Sal die Suid-Afrikaanse konstitusionele demokrasie die huidige krisis wat die bestel in die gesig staar oorleef?

  • 0

Sal die Suid-Afrikaanse konstitusionele demokrasie die huidige krisis wat die bestel in die gesig staar oorleef?

André Duvenhage, Navorsingsentiteit Sosiale Transformasie, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

LitNet Akademies Jaargang 20(1)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Die belangrike vraag in hierdie ondersoek is of die regstaat (ook genoem konstitusionele demokrasie) in Suid-Afrika 28 jaar na die totstandkoming van die nuwe bedeling besig is om te misluk. Die hipotetiese vertrekpunt van hierdie navorsing is dat die regstaat suksesvol kan wees slegs indien die samehangende groter staat- en owerheidstrukture effektief en funksioneel is, die omgewing veilig en stabiel gemaak kan word vir die burgery, en die ekonomiese en sosiale toestande binne die samelewing hierdie owerheidsvorm, oftewel die regstaat, ondersteun. Die ondersoek bevind dat omstandighede binne die Suid-Afrikaanse politiek, ekonomie en samelewing nie bevorderlik is vir die bestendiging van demokratiese waardes nie, en dat ’n moeilike scenario in hierdie verband voor die deur staan. Trouens, getuienis wat gebied word dui daarop dat die regstaat en konstitusionalisme voor ernstige uitdagings te staan gekom het, wat risiko’s vir die voortbestaan daarvan inhou.

Trefwoorde: 1996-Grondwet; demokratiese konsolidasie; demokratiese waardes; empiriese staat; konstitusionalisme; normatiewe staat; politiese en institusionele verval; regstaat/Rechtsstaat; Suid-Afrika

 

Abstract

Will the South African constitutional democracy survive the challenges facing the current dispensation?

The most important question in this investigation is whether the constitutional state (also referred to as constitutional democracy) is in the process of decay in South Africa 28 years after the establishment of the new dispensation. The hypothetic point of departure of this research is that the constitutional state can function successfully only if the coherent bigger state and government structures are effective and functional, a safe and stable environment can be created for the citizenry, and if economic and social conditions within society support this form of government, or constitutional state. The investigation finds that conditions within the South African politics, economy and society are not conducive for the consolidation of democratic values, and that a difficult scenario is in store in this regard. In fact, evidence presented indicates that the constitutional state and constitutionalism are faced with serious challenges, which entail risks for the survival thereof.

Keywords: 1996 Constitution; constitutional democracy; constitutionalism; democratic consolidation; democratic values; empirical state; normative state; political and institutional decay; South Africa

 

1. Inleiding

Tussen 9 en 17 Julie 2021, direk na die inhegtenisname van Jacob Zuma (op grond van minagting van die Zondo-kommissie), beleef Suid-Afrika die mees gewelddadige episode van politieke geweld, plundery en xenofobie sedert 1994. Sowat 337 mense is gedood en 3 407 in hegtenis geneem (Vhumbunu 2021). Rassekonflik (veral in Phoenix in KwaZulu-Natal, maar ook in dele van Gauteng) haal die hoofnuus. Duidelik was dit ’n opstand wat gemik was op veral die ondersoek van die Zondo-kommissie na staatskaping, en die feit dat prominente leiers binne die ANC (waaronder Zuma en Magashule) geïmpliseer is.1 Politieke mobilisasie teen hofverrigtinge was terselfdertyd prominent, en ernstige vrae word gevra oor die funksionaliteit en effektiwiteit van die strafregstelsel, veral waar beskuldigdes van die sogenaamde Stalingrad-strategie gebruik maak om regsprosesse te vertraag, te ondermyn of daarteen te mobiliseer. ANC-lede, met inbegrip van lede van die Staatsveiligheidsagentskap, se betrokkenheid by die opstand is geïmpliseer (vergelyk Erasmus en Hlangu 2021, asook die bevindinge van die Zondo-kommissie ten opsigte van die rol van die Staatsveiligheidsagentskap by konflik en geweld in Suid-Afrika). Telkens word daar ook gewaarsku teen die moontlikheid van eskalerende konflik in KZN (Malala 2021).

Met die geweld van Julie 2021 nog vars in die geheue, onder COVID-regulasies en met akute vrese rakende die virus, is Suid-Afrikaners na die stembus om nuwe plaaslike owerhede te verkies. Vir die eerste keer sedert 1994 het die ANC-steun tot sowat 45% gedaal, en 66 munisipaliteite het sogenaamde hangrade (geen party kon ’n volstrekte meerderheid behaal nie) tot gevolg gehad (Mashanini 2021:1–3). Die verswakking van steun vir die ANC, veral in die metro’s, is onder meer toegeskryf aan faksiegevegte binne die organisasie (waaruit die opstand voortgespruit het), asook swak dienslewering wat onder meer met politieke en institusionele verval verband hou.

Patrone van politieke en institusionele verval is nie net tot plaaslike owerheidsvlak beperk nie, maar is ook duidelik waarneembaar op ander owerheidsvlakke, nasionaal en provinsiaal, asook in semistaatsinstellings soos Eskom, Denel, die Suid-Afrikaanse Poskantoor, SAUK, Transnet en verwante instellings. Die waarskuwing van Johnson (2020c) is teen bogenoemde agtergrond gepas: “This government will have to steer South Africa through an unprecedentedly fierce storm, a test it seems certain to fail. The government may well disintegrate, the state may fall.” In onlangse tye waarsku akademici en politici, onder wie R.W. Johnson, Moletsi Mbeki en Thabo Mbeki, oor die moontlikheid van ’n Suid-Afrikaanse Lente en die gepaardgaande risiko’s.

Na afloop van die konflik en geweld van die 1980’s en die skaakmatsituasie wat daaruit ontwikkel het, het onderhandelinge (KODESA 1 en 2, asook die Veelpartykonferensie) die Nasionale Akkoord van 1994 tot gevolg gehad. Laasgenoemde het gelei tot die tussentydse grondwet, die verkiesing van 1994, en die 1996-Grondwet, wat deur talle beskou word as een van die beste grondwette ter wêreld. Nietemin het hierdie baken van lig in die post-1994 era sy glans begin verloor. Na 28 jaar beklemtoon die huidige politieke landskap ’n situasie wat dramaties verskil van die scenario wat in 1994 in die vooruitsig gestel is. Hiervan getuig talle publikasies en bydraes deur onder andere Johnson (2015; 2019a; 2019b; 2020a; 2020b en 2020c); Malan (2019); Gumede (2021; 2021a) en Duvenhage (2020a; 2020b). Ekonomiese vooruitskouings deur onder meer Schüssler (2020) en Heystek (2019) beklemtoon die ekonomiese aard van hierdie krisis. Cronje (2017) verwys, benewens ekonomiese en politieke uitdagings, ook na maatskaplike en sosiale uitdagings en praat selfs van die “breakdown of society”. Malan (2019) verwoord sy mening ten opsigte van konstitusionalisme (soms sinoniem met die regstaatgedagte) in ’n boek getiteld There is no supreme constitution – A critique of statist-individualist constitutionalism. Laasgenoemde bydrae is uiters krities teenoor die stand van konstitusionalisme en die konstitusionele staat (die regstaatidee) in Suid-Afrika.

Selfs van binne die ANC spreek nie net Kgalema Motlanthe nie, maar ook Thabo Mbeki en Frank Chikane, ernstige kommer uit oor die stand van die demokrasie in Suid-Afrika, die gebrek aan leierskap en die voorkoms van ernstige korrupsie binne die regerende party (Chikane 2021:1–7; Grootes 2021:1–7). Die bekende akademikus Roger Southall (2022) stem saam met voormalige president Kgalema Motlanthe dat die era van ANC-oorheersing van korte duur mag wees. Thabo Mbeki se dwarsklap na die Ramaphosa-regering se “planloosheid” en die gevare van onlangs toenemende geweld verdien ook in hierdie opsig vermelding.

Die nuwe grondwetlike bedeling (die Grondwet van 1996) kan voorgehou word as ’n konstitusionele demokrasie – ook genoem ’n Rechtsstaat vanuit die Duitse tradisie. Die begrippe demokrasie en regstaat is verbandhoudend, en daarom kan die Suid-Afrikaanse demokrasie as ’n regstaat beskou word (Nelson 2014:649). Teen die agtergrond van patrone van politieke, institusionele en staatkundige verval ontstaan die vraag of die regstaatidee steeds die nodige impak het en of daar steeds na die Suid-Afrikaanse konteks as demokraties (in die klassieke sin van die woord) verwys kan word. Is die betreklik positiewe beoordeling van die regstaat deur Nelson (“Die Suid-Afrikaanse regstaat na twintig jaar: gekonsolideer of besig om in outoritarisme te verval?” van 2014) steeds vandag geldig, of het die situasie sedertdien drasties verander en lyk die vooruitsigte vir ’n gekonsolideerde demokrasie tans swakker? Met ’n oorheersend radikale agenda (radikale ekonomiese en sosiale transformasie soos gedryf deur die Nasionale Demokratiese Revolusie-idee), waaraan die Grondwet dikwels ondergeskik gestel word, is Von Holdt (2013:589–604) byvoorbeeld van mening dat die Suid-Afrikaanse demokrasie ontaard het in ’n “violent democracy”.2

Die gewelddadige aard van ons samelewing en politiek druis in teen van die belangrikste grondbeginsels en onderliggende waardes eie aan demokratiese en regstaatidees en -praktyke. Hiervan getuig talle sake, onder meer die omvang van staatskaping en die ondermyning van die oppergesag van die reg wat daarmee gepaard gaan, asook die politieke geweld van Julie 2021. Gaan die idee en praktyk van die regstaat, soos dit oor 28 jaar sy beslag gekry het, oorleef, of is die praktyk tot mislukking gedoem?

