
Foto: Canva
In my vorige artikel oor hierdie onderwerp het ek die toepaslike globale en plaaslike regsinstrumente vir selfbeskikking onder die loep geneem.
Dit blyk duidelik daaruit dat hierdie regsbeginsels nie veel praktiese waarde aan sesessie (die onttrekking van ’n gebied van ’n bestaande staat om ’n nuwe staat te vorm) as die mees drastiese vorm van selfbeskikking verleen nie. Inteendeel, dit sluit afstigting in baie gevalle uit en in Afrika word dit selfs uitdruklik verbied in die Afrika-Unie se akte van oprigting.
Tog het sekere state in Afrika en elders hulle volledige of gedeeltelike onafhanklikheid in die onlangse verlede verkry, maar dit is eerder die uitsondering as die norm, en kom soms op gekwalifiseerde staatskap neer. Op grond van suiwere regsbeginsels is dit ’n onbegonne taak, maar die politieke en militêre middele laat tog die deur op ’n piepklein skrefie oop. Hierdie proses bemoeilik egter ook die strewe na onafhanklikheid, omdat dit die kwantum van vereistes en opofferings vir onafhanklikheid aansienlik opstoot.
Weens die ernstige aard daarvan gaan sesessiepogings gewoonlik met heelwat politiek (intern en ekstern) en geweld gepaard. Dit was al die geval met geslaagde sowel as onsuksesvolle pogings. Bangladesj se afskeiding van Pakistan in 1971 is byvoorbeeld deur ’n burgeroorlog voorafgegaan en Indië se belang by die konflik (om Pakistan te verswak) was deurslaggewend. Joego-Slawië se versplintering is deur erge bloedvergieting voorafgegaan en gekenmerk. In die uiters seldsame geval van Tsjeggo-Slowakye se vreedsame “fluweelrevolusie” en gevolglike “fluweelskeiding” was daar ook siniese motiewe ter sprake. Die Tsjeggiese deel was aansienlik meer welvarend as die Slowaakse gebied en derhalwe wou Tsjeggië nie ekonomies pa staan vir hulle in ’n enkele staat nie. Hul konsensuele skeiding is voltrek nadat minder drastiese opsies, soos ’n konfederasie, ook op die agenda was. Vandag leef die twee lande in vrede met mekaar, en hul burgers kan basies vryelik oor die grens loop, omdat daar wedersydse vertroue heers. Dit is egter uiters skaars en uniek en opsluit nie die geval in Afrika nie.
Die Afrika-konteks
Aangesien Wes-Kaapse onafhanklikheid in Afrika nagestreef word, is dit insiggewend dat die eiesoortige politieke geskiedenis en konteks van selfbeskikking deur sesessie in postkoloniale Afrika bekyk moet word. Anders as byvoorbeeld Europa, waarvan die grense al heelwat gewysig is, is hedendaagse Afrika uiters behoudend wat hierdie verskynsel betref. Dit is hoekom slegs twee state nog sedert die proses van dekolonisering (om nie deur ’n buitelandse metropolitaanse moondheid beheer te word nie) begin het, suksesvol van bestaande state kon wegbreek, te wete Suid-Soedan en Eritrea.
Namibië en Rhodesië was nie werklike gevalle van sesessie nie. Namibië was slegs ingevolge ’n VN-mandaat deur Suid-Afrika geadministreer voor 1990 en nooit amptelik deel van die Unie, en later die Republiek, van Suid-Afrika nie. Rhodesië se eensydige onafhanklikheidsverklaring was desgelyks ’n stap om van Britse heerskappy te ontsnap. Nieteenstaande dat dit steeds onder blanke minderheidsbewind was ná hierdie verklaring in 1965, het dit nie van ’n bestaande (en naburige) staat weggebreek nie en kan dit dus as ’n soort dekolonisering beskou word.
.........
Aangesien Wes-Kaapse onafhanklikheid in Afrika nagestreef word, is dit insiggewend dat die eiesoortige politieke geskiedenis en konteks van selfbeskikking deur sesessie in postkoloniale Afrika bekyk moet word. Anders as byvoorbeeld Europa, waarvan die grense al heelwat gewysig is, is hedendaagse Afrika uiters behoudend wat hierdie verskynsel betref.
.........
In Afrika is die regsdoktrine van uti possidetis sedert dekolonisering van krag. Dit beteken dat Afrika polities, en later selfs geregtelik, in die AU ooreengekom het dat die koloniale grense behoue moet bly en sesessie nie verder toegelaat moet word nie. Dit het uiteraard volkere gebreek om state te skep, maar die redenasie was dat Afrika homself nie kan laat verswak deur in mikrostate te versplinter nie. Dit het ook beteken dat ’n staat wat vroeër ’n kolonie was, wel aanspraak op onafhanklikheid kan maak. Dit is egter nie die enigste of selfs dominante faktor in die uiteindelike sukses van ’n sesessiepoging in Afrika nie.
