Vryheidsdag 2023: Is federalisme regtig die antwoord?

  • 5

https://pixabay.com/illustrations/difference-differentiate-anders-7370144/

Hoe is dit nou, kwartpad deur die jaar van onse Heer 2023, in die klipharde werklikhede van die praktiese politiek gesteld met die federalisme in Suid-Afrika? Van waar, Gehasi, hierdie omstrede f-woord in eie kring? Waar staan ons tans, en waar gaan federalisme in Suid-Afrika heen?

Nadat soesereine (dus nie soewereine nie, maar aan die Britse Kroon ondergeskikte) selfregering in die jare na die Anglo-Boereoorlog van die destydse Kaapkolonie en Natal in 1906 na die destydse Transvaal en in 1907 na die Oranjerivierkolonie (nou die Vrystaat) uitgebrei is, het ’n de facto- losse federasie in die hedendaagse Suid-Afrika ontstaan.

Die vele ekonomiese en praktiese stommiteite hieraan verbonde het indertyd die aandrang op die hegter binding van ’n unie laat ontstaan. As mens deur die verrigtinge van die gevolglike Nasionale Konvensie (1908–1909) lees, het dit op ekonomiese vlak baie sin gemaak om ’n unie daar te stel, maar op politieke vlak was daar veral om twee redes groot meningsverskil.

..........
Eerstens: Waar daar in die Kaapkolonie, Vrystaat en Transvaal groot opwinding oor die komende unie was, was daar in Natal (die enigste te stigte provinsie met ’n meerderheid Engelssprekendes onder die wit bevolking) die vrees dat hulle deur die Afrikaner-meerderheid in die res van die nuwe Unie ondergeploeg sou word.
...........

Eerstens: Waar daar in die Kaapkolonie, Vrystaat en Transvaal groot opwinding oor die komende unie was, was daar in Natal (die enigste te stigte provinsie met ’n meerderheid Engelssprekendes onder die wit bevolking) die vrees dat hulle deur die Afrikaner-meerderheid in die res van die nuwe Unie ondergeploeg sou word. Hulle wou ’n sterker federasie hê, en so sterk was die luidrugtige teenstand dat die destydse premier, sir Frederic Moor, belowe het “’n besluit vir Suid-Afrika is nie ’n besluit vir Natal nie.”

Die gevolg was ’n referendum op 10 Junie 1910 waarin Natalse kiesers die grondwet van die Unie van Suid-Afrika met ’n meerderheid van 75% (van ’n stempersentasie van slegs 58%) goedgekeur het. Dit is hoekom die eerste parlementêre verkiesing vir die Unie van Suid-Afrika eers op 15 September 1910 – meer as vier maande na Uniewording – plaasgevind het.

In die 50 jaar daarna sou georganiseerde federalisme onder wit Suid-Afrikaners tot Natal beperk bly. Anders as wat soms beweer word, het Suid-Afrikaanse provinsies van 1910 tot 1986 nogal sterk afgewentelde magte gehad, veral wat skoolonderrig, paaie, gesondheidsdienste en toerisme betref. In Natal kon die Nasionale Party in die 76 jaar dat die provinsiale rade bestaan het, nooit ’n meerderheid behaal nie. Chronologies was dit die Suid-Afrikaanse Party (1910–1934), Verenigde Party (1934–1977) en Nuwe Republiek-party (1977–1986) wat die mate van federale magte wat bestaan het, in Natal uitgeoefen het.

Daar was drie opvlammings in hierdie wit Natalse federalisme. Die eerste het in 1933 plaasgevind. Die Vrystaat het toe reeds vir ’n paar jaar hul begroting nie te waffers bestuur nie, en daar was sprake dat die kwasifederale magte van die provinsies ingekort sou word. Uit Natal het ’n sterk stem opgeklink om dit nie toe te laat nie. Die twee nuwe politieke partye wat hierdie veldtog gelei het, was die Natal Home Rule Party en die, ja, Federale Party, wat albei soveel steun van genl Jan Smuts se Suid-Afrikaanse Party afgerokkel het dat Smuts met die stigting van die Verenigde Party vir genl Barry Hertzog omgehaal het om tog maar die magte van die provinsies daar te laat – een van min oorwinnings vir die federalisme in die Suid-Afrikaanse politiek deur die jare.

