
https://pixabay.com/illustrations/question-mark-pile-questions-symbol-2492009/
’n Onlangse artikel oor skoolkinders se onvermoë om behoorlik te lees het aandag getrek en lesersnavrae ontlok.
Johan Anker, deeltydse dosent betrokke by KSUT (CPUT) en sedert 2018 as buitengewone professor verbonde aan die Departement Kurrikulumstudie van die Universiteit Stellenbosch, identifiseer leesbegripstrategieë en die onderrig daarvan as ’n reuse-probleem in al die onderwyssektore, en die navrae wat op sy artikel gevolg het, bevestig sy kommer.
Hier is die artikel ter agtergrond (die navrae verskyn as kommentare onderaan die artikel).
Onderwyshulp: Hoe wyd lê die betekenis van lees? Die toepassing van metakognisie en modellering
Hier onder beantwoord hy die navrae.
Suzanne: Uiters interessant. Ek sou graag betrokke wou raak by die onderrig van leesbegrip. Is daar ’n kursus of program wat ek kan volg? Ek is al vir 40 jaar ’n Afrikaanse taalpraktisyn.
Johan Anker: Die vraag oor die kursusse is maklik/moeilik omdat formele kursusse as sodanig nie bestaan nie, net as deel van modules binne die onderwysersopleiding. Daar is natuurlik ook kort opleidingsgeleenthede deur onderwysdepartemente en sommige nieregeringsorganisasies. Daar is wel n ’n enkele kort kursus geregistreer wat ek kon opspoor, by Unisa, vanaf 2023, maar wat blykbaar nog nie op hulle rooster is nie. Daar is wel baie bronne (boeke, artikels) beskikbaar waaruit ’n mens jouself kan oplei – soos ek ook maar oor baie jare moes doen. Ek kan na van hierdie bronne verwys as ’n begin.
Elna: Waar/hoe begin jy met 'n graad 1-kind?
Johan Anker: Die vraag oor waar ’n mens in graad 1 begin, het die natuurlike antwoord dat daar ’n volledige kurrikulum daaroor uitgewerk is vir die skole met hulpmiddels – dit geld veral vir die dekodering, fonologiese bewustheid en uitbreiding van woordeskat. Daar is ook ’n uitstekende handleiding (gepubliseerde boek) met teoretiese uitgangspunte en praktiese voorbeelde beskikbaar wat vir alle Grondslagfase-studente voorgeskryf word by onderwysersopleiding. Ek sou wel heelwat kon byvoeg oor die waarde van begripsontwikkeling deur middel van voorlees. Daaroor is baie te sê in so ’n artikel.
Eric: My hele graad 7-klas is op graad 3-vlak met leesgeletterdheid.
Johan Anker: Dieselfde argument geld vir die vraag oor die leerders in graad 7 met ’n graad 3-vlak geletterdheid. Alhoewel die dekodering, klankbewustheid, vloeiend lees en woordeskatontwikkeling steeds noodsaaklik is, kan die gebruik van voorlees ook hier ’n groot rol speel in begripsontwikkeling, al is die leesvermoë van die leerder self nog swak.
My klem bly dus uiteindelik steeds by die ontwikkeling van leesbegripstrategieë en die verbreding daarvan tot alle vakke, die sogenaamde dissiplinêre geletterdheid.
Kommentaar
Ek ondervind dat leerders en soms opvoeders streekstaal gebruik in die klaskamer. Die vraagstelling in vraestelle is dan in standaard Afrikaans. Dis een van die redes waarom leerders nie verstaan wat van hulle verwag word nie. So is tydskrifte en koerante beperk in plattelandse dorpe. Dit veroorsaak n agterstand by die leerders.
Ons het pas 'n nuwe, gejaagde, leeskursus verlede Donderdag deur die Department gedoen. Dit lyk of LSEN nou op die onderwysers vir selfs graad 7's geforseer word. In my beskeie opinie is leesbeleid iets wat nasionaal, provinsiaal en selfs per skool en per individuele skole aangepak moet word. Ek het in September met Troula Goosen (die skryfster) as borg, 'n leeskompetisie vir Afrikaans voltooi. Dit was baie suksesvol.
Baie dankie vir 'n baie insiggewende artikel. Ek is betrokke by 'n digitale skool en het hul lees en lees-met-begrip-vermoëns getoets. Soos te verwagte is hul agter en stem ooreen met die PIRLS-verslag. Ek wonder hoe die digitale onderrig die prestasie van die leerders sou beïnvloed?