Met bogenoemde vraag as uitgangspunt is die navorsing daarop toegespits om te bepaal of volgehoue patrone van institusionele, politieke en ander vorme van verval die ideaal van die regstaat, veral die toepassing daarvan, ondermyn, en of hierdie owerheidsvorm binne die huidige samehang van politieke, ekonomiese en maatskaplike faktore tot mislukking gedoem is. Hierdie navorsing is verkennend van aard met as primêre doel die vorming van ’n strategiese ontleding van die risiko’s wat die huidige demokratiese bedeling alhier bedreig. Dit is nie toegespits op die teoretiese debatte wat poog om die inhoud van demokrasie ooreenkomstig ’n filosofiese en teoretiese uitgangspunt te debatteer nie. Konstitusionele demokrasie (ook na verwys as die regstaat, of anders gestel konstitusionalisme) word wel as norm toegelig en die kriteria word toegepas op grond van die strategiese ontleding en risiko-assessering van die huidige konstitusionele bedeling in Suid-Afrika.

Die manifestering van politieke praktyke in botsing met die regstaatidee (asook die onderliggende staats- en samelewingsbeskouing wat daarmee verband hou), en sake soos konstitusionalisme, die oppergesag van die reg en die idee van verantwoordelike en effektiewe regering, word tans algemeen binne die huidige staatkundige bestel aangetref. Die hipotetiese uitgangspunt van hierdie ondersoek is dat die regstaatidee, soos in die Suid-Afrikaanse Grondwet vergestalt, suksesvol kan bestaan net indien die samehangende staat- en owerheidstrukture effektief en funksioneel is; die omgewing vir die burgery veilig en stabiel gemaak kan word; en indien ekonomiese en sosiale toestande binne die samelewing die gestelde owerheidsvorm ondersteun. In hierdie opsig is politieke en staatkundige stabiliteit en sekerheid ’n belangrike, hoewel nie noodwendig die enigste nie, voorvereiste vir die suksesvolle uitlewing van die regstaat (die idee en toepassing daarvan in die praktyk) as uitkoms van ’n bepaalde staats- en samelewingsbeskouing. Dit word as sentrale uitgangspunt vir hierdie studie beredeneer en gemotiveer. Die fokus van hierdie navorsing val sterker op die empiriese staat (die regstaat in werking en ten opsigte van sy funksionaliteit), eerder as op die normatiewe beoordeling van die beginsels en uitgangspunte soos vervat in byvoorbeeld die Grondwet en Handves van Regte. Die vraag ooreenkomstig bogenoemde metodologiese uitgangspunt is derhalwe: Funksioneer die regstaatidee en die manifestasie daarvan in die Suid-Afrikaanse konstitusionele demokrasie nog in praktyk, of is toestande van institusionele en politieke verval, ekonomiese agteruitgang en samelewingsverval besig om die ideale verbonde aan hierdie owerheidsvorm ernstig te onderdruk en demokratiese konsolidasie te verhoed? Politieke agteruitgang en verval is in konflik met ’n staatsbeskouing en gepaardgaande staats- en owerheidspraktyke soos gebou op ’n bepaalde stel waardes, norme en etiese begronding eie aan hierdie beskouing.

Die doelwit is om toestande van institusionele, politieke en staatkundige verval as oorheersende tendense in die Suid-Afrikaanse politieke konteks te ontleed, en om sosio-ekonomiese omstandighede te beskou om te bepaal of die konsolidasie van die regstaat onder hierdie omstandighede volhoubaar is. Die risiko’s en bedreigings wat dit vir die regstaatidee in Suid-Afrika inhou, moet gevolglik bepaal word. Die ondersoek behels ’n beskrywende ontleding en vertolking van bestaande literatuur in hierdie veld, weergegee vanuit ’n verkennende, normatief-beoordelende en vertolkende perspektief.

Fokuspunte van hierdie navorsing sluit in:

  • Normatiewe regstaatlikheid
  • Die staat en staatkundige verval
  • Die regstaatidee
  • Die Suid-Afrikaanse staat en die regstaatidee
  • Patrone en tendense in die Suid-Afrikaanse politiek
  • Ekonomiese en maatskaplike werklikhede
  • Die oorlewing van die regstaat in Suid-Afrika.

 

2. Normatiewe regstaatlikheid

MacIver (1966:4–5) stel dit dat “the state exists within society, but is not even a form of society”. ’n Staat word gekenmerk deur ’n vaste geografiese verwysing; ’n permanente owerheid, met ander woorde ’n administrasie en bestuur wat onder gekoördineerde leierskap (regeerkundig van aard) funksioneer; wat bindende en afdwingbare besluite vir die samelewing kan neem; en wat as instelling beskik oor die monopolie ten opsigte van die aanwending van staatsmag (Heywood 2002:86–8; Romano 1947). Die ontstaan van die staat as samelewingsverband is gesetel in die mens se behoefte aan orde, stabiliteit en sekerheid rakende volhoubaarheid en samehangendheid. Uitgaande van ’n klassieke staatsbeskouing is dit die staat se taak om ’n openbare regsorde in algemene belang te handhaaf as die belangrikste funksie van enige staatkundige orde. Owerheidsinstellings (demokraties of ondemokraties) funksioneer binne die raamwerk van ’n bepaalde staatkundige orde en het as primêre, maar nie uitsluitlike, taak die handhawing van wet en orde, veiligheid en sekuriteit.

Voortspruitend hieruit beskik die staat oor die alleenreg van die swaardmag om sodoende reg (openbare regsorde) te kan handhaaf deurdat die algemene belang vooropgestel word – ’n onderskeidende taak betreffende ander samelewingskringe soos die kerk, skool, universiteit, gesin, ensovoorts. Ingevolge die beskouing van ’n ontwikkelingstaat, soos in Suid-Afrika van toepassing en wat in die ondersoek ondersteun word, het die staat bykomstig die taak om die welsyn en welstand van die burgery te handhaaf, hulle belange te bevorder en in hulle behoeftes te voorsien. Vanuit ’n ANC-perspektief word laasgenoemde nagestreef op grond van die idee van uitgebreide sosiale en ekonomiese transformasie van die samelewing, tesame met die politieke, ekonomiese en maatskaplike ordes (vergelyk Duvenhage 2021:713–36).

Hierdie uitgangspunt en die toepassing daarvan bring twee kwessies na vore, naamlik: Wat hou dit in as die staat sy primêre verpligting (die handhawing van ’n openbare regsorde in algemene belang) versaak, en ander samelewingsinstellings die pligte van die staat begin oorneem? In samehang met die voorafgaande: Wat is die implikasies hiervan vir die regstaatidee en politieke instellings wat hieruit ontspruit het ingevolge die Suid-Afrikaanse konstitusionele demokrasie? Laasgenoemde hang saam met die suksesvolle uitvoering van die transformasie-agenda soos deur die Grondwet ondersteun (ten minste aldus die regerende ANC).

Eersgenoemde word bespreek teen die agtergrond van ’n beskrywing en ontleding van die struktuurkenmerke van die staat as samelewingsverband, met verrekening van staatkundige verval. Laasgenoemde word behandel deur die aandag toe te spits op die empiriese staat en hoe normatiewe regstaatlikheid op grondvlak vernietig word – in sommige gevalle word reeds aan parallelle strukture beslag gegee. Hierdie ondersoek ontleen sy fundering rakende die demokrasie aan die grondwetlike bedeling in Suid-Afrika en is nie toegespits op die teoretiese debatte oor die aard en wese van demokrasie nie, soos vroeër in die metodologie aangedui.

 

3. Die staat en patrone van staatkundige verval

Du Plessis (1941:3–17) wys daarop dat verskeie staatsvorme deur die loop van die geskiedenis ontwikkel het, byvoorbeeld patriargale familie-organisasies; antieke ryke en beskawings; stadstate; die Middeleeuse nomokrasie; en so meer. Dit was egter veral die moderne nasiestaat wat sedert 1648 (na die Vrede van Wesfale) deur geskiedkundige prosesse, waaronder kolonisasie, polities gesproke tot wêreldwye norm gevestig geraak het. Teen 1800 was daar net 20 nasiestate teenoor meer as 200 state vandag (Greffrath 2015:70). Dit beklemtoon dat verreweg die meerderheid state vandag as “nuwe state” beskou moet word, en dat die nasiestaatidee baie sterk Westers georiënteerd is; soms vervreem van die kultuur en verwysingsraamwerk van die meerderheid van die wêreldbevolking. Suid-Afrika is geen uitsondering op die reël nie.

Die nasiestaat word gekenmerk deur ’n vaste geografiese territorium (gebied of terrein); ’n permanente owerheid (administrasie en bestuur met leierskap wat regeerkundig van aard funksioneer) wat bindende en afdwingbare besluite vir die samelewing kan neem (aldus Easton 1965:21). As instelling beskik dit oor soewereiniteit soos gesetel in die alleenreg op die gebruik van die spreekwoordelike swaardmag (vergelyk Heywood 2002:86–8; Romano 1947). Greffrath (2015:19) definieer die staat as “[…] a polity possessing an administration, of which the different parts are coordinated, it is a compulsory association which claims binding authority over all that occurs and exists within its demarcated territory, being able to do so through possessing a monopoly on the legitimate use of force”.3

Hoewel alle state oor wesenlik dieselfde generiese eienskappe beskik (soos hier bo genoem), verskil die inkleding daarvan baie, byvoorbeeld owerheidsvorm (administrasie, bestuur en regeerkundige funksie). Breedweg word onderskei tussen demokratiese en niedemokratiese owerheidsvorme. Demokrasieë sluit in liberale, sosiale en grondwetlike demokrasie, asook praktyke wat met demokratiese sosialisme en die welsynstaat verband hou – laasgenoemde het veral in Skandinawië sterk inslag gevind (Heywood 2002:67–76; 95–100). Die idee en praktyk van die regstaat hou sterk verband met dít wat as ’n konstitusionele demokrasie voorgehou kan word en waarvan konstitusionalisme ’n belangrike eienskap is.4

Niedemokratiese praktyke (soms na verwys as magstate, die teenstelling van regstate) sluit ’n wye verskeidenheid vorme in, soos monargieë, totalitêre en outokratiese state, eenpartystelsels en variasies van militêre of praetoriaanse owerheidsvorme (Heywood 2002:95–100; 377–94).