Die tweede opvlamming van wit Natalse federalisme het geskied toe die Nasionale Party in die 1950’s probeer het om die uniale grondwet te wysig om bruin kiesers hul stemreg te ontneem. Nogmaals is gesê “’n besluit vir Suid-Afrika is nie ’n besluit vir Natal nie” en die optogte van die Torch Commando is in hul derduisende deur wit Natallers ondersteun, soos duidelik aangetoon in die koerantfoto’s wat opgeneem is in Natalians First, Paul Thompson se omvattende standaardwerk oor Natalse en Suid-Afrikaanse federalisme en separatisme tussen 1910 en 1961. Hierdie tweede opvlamming het klaaglik misluk, soos ook die derde opvlamming, die een teen republiekwording in 1960/61, toe driekwart van Natal se kiesers teen ’n republiek gestem het en die Natalse politieke voorbok, oubaas Douglas Mitchell, nogmaals gegrom het: “’n Besluit vir Suid-Afrika is nie ’n besluit vir Natal nie.”

Teen daardie tyd was federalisme, asook praatjies oor en plannetjies vir federalisme en afskeiding, reeds as periodieke opvlammings gevestig in die Suid-Afrikaanse politiek. Dit is uiters ernstig opgeneem deur voorstanders van federalisme, wat met groot moeite knap bewoorde en intellektueel deurpriemde argumente vol internasionale voorbeelde aangebied het. Maar waar hierdie federale denkskole tot in 1960 weens die imperiale kleurtjie daaraan deur die meerderheid wit mense verwerp is, het dieselfde lot die federale/konfederale konsep teen die einde van die eeu getref toe dit – ten regte of ten onregte, maar weliswaar onteenseglik – ’n regse kleurtjie gekry het weens die bedrywighede van byvoorbeeld die Oranjewerkers, die Konserwatiewe Party en die Orania-vestiging, om drie te noem.

Teen 1994 het die federale/konfederale konsep dus by die oorgrote meerderheid wit mense ’n taamlik negatiewe beeld gehad. Dit het in sowel sy imperiale as sy regse gewaad vir vele mense die beeld gekry van ’n denkskool vir werklikheidsvreemde futselaars wat nie by die stembus kon wen nie, en dan met ander bewimpelings mag wou verkry.

...........
Kom ons kyk nou wat sê die historiese feite en bronne oor hoe swart Suid-Afrikaners hierdie konsepte ervaar het.   
............

Kom ons kyk nou wat sê die historiese feite en bronne oor hoe swart Suid-Afrikaners hierdie konsepte ervaar het.     

Tweedens, dus, oor die aanloop tot Uniewording in 1910, en meer belangrik: Indertyd het ’n nierassige gekwalifiseerde stemreg in die Kaapkolonie (en nominaal ook in Natal) bestaan – as jy manlik en ouer as 21 jaar was, ’n vasgestelde hoeveelheid eiendom besit het en aan ’n geletterdheidstoets voldoen het, kon jy stem ongeag jou ras. Hierteen was die afgevaardigdes van die voormalige Boererepublieke by die Nasionale Konvensie skerp gekant, want daar het die “grondwetlike beginsel” van “geen (ras)gelykheid in kerk en staat nie” gegeld – swart mense is basiese burgerregte ontsê.

Lord Milner het dit trouens tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899–1902 herhaaldelik aan swart leiers duidelik gemaak dat die nierassige gekwalifiseerde stemreg van die Kaapkolonie na die ander drie destydse kolonies (na 1910 die drie ander provinsies) uitgebrei sou word as Brittanje wen, maar hy het daardie swart mense op tipiese wyse bedrieg, omdat die Boere in die onderhandelings tot die Vrede van Vereeniging die behoud van die rassistiese “geen gelykheid in kerk en staat nie” as een van hul voorwaardes vir vredesluiting gestel het.

