
Prent: https://pixabay.com/photos/sunglasses-laptop-notebook-macbook-1284392/
Hierdie skrywe het ten doel om aan te dui hoe die gebruik van hardoplees in die klas of by die huis met die gelyktydige modellering van leesbegripstrategieë ’n antwoord kan bied op vrae wat by lesers van die vorige bydrae ontstaan het.
Die eerste vraag was of daar enige amptelike kursus bestaan vir die aanbied van leesbegripstrategieë en die gepaardgaande metakognisie en modellering. Daar word wel dikwels werkswinkels en kort indiensopleidingskursusse deur die verskeie onderwysdepartemente, uitgewers, sekere NGO’s en rekenaargebonde kursusse aangebied in verband met die verbetering van lees en leesbegrip. Daar is ook ’n hele reeks artikels in Afrikaans gepubliseer, onder andere op afrikaans.com, oor leesonderrig en leesbegrip wat u deur middel van ’n soektog op die internet sal vind. In die kursusse vir onderwysersopleiding is dit ook ingesluit in sekere modules. Die onderrig van dekodering, klank- en letterbewustheid en vloeiend lees is deel van aanvangslees en wel ’n belangrike deel van die opleiding van grondslagfasestudente. Daar bestaan egter volgens die navrae wat ek gedoen het, geen amptelike kwalifikasie of kursus oor leesbegripontwikkeling nie.
Ek het self maar die pad geloop oor 30 jaar se navorsing in honderde oorsese publikasies, tesisse wat daaroor gedoen is, sommige waarvan ek ’n studieleier was, publikasies in boekvorm, en navorsingsverslae uit die VSA, Europa en Australië. Party so onlangs as in 2020 afgehandel. Deur by onderwysersopleidingseminare op te tree, het ek ook baie geleer van die probleme in die klaskamer en die gebrek aan tyd om hieraan aandag te gee. U kan begin deur doodeenvoudig die woorde: “Teaching of reading comprehension,” of in Afrikaans: “Leesbegriponderrig” in te tik in die soekfunksie van u rekenaar en dan kies uit die resente bronne wat aangedui word.
Die tweede en derde vraag hou oënskynlik nie verband met mekaar nie, maar ’n antwoord daarop dalk wel: “Waar begin ’n mens in graad 1?” en: “Wat doen ’n mens as jou leerders in graad 7 nog op ’n graad 3-geletterdheidsvlak is?”
Vir graad 1 en die hele grondslagfase tot graad 3 is daar ’n uitgebreide bestaande kurrikulum vir aanvangslees uitgewerk en beskikbaar vir alle onderwysers. Daar is ook baie hulpbronne daarmee saam beskikbaar en onderwysstudente en onderwysers gebruik ook onder andere die handboek Geletterdheid in die Grondslagfase (Bester, Joubert, Evans, Meyer en Phatudi 2010) wat in die besonder ’n bespreking van die kurrikulum, leesonderrigbenaderings, ander geletterdheidsvaardighede (luister, praat en skryf) en praktiese wenke vir die onderrig insluit. Hierdie fase lê egter tereg baie sterk klem op die aanvangsleesprogram van klank- en letterverhouding, die fonologiese bewustheid, woordeskatontwikkeling en die vermoë om dan vlot te lees en dekodeer.
Aangesien my klem val op leesbegrip kan ek uitbrei op die voordele van hardoplees en/of voorlees om leesbegripvaardighede te vestig. Dieselfde benadering sou ’n mens ook kon gebruik in die geval waar leerders in graad 7 nog nie verder as ’n graad 3-geletterdheidsvlak gevorder het nie. Dit sluit nie uit dat hulle nog steeds dekodering, woordherkenning en vlotlees moet ontwikkel nie, maar voorlees kan hulle juis daarmee help, asook met begripsvaardighede ondersteuning bied.