Die identifisering van ’n bepaalde owerheidsvorm (magstaat of regstaat) is nietemin geen vanselfsprekende aanduiding van die effektiwiteit en funksionaliteit van sodanige owerheidsvorm nie. Beide demokratiese en niedemokratiese vorme kan effektief en funksioneel, of oneffektief en wanfunksioneel wees. Volgens sy werk Political order in changing societies (1968:1) is die graad van regering (effektiwiteit en funksionaliteit) vir S.P. Huntington belangriker as die vorm van regering (owerheid, soos ek daarna verwys), en is eersgenoemde grootliks afwesig in Afrika en ander dele van die Derde Wêreld – wat vroeër as “nuwe state” beskryf is. Hy (1968:1) stel dit soos volg: “Throughout Asia, Africa and Latin America there was a decline in political order and undermining of the authority, effectiveness and legitimacy of government […]. Not political development but political decay is dominating the scene.”

Huntington (1968:1–8) se konseptualisering van politieke verval kan staatkundig met die term verswakkende staat in verband gebring word.5 Sedert veral die laat 1980’s het verskeie toonaangewende akademici die verskynsel van staatsverswakking uitgelig, onder wie Migdal (1988); Zartman (1995); Jackson (1993); Mazrui (1995); en Rotberg (2002). Om swak en verswakkende state te verstaan, soos deur die skrywers hier bo gekonsepsualiseer en waarvan die werking deur hulle beskryf is, moet die term sterk staat eerstens verstaan word. Dit verwys na ’n staat wat volgens Huntington (1968:1–8) oor hoë vlakke van politieke institusionalisering beskik. Institusionalisering verwys na die mate van ondersteuning waaroor ’n stelsel beskik, asook sy aanpasbaarheid, differensiasie, outonomie, asook eenheid en samehang binne die groter stelsel (Huntington 1968:13–24).6 Hierdie beskouing moet saam met die Weberiaanse staatsbeskouing, soos vroeër gedefinieer, gelees word. Weber (1964:15) stel die norm vir ’n sterk staat soortgelyk aan Huntington (1968) se hoë vlakke van politieke institusionalisering, en sluit aan by die voorafgaande definiëring van die staat as “[a]n organization composed of numerous agencies led and coordinated by the state’s leadership (executive authority), that has the ability to make and implement rules for all the people as well as the parameters of rulemaking for other social organizations in a given territory, using force if necessary to have its way”. Staatsverswakking kan volgens hierdie staatsbeskouing van Weber (1964) positief gemeet word ingevolge:

  1. die mate van soewereiniteit en die handhawing daarvan betreffende die gegewe territorium
  2. die doelmatige aanwending en ontwikkeling van hulpbronne ter bevordering van die algemene belang van alle burgers
  3. die vermoë tot die daarstelling en instandhouding van die nodige bekwaamhede om kernfunksies soos orde, stabiliteit en sekerheid, dienslewering en beveiliging uit te voer
  4. voldoening aan kriteria geput uit praktyke wat met goeie regering en regeerkundige praktyke in verband gebring kan word.

Bogenoemde funksies sluit sake in soos politieke beheer oor die terrein van die staat; toesig (nie noodwendig beheer nie) oor nasionale hulpbronne van die staat; die vermoë tot belastinginvordering; die ontwikkeling, uitbouing en instandhouding van infrastruktuur; en noodsaaklike dienslewering (soos water, elektrisiteit, behuising, ensovoorts) op talle terreine van die samelewing (vergelyk Mazrui 1995:28).

Met bogenoemde as analitiese uitgangspunt word daar tussen drie vorme van staatsverswakking onderskei, te wete sagte state (korrupsie en grensbeheer is problematies); swak state (met eienskappe van sagte state en die onvermoë om basiese funksies uit te voer, maar verlies aan soewereiniteit), en mislukte state (boonop ook ’n verlies aan beheer oor die terrein van die staat). Vergelyk in hierdie verband Geldenhuys (1999), Migdal (1988), Mazrui (1995) en Duvenhage (2007) vir besonderhede oor die eienskappe en kategorieë van staatsverswakking. Volgens Zartman (1995:1) verwys staatsverswakking in die uiterste vorm na “[…] a situation where the structure, authority (legitimate power), law, and political power have fallen apart and must be reconstituted in some form, old or new [….] For a period, the state itself, as a legitimate functioning order is gone.” ’n Situasie van staatkundige en institusionele verval (soos dit in groot dele van Afrika en ook in Suid-Afrika aangetref word) behels dat die staat ’n onvermoë openbaar om sy primêre taak (naamlik die handhawing van ’n openbare regsorde in algemene belang) met sukses volhoubaar te kan volvoer.

Die kernvraag vir hierdie navorsing is of die regstaat in Suid-Afrika as owerheidsvorm kan oorleef en funksioneer in ’n omgewing van staatkundige, institusionele en ander vorme van verval, soos dit beslag kry in patrone van stelsel-entropie en staatsverswakking. Voordat hierdie vraag beantwoord kan word, moet die regstaatgedagte (idee en praktyk) eers duideliker gekonsepsualiseer word.

 

4. Die regstaatidee – teorie en toepassing

Die regstaatidee (Rechtsstaat) as normatiewe grondslag vir owerheidsvorme spruit voort uit die denke van Emmanuel Kant (1724–1804), naamlik die idee van ’n “Republik” as ’n “union of men under law”, en het neerslag gevind in Wes-Europa, Skandinawië en die VSA; soms voorgehou as die eerste golf van demokratisering.7 Hierdie staatsbeskouing is as politieke raamwerk (moderne konstitusionalisme) verder ontwikkel teen die agtergrond van die Franse en Amerikaanse revolusies. Die regstaat, ook bekend as “legal state”, “constitutional state” of “state of justice”, onderskryf die oppermagtigheid van die grondwet (dit wil sê grondwetlike regering), met aspekte soos verteenwoordigende regering, verantwoordelike regering, die oppergesag van die reg, en die erkenning en beskerming van die regte van die burgery soos dit in die grondwet uiteengesit is.

Die idee van konstitusionalisme (oftewel om te funksioneer binne die gees van die konstitusie / etiese konstitusionalisme / “the moral constitution”), vorm ’n belangrike (soms onsigbare en ongeskrewe) deel van die onderliggende waardestelsel van die regstaatbeskouing.

Konstitusionalisme, ’n sentrale bousteen van die regstaatidee, verdien duideliker omskrywing. Normatief gesproke behels konstitusionalisme “the quest for a just polity” en “the pursuit of justice” (vergelyk Malan 2019:7–17).Voortspruitend uit die normatiewe grondslag verwys die strukturele aspek van konstitusionalisme (dit wil sê die regstegniese wyse waarop mag verduidelik word) na die strukturering, toewysing, begrensing en afbakening van polities-staatkundige magsbasisse (grondwetlik bewoord en uitgevoer) om ’n regverdige samelewing (“just society”) te bereik (Malan 2019:7–13).

Konstitusionalisme omvat in hierdie opsig vier aspekte, naamlik:

  1. die normatiewe (verbintenis tot reg en ’n regverdige samelewing);
  2. die fundamentele (regeerkundige oorsigfunksie en die oppermagtige, kwalifiserende aard hiervan teenoor ander landswette);
  3. breë konsensus en inkoop in die oppergesag van die reg en die praktiese uitlewing daarvan;
  4. die verdeling en kontrolering van mag, en die opstel van terughoudende of verlangsamende meganismes en teenwigte om magsmisbruik te voorkom. (Malan 2019:7–13)

Sekere kenmerke bou bogenoemde kernaspekte onderliggend aan die regstaatbeskouing uit soos dit vergestalt word in onder meer bogenoemde konseptualisering van konstitusionalisme. Die kern van die regstaatidee word opsommend vergestalt in:

  1. ’n staat wat oor ’n grondwet beskik, dit wil sê ’n kontrak tussen die owerheid en burgery waarin die regte, vryhede en verpligtinge (verantwoordelikhede) van beide partye uiteengesit word
  2. die bestaan van ’n selfstandige burgerlike samelewing; afsonderlik van, en in vennootskap met, die staat
  3. die skeiding van staatsmagte (uitvoerend, regsprekend en wetgewend), ingevolge ’n stelsel van wigte en teenwigte wat die misbruik van politieke mag kan beperk of verhinder
  4. duidelike grondwetlike, juridiese en soms wetlike reëls en riglyne waarbinne staatsinstellings en ander samelewingsinstellings (onderskeidelik, maar ook in samehang) moet funksioneer en ordelik in stand gehou moet word
  5. deursigtigheid van besluitneming (asook optrede en handelinge), ingevolge ’n stel norme waarin verantwoordbaarheid en aanspreeklikheid sentraal staan
  6. ’n onafhanklike regbank (ooreenkomstig die “rule of law”-beginsel) waarin die geregtelike hersiening van staatsoptrede, -handelinge en -besluite aan die orde is
  7. die oppergesag van die grondwet en dat alle wetgewing en toepassing daarvan in ooreenstemming moet wees met die letter van die wet (die grondwet) en die idee (konstitusionalisme) ter sprake
  8. betroubaarheid en integriteit ingevolge handelinge, besluite en optrede, met verrekening van konteks, tradisie en agtergrond
  9. proporsionaliteit van politieke en ander handelinge betreffende die aard en erns van die kwessie(s) ter sprake
  10. die aanwesigheid van ’n uitgebreide stel waardes en norme, onder meer integriteit, verantwoordbaarheid, aanspreeklikheid, deursigtigheid, effektiwiteit, bevoegdheid, en ’n bydrae tot die spreekwoordelike “common good”, oftewel gemeenskaplike welstand.