Dat die Britte daartoe ingestem het, het gelei tot die oortuiging by baie Suid-Afrikaners dat die Boere “die oorlog verloor en die vrede gewen het”; ’n oortuiging wat steeds ferm en bitter brand vir baie van die swart besluitnemers in Suid-Afrika vandag, soos enigeen wat die nasionale, die parlementêre en die openbare (byvoorbeeld in openbare voorleggings oor wetgewing) volg, tog sekerlik net met die grootste moeite kan probeer miskyk of ontken.

’n Belangrike gevolg van die Britse verraad jeens swart Suid-Afrikaners oor stemreg was dat dit eerstens ’n groot skok was vir die Victoriaanse swart elite, wat dus ’n diepe wantroue jeens wit staatkundige planne en plannetjies gevestig het wat sedertdien in ’n groot deel van die swart kollektiewe onderbewuste voortleef, en tweedens swart Suid-Afrikaners saamgesnoer het met die wete dat hulle grootliks op hulself aangewese sou wees om burgerregte te beskerm en te verkry. Daardie samesnoering het (danksy finansiering deur die destydse regentes van die destydse Swaziland, nou eSwatini, gelei tot die oorkoming van stamverskille deur die elite en progressiewe stamkapteins en die stigting van die South African Native National Congress (SANNC) in Bloemfontein op 8 Januarie 1912. Die SANNC sou in 1923 herdoop word tot die African National Congress (ANC) – die groepering wat Suid-Afrika sedert 1994 regeer.

Namate die verontregting en ontkiesering van swart Suid-Afrikaners toegeneem het (die Naturellegrond-wette van 1913 en 1936, die kleurslagboomwette vanaf 1924, die afgryslike praktiese ekonomiese gevolge vir nuut ontredderde swart saaiboere, veeboere, deelsaaiers, mynwerkers en dies meer vanaf 1913, en les bes die onderdrukkende wetgewing tussen 1948 en 1994), het dit die diepe wantroue onder die oorgrote meerderheid in veral swart geledere jeens pogings om die meerderheid van die bevolking se wil deur verdeling te verwater, al sterker laat stu. Die patetiese armoede en politieke knegskap van die tuislande, en die gevolglike moderne trekarbeidstelsel met sy vernietigende impak op die swart gesinstruktuur, word ook in die kollektiewe swart onderbewuste as uitvloeisels van die Suid-Afrikaanse praktiese federalisme geëien. Miskien moet vyf van die (werklik ontsettend baie) historiese werke hieroor vereiste leeswerk wees vir enigeen wat hieroor wil saamgesels, naamlik Sol Plaatje se Native life in South Africa, Charles van Onselen se The seed is mine en The night trains, en twee boeke van CW de Kiewiet: A history of South Africa: social and ecoomic en Anatomy of South African misery.

Dit sou werklik moeilik wees om te probeer ontken dat die federale ideaal met die demokratiese oorgang in 1994 polities so vuig was dat dit speels die f-woord van die Suid-Afrikaanse politiek genoem is. Die uitsondering was nogmaals in KwaZulu-Natal, waar die Inkatha Vryheidsparty (IVP) die provinsiale verkiesing van 1994 gewen het met ’n sterk federale verkiesingsmanifes, Hiervan het daar in die praktyk egter dadels gekom. Die redes was, soos in 1910, dat dit nie in die keiharde werklikheid van die praktyk ekonomies raadsaam sou wees nie. Dis ook prakties gesproke nogal moeilik om ’n gebreekte eier weer in ’n dop te kry, of die djin terug te lok in die bottel in.

