
Verskeie rolspelers is tans besig om aan die kwessie van Wes-Kaapse onafhanklikheid prominensie te gee. Dit is te verstane gegee die verval en wanregering in die res van die land, wat grootliks onder ANC-beheer is op alle vlakke van regering.
Die VF+ het dit as een van hul doelwitte in hul 2024-verkiesingsmanifes gestel en span kragte saam met die Referendum Party om ’n referendum oor die kwessie uit te roep. Capexit maak tewens staat op verskeie plaaslike en internasionale regsartikels om onafhanklikheid vir die provinsie te verkry.
Dat daar steun vir Wes-Kaapse onafhanklikheid binne die provinsie en ook daarbuite bestaan, is gewis. Daar is egter ’n reuse verskil tussen retoriek en die praktiese uitvoering van ’n drastiese maatreël. In hierdie artikel sal ek eerstens enkele prominente regsinstrumente wat pal vir die regverdiging vir Wes-Kaapse onafhanklikheid ingespan word, ondersoek. Van veel meer belang is die politieke konteks, en dít sal ter wille van ruimte in ’n opvolgartikel in oënskou geneem word. Nugtere ontleding, eerder as retoriek en bedekte politieke en ideologiese beweegredes, moet daarom aan die dag gelê word. Daar kan baie hieroor gesê word, maar hier volg enkele opmerkings wat hopelik meer lig daarop sal laat skyn.
........
Die Grondwet van Suid-Afrika se aanhef lui: “Die Republiek van Suid-Afrika is een, soewereine, demokratiese staat.”
........
Die Grondwet
Die Grondwet van Suid-Afrika se aanhef lui: “Die Republiek van Suid-Afrika is een, soewereine, demokratiese staat.” Van meet af word die Suid-Afrikaanse staat, hoe gewens of ongewens ook al, se huidige grense (wat sedert 1910 geld) se soewereiniteit bevestig. Dit beteken die bevolking in sy geheel het wel die reg op soewereiniteit en vorm die hoeksteen vir die huidige grootliks gesentraliseerde bestel.
Daar word egter veelal op artikel 235 staatgemaak om selfbeskikking (en dikwels verkeerdelik as die reg op volledige onafhanklikheid) te regverdig. Dit is tydens die grondwetlike onderhandelinge as ’n paaimiddel vir sekere rolspelers ingesluit, maar is met soveel voorbehoude, vaagheid, vereistes en slaggate besaai dat dit in wese nie veel beteken nie. Dit is hoekom dit in bykans 30 jaar nog geen beslag gevind het nie. Ewenwel, dit lui as volg:
Die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking, soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet nie, binne die raamwerk van dié reg, die erkenning nie van die konsep van die reg van enige gemeenskap wat ’n gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ’n territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal.
Die bewoording van hierdie artikel is ongetwyfeld so wydlopend verwoord om dit van enige werklike praktiese krag te stroop. Dit is ’n negatiewe reg wat bloot nie die idee van selfbeskikking vir ’n (weliswaar goed omskrewe) groep belet nie. Dit is dus nie ’n positiewe reg wat die nasionale regering dwing om dit te laat realiseer nie.
Dit moet tweedens ook binne die raamwerk van die Grondwet (wat uiteraard ander sentralistiese impulse insluit) geskied, en nasionale wetgewing moet gestalte daaraan gee. Dit beteken die parlement sal wetgewing moet aanneem om uitvoering aan ’n duidelike behoefte vir selfbeskikking van ’n sekere groep (let wel: nie enige streek of provinsie nie) te gee. Ondanks sekere individue en kleiner rolspelers wat nie verteenwoordigend van hul ganse taal- en kultuurgroepe is nie, se aandrang op selfbeskikking, is daar egter nie ander breed gebaseerde en ernstige pogings geloods om hierdie reg in enige vorm te laat realiseer nie. Die ANC se meerderheid het tot dusver die aanneem van sulke nasionale wetgewing verhoed. Hul meerderheid kan straks in vanjaar se verkiesing in die gedrang kom, maar die parlement se toekomstige samestelling sal stellig nogtans die aanneem van sulke wetgewing in die kiem smoor.
Derdens word daar slegs met die konsep van ’n reg gewerk en nie ’n reg op sigself nie. Die sodanige nasionale wetgewing – indien dit ooit uitgevaardig sou word – se inhoud kan die reg op selfbeskikking dermate afwater dat dit nie enige beduidende waarde bied nie en bloot die status quo handhaaf.