Bogenoemde waardes en norme, asook ander aspekte wat met sosiale verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid verband hou, word nie altyd duidelik verwoord nie, maar tog veronderstel, en is daarom wesenlik belangrik vir die suksesvolle funksionering en uitlewing van die regstaatidee.

Vergelyk Stern (1984) vir sy uitgebreide ontleding van die toepaslike kenmerke van die Rechtsstaat en die toepassing daarvan.8

Ten opsigte van die staatkundige aspek was ’n sterk funksionele staat, aldus Weber (1964), dikwels vanuit ’n staatsbeskouing veronderstel. Dit was eers teen die vroeë 1960’s (te midde van die tweede golf van demokratisering/dekolonisasie) dat Huntington se baanbrekersbydrae Political development and political decay (1965), en die daaropvolgende werk Political order in changing societies (1968), die aandag op ’n sterk funksionerende staat en staatkundige bestel gevestig het as belangrike grondslag vir die werking en funksionering van demokratiese praktyke, en die grondbeginsels van die regstaatidee soos hier bo uiteengesit.

In teenstelling met die meerderheid nuwer state het die ouer state (lees Wes-Europese state) dikwels ’n lang militêre tradisie gehad as uitkoms van oorloë wat dekades geduur het. Teen hierdie agtergrond het die staat geskiedkundig beslag gekry. Funksionele en oorheersende stelsels, dikwels van militêre oorsprong en aard (vergelyk Nelson 2014:634–5), het telkens die grondslag gevorm om die mens se behoefte aan orde, stabiliteit en sekerheid te huisves.9 Sodoende is ’n effektiewe en funksionele grondslag geskiedkundig gevestig, waarop nasiestate in veral Wes-Europa beslag gekry het. Brittanje, Pruise (later Duitsland), Frankryk, Spanje en Nederland het leidende rolle vertolk. Die meerderheid van nuwe state is daarenteen dikwels ekstern geskep en soms saamgevoeg deur eksterne prosesse waarin vorme van imperialisme, veral kolonisasie, dikwels prominent was (Migdal 1988:3–9). Bogenoemde dien as normatiewe raamwerk en agtergrond. Die klem verskuif nou na die Suid-Afrikaanse staatkundige bestel en die funksionering van die regstaatidee soos vervat in die 1996-Grondwet.

 

5. Die Suid-Afrikaanse staat en die regstaatidee

Met die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse staat in 1910 (De Zuid-Afrika Wet van 1909), was die nuwe staatkundige orde ’n samevoeging van gekompliseerde agtergronde, geskiedenisse en identiteite, wat Britse koloniale gebiede, Boererepublieke (altesame 16 sedert die Groot Trek) en ’n verskeidenheid tradisionele strukture en selfs eertydse koninkryke ingesluit het. Dit was die tipiese omstandighede wat Migdal (1988:3–45) beskryf het as ’n omgewing waaruit swak state sou kon ontwikkel. Geskiedkundig gevestigde koloniale praktyke, tesame met die toepassing van apartheid, het ’n politieke patroon van segregasie – groot en klein apartheid – tot gevolg gehad wat lynreg gebots het met die integrerende kragte van dramatiese ekonomiese groei en ontwikkeling wat onafwendbaar na uniewording gevolg het en wat daartoe gelei het dat Suid-Afrika die mees ontwikkelde land op die vasteland geraak het. In die dekades na 1910 is kragdadig gebou en ontwikkel aan ’n verskeidenheid bekwaamhede in die Suid-Afrikaanse staat, waarvan die totstandkoming van Eskom, Yskor, Sasol en ander toonaangewende nywerhede goeie voorbeelde was. Ekonomiese groei en ontwikkeling was aan die orde van die dag, danksy betreklike politieke stabiliteit, die uitbouing van infrastruktuur en sterk en goeie internasionale verhoudings met sleutelspelers. Suid-Afrika kon in hierdie tydperk in belangrike opsigte wêreldwyd meeding.

Die toenemende aandrang op dekolonisasie na die Tweede Wêreldoorlog, asook die spreekwoordelike “winde van verandering”, het veral sedert die 1960’s ’n ander weg vir Suid-Afrika aangedui. Binnelandse politieke onstabiliteit soos in Sharpeville (1960) en Soweto (1976) beleef; verskeie noodtoestande in die 1980’s, in samehang met internasionale boikotte en isolasie; ’n snel veranderende demografiese situasie; asook die bevrydingstryd, het ’n politieke en staatkundige krisis binne Suid-Afrika laat ontstaan. Die Suid-Afrikaanse staatsbestel van die 1980’s het ’n onvermoë getoon om aan sy kernfunksie te voldoen, naamlik die handhawing van ’n openbare regsorde in algemene belang. Die staatkundige bedeling het verval in ’n soort magstaat, in stand gehou deur veiligheidswetgewing, noodtoestande en vorme van praetorianisme. (Vergelyk Frankel 1984 m.b.t. die sekurokratisering van die Suid-Afrikaanse politiek tydens die 1980’s.) Deur ’n proses van onderhandelinge (KODESA 1, KODESA 2 en die Veelpartykonferensie) is geskilbeslegting bereik. Die Nasionale Akkoord het tot stand gekom. Die tussentydse grondwet en eerste demokratiese verkiesing van 1994 het daaruit voortgespruit. Vanuit hierdie onderhandelde skikking en politieke oorgang is die 1996-Grondwet demokraties gefinaliseer (vergelyk Slabbert 2006:43–61).

Die 1996-Grondwet word soms voorgehou as een van die beste geskrewe grondwette ter wêreld en steun swaar op liberale en sosiaal-demokratiese beginsels. Malan (2019:47–63) verwys egter na hierdie interpretasie van die Grondwet as “statist-individualist constitutionalism”, met kenmerke soos die oppergesag van die grondwet en reg; verteenwoordigende regering volgens demokratiese beginsels; beperkte regering en die trias politica, en verantwoordbare regering met erkenning en beskerming van verskeie burgerlike regte en vryhede ooreenkomstig ’n Handves van Regte. Hoewel Malan (2019) krities reflekteer op die grondwetlike bedeling op grond van sy beskouing van “statist-individualistic constitutionalism” (groepsregte en belange word nie binne die huidige grondwetlike model verdiskonteer nie), gebruik hierdie ondersoek, anders as Malan, die raamwerk as uitgangspunt vir beoordeling en strategiese ontleding.

Die sogenaamde Hoofstuk 9-instellings soos die Openbare Beskermer, Menseregtekommissie, die ouditeur-generaal, die Verkiesingskommissie, asook instellings wat taal- en kultuurregte beskerm, kan beskou word as pogings om terughoudende of verlangsamende meganismes en teenwigte in te bou ter beskerming van demokraties gefundeerde praktyke (vergelyk Malan 2019:47–63). Ten minste teoreties kan geredeneer word dat kernaspekte van die regstaatidee en konstitusionalisme in die 1996-Grondwet neerslag gevind het, en dat die Suid-Afrikaanse Grondwet teoreties as ’n regstaat kwalifiseer.10

Artikel 1 van die 1996-Grondwet definieer die waardegrondslag van die Grondwet soos volg:

Die Republiek van Suid-Afrika is een, soewereine, demokratiese staat gegrond op die volgende waardes:

a) Menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede.
b) Nierassigheid en nieseksisme.
c) Die oppergesag van die grondwet en die heerskappy van die reg.
d) Algemene stemreg vir volwassenes, ’n nasionale gemeenskaplike kieserslys, gereelde verkiesings en ’n veelpartystelsel van demokratiese regering, om verantwoordingspligtigheid, ’n responsiewe ingesteldheid en openheid te verseker. (Grondwet 1996)

Toonaangewende kenners van die regstaat, onder wie Francois Venter, Lourens du Plessis en Marinus Wiechers (met uitgangspunte wat versoenbaar is met konstitusionalisme), beoordeel die Suid-Afrikaanse Grondwet as die beliggaming van die regstaatidee, soos hier bo beskryf en van toepassing gemaak op die Suid-Afrikaanse konteks (Nelson 2014:639–40). Nelson (2014:628–60) gebruik sewe operasionele kriteria om die stand van die regstaatidee na 20 jaar (2014) te beoordeel, naamlik die oppergesag van die Grondwet; magskeiding; die onafhanklikheid van die regbank; die beskerming van fundamentele regte en vryhede; regsoewereiniteit; administratiewe geregtigheid; en meetbare, voorspelbare en berekenbare regeringsoptrede.11

Met die 1996-Grondwet as politieke raamwerk vir die gesaghebbende toewysing van waardes en skaars middele is ’n nuwe tydvak in die Suid-Afrikaanse politiek betree. Eiesoortige uitdagings vir die Suid-Afrikaanse staat en die regstaatidee (soos vervat in die 1996-Grondwet) het die nuwe fase ingelui. Hieraan word vervolgens aandag gegee, wat as grondslag moet dien vir die beoordeling van die stand van die regstaat in Suid-Afrika teen 2022.

 

6. Patrone en tendense in die Suid-Afrikaanse politiek

In ’n artikel getiteld “Suid-Afrika by ’n kantelpunt – ’n slegte-saak-scenario?” (Duvenhage 2020a) word geredeneer dat ’n kombinasie van polities-staatkundige, ekonomiese en sosiomaatskaplike faktore die land by ’n kantelpunt gebring het, met verreikende gevolge op alle vlakke.12 Kantelpunt-politiek word só deur Clem Sunter (in Cronje 2017:9) opgesom: “[…] South Africa is at a tipping point where small random events can have a major effect on the system as a whole because of all the feedback loops contained in the system reinforcing one another and producing extreme results.”13

Die kernfokus van die huidige ondersoek is om te bepaal of die ideale verbonde aan die regstaatidee, soos vervat in die 1996-Grondwet, steeds verwesenlik word en of dit volhoubaar kan wees te midde van die politieke en staatkundige omstandighede wat tans geld, in besonder patrone van politieke en institusionele verval. Met ander woorde, kan die staat ’n openbare regsorde in algemene belang handhaaf binne ’n omgewing van institusionele en politieke verval? Ten einde hierdie doel te kan bereik, word ’n situasie-ontleding van die stand van die regstaat in Suid-Afrika (ook bekend as empiriese staat) vervolgens uitgevoer. Daar word gefokus op die betrokke situasie-ontledings.