’n Week voor die 1994-verkiesing is ’n ooreenkoms tussen die leiers van die NP, ANC en IVP (FW de Klerk, Nelson Mandela en Mangosuthu Buthelezi onderskeidelik) bereik dat die IVP se aandrang op ’n meer federale bestel vir die Zoeloes, hul koningshuis en die beoogde provinsie KwaZulu-Natal deur internasionale arbitrasie besleg sou word. Daardie ooreenkoms is huidjie en muidjie deur Mandela verbreek; dit was kennelik ’n misleidende manier om die Zoeloe-regtervleuel te kry om aan die verkiesingsproses deel te neem. Eweseer het die ANC ingestem tot ’n Volkstaatraad wat met groot moeite en teen groot onkoste ’n omvattende verslag oor ’n meer federale opset vir Afrikaners saamgestel het. Daardie verslag het nie eens ’n muis gebaar nie. Dit was kennelik ’n misleidende manier om die Afrikaner-regtervleuel te kry om aan die verkiesingsproses deel te neem. Dit was niks meer nie. En dit het gewerk.

Dat daar tans redelik sterk federale beginsels met omvattende provinsiale- en plaaslikeregeringsmagte in Suid-Afrika se Grondwet voorkom, is inderdaad waar. Die krediet daarvoor moet grootliks gaan aan die destydse Demokratiese Party (DP) en by name wyle Colin “The Egg” Eglin. Die Afrikaner-regtervleuel se groot voorstanders van federalisme, konfederalisme ens het geskitter in hul afwesigheid toe hierdie dinge by die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa) besleg is. Breedsprakig is vanuit die regse selfbeskikkingshoek aangevoer “Ons onderhandel nie met terroriste nie.” Die Konserwatiewe Party het selfs ’n Derde Vryheidsoorlog afgekondig, maar toe daag niemand daarvoor op nie. Hierdie tipe regse kaperjolle het nie daartoe bygedra om aan konsepte soos federalisme, konfederalisme en selfbeskikking legitimiteit te gee in die kollektiewe politieke onderbewuste van die oorweldigende meerderheid Suid-Afrikaners nie. Verdiend of onverdiend: Die regse klankie bly maar steeds aan die konsepte federalisme, konfederalisme en selfbeskikking kleef, of hoe? En dis nie die woorde nie. Dis die konsepte. Om te reken dis bloot die woorde, is werklik om die intelligensie van die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners te onderskat.

Die bekragtiging van federale konsepte in die Suid-Afrikaanse Grondwet deur die skep van meer provinsies het onder meer twee doelwitte gehad, het die gerekende Pretoriase demograaf en voormalige Tukkie-rektor, Flip Smit, wat ’n leidende rol by die afbakening van die provinsies tydens die grondwetlike onderhandelinge gespeel het, by navraag aan my verduidelik. Die provinsies en stadsrade moes nie net regering nader aan die mense op voetsoolvlak bring nie; die hoop met die afbakening van die provinsies was ook dat hulle met mekaar sou meeding om die beste te regeer en beleggings te lok.

Byna 30 jaar na die ontstaan van die huidige provinsies is dit duidelik daardie hoop het beskaam, met die uitsondering van die Wes-Kaap. En dit is dan ook na die Wes-Kaap dat federaliste, konfederaliste, afstigters en selfbeskikkingsgesindes in hierdie dae ter redding hul oë opslaan. Daar sal vele menings hieroor wees, maar na 22 jaar daarvan om die Wes-Kaapse politiek na die beste van my vermoë te dek, en meer onderhoude te voer, na mense op elke vlak te luister, tussenverkiesings en debatte by te woon, en meer koffie, wyn en bier al luisterende en redekawelende te drink as wat vir enige mens goed is, is dit my bestekopname dat federalisme, konfederalisme, selfbeskikking en afstigting nie in hierdie stadium in die harde praktyk van die Wes-Kaapse politiek ’n prioriteit is nie.