Eritrea was wel onder Italiaanse en later Britse koloniale beheer voor dit in 1952 deur ’n resolusie van die Verenigde Nasies (VN) met Ethiopië (wat kolonisering grootliks vrygespring het) gefedereer is. Ethiopië het dit in 1962 geannekseer en reeds in die voorafgaande dekade die eiesoortigheid van Eritrea weggekalwe. Hul vlag is afgeskaf, politieke partye en vakbonde is verbied, Amharies is ten koste van Tigrinya as amptelike taal aanvaar, Tigrinya-skoolboeke is verbrand, en hul wetgewing is onder Ethiopiese beheer geplaas. Bevrydingsgroepe soos die Eritrese Bevrydingsfront (ELF) en later Eritrese Volksbevrydingsfront (EPLF) het ’n bloedige oorlog geveg, eers teen Haile Selassie en later teen die derg (komitee van militêre offisiere) wat hom omvergewerp het. Hulle het die twee supermoondhede tydens die Koue Oorlog teen mekaar afgespeel. Uiteindelik het antiregime magte in Ethiopië die EPLF gehelp om die derg uiteindelik in die vroeë ’90’s te verslaan – iets wat hulle vir dekades nie op hul eie kon vermag nie. Die nuwe heersers in Addis Abeba was, à la Tsjeggo-Slowakye, gretig om van ’n verwoeste Eritrea ontslae te raak en het dus sinies ingestem tot Eritrese onafhanklikheid, ofskoon dit hulle sonder ’n kuslyn en hawe gelaat het. Eritrea is vandag ’n outokratiese polisiestaat met streng diensplig wat deur dieselfde paranoïese en bejaarde president as tydens onafhanklikheidswording regeer word. Tussen 1998 en 2000 het honderde duisende soldate en burgers van albei lande gesterf in ’n bloedige oorlog oor die grens tussen hulle.
Die wêreld se jongste staat, Suid-Soedan, het ook dekades se burgeroorlog en bloedvergieting verduur voordat dit uiteindelik in 2011 onafhanklik geword het. Die Suid-Soedannese versetgroepe (wat verskillende etniese groepe verteenwoordig) het ook voor en na onafhanklikheid ewe hard teen mekaar as teen die regering in Khartoem geveg. Hul onafhanklikheid is inderdaad deur middel van ’n referendum verkry, maar dit het gebeur na afloop van ’n lang en moeisame politieke proses waarby die VSA se rol onmiskenbaar was, asook baie lewensverlies en ernstige menseregtevergrype. Suid-Soedan se ekonomie is vandag steeds grootliks afhanklik van olie en word as ’n arm en mislukte staat beskou wat deur erge etniese klowings en konflik geteister word.
Daar is vandag talle aktiewe en latente separatistiese bewegings in Afrika. Baie het al misluk, vernaam Biafra (in Nigerië) en Katanga (in die eertydse Republiek van die Kongo) in die 1960’s. Somaliland is ’n interessante geval, omdat dit eensydig weggebreek het van ’n mislukte staat in 1993. Dit is waarskynlik vandag meer stabiel, vry en suksesvol as Suid-Soedan, Somalië en Eritrea, maar geniet nie volwaardige staatskap nie, hoewel hulle al die eienskappe van ’n staat geskep het.
Die vraag is dus wanneer ’n gebied as ’n staat geag kan word. Die vernaamste probleem met Somaliland is dat dit geen internasionale erkenning geniet nie en derhalwe oor geen internasionale regspersoonlikheid of werklike soewereiniteit beskik nie. Nes Kosovo is dit nie ’n lid van die VN nie, hoewel Kosovo darem heelwat amptelike erkenning van ’n menigte ander state geniet. Dit herinner aan die toentertydse TBVC-state wat slegs deur Suid-Afrika erken is en geen ander regte van staatskap kon geniet nie. Die werklikheid is dat Somaliland bloot nie van enige belang is vir die internasionale gemeenskap nie en dat daar eerder pogings aangewend word om Somalië weer te laat werk as om Somaliland as ’n staat te erken. Intussen duur hul de facto-onafhanklikheid en newelagtige status wel voort.