Hardoplees/voorlees
Navorsing het oor en oor bewys dat kinders vir wie van kleins af voorgelees word en stories vertel word, baie gouer leesgereed is en ook baie gouer die dekoderingsproses baasraak en vloeiend begin lees. Dit is meer as dit: dit is ’n lewenslange voordeel aangesien hulle soveel vinniger ook ander tekste en vakke kan beheer en begryp.
.............
Navorsing het oor en oor bewys dat kinders vir wie van kleins af voorgelees word en stories vertel word, baie gouer leesgereed is en ook baie gouer die dekoderingsproses baasraak en vloeiend begin lees. Dit is meer as dit: dit is ’n lewenslange voordeel aangesien hulle soveel vinniger ook ander tekste en vakke kan beheer en begryp.
................
Hoekom?
Hierdie kinders het ’n baie groter blootstelling aan mondelinge en skriftelike taalgebruik deur die herhaaldelike luister daarna. Hulle het vroeër al ’n baie groter klankbegrip, woordeskat, en ’n beter verstaan van sinne en konteks ontwikkel, hulle hoor hoe goeie sinne gebruik word en kan dus langer en ingewikkelder sinne verstaan. Hulle moet ook sin maak van langer tekste of stories en die verband tussen die gebeure en karakters, asook die verloop van die stories volg. Dit beteken ook dat hulle leer afleidings maak, patrone van stories en gesprekke leer ken en ook verskillende tekste leer onderskei van mekaar. Die begrip dat ’n boek of ’n bladsy of ’n illustrasie en advertensies betekenis oordra op ’n skriftelike of visuele manier, word ook baie vroeër gevestig.
Dieselfde voordele van voorskoolse blootstelling aan stories en voorlesings gaan net voort in die skoolomgewing of tuis. En dit hang nie van die konkrete dekodering- of vloeiende leesvlak van die leerder af nie. Hoe meer dus in die klas vanaf graad 1 tot graad 12 voorgelees word, hoe meer woordeskat en formulerings word deel van die skema waarbinne die leerder uiteindelik moet lees. En dit geld vir alle leerders in alle tale: van die swakstes tot die bestes.
............
Hoe meer dus in die klas vanaf graad 1 tot graad 12 voorgelees word, hoe meer woordeskat en formulerings word deel van die skema waarbinne die leerder uiteindelik moet lees. En dit geld vir alle leerders in alle tale: van die swakstes tot die bestes.
................
Vir die kleintjies is die rympies, liedjies en herhaling van tekste geweldig belangrik ter wille van die klank- en woordherhalings wat sodoende vasgelê word. En dan is dit nog lekker ook om na ’n storie te luister wat voorgelees word, of as ek nie self deur ’n moeilike teks moet worstel nie, maar iemand anders dit vlot en met die regte intonasie kan voorlees. Dan kan ek net dink aan wat dit alles dalk beteken! Deur die stories of ander tekste sien en leer ek oor ander karakters en wêrelde, hoor ek wat ander mense deurmaak, kan ek dink aan hoe ek leef, kan ek hulle en/of my eie omstandighede “beleef” en my daarin indink of verbeel.
Om doodgewoon aan die einde van ’n skooldag ’n storie te lees vir die klas of vanaand by die huis net voor slaaptyd, is dalk een van die belangrikste leergeleenthede van die dag. Want dit is die natuurlike manier hoe ons taal van kleins af leer; deur die luister daarna, die vrae vra daaroor, die praat daaroor en die visualisering van wat gesê of gelees word.
..........
Om doodgewoon aan die einde van ’n skooldag ’n storie te lees vir die klas of vanaand by die huis net voor slaaptyd, is dalk een van die belangrikste leergeleenthede van die dag. Want dit is die natuurlike manier hoe ons taal van kleins af leer; deur die luister daarna, die vrae vra daaroor, die praat daaroor en die visualisering van wat gesê of gelees word.
..............