Ja, daar is die reeds snuif getrapte gesprek oor of dit juridies moontlik is in ’n land waar die heel eerste grondslagwoorde van artikel 1 van die Grondwet lui: “Die Republiek van Suid-Afrika is een, [hierdie komma is belangrik] soewereine, demokratiese staat …” en eers dán die res volg. Mens kan stry en stry daaroor dat die nodige grondwetlike veranderinge eers deur die nasionale parlement moet gaan, en dat (as jy na provinsiale grensveranderinge sedert 1994 kyk) ’n verskanste meerderheid van die Nasionale Vergadering, twee derdes van die Nasionale Raad van Provinsies en die meerderheid in die wetgewers van die tersaaklike en naburige provinsies daartoe sal moet instem voordat dit wetlik kan gebeur. Hierdie vereiste is nie sommer so ’n ou probleempie wat gou in die verbygaan opgehaal en verbygegaan kan word nie. Dis absoluut fundamenteel.

’n Blote provinsiale referendum gaan dan mos nie wetlik die ding doen nie. En ’n baie ernstige waarskuwingswoordjie: Versigtig trap, o so versigtig, want as jy daardie deur oopgooi, wat verhoed dan referendums oor kwessies soos grondbesit, raskwotas en voertaal in die onderwys? Niks nie. Dade het gevolge.

..........
Die praktiese politiek in die Wes-Kaap gaan nie oor federalisme, konfederalisme, selfbeskikking of afstigting nie. Dit gaan om oorlewing. Die grootste probleme, die ontsettende nood van byvoorbeeld die meeste Afrikaanssprekendes in die Wes-Kaap, is werklik eerstens finansieel en maatskaplik, nie staatkundig nie.
...........

Die praktiese politiek in die Wes-Kaap gaan nie oor federalisme, konfederalisme, selfbeskikking of afstigting nie. Dit gaan om oorlewing. Die grootste probleme, die ontsettende nood van byvoorbeeld die meeste Afrikaanssprekendes in die Wes-Kaap, is werklik eerstens finansieel en maatskaplik, nie staatkundig nie. Dit is om te ontkom aan wat die ekonoom Sampie Terreblanche en ander sedert die verslag van die Theron-kommissie “mensonterende armoede” genoem het. Dit is om te ontsnap aan die bendegeweld wat kinders se lewens eis, vrees aanwakker en gemeenskapslewe onmoontlik maak. Dis agterplase en Wendy-huise. Dis tik en smokkelhuise. Dis werkloosheid en moedeloosheid. Dit is om dakke oor mense se koppe, kos in hul mae en werk in hul hande te hê. Die uitdagings van die Wes-Kaapse provinsiale regering en die veelgeprese Wes-Kaapse munisipaliteite is om voldoende rioolstelsels te vind vir die groeiende getal mense. Van Citrusdal tot Kaapstad en ’n magdom ander plekke stry teen daardie praktiese uitdagings. Kyk na die ongeveer 50 munisipale sopkombuise in Drakenstein (Paarl-omgewing), die wyse waarop die Stellenbosse burgemeester, Gesie van Deventer, oplossings soek en vind vir die wegholvure in Kayamandi en die rondloperdiere in Klapmuts; die wyse waarop Mosselbaai balans moet vind vir die behuisingsuitdagings van die hier en die nou; die manier waarop Overstrand (Hermanus) se munisipaliteit se plek vir die uitbreidende Zwelihle opraak; die sirkus van Oudtshoorn en Knysna se mal magspolitiek; die ouditeur-generaal se verslae oor Kannaland (Ladismith en omgewing); die twee geskorste DA-burgemeesterskomiteelede in Kaapstad wat tans korrupsieklagtes moet verduidelik; die tragedie wat wag omdat Drakenstein nie verkeersligte installeer by die N1-afritte na die snel groeiende Paarl nie. Dis oor weeshuise en biblioteke en vermiste kinders – om van papgeld en vermiste pa’s nie te praat nie.

Die lys is nog langer, maar ons stop daar. In't kort: Die fokus is armoedeverligting, nie federalisme nie. Die fokus is op gewone mense wat as verkose politici en amptenare hul bes doen. Dis al, en dis moeilik genoeg. Die realiteite is nogal prosaïes hier in die Wes-Kaap.