Internasionale instrumente
Gedagtig hieraan moet die konsep van selfbeskikking ook gedefinieer word sodat almal verstaan wat daarmee bedoel word en wat op die spel is. Die term selfbeskikking word gereeld as ’n uitruilbare term vir sesessie (die onttrekking van ’n grondgebied van ’n bestaande staat om ’n nuwe een te vorm) beskou, terwyl daar vele ander vorme daarvan (soos federalisme, outonomie en magsdeling) bestaan. Dit is helaas ook die geval met diegene wat Wes-Kaapse onafhanklikheid voorstaan. Selfbeskikking is ’n uiters newelagtige en veelbeduidende konsep wat selfs in sekere internasionale verbonde op allesbehalwe sesessie neerkom. In die Internasionale Verbond vir Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte, asook die Internasionale Verbond vir Burgerlike en Politieke Regte (albei VN-verdrae), word daar verklaar: “All peoples have the right to self-determination. By virtue of that right they freely determine their political status and freely pursue their economic, social and cultural development.” Hierdie klousule kan enigiets van universele stemreg tot plaaslike outonomie tot sesessie beteken, maar dis moeilik om te bepaal wat werklik hiermee bedoel word en wat presies in die praktyk toelaatbaar is.
Die VN-handves maak reeds vroeg in artikel 1(2) melding van die “principle of equal rights and self-determination of peoples”. In artikel 55 word hierdie beginsel weer vermeld. Eerstens word daar slegs steun vir ’n ongedefinieerde dog altruïstiese begrip uitgespreek. In artikel 55 word daar ’n paar stappe uiteengesit oor hoe die VN dit ten uitvoer sal bring, en dit kom op allesbehalwe sesessie oftewel volle onafhanklikheid neer. Dit omsluit in wese die respek vir universele menseregte, die verbetering van lewenstandaarde, werkskepping en die oplos van sosiale kwessies. Die VN kon in sy bestaan weinig aan enige van hierdie kwessies doen (omdat dit van individuele state afhanklik is) en daarom is dit ondenkbaar dat dit goedsmoeds ’n reg sal laat geskied waarvoor die organisasie self nie eers klinkklare voorsiening maak nie.
Daar word tewens ook op ander handveste en verdrae staatgemaak om Wes-Kaapse en ander volledige onafhanklikheid te regverdig. Die Africa Charter on Human and People’s Rights (of sogenaamde Banjoel-handves) is weliswaar deur 35 Afrika-state bekragtig en bepaal in artikel 20 dat alle “peoples” (volkere) oor bestaansreg beskik en inmiddels ook oor die onvervreembare en onbetwisbare reg op selfbeskikking. Hierdie verdrag is egter uitsluitlik op dekolonisering en die beskerming teen buitelandse beheer gerig. Dit is desgelyks op algehele menseregte en waardigheid gefokus en gun geen ongekwalifiseerde reg op sesessie nie. Dit is ook geensins duidelik uit hierdie handves wat presies met “self-determination” en sogenaamde “peoples” bedoel word nie. Hierdie handves is bowendien deur die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) aanvaar, terwyl die Afrika-Unie (AU) dit later opgevolg het en veel meer duidelikheid in sy akte van oprigting oor sesessie-as-selfbeskikking verskaf. In artikel 3(b) word bepaal dat een van die doelwitte van die AU behels om die soewereiniteit, gebiedsintegriteit en onafhanklikheid van sy lidstate te verdedig. Daarbenewens word respek vir grense wat bestaan het ten tye van onafhanklikheid (dus, dekolonisering) in artikel 4(b) as een van die beginsels van die AU genoem. Dit strook met die regsdoktrine van uti possidetis, wat kortweg beteken dat kolonies met hul geërfde grense as onafhanklike state sal bly voortbestaan.
........
Baie Afrika-lande is weens hul heterogene aard (die produk van koloniale grense) ook vatbaar vir gewelddadige sesessiepogings en sal daarom nie sesessie in ander lande goedkeur nie.
........
Sesessie word dus uitdruklik deur die AU verbied en indien daar in ag geneem word dat die AU à la die VN nie eers uitvoering aan hul mees basiese en pertinente beginsels betreffende menseregte kan gee nie, is dit hoogs onwaarskynlik dat Afrika-state iets sal toelaat wat nie eens hul erkenning geniet nie. Baie Afrika-lande is weens hul heterogene aard (die produk van koloniale grense) ook vatbaar vir gewelddadige sesessiepogings en sal daarom nie sesessie in ander lande goedkeur nie.
Geen staat het onafhanklik geword deur op sulke regte staat te maak nie. Regsprosesse het nie uiteindelik Suid-Soedan, Namibië en Eritrea se onafhanklikheid beslis nie. Dit was by uitstek ’n langdurige politieke proses wat met uiterse geweld en lewensverlies gepaard gegaan het en waarby magsverhoudinge en internasionale steun uiteindelik ’n noodsaaklike rol gespeel het. Ditto mislukte pogings soos dié van Biafra (Nigerië), Katanga (die eertydse Republiek van die Kongo) en Somaliland (Somalië).
Ek sal in ’n volgende artikel hierdie deurslaggewende konteks bekyk, asook voorstelle vir minder drastiese vorme van selfbeskikking aan die hand doen.
Lees ook:
Vryheidsdag 2023: Die nuwe energie vir federalisme en selfregering
Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met Heindrich Wyngaard en Phil Craig

