Is ons te PC om ’n robuuste demokrasie te vestig?

  • 3

Demokrasie in Suid-Afrika is nog maar jonk, en in ons ongelyke samelewing is dit te verstane dat ons ons kollektiewe voete probeer vind.

Een belangrike vraag wat te maklik afgemaak word as voor die hand liggend, is wat ’n samelewing demokraties maak? Die meeste mense sal antwoord dat universele stemreg ons demokraties maak. Maar ons stelsel, waar slegs ’n uitgesoekte aantal stem oor wie die president van die land sal wees, en waar die sisteem met aantygings van omkopery omseil word, is duidelik nie ideaal nie.

Ander antwoorde sluit dalk in ’n vrye pers, ’n onafhanklike regbank, vryheid van spraak, vryheid van assosiasie en dies meer. Ekonomiese onafhanklikheid en gepaardgaande daarmee landeienaarskap, figureer ál sterker as ’n aanduider van demokrasie. Die waarheid lê in alle waarskynlikheid iewers tussen al hierdie antwoorde, as ’n kombinasie daarvan.

Die afgelope paar weke het die kwessie van die onafhanklikheid van die regbank weer onder die loep gekom. Eers het Julius Malema beweer dat regters korrup is, wat sterk reaksie ontlok het van regters, die publiek en die pers. Dat hy nie bewyse gelewer het vir sy beweringe nie, is dadelik aanvaar as aanduiding dat dit eintlik maar net ’n manier is waarop hy die regbank probeer neutraliseer in afwagting op moontlik negatiewe VBS-beslissings teen hom en sy makkers.

Dalk is dit so. Maar Malema het al in die verlede bewerings gemaak, oor die voormalige president en ander, wat aanvanklik as onsin afgemaak is en later as waarheid bewys is. Boonop het meer as een ondersoekende joernalis al bewerings gemaak wat dui daarop dat daar ongesonde verhoudinge is tussen lede van die kriminele gemeenskap en lede van die regsprekende gesag.

Malema het ook ’n problematiese verhouding met die pers. Hy het dit nog altyd gehad, wanneer die pers hom nie in 'n positiewe lig uitgebeeld het nie. Nou, vandat hy ook die regbank kritiseer, word hy as ’n gevaar vir ons demokrasie uitgemaak. En dit maak hom meer krities van die pers. Dis ’n bose kringloop.

Van Malema verwag ons teen hierdie tyd al heethoof-stellings.

Meer verrassend was die uitlating wat Trevor Manuel gemaak het oor ’n regter wat teen Ou Mutual beslis het in hul stryd om van hul hoof-uitvoerende beampte ontslae te raak. Dat die uitlating in swak smaak was, is nie te betwyfel nie. Hy het dit met reg later teruggetrek.

Waaroor ek minder seker is, is of die uitlating  ’n aanval op die onafhanklikheid van die regbank en dus van demokrasie, daarstel. Manuel het ’n opmerking gemaak oor een regter se uitspraak. Hy het nie die hele regsprekende gesag onder verdenking geplaas nie. Hy, en die groep wat hy verteenwoordig, het ook binne die raamwerk van die stelsel appèl aangeteken teen die beslissing waarmee hulle klaarblyklik nie saamstem nie.

Een van die kentekens van ’n demokrasie, in my oë, is dat niemand verhewe is bo kritiek nie. Indien die president van die land bollie aanjaag, dan kan gewone burgers sonder vrees dat hulle gaan verdwyn, hom kritiseer.

Hierdie nuwe tendens, dat sekere groepe nie meer gekritiseer mag word nie, is kommerwekkend. Natuurlik mag Manuel, of Malema of enigeen anders ’n hofbeslissing waarmee hulle nie saamstem nie, kritiseer. Die regsprekende gesag is nie onfeilbaar nie. Die blote feit dat daar ’n appélproses is, impliseer dat ’n ander hof tot ’n ander beslissing kan kom.

Die gevaar bestaan dat ons so ver gaan in ons strewe om polities-korrek te wees, dat ons in effek mense muilband. Malema het opruiende bewerings omtrent die regbank gemaak, dus mag niemand anders kritiek teen ’n beslissing uitspreek nie.

Iewers moet daar tog ’n lyn getrek word. Vir my is die lyn eenvoudig: word die gesag van die regbank ondermyn deur die uitspraak wat gemaak word? Word aanhoorders aangemoedig om beslissings van die bank te verontagsaam, en in effek minagting van die hof te pleeg? In Malema se geval is die antwoord op albei vrae ’n duidelike ja. In Manuel se geval is dit kritiek gerig op een beslissing van een regter, en boonop word die korrekte kanale gevolg om die beslissing te beveg.

Om Manuel en Malema dus oor dieselfde kam te skeer, is ’n fout. In ’n robuuste demokrasie moet daar ruimte wees vir burgers om hul menings te lug. Niemand kan verhewe wees bo kritiek of negatiewe kommentaar nie.

As ons die alternatief toelaat en vertroetel, dan is dit net ’n kwessie van tyd voordat kritiek bestraf word. Is dit nie juis dan ’n aanval op vryheid van spraak as een van die hoekstene van ’n gesonde demokrasie nie?

  • 3

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Politieke korrektheid is presies wat dit sê; skynheilig en vals. Dis deedae ook hoogs vervelig en word aangewend om gesonde debat te smoor. Bettina is dus korrek. Sy's ook korrek om te sê dat niemand veronderstel is om te dink hulle is bo die reg verhewe nie. Dit geld natuurlik ook vir Trevor Manual, Pravin Gordhan en ons 'afwesige' President, Cyril Ramaphosa.

    Wanneer Bettina egter vir Trevor Manual hier in die bres tree sal baie sê dat haar standpunt subjektief is (alhoewel sy dalk in die geval reg is) want wie besluit nou eintlik dat hy reg is of nie. Daar sal boonop diegene wees (polities gemotiveer) wat die teenoorgestelde argument sal huldig. Selwers sluit ek dit nie uit dat daar uitsprake is of mag wee,s wat verkeerd is nie.

    Dis juis Politieke Korrektheid, Kwotas en BEE wat die soort van probleem vererger. Waar bevoegdheid, kwalifikasie en meriete nie meer in tel is nie gebeur die dinge meer gereeld. Op alle vlakke en meer gereeld. Miskien moet ons maar net by die begin, begin en dinge doen soos dit hoort. Die kanse op regverdigheid en sukses sal veel groter en beter wees.

  • Desere Barnard

    Daar is baie dinge in ons land wat robuust is. Ek sal liewer n gesofistikeerde demokrasie wil sien. Daar is regsprosesse indien n party nie saamstem met n uitspraak nie. Om regters in die pers te ondermyn met niks anders as leke opinie nie is nie robuust nie, dis net oningelig en ongesofistikeerd.

  • Chris Marnewick SC

    Soos dit vir my lyk is die regbank as 'n kollektiewe eenheid net so min verhewe bo kritiek as die parlement en die regering. Hierdie 3 is tog die vertakkings van die Staat en volgens die Grondwet op gelyke voet. Kritiek moet nogtans feitelik verantwoord en beleefd wees - t.o.v. aldrie - en veral wanneer 'n individu uitgesonder word vir kritiek.

    Die feit is dat die meerderheidsparty in die parlement nie net die regering aanstel nie, maar in effek deur die RDK (onder ANC beheer) ook die regters wat op die regbank dien. Kritiek is dus telkens gebaseer op politieke oortuigings.

    Die goeie nuus is dat die meeste regters soos in die apartheidsjare geneig is om nie na die regerende party se pype te dans nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top