Weereens kan die voorleser (onderwyser/familielid/vriend) die model wees wat wys hoe om dit te doen, hoe daaroor gedink kan word, hoe ’n mens dalk kan voorspel wat gaan gebeur, hoe ’n mens aan redes kan dink waarom dinge gebeur en wat die gevolge daarvan is, en kan ’n mens aan die einde gesels of dink oor wat dit eintlik vir my wil sê. Of sommer net besluit dit was baie mooi, of hartseer, of onnodig dom… Die idee wat die hele tyd oorgedra word, is dat ’n mens dink terwyl jy lees: die betekenis is nie sommer net daar in die teks sonder jou denke daaroor nie.
’n Mens kan met voorlees tekste gebruik wat soms ver bo die gewone leesvlak van die leerder is. Hulle luister na die storie en later met herhaling word die woordeskat en segswyse deel van hulle taalgebruik.
Net met die deurlees van die eerste storie in Die Madiba-boek (Tafelberg, 2002), waarin die stories vir jonger kinders bedoel is, vind ek byvoorbeeld die volgende woordeskat wat beslis nie in die meeste jong kinders se leesvlak sal val nie. Maar hulle sal wel na die storie kan luister en die grootste deel daarvan verstaan, indien nie alles nie. Die volgende woorde kom voor in die eerste ses kort paragrawe van die storie “Die Betowerende Lied van die Vreemde Voël”, wat heel moontlik te moeilik sou wees om self te lees:
Betowerende, intrek geneem, reusevoël, voorraadskure, kosvoorraad, moedeloos, dapperste, suising, geelhoutboom, blink geslypte, nader hulle die boom, die boom sidder, wondersoete, hurk neer, verlangende oë, slaapwandelaar, sy mag kan breek …
Dis baie moontlik dat hulle al hierdie woorde gehoor het en die klanke met woorde verbind, ook in ander stories, maar dit is nie deel van hulle gewone klasleesstof of gesprekke nie. Deur die herhaling van die storie, die oorvertel daarvan en gesprekke daaroor kan dit egter wel deel word van hulle woordeskat en sal die herkenning daarvan, wanneer dit in ’n teks voorkom, net soveel makliker wees. Dit word deel van die agtergrond waarmee hulle uiteindelik lees.
So gaan kyk ek uit my eie herinneringe in die Afrikaanse Kinderensiklopedie (nr 10) waarin ’n hele reeks stories agterin is en waaruit my ouers saans vir ons gelees het. Toe was bundels met kinderstories nog skaars in Afrikaans. Ek sien die datum van uitgawe is 1955!
Een van die eerste verhale, wat baie voorgelees is, is “Die keiser se nuwe klere”, ’n oorvertelling van Hans Andersen se sprokie. Ek kom sommer aan die begin op dié woorde af waarna ek moes luister nog voor ek skool toe is:
Tooisels, keiser, aangename, bedrieërs, pragtige en wonderlike stof, bowendien, eienskap, ongeskik, amp, verruk, onbekwaam, ’n groot som geld, weefgetoue, toestelle, kosbaarste, gouddraad …
Daardie soort woordeskat was beslis nie in die Sus en Daan-boekies waaruit ons begin lees het nie! Maar die juffrou het darem baie ander stories ook vertel en voorgelees.
Wanneer ’n mens dan net na ’n storie of ’n ander teks luister, word jy gedwing om self verbindings met die betekenis te maak; dit wat jy reeds ken, hoe jy daaroor dink en dit voorstel – soos ’n boom wat afgekap word, ’n spesifieke karakter, of hoe ’n keiser sonder klere gaan lyk! Jou eie verbeelding en die stem in jou kop wat saampraat, laat jou self die betekenis skep: die betekenis is nie net in die teks nie! En jy kan dit assosieer met jou eie ervarings of met wat jy al in ander tekste gehoor het. Jy kan dink aan dit wat jy nie verstaan nie, maar jy kan ook voorspel waar die storie heen op pad is. Dit is alles leesstrategieë wat die goeie leser toepas!
