Terwyl Suid-Afrikaners vinnig die 2024-nasionale en provinsiale verkiesing nader, staan die land by ’n kruispunt op sy demokratiese reis wat drie dekades na die ontstaan van sy demokratiese bedeling op sy pad kom. Hierdie deurslaggewende gebeurtenis in die land se geskiedenis is gekoppel aan ’n hele aantal veranderlikes of faktore wat afsonderlik en gesamentlik die land se politieke trajek bepalend gaan beïnvloed.
Die onlangse ontstaan van nuwe politieke partye, die insluiting van onafhanklike kandidate, ’n toenemend swakker regerende party, onsekerheid van beleggers oor verhoogde politieke risiko in die land, en ’n versugting na verandering en ekonomiese herlewing onderstreep alles die belangrikheid van die komende verkiesing op 29 Mei. Deur in die stof van Suid-Afrika se politieke landskap te delf, wil ek in dié stuk 10 veranderlikes belig as faktore van groot belang met die oog op die verkiesing en wat daarna gaan volg.
Diepte van demokrasie
Waar die ANC in 2004 byna 70% van die stemme gekry het, het sy steun in 2019 tot net meer as 57% gedaal en die verwagtinge is breedweg dat die ANC in die komende verkiesing steun van tussen 40% en 50% sal ontvang. Alles dui daarop dat ’n koalisie op nasionale vlak na alle waarskynlikheid gevorm sal moet word, maar ook in provinsies soos Gauteng en KwaZulu-Natal. Dit skep geleenthede maar ook risiko, aangesien koalisievorming in Suid-Afrika nie sonder groot uitdagings is nie. Wat dit betref, is die dae verby dat die ANC geen ernstige politieke bedreigings van sy opponente by die stembus kan verwag nie. Die krake in die ANC is ook glashelder en verskeie nuwe partye met stewige potensiële steunbasisse sal in die verkiesing meeding, waaronder Rise Mzansi en ActionSA. Hulle sal nie alleen met die ANC meeding nie maar ook met meer gevestigde opposisiepartye soos die DA, IVP en EFF – wat alles diepsnydende veranderinge in die politieke landskap van die land voorspel. Hoewel demokrasie na drie dekades vir baie Suid-Afrikaners nie aan die verwagtinge voldoen het nie, is dit as ’n politieke model steeds springlewendig, dinamies en grondwetlik goed begrond. Daarby het verskeie nie-regeringsrolspelers van groot belang geword in die Suid-Afrikaanse politieke landskap, wat die land onderskei van talle ander demokratiese Afrikastate.
Dinamika in die heersende regering en leierskapsopvolging
Uit die literatuur is dit duidelik dat waar langtermyn-eenparty-oorheersing voorkom, daar dikwels arrogansie, korrupsie en verwarring van party- en staatsbelange intree. Dit is beslis van toepassing op Suid-Afrika waar baie Suid-Afrikaners toenemend ’n soort veroudering van bewind begin ervaar het sowat 10 jaar vanaf die demokratiese bedeling in 1994 ingegaan is. Min Suid-Afrikaners sal nie saamstem dat die vermoë van die regering en die staatsdiens nou ernstig in gebreke is en dringende aandag verg nie. Voorts worstel die regerende ANC vir jare reeds met volgehou interne twiste en selfs president Cyril Ramaphosa het die verdeeldheid binne die regerende party by verskeie geleenthede in die afgelope jare veroordeel. Wat leierskapsopvolging betref, is daar geen duidelikheid oor wie Ramaphosa en selfs sy adjunk kan opvolg, of selfs oor hoe lank die president nog in sy presidensiële kantoor wil of sal aanbly nie. Die antwoord sal waarskynlik lê in die ANC se komende prestasie by die stembus.
Legitimiteit van die regering
Legitimiteit is gekoppel aan twee sleutelwoorde: vertroue en aanvaarding. Die regering ná 1994 het toenemend beduidende legitimiteitsprobleme op alle regeringsvlakke begin ondervind, maar veral op die munisipale vlak met betogings en selfs gewelddadige voorvalle wat ontevredenheid met dienslewering toon. Navorsing wat die afgelope jare deur verskeie navorsers gedoen is, dui op ’n beduidende afname in vertroue in Suid-Afrika se politieke instellings, waaronder die parlement, asook die nasionale, provinsiale en plaaslike regerings. Stemgedrag sedert 1994 toon ook aansienlike en toenemende apatie. Slegs sowat 66% van geregistreerde kiesers het in die 2019-verkiesing gestem, wat sleg vergelyk met ’n stempersentasie van net meer as 88% geregistreerde kiesers in 1999 en meer as 73% stempersentasie in 2014. Alles dui daarop dat veral jeugdiges nie in groot getalle aan die komende verkiesing gaan deelneem nie en slegs 27 miljoen van die 42 miljoen potensiële kiesers is geregistreer om aan die verkiesing te kan deelneem.
