
Foto: Lisa Scott | Pixabay
Johan Anker skryf op Facebook:
Van die mooiste alliterasie wat ek gehoor en beleef het was die klap van ’n krieketkolf teen ’n krieketbal. Letterlik en figuurlik.
Selfs Elizabeth Eybers skryf: '"Daar golf/ geen skoner jambes in my moedertaal/ as "roulynolie vir my krieketkolf"!
Ek en my broers het grootgeword met krieket, al die ander balspele ook, maar ons gedeelde herinneringe in die karavaanpark, by die huis, langs die skool, vakansies en selfs in die gang wanneer dit reën (met seringbessies en ’n liniaal), is krieket speel.
Vandat ek saam met my oupa en pa voor die groot radio in Villiersdorp se sitkamer gesit het en in die Sestigerjare bal-vir-bal-kommentaar geluister het tot later se Nuwelandbesoeke met die gaar brand vir vyf dae onder die oggend se Burger, het die opwinding my nooit verlaat nie.
Om op te daag by die leë veld, die netjies gesnyde gras en wit uitgemete kolfblad met die wit grenstou, die skare te sien groei, al is dit net ’n paar onder die bome op een of ander terrein in die Oos-Kaapse platteland (Sidbury, Southwell...), die uitstap met netjiese wit langbroeke, hemde en skoene,die wag vir die eerste bal...
Ek het maar uit ’n boek leer krieket speel (nogal ’n Afrikaanse een!) en omdat al die foto’s van regskolwers was, het ek voor die spieël so stelling ingeneem. Maar eintlik is ek links en die boulwerk het toe maar links plaasgevind. Ons het al vier ure lank geoefen, in nette, langs die huis, in die karavaanpark, teen mekaar, en natuurlik op skool en later vir klubs.
Min dinge is vandag nog so mooi as ’n regte splinternuwe krieketbal – om dit vas te hou, die nuwe naat onder jou vingers te voel, dit die eerste keer vir mekaar te gooi en bewonderend daaraan te ruik. Dit was duur en kosbaar en voor ’n wedstryd is dit vir die eerste keer uit die sagte wit papier gehaal en aan die kaptein oorhandig.
En dan was daar die inspeel van jou nuwe kolf: Eers die liggies skuur met fyn skuurpapier, dan ’n lagie roulynolie aangesmeer met ’n stukkie ou laken en daarna die ou bal in ’n sokkie en die klop op die kolf - net liggies. Dan laat droog word, die grein van die kolf bewonder en weer skuur, aansmeer en inklop met die bal. Tot dit sy “plankgeluid" verloor en die sagte diep klank kry van ’n ingeoefende kolf. Dan is dit veerkragtig genoeg en bars dit nie so maklik nie. Na wedstryde word die rooi merke van die balle ook effens afgeskuur – veral die merke op die rand van die kolf waaroor jy so ’n bietjie skaam is!
My eerste regte krieketskoene het ek gekry toe ek in st. 7 was (graad 9). ’n Paar met regte leer en hoë enkels, en ’n houtsool waarin jy die spykers moes indraai, na wedstryde uitdraai en skoonmaak en weer terugdraai. Bietjie groot gekoop vir die groei en moes die eerste jaar of wat ’n sokkie voor insit. Maar hulle het tot lank na universiteit gehou!
Daar is die groot oomblikke wat nog voor my oog afspeel, die poësie van ’n Greame Pollock-dekpuntdryfhou, ’n Eddie Barlow-kaphou – tot drie viere na mekaar, ’n Colin Bland- en Jonty Rhodes-uithardloop deur die paaltjies blitsvinnig om te gooi, Peter Pollock en Garth le Roux en Alan Donald wat indraf om hulle kartetse af te stuur, ’n vangskoot in die glippe, die spanning van die eerste bal en die laaste bal van ’n wedstryd, die inloop saam met die bouler vir die veldwerk, die toe-oë-duikslag en jy voel hoe jou hand toemaak om die bal... alles beelde wat plaasvind in die ses reëls van elke strofe: die ses balle in elke boulbeurt, in die klankbaan van ’n krieketbal op ’n krieketkolf.
Tersiene
(Elizabeth Eybers)
Reeds oor die drumpel het my seun, wat hyg,
skool toe, van haastigheid, weer vasgesteek:
"Bestel dit tog vandag van die apteek..."
Sy stem, nou nog skor dan skraal, het yl gestyg:
"die roulynolie vir my krieketkolf!"
"Onthou!" roep hy, maar hoe kan ek vergeet?
Eggo-deurtrek, al grom die honger wolf
van onvoltooide take, sing die kreet
om "roulynolie vir my krieketkolf..."
Roerloos sit ek voor my geslote boek:
as soveel ongesogte harmonie
gesluit word in ’n simpele versoek,
wat baat beoefening van prosodie?
Geen lettergrepe wat om voorrang stoei
in weersydse verset en kompromie
het ooit in gouer, gladder stroom gevloei
as "roulynolie", klinkerryk, geen knal
was nog so klaar as "krieketkolf". Hoe sal
my vers ooit weer volwasse word? Daar golf
geen skoner jambes in my moedertaal
as "roulynolie vir my krieketkolf"!
Kommentaar
My pappa skryf die mooiste stories.
Bravo, Johan!
Ek hoop ons kry nog baie stories en herinneringe saam met gedigte wat ’n rol gespeel het in jou lewe.
Mooi so, Johan. Ek het ook van my lekkerste krieket op plekke soos Paterson en Alicedale gespeel.
Ook Uys Krige het pragtig oor krieket geskryf. En nou soek ek daardie gedig van Eybers. Dankie Johan.
So waar!