............
Wanneer ’n mens dan net na ’n storie of ’n ander teks luister, word jy gedwing om self verbindings met die betekenis te maak; dit wat jy reeds ken, hoe jy daaroor dink en dit voorstel – soos ’n boom wat afgekap word, ’n spesifieke karakter, of hoe ’n keiser sonder klere gaan lyk!
..............
Die voorleser kan dus eers deur middel van modellering van hierdie denkstrategieë die luisteraars aan die dink sit deur haar/sy eie denke te modelleer en later in die proses die luisteraars te laat deelneem aan hierdie gesprek. So word hulle blootgestel aan metakognisie (die dink aan en begin luister na die stem in jou kop terwyl jy lees/luister); die wêreld wat verskyn in die integrasie van denke en woorde (teks). Vir die kleiner kind sal die illustrasies natuurlik ’n belangrike rol speel.
So word ’n raamwerk geskep waarbinne leesbegripstrategieë ontwikkel word op ’n natuurlike manier. Soos een van die skrywers hieroor opmerk: “Teach lightly!”
Ek kan besluit om ’n boek voor te lees met die doel om die leerders te wys hoe ek en hulle self kan dink, terwyl ek lees. En hoe ek voorspellings en afleidings kan maak en kan dink oor die betekenis van woorde, en later terug dink of ek reg voorspel het, ensovoorts. Soos goeie lesers moet maak.

Bron: https://proteabooks.com/index.php/protea/9781869195229.html
Modellering van voorlees
Een van my gunstelingkinderboeke (en voorleesboeke) is Die land van die groot woordfabriek uit Frans vertaal deur Nicol Stassen (Protea, 2011). Ek gaan net die eerste deeltjie modelleer, want ek wil hê julle moet almal die boek koop en vir die kinders gaan voorlees!
Met die eerste modellering het ek alleen die boek. Hulle hoor en sien net wat ek dink. Later volg ’n fase waar ek hulle sal laat deelneem, vrae stel en opmerkings maak.
Kom ons kyk na die voorblad en die titel en kyk of ons iets van die storie daaruit kan agterkom. Op die voorblad is ’n baie klein seuntjie in die linkerkantse hoek. Hy is ’n bietjie vreemd aangetrek, asof hy in Europa bly. Hy het vir my ’n mooi gesiggie en hy lyk effens verwonderd oor iets. Hy staan met ’n baie groot vangnet in sy regterhand en kyk op na hierdie groot swart skaduwee wat bo-oor hom hang. Ek het al ’n klein bietjie met ’n vangnet probeer om vlinders te vang. Julle weet: skoenlappers. Ek wonder of hy dalk effens bang is ook? En ek wonder of die groot skaduwee dalk die groot woordfabriek is? Maar die voorblad gee nie verder vir my leidrade nie.
O, ekskuus, ek sien nou die seuntjie het so ’n baadjie met ’n mussie oor sy kop en verder ’n kniebroek en skoene sonder sokkies. Maar ek raak nou nuuskierig. Ek wonder wat het die seuntjie met die woordfabriek te doen. As hulle albei op die voorblad is, moet daar iets tussen hulle gebeur, sou ek voorspel. Soek hy dalk woorde? Maar ’n mens kan seker nie met ’n vangnet woorde vang nie? En ek ken nie regtig iets soos woordfabrieke in ons land nie. Ek weet wel van uitgewers en winkels wat boeke verkoop. In hierdie boek is dit seker iets anders?
(Ek het nou al gekyk na die buiteblad, gedink oor die titel en die karakter, die hele tyd vrae gevra, probeer aflei of ’n verband gesoek tussen die skaduwee en die karakter, probeer voorspel waaroor dit gaan, oor my eie ervaring en kennis gedink – konneksies gemaak.)
Kom ons blaai om.