Die Wes-Kaap is voorwaar nie die hemel nie, en mense stem nie eerstens teen die ANC weens een of ander soeke na politieke selfbeskikking nie. Hulle stem vir die raadslede en die provinsiale regering wat na hul mening die minste steel en die meeste werk. En politieke partye val almal maar op ’n veranderlike spektrum in daardie verband. Daar is goeie en slegte mense in die DA. Daar is goeie en slegte mense in die ANC. Die Wes-Kaapse kieser, en by name die bruin Wes-Kaapse kieser, is benewens miskien die hedendaagse Zoeloekieser sekerlik die mees pragmaties veranderlike, polities mobiele  kieser in die land, wys die verkiesingsyfers sedert 1994. Wat beteken DA-oorwinnings is nie ’n gegewe in die Wes-Kaap nie. Kyk maar hoe het die DA-meerderhede gekrimp. En die kieserskorps bly maar verander – arm swart mense uit die Oos-Kaap, arm bruin mense uit die Noord-Kaap, en ryk wit mense uit Gauteng stroom die provinsie binne, om van die res uit ander dele van die land nie te praat nie. Semigrasie is in volle swang.

Praatjies oor afstigting maak in verkiesingstyd hul opportunistiese verskyning en sommige Wes-Kapenaars stem vir die partye wat dit voorstaan. Wes-Kaapland het voorts in Alan Winde ’n meesterlike premier wat weet dié kwessie is alkant ’n ware politieke handgranaat in terme van voortgesette provinsiale DA-meerderheidsteun. Daarom hanteer die premier dit wyslik versigtig. Hy gesels met almal, baklei so min moontlik en poog om die grootste moontlike afwenteling van mag binne die huidige grondwetlike bestel te verkry. Die laaste wat ek gesien het, was dat hy in die openbaar gesê het ’n referendum oor afstigting sou voortydig wees. Hy is dus, op sy rustige manier, tans daarteen gekant. Die rede waarom mense van oral in die land na die Wes-Kaap semigreer, is juis die vrug van die federale magte wat binne die huidige bestel toegelaat word, soos die versiende Flip Smit, Colin Eglin en andere dit voorsien het.

Dit is dan die verlede en die hede van federalisme in ons land. Wat van die toekoms? Wie die toekoms wêreldwyd wil voorspel, is dwaas, want die swart swane slaan oral uit – kyk maar net hoe vinnig die wêreldorde tans omvorm word, veral sedert die inval in die Oekraïne en die wyse waarop China en Saoedi-Arabië hulle byvoorbeeld posisioneer. In ons eie land was sake nie sedert 1993 op politieke en ekonomiese terrein so onseker nie. Dit lyk of ons nasionale regering onkundig voortstrompel en oor die toekomspad van Suid-Afrika slinger soos ’n bestuurder wat te diep in die bottel gekyk het. Hoe sou ons dit dan waag om die toekoms nugter te voorspel?

Dis dus ’n moeilike en selfs onverantwoordelike handeling om die Suid-Afrikaanse teeblare te lees. Die mees werklikheidsgetroue poging is om te put uit die feitelikhede van die verlede en die hede, en die huidige ingesteldhede van die gemeenskap. Daarom dat hierdie artikel die geskiedenis van die federalisme in Suid-Afrika sedert die Anglo-Boereoorlog probeer naspeur het. Dit is ’n geskiedenis wat aan die wit kant van die apartheidslyn geloop het deur Natal se politieke impotensie en die regse bewegings laat in die vorige eeu. Aan die swart kant van daardie verdelingslyn loop die pad deur die laakbare stemregwette van die Unie van Suid-Afrika, die vernederende wette van eers segregasie en toe apartheid, die tuislande, die volkstaatpogings en die bloedige laevlak-burgeroorlog in KwaZulu en Natal. Die geskiedenis van die federalisme in Suid-Afrika, soos vasgelê in die kollektiewe onderbewuste van die meerderheid Suid-Afrikaners, is die ongelukkige geskiedenis van mense wat (in watter plaaslike politieke bestel ook al) nie meerderheidsteun kon wen nie en dus oorwinnings op ander wyses wou bewimpel (hetsy welwillend of kwaadwillig).

