spreker/outeur.

Maak sintese van verskillende afleidings.

Evalueer teks.

Slotsom as moontlike, voorlopige interpretasie.

Erkenning van ander lesers se moontlike verskille in die leesproses.

 

Onderrigproses

Wanneer hierdie soort denke gemodelleer word oor ’n teks om vir leerders/student te wys hoe ’n mens se gedagtes kan wissel en vervleg word in ’n gedig, word die volgende proses voorgestel:

  • Verduidelik eers die begrip metakognisie.
  • Doen en bespreek voorbeelde waar die lesers verskil oor die assosiasies, denke en kennis oor ’n paar woorde.
  • Plaas dan daardie woorde in ’n konteks sodat die betekenisse meer spesifiek word. Slegs kort sinne of paragrawe.
  • Modelleer dan alleen jou denke oor die teks (kort) sonder enige bydrae van die ander lesers – hulle moet net die hardop dink ervaar.
  • Herhaal die modellering met nog ’n teks (kort). of tekste.
  • Doen dan die modellering saam met die groep. Laat hulle ook sê wat hulle dink of wil vra.
  • Laat die groep dit dan onder mekaar doen, daaroor gesels, terugvoering gee.
  • Gee nou kans dat die lesers dit individueel doen en daarna vertel wat in hulle gedagtes gebeur het.
  • Laat die lesers nog voorbeelde doen waar hulle hulle gedagtes neerskryf, ’n joernaal hou, vrae formuleer.
  • Hou aan met hierdie soort gesprekke, individueel en met die klas.
  • Die onderwyser of dosent speel dus al hoe meer die rol van ’n begeleier en die individuele lesers word ondersteun om hierdie denke te ontwikkel – die sogenaamde “scaffolding”- of steierbegeleiding.

Dit is natuurlik ’n proses wat in enige vak toegepas kan word!

 

Bronne vir verdere leesstof:

Anker, J. 2020. Vakgerigte geletterdheid en leesbegripstrategie-ontwikkeling. Litnet Akademies, 17(3): 787-814.

Brozo, W.G. 2017. Disciplinary and content literacy for today’s adolescents. 6de uitgawe. New York: The Guilford Press.

Keene, E. en S. Zimmermann. 2007. Mosaic of thought. 2nd Edition. Portsmouth, NH: Heinemann.

Kelley, M. en M. Claussen-Grace. 2007. Comprehension shouldn’t be silent. From strategy instruction to student Independence. Newmark, DE: International Reading Association.

 

Lees ook:

Vakgerigte geletterdheid en leesbegripstrategie-ontwikkeling

Elders gesien: Die klankbaan van ’n krieketbal op ’n krieketkolf

 

  • 4

Kommentaar

  • In elf jaar wat my seun skool gaan, het een onderwyseres ons op die regte pad. Ná elf jaar: net een.

  • Suzanne Wiese

    Uiters interessant. Ek sou graag betrokke wou raak by die onderrig van leesbegrip. Is daar ’n kursus of program wat ek kan volg? Ek is al vir 40 jaar ’n Afrikaanse taalpraktisyn.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top