Die Suid-Afrikaanse konteks
Enige politieke party wat uiteindelik daarin gaan slaag om die Wes-Kaap van Suid-Afrika te laat afstig, of bloot die kwessie op die spits dryf, sal politieke selfmoord in die res van die land pleeg. Die res van die Suid-Afrikaanse bevolking, veral swart mense, sal hulle nooit vergewe indien dit gebeur nie. Hulle sal vir ewig daarvoor verkwalik word. Al die politieke kapitaal wat die DA in die res van die land opgebou het, sal verlore wees. Kleiner partye en twyfelagtige organisasies kan daarom aandring op Wes-Kaapse onafhanklikheid om te probeer meeding ten opsigte van iets anders as dienslewering en goeie regering (wat reeds die beste in Suid-Afrika is en nie sonder meer verbeter gaan word nie), maar dit skep valse verwagtinge by mense wat hierdie idee ondersteun. Dit word bloot tydens verkiesings gebruik sonder enige ander ernstige pogings om dit te verwesenlik. Die DA as regerende party in die Wes-Kaap kan dit egter nie bekostig om die provinsie se onafhanklikheid met groot ywer na te jaag nie.
........
Enige politieke party wat uiteindelik daarin gaan slaag om die Wes-Kaap van Suid-Afrika te laat afstig, of bloot die kwessie op die spits dryf, sal politieke selfmoord in die res van die land pleeg.
........
Hulle sal ’n aansienlike aantal stemme in algemene verkiesings in Suid-Afrika kwyt wees indien die Wes-Kaap s’n verdwyn. Sodanige politieke waagstuk kan hulle selfs beheer van die Wes-Kaap kos – hetsy die doel van onafhanklikheid bereik is al dan nie. ’n Amptelike referendum is dus ’n hersenskim. Indien dit ooit gehou word, is dit tans onwaarskynlik dat Wes-Kapenaars hulle veel daaraan sal steur of dat ’n meerderheid van diegene wat wel die moeite doen om te stem, hul kruisies vir onafhanklikheid sal trek. Dis hoekom die DA se verkiesingsplakkate in die Wes-Kaap lui: “Red Suid-Afrika” en “Hou die Wes-Kaap DA”, terwyl hul manifes niks oor onafhanklikheid vir die Wes-Kaap bevat nie.
Soos in die vorige afdeling aangetoon is, het die suksesvolle (en selfs onsuksesvolle) gevalle van sesessie in Afrika sekere gemeenskaplike eienskappe getoon. Daar was ook unieke en gunstige omstandighede en eksterne rolspelers betrokke. Hul uiteindelike onafhanklikwording is voorafgegaan deur onbetwisbare menseregteskendings en onderdrukking en lang oorloë. Sulke vergrype kom nie in die Wes-Kaap voor nie – inteendeel. Die moederstaat (in hierdie geval sou dit Suid-Afrika wees) het ook in Eritrea en Suid-Soedan se gevalle uiteindelik toestemming gegee dat hulle mag afstig. Daar is geen dwingende rede hoekom ’n nasionale regering onder die beheer van een van die grootste politieke partye met of sonder koalisievennote dit sal toelaat nie. Die Wes-Kaap is immers ’n kleinood vir Suid-Afrika.
Ondanks die klaaglike toestand van Suid-Afrika se weermag en polisie, sal hulle bereid en voldoende wees om die gebiedsintegriteit van Suid-Afrika teen ’n sesessiepoging te verdedig. Baie van hulle werk immers in die Wes-Kaap en kry hul bevele en salarisse van die nasionale regering. Dit is duidelik watter kant hulle sal kies in só ’n scenario. Wie sal dan ook hierdie sesessiepoging dryf en verdedig? Hierdie bereidwilligheid bestaan eenvoudig nie onder die burgery in die Wes-Kaap nie. Die voorbokke sal in hegtenis geneem en van hoogverraad aangekla word, of bloot uitgelag word. Te min mense sal hul lewe of vryheid daarvoor opoffer.
........
Wie sal dan ook hierdie sesessiepoging dryf en verdedig? Hierdie bereidwilligheid bestaan eenvoudig nie onder die burgery in die Wes-Kaap nie. Die voorbokke sal in hegtenis geneem en van hoogverraad aangekla word, of bloot uitgelag word. Te min mense sal hul lewe of vryheid daarvoor opoffer.
........
Praktiese probleme met handel en ander aangeleenthede is nog ’n kopseer in die hoogs onwaarskynlike geval van Wes-Kaapse onafhanklikheid. Die ANC en ander partye kan nydig raak en weier om burgers van die nuwe republiek in Suid-Afrika toe te laat. Families en vriende in verskillende dele van Suid-Afrika sal nie vir mekaar kan kuier nie. Moet dus nie burgerlike verset in die Wes-Kaap teen onafhanklikheid geringskat nie. Dit kan uiters destabiliserend wees in ’n gebied wat juis meer stabiel is as die res van die land.