Sosio-ekonomiese toestande
Een van Suid-Afrika se grootste uitdagings is trae ekonomiese groei. Dit lei tot voortdurende en verdere verarming. Sedert 1994 het Suid-Afrika verskeie ernstige strukturele probleme in sy politieke ekonomie ervaar, soos ’n gebrek aan goed opgeleide en kundige menslike hulpbronne. Dit staan teen die agtergrond van ’n swak onderwysstelsel in talle dele van die land. Vir jare reeds het dit ’n ernstige impak op ekonomiese groei en sosio-ekonomiese toestande. Twee van die belangrikste merkers van sosio-ekonomiese toestande in die land is eerstens die welvaartsverskil tussen ryk en arm (opmerklike wanbalans in inkomsteverdeling) in Suid-Afrika en tweedens ’n hoë amptelike werkloosheidsyfer van meer as 30%. Jeugwerkloosheid is selfs veel hoër. Terwyl die potensiaal vir maatskaplike onstabiliteit dramaties afgeneem het rondom demokratisering in 1994, het daar sedert die middel 2000’s ’n toenemende hoë risiko van spontane oproerige gedrag teen die staat en die plundering van eiendomme deur ’n gefrustreerde en deels werklose bevolking begin ontvou. Die hoogtepunt daarvan was sekerlik die spontane gebeure van Julie 2021 en die swak heersende ekonomiese toestande was stellig ’n bydraende faktor.
Veiligheid en sekuriteit
Min Suid-Afrikaners beskou veiligheid en sekuriteit nie as een van die mees uitdagende politieke kwessies in die land nie. In die afgelope twee dekades is misdaadvlakke gereeld onder die hoogste in die wêreld gereken, wat gewissel het van gewone diefstal tot gesofistikeerde netwerke van kartelle en sindikate. Die erns van hierdie kwessie word weerspieël in die feit dat daar meer as 2,7 miljoen geregistreerde private sekuriteitsbeamptes in die land is. Dit maak die Suid-Afrikaanse veiligheidsbedryf een van die grootstes ter wêreld in ’n land waar daar minder as 150 000 polisiebeamptes vir die land se bevolking van meer as 60 miljoen is. Interessant genoeg het die aantal sekuriteitsondernemings in Suid-Afrika die afgelope dekade met 43% gegroei, terwyl die aantal geregistreerde sekuriteitsbeamptes met 44% toegeneem het.
Makro-polities-ekonomiese omstandighede
Makro-ekonomiese aanwysers, spesifiek met betrekking tot monetêre en fiskale beleid (wat onderskeidelik deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank en die Ministerie van Finansies bestuur word), is steeds gegrond op goeie beleidsrigtings. Suid-Afrika was egter onsuksesvol om die afgelope dekades ’n stewige invloei van direkte buitelandse belegging te lok. Een van die probleme is dat ten spyte van die pogings van president Cyril Ramaphosa om beleggings persoonlik te bevorder, sekere elemente in die politieke domein – en die regerende party – kennelik anti-besigheid is. Die Fraser-instituut se “Economic freedom of the world”-verslag het ook aangedui dat Suid-Afrika aansienlik laer op die lys van ekonomiese vryheid verskyn sover dit besigheid sonder regeringsvoorskrifte aangaan as dit vergelyk word met die Mandela/Mbeki-era.
Rasse-, etniese en taalverskeidenheid
Voor en sedert 1994 het Suid-Afrika rasse- en etniese verdeeldheid in die samelewing ervaar. Hierdie verdeeldheid is diep en uitsluitend en altyd ’n potensiële bron van sosiale spanning. Suid-Afrika bly ’n samelewing wat rasbewus is en ras- en etniese groepe is geneig om spesifieke politieke partye te ondersteun. Positief gesproke dui navorsers van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening egter ook aan dat sowat driekwart (75%) van Suid-Afrikaners – ’n meerderheid oor alle rassegroepe – saamstem dat ’n verenigde Suid-Afrika wenslik is. Met ander woorde, Suid-Afrika is baie ver van ’n situasie dat die land deur sy diversiteit bedreig word – ten spyte daarvan dat dit nie ’n saak is wat met sensitiwiteit en goeie oordeel deur die regerende party bestuur word nie.