 

7. Die empiriese staat in Suid-Afrika versus die regstaatidee

Hierdie gedeelte laat die klem val op die empiriese staat in teenstelling met die normatiewe staat – dit wil sê die harde werklikhede teenoor die ideale situasie, normatief beoordeel. Die empiriese staat word geïntegreerd ontleed ten opsigte van die onderskeidende vlakke van staat, owerheid en regering, maar op grond van ’n samehangende geheel.

Met regering (in teenstelling met die groter owerheid) word bedoel die besluitnemende politieke elite; in Suid-Afrika verteenwoordig deur die ANC (en sy bondgenote), wat posisies van politieke mag in die staat beklee. Dit is grootliks, hoewel nie uitsluitlik nie, die groepering wat hulle mag in ’n demokratiese verkiesing kan verloor. Die ontleding van die krisis in Suid-Afrika is daarop gerig om die botsing met regstaatbeginsels te beklemtoon, en nie bloot ’n algemene ontleding te verskaf van die krisisse binne die Suid-Afrikaanse konteks en gepaardgaande uitdagings nie.

7.1 Die ondermyning van konstitusionele regering

Binne die konteks van die regstaat (ook voorgehou as ’n konstitusionele demokrasie) is die grondwet oppermagtig en geld die beginsel van “rule of law”, soos vroeër beklemtoon. Malan (2019:3) wys nietemin daarop dat “the so-called supremacy of the Constitution is in fact very tenuous, if not entirely groundless: the so-called supreme Constitution is subject to forces that often by far exceed the assumed potency of the supreme Constitution”. Volgens hom (2019:3–5) word waardes en norme eie aan die idee van konstitusionalisme (soos vervat in die Suid-Afrikaanse Grondwet asook die Handves van Regte) verwring, en kan die regbank ook nie deurentyd op onafhanklikheid aanspraak maak nie.14 Malan (2019:93–130) motiveer bogenoemde standpunt deur sekere sake te beklemtoon:

  1. Die vervanging van kwasifederale beginsels met vorme van demokratiese sentralisme (demokratiese sentralisme van die dominante, hegemoniese ANC wat kwasifederale beginsels, soos vervat in die Grondwet, ondermyn; vergelyk ook Gumede 2005:305).
  2. Die totstandkoming van ’n hibriede stelsel wat mag en besluitneming wegneem van grondwetlike instellings en dit vestig by individue en/of ander kwasi-instellings wat buite grondwetlike raamwerke funksioneer. Die rol van die ANC as dominante hegemoniese party moet in hierdie verband verreken word.
  3. Kaderontplooiings en patronaatskappe binne staat- en owerheidstrukture, met inbegrip van die regbank en verwante instellings wat besluitneming fasiliteer. Hierdie aspek word tans ondersoek gegewe die bevindinge van die Zondo-kommissie.
  4. Die onvermoë om orde, stabiliteit en veiligheid te verseker as gevolg van onder meer die onderprestasie van die strafregstelsel in die algemeen en die Nasionale Vervolgingsgesag in die besonder.
  5. Die verdraaiing en herinterpretasie van belangrike grondwetlike konsepte om eie betekenis en inhoud daaraan te gee, gelei deur die ideologie van transformatisme (lees die NDR).15
  6. Diskriminerende praktyke en verbandhoudende wetgewing teen minderheidsgroepe, voortspruitend uit verteenwoordigendheid as norm, soos afgelei en toegepas vanuit ’n transformatiewe raamwerk.16
  7. Die omarming van botsende ideologiese raamwerke soos sosialisme en ubuntu, wat nie noodwendig met grondwetlike waardes in ooreenstemming is nie.
  8. Die ondermyning van gelyke taalregte ongeag dít wat grondwetlik erken word.

Anders as Nelson (2014:658–60), wat positief reflekteer op die stand van regsoewereiniteit (“rule of law”) en die oppermagtigheid van die Grondwet, toon Malan (2019:93–130), Curlewis (2022) en andere (soos genoem) op ’n substantiewe en geverifieerde wyse aan dat bogenoemde tans ernstig onder verdenking is en dat die situasie sedert 2014 ongetwyfeld agteruitgegaan het. Die huidige politieke, ekonomiese en maatskaplike situasie in Suid-Afrika is gevolglik in direkte botsing met die gestelde normatiewe eis, waarvolgens die staat ’n openbare regsorde in algemene belang (meer as net meerderheidsbelang, dit wil sê ook die belange van minderhede) moet en kan handhaaf.

Een van die uitkomste ooreenkomstig Malan (2019:93–130) se kritiek is dat ’n ander grondwet (naas die Grondwet), tot stand kom, met as uitkoms ’n hibriede staat, wat beskryf kan word as ’n rasse-oligargie met elemente van demokrasie wat ingebou is. In sommige opsigte is daar selfs sprake van ’n parallelle staat, waarin ander samelewingsterreine vanuit die burgerlike samelewing take van die staat, onder meer veiligheid en sekerheid, asook dienslewering, oorneem en bestuur.

Op die vlak van die empiriese staat is ’n uitkoms van bogenoemde ’n parallelle staat waar burgers wat binne ander samelewingsterreine gevestig is (kerk, skool, universiteit en burgerlike instellings), grondwetlik toegewysde take van die staat oorneem of gedeeltelik oorneem, onder meer veiligheid en sekerheid (die eskalering van die privaat veiligheidsbedryf), gemeenskapsgedrewe dienslewering (soos die instandhouding van infrastruktuur en dienslewering), maatskaplike opheffing deur organisasies (Helpende Hand en Gift of the Givers), ensovoorts. Bogenoemde voorbeelde dui op staatstrukture wat toenemend ’n onvermoë toon om hul grondwetlike mandaat te kan vervul en daarom nie uitvoering kan gee aan die ideale verbonde aan dít wat met ’n konstitusionele demokrasie of regstaat geassosieer word nie. Hierdie onvermoë bots lynreg met die waardes en norme wat veronderstel word en die wyse waarop beslag daaraan gegee moet word binne die konteks van die regstaatidee. Dit beteken dat die algemene belang van die burgery, soos vroeër beskryf, nie verwesenlik word nie, wat bydraend is tot politieke onstabiliteit en burgerlike verset. Die huidige Eskom-uitdaging is ’n verdere voorbeeld in hierdie verband.

’n Belangrike, hoewel nie die enigste, verklaring vir hierdie konstitusionele problematiek is die radikale ideologiese oriëntasie soos vervat in die ideologie van transformasie (transformatisme), voortspruitend uit die Nasionale Demokratiese Revolusie- (NDR-) idee. Hierdie revolusionêre ideologie met sy beklemtoning van staatsabsolutisme, demokratiese sentralisme, staatsbeheer oor produksiefaktore en die miskenning van die onderskeid tussen die terrein van die staat en dié van die burgerlike samelewing, is in belangrike opsigte in stryd met die konstitusionele demokrasie of regstaat en die waardes en norme wat daaraan verbonde is. Hierdie belangrike aspek word vervolgens meer breedvoerig behandel.

7.2 ’n Radikale ideologiese oriëntasie

As die oudste revolusionêre beweging op die Afrika-vasteland, verwoord die denkbeeld van die NDR die onversetlike kern van die ANC se ideologie. Dit verwys na “[…] a process of struggle that seeks to transfer power to the people and transform society into a non-racial, non-sexist, united, democratic one that changes the manner in which wealth is shared, in order to benefit all the people” (Strategy and tactics 2012:21). Die uitgangspunt is dat Suid-Afrika onder apartheid “colonialism of a special kind” verteenwoordig het en dat die land se koloniale en apartheidsgeskiedenis deur ’n program van radikale politieke, ekonomiese en sosiale transformasie verander moet word om bogenoemde uitkomste te weerspieël.17 Hierdie ideologiese raamwerk, waarin die party bo die staat verhef word en ’n onaantasbare status bekom, tesame met sy uitgebreide rol binne die samelewing en die pogings om produksiefaktore (soos grond, kapitaal, arbeid en onderneming) te beheer, bots soms lynreg met dít wat binne die raamwerk van ’n regstaatlike staatsbeskouing veronderstel word.

Hierdie denkpatroon, onder meer veranker in Marxisties-Leninistiese en ander radikale beskouings, onderskei drie fases van die revolusie, naamlik politieke beheer (bewerkstellig beheer oor die regering asook die owerheid/regime); ekonomiese transformasie (staatsbeheer oor produksiefaktore); en sosiale transformasie, met billikheid/gelykheid vir alle burgers op alle vlakke as uitkoms.18 Die bydraes van laasgenoemde beteken die bereiking van die ideale toestand, soos met ’n kommunistiese of sosialistiese heilstaat (vergelyk ANC 2017:1–5) geassosieer. Transformasie is hiervolgens die wyse waarop die ideale van die NDR binne die Suid-Afrikaanse konteks uitgevoer en verwesenlik moet word. Dit word toegepas deur onder meer die daarstelling van verteenwoordigendheid binne instellings, vorme van swart bemagtiging, en planne om groter gelykheid te bevorder. Die ideaal van verteenwoordigendheid word grondwetlik vervat ingevolge artikels 174(2), 193(2) en 195(1)(i), wat onderskeidelik fokus op rasse- en geslagtelike samestelling van instellings; die totstandkoming van kommissies om ras- en geslagsgelykheid te bevorder; en die daarstelling van norme om die staatsadministrasie verteenwoordigend te kry (vergelyk Malan 2010:427–49 vir ’n uitgebreide ontleding van die gelykheidsbenadering as uitkoms van transformasie, grondwetlike en wetlike riglyne in hierdie verband, asook meganismes (instellings) wat hierdie ideaal moet afdwing en bevorder).