Die skutblaaie aan die binnekant is bloedrooi met iets soos ’n ry fyn stukkies papier waarop letters is. Ek raai dus die letters moet iets met woorde te doen hê. Dit lyk ook soos ’n voetspoor wat êrens heen lei, miskien moet ons maar omblaai. Maar ek wonder nou ook oor die bloedrooi – beteken dit dalk iets vir julle?
Op die volgende bladsy is net die beskrywing van die uitgewers en dan op die titelbladsy weer die titel: “Die land van die groot woordfabriek.” Maar onder die titel is ’n onverwagse illustrasie. Dit lyk nie vir my of dit iets met woorde of ’n woordfabriek te doen het nie: ’n outydse, baie deftige stoel, met stof daar rondom. In die stof is ’n hart geteken en voor die stoel lê ’n klein bloedrooi kersie, die soort wat ’n mens eet.
Het een van julle al ’n kersie geëet? Ek het al. Dis baie lekker en soet! Die hart wat rondom die stoel geteken is, moet ook ’n teken wees, maar waarvan? Dalk lief vir kersies, of woorde, of iemand? Dan soek ons iemand wat op die stoel moet gaan sit! Dink ek…
(Hier is nou weer ’n klomp vrae, afleidings, skep van my eie betekenis, my eie gedagtes by die teks, ’n voorspelling…)
Oor die volgende twee bladsye van hierdie groot boek lê die illustrasie van ’n dorpie met huise met rooi dakke en op die voorgrond bo-oor alles ’n groot toringagtige gebou, wat bo-oor alles ’n stroom lug uitblaas wat lyk soos rook met klein lettertjies daarin. Dan is dit seker nou die groot woordfabriek?
Die woorde op die bladsy is net twee sinne:
Daar is ’n land waar die mense
amper nooit praat nie.
Dit is die land van die groot
woordfabriek.
Nou is ek ’n bietjie deurmekaar. Hier is ’n land met ’n baie groot woordfabriek wat selfs rook met letters uitblaas. Dis seker nou die afvalstof van die maak van die woorde? MAAR, ’n groot “maar”: dis ’n land waar die mense amper nooit praat nie! So vetgedruk. Beklemtoon.
Dit los my nou met ’n belangrike vraag: as hier so baie woorde gemaak word, in die groot woordfabriek, hoekom sal die mense dan amper nie praat nie? Dis baie vreemd. Maar ek wil voorspel die volgende bladsye gaan seker nou vir my as leser ’n antwoord gee? Tyd om dadelik om te blaai!
Ek sien heel eerste mense wat in iets soos ’n straat met winkels rondloop. Maar bo in die linkerhoek, om eerste te lees, staan eers net een sin:
In hierdie land moet jy woorde
koop en hulle insluk om
hulle te kan uitspreek.
Goed. Ek het nou ’n deel van die antwoord, dink ek: dis nie lekker om woorde in te sluk nie; of ek dink nie so nie. Maar veral is die probleem dat jy die woorde moet “koop”. En dan sien ek die winkeltjies verkoop woorde; woorde om mee te groet soos “goeienag” en “totsiens”; daar is ’n winkeltjie vir “troetelwoorde” – dit beteken mos as jy vir iemand iets moois wil sê? Dan is daar ook ’n plekkie vir “woordpap”. Is dit nou om te help om die woorde in te sluk, wonder ek. En dan is daar twee baie belangrike mense met keile op by ’n stalletjie wat “GROOT WOORDE” verkoop.
Die mense in die illustrasie wat daar rondloop, is deftig, lyk netjies geklee en is hoofsaaklik ouer mense. Daar is egter op die voorgrond ’n baie mooi, jonger dogtertjie wat met ’n glimlag rondkyk. Die klein seuntjie met sy vangnet op die voorblad pas nie in hierdie omgewing nie.
(Ek is besig om die hele tyd ook op my eie te dink oor wat ek lees en sien, my eie vrae te beantwoord, af te lei wat die illustrasies en woorde beteken, en verbande te probeer lê tussen die titel, inhoud en illustrasies.)