Daar is tans geen werklike aptyt vir die uitbreiding van federalisme waarneembaar in die praktiese handelinge van die ANC, EFF en selfs die IVP nie. Dit is ook tans, gegewe die bewoording van die Grondwet, in die praktiese politiek nie doenbaar nie, soos uiteengesit. Gegewe die verlede van federalisme sal die swart Suid-Afrikaner verskoon word as hy of sy in die gevleuelde woorde van Eitemal se Afrikaanse vertaling van Hamlet sou opmerk: “Is jou bedoeling goed of kwaad; jy kom in twyfelagtige gedaante.” Die vooruitsigte vir ’n meer federale of konfederale bestel, vir selfbeskikking of afstigting, lyk, met die huidige lig ter beskikking, prakties gesproke werklik gering. Maar dit bly ’n interessante kwessie om te oorweeg.

Moet uit bostaande asseblief nie aflei dat ek die afwenteling van gesag teenstaan nie. Ons almal beleef tans ’n gevoel dat ons nasionale regering ’n spul politieke ploerte is. Weet ook dat ek, as eertydse KwaZulu-Nataller, daardie federale manifes van die IVP in 1994 gesteun het, en as inwoner van die Paarl hoë waardering het vir die provinsiale regering van die Wes-Kaap en die munisipale regering van Drakenstein. Dit gaan dus bepaald nie oor persoonlike voorkeure vir of afkeuring van die afwenteling van gesag en ander federaal-verwante kwessies nie. Die doel van hierdie artikel is om die diskoers te plaas binne die praktyk van “die kuns van die moontlike”, soos politiek soms genoem word.

.........
Daardie praktyk, ook vir ons as Wes-Kapenaars, is om eerder ons energie te fokus op die verligting van ontbering en mensonterende armoede in ons eie geografiese gemeenskappe. Dis om die hande uit te steek en vrywilligerswerk te doen, sodat daardie veelgeroemde provinsiale en munisipale owerhede se hande gesterk kan word in hul bykans onmoontlike taak. Dit is om die liefdesgebod en die definisie van gemeenskap maar nie te eng te maak nie, en asseblief tog net nie etnies nie. Daar is werk te doen, en dit lê ons almal voor hande, om eerstens van ons stukkie Suid-Afrika ’n beter plek te maak, federaal of nie.
...........

Daardie praktyk, ook vir ons as Wes-Kapenaars, is om eerder ons energie te fokus op die verligting van ontbering en mensonterende armoede in ons eie geografiese gemeenskappe. Dis om die hande uit te steek en vrywilligerswerk te doen, sodat daardie veelgeroemde provinsiale en munisipale owerhede se hande gesterk kan word in hul bykans onmoontlike taak. Dit is om die liefdesgebod en die definisie van gemeenskap maar nie te eng te maak nie, en asseblief tog net nie etnies nie. Daar is werk te doen, en dit lê ons almal voor hande, om eerstens van ons stukkie Suid-Afrika ’n beter plek te maak, federaal of nie.

 

  • Jan-Jan Joubert is ’n politieke joernalis en skrywer wat tans aan ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Chester werk.

Lees ook:

Van ongelykheid tot nuwe ongelykheid – van wit minderheidsoorheersing na ’n swart oligargie

Vryheidsdag 2023: Die nuwe energie vir federalisme en selfregering

Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met Heindrich Wyngaard en Phil Craig

Sal federalisme werk in Suid-Afrika?

Is ons te PC om ’n robuuste demokrasie te vestig?

Kultuurvryheid en selfbestuur, keuses van klein groepe wêreldwyd: ’n resensie

Resensie: Die pad na selfbestuur: Anderkant die mislukking van staatsbestuur deur Flip Buys

Sal die Suid-Afrikaanse konstitusionele demokrasie die huidige krisis wat die bestel in die gesig staar oorleef?

Die media, demokrasie en burgerlike deelname: ’n Etiek van luister

South Africa: Democracy or idiocracy?