Revolusie dui op die gewelddadige verandering van ’n bestaande regime, waarteenoor transformasie “revolution from above” veronderstel.19 Daarvolgens moet noodsaaklike ekonomiese en sosiale verandering deur middel van die staat en onder die leiding van die voorhoede-party (lees die ANC) bewerkstellig word. Uitgebreide vorme van sosiale en politieke ingenieurswese (genieëring) word veronderstel ten einde die revolusionêre ideaal inslag te laat vind.20 Ooreenkomstig hierdie denkpatroon is die Grondwet van 1996 ondergeskik aan die ideale van die NDR, asook aan voortspruitende transformatiewe praktyke. Die nastrewing van die ideale van die NDR moet binne die Suid-Afrikaanse konteks (polities, ekonomies en maatskaplik) plaasvind. Dit lei tot direkte en daadwerklike ondermyning van die idee van grondwetlike regering, konstitusionalisme en die oppergesag van die reg, soos vroeër gekoppel aan die regstaatidee en die beskouing onderliggend daaraan. Malan (2019:93–130) gebruik terme soos “transformationism” en “re-racialisation” om hierdie denkpatroon en die toepassing daarvan te omskrywe. Die ANC en Luthuli-huis word, ooreenkomstig hierdie ideologiese siening, soms bo die reg verhef, soos die ondersoek na staatskaping getoon het en waarvolgens talle invloedryke ANC-lede heel dikwels nie tot verantwoording geroep is nie. Die name Gwede Mantashe, Brian Molefe, Thabang Makwetla en talle ander, soos geïdentifiseer in die Zondo-ondersoek (vergelyk Democratic Alliance 2023), beklemtoon dat die status en invloed van die party soms nieverantwoordbaarheid voor die reg impliseer. Sodanige verantwoordbaarheid, ’n kerneienskap van ’n regstaat, is afgewater en soms volledig geïgnoreer. Dit was veral waar tydens die Zuma-era, maar het verbeter tydens Ramaphosa se presidentskap, waartydens onder meer Ace Magashule, Jacob Zuma en andere tot verantwoording geroep is.

7.3 Nieverantwoordbaarheid

Die begrippe verantwoordbaarheid en aanspreeklikheid is kernboustene van die regstaatidee. Verantwoordbare regering beteken in hierdie opsig “a government that is answerable or accountable to an elected assembly and, through it, to the people” (Heywood 2002:430). Voorbeelde van nieverantwoordbaarheid is nie net beperk tot die regering nie, maar raak die hele owerheidstelsel, met plaaslike regering as goeie voorbeeld daarvan.21 Tussen 80% en 90% van plaaslike regerings het ’n onvermoë om dienste ooreenkomstig die vereistes van die Grondwet te lewer, tot so ’n mate dat talle plaaslike regerings besig is om in duie te stort. Tussen 1998 en 2018 was daar sowat 140 ingrypings deur provinsiale regerings ooreenkomstig artikel 139(1)(a), (b) en (c), om sukkelende munisipaliteite van ondergang te probeer red (Ledger en Rampedi 2019). Hiervan was 43 in Noordwes en 40 in KwaZulu-Natal. In Noordwes alleen is agt munisipaliteite op 22 Augustus 2018 ingevolge artikel 139(1)(a) en (b) onder administrasie geplaas, en in Mei 2019 ’n verdere sewe munisipaliteite – bykans twee derdes van alle munisipaliteite in die betrokke provinsie (COGTA 2019). Hoewel opvallend in Noordwes, is dit ook ’n nasionale patroon wat voorkom, met slegs die DA-beheerde Wes-Kaap wat telkens as algemene uitsondering aangedui kan word. Bykans sonder uitsondering was die ingrypings boonop onsuksesvol en het die meeste munisipaliteite ongeag die ingrypings nog verder agteruit geboer – soos die situasie in Noordwes by uitstek demonstreer (Mokgoro 2018; Kekana 2019).

Die 2019/2020-verslag van die ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, beklemtoon dat sowat R186 miljard oor die laaste dekade uit rekeninge van ANC-beheerde munisipaliteite verdwyn het of onreëlmatig bestee is, sonder om (op enkele uitsonderings na) skuldiges aanspreeklik te hou. In die boekjaar 2019/20 was daar onreëlmatige uitgawes van R26 miljard; net 27 van die 257 munisipaliteite het skoon oudits ontvang, en die situasie is in die algemeen besig om eerder te versleg as te verbeter (SA-Radio.com 2021). Grondliggende redes (soos uitgewys in die verslag) sluit in gebrekkige aanspreeklikheid en verantwoordingdoening; die Parlement en Nasionale Raad van Provinsies wat nie hulle oorsigrolle en -funksies vervul nie; en gebrekkige kapasiteit (lees kaderontplooiings). Laasgenoemde het onder meer te make met die onoordeelkundige toepassing van transformasie ingevolge wetgewing wat met swart bemagtiging en egaliteit te make het. Dit is interessant dat een van die bevindinge van die Zondo-kommissie was dat kaderontplooiing instrumenteel was tot praktyke wat met staatskaping verband gehou het. Hierdie praktyk word tans nasionaal (deur Suid-Afrikaanse howe op aandrang van Solidariteit) en internasionaal (deur die Verenigde Nasies se tribunaal vir rekonsiliasie) ondersoek as praktyke wat diskriminasie bevorder.

Met provinsiale bedelings wat boonop toenemend wankelrig voorkom (Limpopo in 2012; Noordwes op die oomblik; en krisisse wat besig is om in die Oos-Kaap en die Vrystaat te ontwikkel), het die nasionale regering hom onlangs beroep op artikel 100(1)(b) van die Grondwet. (Artikel 100 maak onder andere voorsiening vir ingryping deur die nasionale regering in ’n provinsie wanneer die betrokke provinsiale regering nie in staat is om sy regeerverpligtinge te kan vervul nie.) Hiervolgens sal die uitvoerende gesag (lees president, sy adjunk en kabinet) verantwoordelikheid aanvaar vir provinsies wat nie in staat is om, ooreenkomstig die vereistes soos gestel deur die 1996-Grondwet, basiese en noodsaaklike dienste te lewer nie. ’n Wetsontwerp genaamd die Intergovernmental Monitoring, Support and Intervention Bill (2021) word tans in die parlement voorberei om hierdie ingryping te fasiliteer na aanleiding van die inploffing en mislukking van provinsiale regering; ’n poging om hierdie problematiek beter te bestuur en te reguleer.22 Wesenlik kom dit neer op ’n vorm van demokratiese sentralisme deurdat demokraties verkose plaaslike instellings onderhewig is aan ingryping van bo. Hierdie praktyk bots direk met dít wat deur die regstaatidee en sy onderliggende staatsbeskouing veronderstel word.

Daar kan heelwat op die regeringskrisis uitgebrei word deur ’n bespreking van elite-konflikte, hofsake en die talle gevegte wat op soveel fronte woed, waarvan die uitgebreide getuienis voor die Zondo-kommissie by uitstek getuig. Die idee van konstitusionele regering, konstitusionalisme en die oppergesag van die reg word soms ondergrawe ten einde magsposisies te beskerm, soos die talle hofsake van party-elites bewys. Regsprosesse word soms doelbewus ondermyn (bv. die sogenaamde Stalingrad-strategie van leiers soos Zuma, Magashule en Mahumapelo), terwyl die regeerkundige oorsigfunksie van instellings soos die Nasionale Vergadering, Nasionale Raad van Provinsies (NRP), kabinet en presidensie veel te wense oorlaat. Dit word duidelik waargeneem deur die vlakke van politieke en institusionele verval op plaaslike, provinsiale en ander vlakke te beskou, inbegrepe die toestand waarin die meeste semistaatsinstellings hulle bevind, soos vroeër aangedui.

Die situasie ten opsigte van gebrekkige bestuursoorsig rakende instellings soos Eskom, SAUK, Land Bank, Transnet en andere is sprekende voorbeelde van die ondermyning van regeerkundige faktore wat met gesonde regstaatpraktyke verband hou. So byvoorbeeld is swak korporatiewe en algemene bestuur en instandhouding, korrupsie binne Transnet en PRASA, asook vandalisme en diefstal, daarvoor verantwoordelik dat Suid-Afrika se eens wêreldklas spoorwegstelsel op die rand van totale ineenstorting staan. Daar loop tans agt keer minder treine tussen Durban en Johannesburg in vergelyking met gedurende die 1950’s; slegs 30% van alle passasierspoorlyne is tans diensbaar; en net 11% van alle spoorlyne is funksioneel (De Lange 2021:1). Hierdie aspek beklemtoon die ernstige probleme ten opsigte van meetbare, voorspelbare en berekenbare regeerkundige oorsigfunksie soos geassosieer met demokratiese praktyke en die konsolidasie daarvan, soos ook deur Nelson (2014:660) uitgewys.

Uit bogenoemde getuienis blyk dit duidelik dat die regering nie altyd aanspreeklikheid aanvaar ten opsigte van die Grondwet en die burgery nie, terwyl die leierskap boonop dikwels verbind is tot die uitlewing en wettiging van radikale ideologiese waardes en norme as beleidsraamwerke. Die NDR en sy toepassing ingevolge transformasie is wesenlik in stryd met die regstaatidee en die norme ontleen aan konstitusionalisme. Vandaar Malan (2019) se gebruik van “grondwet” eerder as “Grondwet” om regeringsoptrede en handelinge te verklaar. Uitgebreide endemiese korrupsie tot op die vlak van staatskaping (vergelyk Merten 2019) dui ook op gebrekkige aanspreeklikheid en die ondermyning van die begrip verantwoordelike regering – ’n belangrike norm binne die raamwerk van die regstaatbeskouing.