Die Suid-Afrikaanse regering kan tewens handel na en van die Wes-Kaap kortwiek of belet. Dit sal Wes-Kapenaars en hul besighede geweldig knou, asook Suid-Afrikaanse besighede ontwrig. Die impak op toerisme en die universiteitswese sal geweldig negatief wees. Sportsterre in die Wes-Kaap sal nie maklik vir die Springbokke, Proteas of ander spanne kan speel nie. Mense kan hul pensioene kwyt wees (een van die groot redes hoekom die Skotte afstigting met Groot-Brittanje in 2014 afgekeur het). Alles sal met groot moeite en ontwrigting nuut geskep moet word. Die grense van die nuwe republiek sal moeilik polisieer kan word en almal sal nie binne of buite gehou kan word nie. Enigiemand kan ’n vlag ontwerp, maar staatsbou is ’n perd van ’n ander kleur.
Alternatiewe
Dit is glad nie dat ek gekant is teen selfbeskikking as konsep nie, maar daar moet bestek opgeneem word van hierdie woning se baie kamers en ook wat prakties moontlik is. Die huidige poging deur die Wes-Kaapse provinsiale regering om magte oor byvoorbeeld polisiedienste en vervoer na die provinsie af te wentel is die mees haalbare onmiddellike idee op makrovlak. Dit word deur ’n wetlike proses en openbare deelname voorafgegaan. Indien daar beter idees is, wag ons nog dat dit moet gebeur. Hierdie magte kan mettertyd uitgebrei word met die hulp en steun van provinsies soos KwaZulu-Natal.
’n Land so groot en divers soos Suid-Afrika verdien ’n sterk federale karakter. Munisipaliteite in die Wes-Kaap het reeds ’n groot mate van seggingskrag en kwyt hulle goed van die take wat aan hulle opgelê is. Hulle is ook besig om nuwe funksies self aan te neem, soos om selfstandig te word ten opsigte van kragopwekking. Die provinsie vaar ewe goed. Dit is die mense wat in 2019 en 2021 verkies is om besluite te neem. Indien daar ontevredenheid met hulle is, kan ons ons stem op 29 Mei uitbring as die mees basiese en maklikste vorm van selfbeskikking.
........
Instellings soos kerke, klubs, skole, besighede, gemeenskappe, gesinne en selfs bloot individue is belangrike boustene van selfbeskikking en plaaslike outonomie.
........
Enige vorm van selfbeskikking in die Wes-Kaap sal met opheffing gepaard moet gaan (of selfs deur opheffing voorafgegaan moet word). In weerwil van die provinsie se suksesse, huisves dit steeds ’n enorme aantal arm mense. Veral op die platteland. Enige vorm van selfbeskikking is tog bloot ’n middel tot beter besluitneming en lewens. Dit is daarom noodsaaklik dat dorpe, munisipaliteite en trouens die hele provinsie alles in hul vermoë moet doen om toenemend sake- en kultuurvriendelik te raak. Spesiale aansporingsmiddele soos belastingvrystellings en die versagting van regstellende aksie kan op elke vlak van regering geskep word. Hoër investering en die privaat sektor se betrokkenheid kan vervolgens help om sosiale euwels soos misdaad, werkloosheid en armoede hok te slaan.
Sterk gemeenskappe is ook ’n voorvereiste vir enige vorm van selfbeskikking, omdat dit noodwendig op meer gereelde gemeenskapsbesluite en -instandhouding berus. Selfbeskikking is op stuk van sake nie ’n statiese en eenmalige gebeurtenis nie, maar dinamies en soms selfs konflikterend. Instellings soos kerke, klubs, skole, besighede, gemeenskappe, gesinne en selfs bloot individue is belangrike boustene van selfbeskikking en plaaslike outonomie. Met heelwat munisipaliteite en ’n provinsiale regering wat hierdie idees steun en begryp, staan niks in plaaslike rolspelers se pad om allerlei besluite oor bepaalde sake te neem en dit self na te jaag nie.
Uiteindelik sal die geslaagdheid van outonomie afhang van plaaslike gemeenskappe se druk en ywer vir die saak. Dit kan en moet van bo na onder, asook van onder na bo, gebou word.
Lees ook:
Wes-Kaapse onafhanklikheid: ’n bondige blik op die regsinstrumente
Kommentaar
Dankie vir hierdie briljante analise waarom Wes-Kaap sesessie van die Republiek van Suid-Afrika prakties onmoontlik is hoewel die idee assulks so aantreklik is soos opium.Wanneer daar vandag gekyk word na super-suksesvolle mikrostate soos Singapore, skud mens maar die kop en wonder oor Suid-Afrika se ongelukkige lot.