Die buigsaamheid van demokratiese verkiesings in Afrika: Manipulasie in belang van faksiebeskerming of mensgerigte veiligheid?

  • 5

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Fantasties! As mense maar hierdie artikel ter harte wou neem. Maar helaas, van die Cape-Exiters sal ons nog heelwat sien en hoor. My teorie is, daar is heelwat geld te maak met aftrekorders en skenings en dies meer. Kyk by die stembus gebeur daar keer op keer niks. So die enigste plek om bietjie lawaai te kan maak is op die internet en agter die voorstedelike mure en heinings. Maar daar sal dit ook bly. Die beste is om nie te veel aandag daaraan te skenk nie. Orania, ja, daar gebeur wel iets meer prakties. Maar ook teen 'n slakkepas en die gemeenskap daar is vreedsaam en sal sukkel om elders aan te pas.

  • Veels geluk met die plasing van Joubert en Malan se bydraes oor federalisme langs mekaar.

    Joubert se weergawe van die wie, wat en waar van federalisme is uistekend.

    Malan se afkraak van die Grondwet in al sy publikasies behoort hy op te volg met konkrete voorstelle oor hoe die teks in 1994 anders moes gelui het en hoe dit nou moet verander .... artikel vir artikel.

    Alle gebeure in die Wes-Kaap, wat sommige terugtrekkers as federale uitkoms sien, vind plaas binne die raamwerk van die Grondwet, en so ook die uitgebreide aksies van Afriforum en ander verenigings.

    Die skade wat vorige grondwelike bedelings aangerig het, kan nie reggestel word nie, en die huidige en toekomstige kritieke politieke, ekonomiese en sosiale probleme (lg ook in die Wes-Kaap wat Joubert deeglik beskryf) kan net verbeter word deur die grondwetlike waarde van 'n "oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid" met woord en daad te bevorder, "hoe moeilik ook de weg mag zijn". Orals waar finale oplossings gebaseer op ander waardes probeer is, is niks opgelos nie en is groter ellende veroorsaak. Ek lees dit in Joubert se slotwoorde dat vir die gemeenskap ("en asseblief tog net nie etnies nie") daar werk is om te doen "federaal of nie".

  • Melvyn Minnaar

    Skitterende insig en beligtende artikel. Veral daardie deel oor die keuse van nuwe provinsies is so interessant. Dankie.

  • Andreas van Wyk, Stellenbosch

    Dankie aan Jan-Jan vir 'n uitstekende historiese oorsig van die unitêre vs federale debat in ons land. Hy wys ook tereg daarop dat ons huidige bestel inderdaad 'n federale een is, maar met relatiewe swak provinsies en op papier 'n sterk sentrale regering. Dit is onrealisties om te verwag dat die ANC 'n beduidende uitbreiding van provinsiale magte sal moontlik maak, selfs nie op die vanselfsprekende gebied van polisiëring waar ons sentrale regering duidelik faal en die internasionale modelle ewe duidelik vir plaaslike/provinsiale polisiemagte spreek. Ek stem saam met Jan-Jan dat die logiese en haalbare benadering is om die huidige grondwetlike ruimte maksimaal tot voordeel van veral die armes te benut. Daardeur word die voordele van 'n regering wat werklik ná aan die kiesers probeer leef en nie net uit Pretoria met woord probeer goël nie, gedemonstreer.

  • Hanno Visagie

    Die liberale, woke JJJ is waarskynlik meer realisties as AfriSoli. Sy gevolgtrekking toon myns insiens weer eens dat emigrasie beter is as bly sit in die Ramaparrapot, behalwe vir weergeborenes wat oortuig is dat die wegraping voor 2030 sal plaasvind.
    Ek is dit eens met prof Koos Malan se akademiese betoog vir SA federalisme en selfregering. Maar ek kan nie sien dat dit in my oorblywende leeftyd sal realiseer nie. Ek voorsien eerder verdere agteruitgang tot met die weerkoms van Christus.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top