Die regeringskrisis is werklik net die puntjie van die ysberg, en die groter problematiek word op owerheids- en staatkundige vlakke aangetref, wat vervolgens aandag geniet.

 

8. Die krisis van staat en owerheid

Die staat word in hierdie artikel as makroraamwerk beskou (grense, bevolking, owerheid en soewereiniteit), met die owerheid (regering of, ietwat negatief gestel, regime) as onderdeel van die staat, hoewel heelwat groter as die regerende elite. Die norm, soos vroeër gestel, dat die staat ’n openbare regsorde in algemene belang moet handhaaf, is nie haalbaar binne die raamwerk van ’n verswakkende staat nie. Die kwessie van ’n verswakkende staat is reeds behandel en dit is duidelik dat Suid-Afrika ooreenkomstig die gestelde kriteria kenmerke toon wat wissel van ’n sagte staat (korrupsie en deurdringbare grense); ’n swak staat wat sukkel om behoorlike landsbestuur toe te pas (plaaslike/provinsiale regering, infrastruktuur-instandhouding, die verval van semistaatsinstellings); tot ’n staat waarvan die soewereiniteit bedreig word. Laasgenoemde verwys na die onvermoë van die staat om die sekerheid en veiligheid van sy burgers te verseker, soos duidelik blyk uit hoë vlakke van misdaad, onstabiliteit, protes en geweld, asook vorme van vigilantisme, xenofobie en onwettige mynbedrywighede (deur zama zamas en dergelike ander sektore van georganiseerde misdaad), waar die reg in eie hande geneem word.23 Met die regstaatidee as grondliggende uitgangspunt beklemtoon dit weer eens die onvermoë van die staat om ingevolge ’n stel waardes, norme en etiese oorwegings, soos onder meer in die Grondwet vervat, ’n openbare regsorde in algemene belang te handhaaf.

Die klem val vervolgens op die owerheid, die krisis in hierdie verband, en veral drie sake word beklemtoon, naamlik korrupsie en staatskaping; patrimonialisme en neopatrimonialisme; en ’n onvermoë om dienste te lewer ooreenkomstig die voorskrifte en bepalings van die Grondwet en wetgewing wat daaruit voortspruit.

8.1 Staatskaping en korrupsie

Korrupsie beteken die misbruik van mag/gesag (staats- of openbare mag) om private voordeel (hoe ook al gedefinieer) te bekom (vergelyk Snyman 2008:411). Staatskaping is ’n endemiese en sistemiese vorm van korrupsie waarin private belange op ’n georganiseerde wyse besluite van die regering (ook die regime of owerheid) beïnvloed en selfs oorneem tot die voordeel van beide partye. Formele owerheids- en regeringsprosesse en -prosedures (wette/norme en konvensies) word deur netwerke en patroonaatskappe (soms patrimoniaal en neopatrimoniaal) gemanipuleer tot die voordeel van private en regeringsbelangegroepe (vergelyk Duane 2017).24 Die Zondo-kommissie van Ondersoek se mandaat was “[to] investigate allegations of state capture, corruption, fraud and other allegations in the public sector including organisations of state”.

Die Zondo-kommissie van Ondersoek het sowat 3 171 dagvaardings beteken, 300 getuienisse aangehoor en 8 655 530 bladsye van dokumentasie en getuienis hanteer voordat die finale verslag (nadat die termyn verskeie kere verleng is) tydens Junie 2022 gefinaliseer is.25 Die verslag het 1 438 persone (waarvan sommige senior en invloedryke politici is) geïmpliseer en het uiterste endemiese korrupsie blootgelê (Democratic Alliance 2023:1–3). Die Daily Maverick het byvoorbeeld bereken dat die waarde van staatskaping enigiets van R500 miljard tot R1,5 triljoen beloop, en name soos Jacob Zuma, Gwede Mantashe, Brian Molefe, Malusi Gigaba en Nomvula Mokonyane het prominent voorgekom (Democratic Alliance 2023:2).

Hoewel verskeie invloedryke politici en individue, instellings en optredes ondersoek is, byvoorbeeld die rol van die Gupta-familie en hulle belange; korrupsie in plaaslike regering; die SAUK; Eskom; Denel; en verskeie staatsagentskappe, was dit die getuienis ten opsigte van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) wat die kroon gespan het. Benewens die sowat R8 miljard van die vaste beleggings van die instelling wat verlore gegaan het, is daar ook sowat R125 miljard van die 2017/18-begroting wat vermis word, soos geblyk het uit die getuienis van die waarnemende direkteur-generaal van die instelling, Loyiso Jafta. Uit die getuienis ten opsigte van die SVA het geblyk dat media-instellings misbruik is om die negatiewe beeld van Zuma, die SSA en die ANC onregmatig positief te bevorder; dat miljoene rande tussen 2015 en 2017 in die persoonlike rekening van Jacob Zuma inbetaal is; dat fondse gebruik is om opponerende faksies binne die ANC te ondermyn, veral ten opsigte van die 2017- Nasionale Konferensie van die ANC; dat fondse beskikbaar gestel is vir die verkiesingsveldtogte van die ANC; en dat opponerende burgerregtegroepe ondermyn is en daar op hulle gespioeneer is. Die ondermyning van die strafregstelsel ten opsigte van die uitvoering van hulle pligte, in verband waarmee lede van die staatskapingselite (Zuma ingesluit) vooronderstel is, het ook aan die lig gekom (Thamm 2021; BusinessLIVE 2021).

Korrupsie, endemiese korrupsie tot op die punt van staatskaping, ondermyn die wesenskern van die regstaatgedagte soos hier uiteengesit. Dit raak onder meer die kwessie van die skeiding van staatsmagte en uitvoerende rolspelers van binne die regerende party wat hul posisies vir eie gewin misbruik. Hierdie toedrag van sake dui op ’n onvermoë van die owerheid en staatsorgane om die eis van ’n openbare regsorde in algemene belang vir die burgers te verseker, en druis in teen die grondbeginsels van die regstaatidee en die moreel-etiese grondslag wat hier veronderstel word. Trouens, bogenoemde laat eerder reg geskied aan die standpunt van Johnson (2015:56), soos gestel: “The Zuma system resembled a medieval state in which the king or mafia don was owed fealty by mighty barons who paid him tribute and gave him political or military support if needed. Within their own baronies, the barons were almost absolute rulers, exacting tribute from those beneath them and exercising powers of patronage over lower-level appointments.” Hierdie akkurate beskrywing van die Suid-Afrikaanse situasie beklemtoon ’n tendens wat as patrimonialisme of neopatrimonialisme bestempel kan word. Dit druis wesenlik in teen dit wat hier bo as die begronding van die regstaatidee beskryf is. Hierdie aspek geniet nou verdere aandag.

8.2 Patrimonialisme en neopatrimonialisme

Patrimoniale gesag (persoonlik van aard) word onderskei van die staatlike reg volgens die bekende Weberiaanse onderskeid. Eersgenoemde definieer ondermynende magsbasisse buite die raamwerk van die staat en die grondwetlike strukture wat daarmee gepaard gaan. Ten opsigte van patrimoniale gesag is die koning (“strongman”/ “supremo”) verhewe bo die reg, en die uitgangspunt is “the king can do no wrong”. Bratton en Van de Walle (1997:1–11) beklemtoon hierdie tendens en wys ook op die uitgebreide voorkoms van patrimonialisme in talle Afrikastate. Daarenteen is neopatrimonialisme ’n hibriede stelsel waarvolgens patrimoniale praktyke in samehang met rasioneel-wetlike praktyke funksioneer, met laasgenoemde dikwels ondergeskik aan eersgenoemde. Hierdie onderskeiding stem ooreen met Malan (2019) se onderskeid tussen “Grondwet” (normatiewe staat gebaseer op wetlik-rasionele gesag) en “grondwet” (wat die kompromie impliseer – neopatrimonialisme). Patrone van veral neopatrimonialisme was tydens die Zuma-era opvallend aan die orde, en het die grondslag gelê vir endemiese en institusionele korrupsie, waarna vroeër as staatskaping verwys is. Hierdie praktyke is nie net korrup van aard ten opsigte van die regering nie, maar raak die breë owerheid en die staat as instelling. Die verklaring vir praktyke wat met die verswakkende staat (soos vroeër gedefinieer) in verband gebring word, is dikwels geleë in die bestaan van vorme van neopatrimonialisme en die uitspeel daarvan op die vlakke van die politiek en die ekonomie. Dit raak die staat as sodanig en moet daarom negatief inwerk op elke aspek van wat vroeër as die regstaatidee voorgehou is. Nelson (2014:657) erken immers ook dat toepassings wat met neopatrimonialisme en Zuma se “imperiale presidentskap” verband hou, regstaatlikheid ondermyn deurdat politieke handelinge moeiliker meetbaar, voorspelbaar en berekenbaar geword het. Die omvang van staatskaping en die betrokkenheid van staats- en semistaatsinstellings daarby, soos onlangs deur die Zondo-kommissie oopgevlek, beklemtoon hierdie toedrag van sake en die wyse waarop die regstaat daardeur suksesvol ondermyn is.

Met bogenoemde ontleding van die samehangende krisis op staatkundige, owerheids- en regeringsvlakke word ten slotte ’n kort perspektief gegee rakende sosio-ekonomiese omstandighede wat belangrik (en soms bepalend) kan wees vir die funksionering van die regstaat, veral die volhoubaarheid daarvan.