Administratiewe bevoegdheid in die regering
Daar kan min twyfel bestaan dat swak prestasie van die regering en ’n regeringskrisis veral op plaaslike regeringsvlak vir die meeste Suid-Afrikaners ’n groot bron van kommer is en ’n rol speel in stemgedrag. Hierdie kwessie is grootliks gewortel in die gebrek aan toepaslike vaardighede en kapasiteit en onetiese optrede in toenemende voorvalle van korrupsie en wanadministrasie in beide staatsdepartemente en staatsbeheerde maatskappye, insluitend Eskom. Trouens, min sake het korrupsie, wanadministrasie en gebrekkige bestuurs- en administratiewe onbevoegdheid so duidelik onderstreep as die swak prestasie van Eskom en samehangende energietekorte. Soos reeds hierbo genoem, is Suid-Afrika in Julie 2021 getref deur ’n vlaag van verwoestende geweld wat meer as 350 mense dood gelaat het en saamgeval het met omvangryke ekonomiese skade. Verskillende waarnemers het verskillende terme gebruik om dié gebeure te beskryf, waaronder burgerlike onrus, plundering, opstand, rebellie, en so meer. In ’n verslag daarna is uiteindelik aangevoer dat dit onder andere toegeskryf kan word aan die omvang van swak staatsinstellings wat misluk het met implementering, en ondoeltreffende veiligheidsinstellings wat versuim het om die wet te handhaaf.
Die sekuriteit van privaateiendom en grondhervorming
Grondhervorming in Suid-Afrika bly ’n emosionele en polities-gelaaide onderwerp. Suksesvolle grondhervorming kan help om ’n meer samehangende samelewing te smee, as ’n behoorlik bestuurde herverdelingsprogram gevolg word. Sedert 1994 bly grondhervorming egter ’n uitdaging, alhoewel daar meer vordering gemaak is as wat sommige politieke partye aanvoer. Verskeie gemeenskappe en individue het inderdaad gebaat by die herstel van grondregte. Vir sommige partye is radikale grondhervorming ’n prioriteit en/of sleutelkwessie in hul manifeste, terwyl ander voedselsekerheid en sekerheid van privaatbesit benadruk in hulle benaderings. Grondhervorming is egter nie so hoog op die verkiesingsagenda as wat sommige politieke partye dit maak nie, hoewel ons gesien het hoe die saak kop uitgesteek het soos ons nader aan die verkiesing beweeg.
Die omliggende streekskwessies en buitelandse beleidslandskap
Sedert 1994 het Suid-Afrika geen onmiddellike vyande in die streek gehad nie. Die belangrikste streekskwessie is die onbekende maar groot getalle onwettige immigrante wat hulle in Suid-Afrika gevestig het. Daar is ’n persepsie onder sommige Suid-Afrikaners dat immigrante die hulpbronne van die land oorweldig en dat werk uit die hande van Suid-Afrikaners geneem word. In 2019 het die land wydverspreide voorvalle van plundering en gewelddadige xenofobiese betogings in verskeie dele van Gauteng ervaar, wat gelei het tot die vernietiging van openbare en private eiendom. Tans is xenofobie ’n onderliggende pruttende politieke kwessie en sommige politici het onlangs xenofobiese sentimente in hul politieke veldtogte aangevuur. Op die breë buitelandse terrein sukkel Suid-Afrika om ’n netjiese balans te handhaaf tussen sy sentimente met die Globale Suide aan die een kant en sy tradisionele handelsvennote in die Weste. Die konflikte tussen Oekraïne en Rusland en dié tussen Israel en Hamas het Suid-Afrika se buitelandse beleid opnuut in omstredenheid gedompel, maar die literatuur wys dat buitelandse aangeleenthede selde topprioriteit in demokratiese kiesersgedrag is.
Lees en kyk ook op LitNet en Voertaal:
Duisende Suid-Afrikaners in die buiteland stem op 17 en 18 Mei
Oorsig ‒ Jakes Gerwel-gesprek (Suidoosterfees 2024): Wie gaan Suid-Afrika ná 29 Mei regeer?
Hoe sal koalisieregerings ná die verkiesing provinsiaal en nasionaal kan werk of misluk?
Are we heading for a service delivery election? A water and sanitation perspective
’n Nuwe stryd om die hart en siel van die Kaap van Goeie Hoop
Die effek van marginaal- en hibriedwees op die bruin politieke landskap
Bruin wees in hierdie tyd: repliek op Jason Lloyd se artikel
Election 2024: The Economic Freedom Fighters’ election manifesto
Dié "politieke skelm" moet in 2024 deur die kiesers aan die kaak gestel word