Op die volgende dubbelbladsy is dit net die groot woordfabriek met papierlinte waarop woorde is wat uit die masjiene te voorskyn kom, en figure soos robotte wat met skêre staan en die woorde afknip uit hierdie linte. As ’n mens nader kyk, sien jy afsonderlike woorde , maar dit lyk vir my soos Franse woorde. Die boek is mos ’n vertaling uit Frans! Nou weet ek ten minste hoe die woordfabriek werk!
Op die volgende bladsy is drie kinders besig om pap te eet met letters daarin! ’n Ma-figuur is besig om dit uit ’n pot te skep. Ook die klein dogtertjie van die vorige illustrasie sit en eet heerlik aan die woordpap. Hulle moet dus genoeg geld hê om woorde te koop? Of so dink ek. En dan staan daar onder aan die regterkant die volgende belangrike drie sinne:
Daar is woorde wat onbetaalbaar is.
’n Mens spreek hulle nie dikwels uit nie behalwe as jy baie ryk is. Praat is duur in die land van die groot woordfabriek.
Die vetgedrukte woorde sê nou weer hoekom die mense so min praat. Woorde en praat is duur!
Nou hoe kom ander mense en die seuntjie met sy vangnet dan by woorde uit en hoeveel woorde kan hulle hê en watter woorde het ’n mens regtig nodig? Dis alles vrae wat ek hoop nog in die res van die boek beantwoord gaan word…
(Ek stel nou vrae aan myself oor die res van die boek, maar ook oor die belangrikheid van woorde.)
Kry nou die boek en lees verder …
Voorlopige samevatting oor voorlees:
Let op hoe die modellering van die gedagtes en beskrywing van die teks die hele tyd eintlik die denke tydens die leesproses voorstel en die toepassing van leesbegripstrategieë gebruik. Hoe dit duidelik word dat die betekenis geskep word in my leesproses deur my eie denke oor die woorde en illustrasies in die teks. Dit is juis die kern van leesbegrip: die interaksie tussen die leser en die teks.
...........
Let op hoe die modellering van die gedagtes en beskrywing van die teks die hele tyd eintlik die denke tydens die leesproses voorstel en die toepassing van leesbegripstrategieë gebruik. Hoe dit duidelik word dat die betekenis geskep word in my leesproses deur my eie denke oor die woorde en illustrasies in die teks. Dit is juis die kern van leesbegrip: die interaksie tussen die leser en die teks.
...............
Maar die voorwaarde bly nog altyd woordherkenning, die lees van sinne, die kyk na die konteks waarin dit voorkom en die agtergrondkennis wat nodig is om dit te verstaan. Hierdie soort modellering moet aan die begin egter gereeld herhaal word voor dit deel word van die manier van dink en lees.
’n Volgende keer moet ons dalk kyk na die lees van ’n feitelike teks?
Enkele bronne vir raadpleging:
Anker, J. 2020. Vakgerigte geletterdheid en leesbegripstrategie-ontwikkeling. Litnet Akademies, 17(93):787–814.
De Lestrade, A. en V. Docampo. 2009. Die land van die groot woordfabriek. Vertaal deur Nicol Stassen. Pretoria: Protea Boekhuis.
Hahn, M.L. 2002. Reconsidering Read-Aloud. Stenhouse: Stenhouse Publishers.
Keene, E.O. en S. Zimmermann. Mosaic of Thought. Portsmouth, NH: Heinemann.
Lees ook:
Onderwyshulp en leesbegrip: Johan Anker beantwoord lesers en opvoeders se navrae
Onderwyshulp: Hoe wyd lê die betekenis van lees? Die toepassing van metakognisie en modellering
Kommentaar
Ah Johan, wat 'n voorreg om te sit aan die voete van Gamaliël!
Dankie dat jy dit alles vir ons vertel en dat ons mag leer van jou leesmodel.