 

9. Ekonomiese en maatskaplike werklikhede van die Suid-Afrikaanse samelewing

Daar word dikwels, soms verkeerdelik, aanvaar dat die totstandkoming van demokrasie en die toepassing van wat as regstaatbeginsels voorgehou is, ’n goeie lewe ook op ekonomiese en maatskaplike vlakke beteken. Hierdie perspektief is myns insiens verkeerd; dit is meer korrek om sosio-ekonomiese en maatskaplike toestande as grondslag te beklemtoon vir die volhoubaarheid, institusionalisering en konsolidasie van demokratiese praktyke.26

’n Demokratiese bestel is soos ’n organisme wat net binne ’n bepaalde ekologie kan oorleef. Net so is sosiale stabiliteit en ekonomiese volhoubaarheid sonder uitsondering uiters belangrik en soms bepalend vir demokratiese konsolidasie. Faktore soos politieke stabiliteit; volhoubare ekonomiese groei en ontwikkeling; nasiebou; en sosiale en maatskaplike gelykheid blyk kernfaktore te wees vir die suksesvolle konsolidasie van demokratiese waardes. Enkele sake in die Suid-Afrikaanse samelewing wat op ’n teenoorgestelde scenario dui, word kortliks geïdentifiseer as motivering vir die argument wat pas gestel is, en as verdere bewyse van die broosheid van die regstaatidee in Suid-Afrika.

’n Lae ekonomiese groeikoers oor die afgelope dekade, toenemende skuld, ’n verkleinde belastingbasis. die vlug van kapitaal, deïndustrialisering, en die COVID-19-dinamika (asook die swak bestuur daarvan) laat talle ekonomiese rooi ligte flikker (Soobramoney 2017; Strachan 2017; Van den Groenendaal 2017; Turton 2019; Duvenhage 2020:145–56). Johnson (2015:161; 163; 175–92) het geruime tyd gelede reeds die krisis binne die Suid-Afrikaanse ekonomie korrek voorspel. Vandag bevestig talle syfers die aard en omvang van die krisis waarmee die land worstel. Enkele syfers om die erns van die situasie te beklemtoon, is onder meer lae ekonomiese groeikoerse oor die afgelope jare en verdere negatiewe vooruitsigte in hierdie verband; die verwagting van ’n soewereine skuldkrisis teen 2023/4 (Parsons 2020:1); en ’n reeds verkleinde belastingbasis met, volgens berekening, ’n verdere afname van 700 000 belastingbetalers teenoor die vorige jaar in die huidige finansiële jaar. ’n Inkrimping van sowat R302 miljard (Cameron 2020a; 2020b:1–2; Businesstech 2021:1) word vir die ekonomie voorspel, asook ’n verwagte verdere vlug van kapitaal na die buiteland – sowat R500 miljard is reeds oor die laaste vyf jaar in die buiteland belê (Heystek, in Cameron 2019).27 Volgens Schüssler (2020) oorbestee die staat tans sowat R60–R65 miljard per maand, wat die moontlikheid van ’n soewereine skuldkrisis, soos reeds deur Parsons geopper, beklemtoon.28 Die krisis in die mynbedryf en die vervaardigingsektor, asook patrone van deïndustrialisering, beklemtoon die omvang van ekonomiese agteruitgang en verval wat tans ter sprake is (Turton 2019; Johnson 2015:146–74). Die ekonomiese onderbou wat moet verseker dat politieke verwagtinge verwesenlik sal word, raak toenemend problematies, met die gevolg dat enkelinge en groepe binne die burgery vertroue in die stelsel verloor – al is sodanige vertroue volgens my buitendien misplaas, soos vroeër beredeneer.29 Met steeds vergrotende maatskaplike toelaes het die ANC-regering Suid-Afrika omskep tot een van die grootste welsynstate ter wêreld (vergelyk Jordaan 2021:12), maar met ’n ekonomiese onvermoë om aan steeds toenemende verwagtinge te voldoen. Weer eens dui dit op ’n onvermoë om ’n openbare regsorde in die belang van alle burgers volhoubaar te handhaaf.

Op sosiaal-maatskaplike vlak, soos op ekonomiese vlak, is die situasie ook allesbehalwe ideaal. Die geweldige en steeds groeiende sosiaal-maatskaplike probleme sluit die volgende faktore in: Armoede raak tans meer as 50% van die bevolking direk; Suid-Afrika het een van die mees ongelyke samelewings ter wêreld; werkloosheidsyfers skiet die hoogte in; meer as 17 miljoen mense is afhanklik van welsyns- en ander toelaes; ernstige behuisingstekorte heers; en uitdagings word toenemend aan ’n verswakkende staatsgesondheidstelsel gestel (vergelyk Duvenhage 2020:148–50; Cronje 2017:39–84; CEIC 2020; en Brink 2019 vir uitgebreide statistiek wat sosiale uitdagings binne die groter samelewing bevestig). Die amptelike werkloosheidsyfer volgens die beperkte definisie is tans 34,7% (die uitgebreide definisie dui op sowat 47%), met 12,5 miljoen mense werkloos, en 14,3 miljoen wat wel oor werk beskik, waarvan net 9,6 miljoen in die formele sektor is (Jordaan 2021:12). Antony Sguazzin (Eunomix – Business & Economics) waarsku tereg dat Suid-Afrika teen 2028 deel van die lae-middelklas-inkomstegroep in die wêreld gaan wees – ’n drastiese verswakking soos gemeet aan enkele dekades gelede (Jordaan 2021:12).

Ten slotte blyk dit duidelik uit die voorafgaande uiteensetting dat sosiale en ekonomiese toestande nie die soort ekologie/omgewing skep om die konsolidasie van demokratiese waardes en die vestiging van die regstaatidee en onderliggende beginsels te bevorder nie. Hierdie perspektief strook met Giliomee en Schlemmer (1994) se besorgdheid oor Suid-Afrika se “bold experiment” ten opsigte van demokratisering. Bogenoemde toestande gee trouens dikwels aanleiding tot magstate en vorme van praetorianisme. Laasgenoemde verwys na die inmenging van die militêre op die terrein van die politiek – dikwels in belang van orde, stabiliteit en sekerheid (vergelyk Huntington 1968:192–263 vir ’n verduideliking van praetoriaanse politiek en die opskorting van soms demokratiese proefnemings wat prominent was in die periode van dekolonisasie in veral Afrika en dele van die sogenaamde ontwikkelende wêreld). Hierdie tendens bots met demokratiese praktyke en regstaatideale, soos vroeër aangedui.

 

10. ’n Samevattende beoordeling van die stand van die Suid-Afrikaanse regstaat (2023)

Uitgaande van ’n staatsbeskouing gegrond op die regstaatidee, is ’n perspektief ten opsigte van regstaatlikheid ontwikkel op grond waarvan die regstaatidee en die konseptualisering daarvan beklemtoon is. Daarvolgens moet die staat ’n openbare regsorde in die algemene belang van die burgery handhaaf en veronderstel dit bepaalde regte, maar ook verpligtinge ten opsigte van beide owerheid en die burgery. ’n Kernvraag rakende die navorsing is of die regstaatidee in Suid-Afrika besig is om te misluk, en of praktyke wat hiermee geassosieer word tot niet gaan. Die bevindinge van hierdie navorsing (anders as dié van Nelson (2014:628–60) is dat daar ’n agteruitgang is ten opsigte van die toepassing van kriteria soos die oppergesag van die reg, skeiding van staatsmagte, die begrip regsoewereiniteit, administratiewe geregtigheid, en meetbare en voorspelbare regeringsoptrede.

Suid-Afrika is ’n betreklik “nuwe staat” (1910–2022), ver verwyder van die idee van ’n Weberiaanse sterk staat, en toon tans talle kenmerke soos geassosieer met verswakkende state. Suid-Afrika is volgens empiriese getuienis duidelik ’n staat met swak grensbeheer; beperkte handhawing van die soewereiniteitsbeginsel; ondoelmatige aanwending van hulpbronne; en swak regeerkundige praktyke, soos wat vroeër beredeneer is. In wese is Suid-Afrika een van die onveiligste woonplekke in die hedendaagse wêreld, en kan die veiligheid en sekerheid van sy burgery nie sonder meer gewaarborg word nie (Businesstech 2019a; Baxter 2020). Wesenlike veronderstellings vir ’n suksesvolle regstaat (of demokratiese owerheidsvorm), naamlik orde, stabiliteit, sekerheid en veiligheid, ontbreek binne die huidige konteks. Dit laat regstaatbeginsels, norme en veronderstellings kwesbaar in ’n omgewing van gebrekkige orde, stabiliteit en sekerheid, wat in sy uiterste vorm as ’n soort “staatloosheid” (die afwesige staat) beskryf kan word.

Samelewings- en ekonomiese toestande beklemtoon die ontwikkelingsgerigte aard van die Suid-Afrikaanse samelewing; die burgery se mate van afhanklikheid van owerheidsingrypings (eie aan die ontwikkelingstaatgedagte); vlakke van armoede en ongelykheid; talle ekonomiese en finansiële uitdagings; asook swak dienslewering, wat ernstig verskil van omstandighede in state waar die regstaatideaal suksesvol toegepas en gekonsolideer is. Hierdie geweldige uitdagings (verbandhoudend met ’n erg ontwrigte samelewing) beklemtoon die afhanklikheid van die samelewing van die staat (lees owerheid en regering), en die onderskeiding tussen die staatlike en die niestaatlike (soos by ’n regstaat veronderstel word) is nie duidelik en helder nie. Laasgenoemde is ’n kernvereiste vir enige demokratiese bestel. Veel eerder is hier sprake van ’n verknoeide verhouding (voorgehou as neopatrimonialisme en patroonaatskapsverhoudings), soos dikwels vergestalt in endemiese korrupsie en staatskaping, waarvan oorweldigende getuienis bestaan, soos ook hier aangedui.

Met betrekking tot die regstaatidee as owerheidsvorm is die volgende belangrik, soos in die navorsing aangedui.

Nieteenstaande die aanwesigheid van oënskynlik een van die beste grondwetlike dokumente ter wêreld, staan die regstaatidee in Suid-Afrika voor sy grootste uitdaging sedert 1994. Slegs ’n uitsonderlike en langdurige poging waarin staatsmanskap prominent is, sal kan bydra tot die vernuwing en herstel van demokratiese en grondwetlike praktyke. Herstel en vernuwing is nog nie onmoontlik nie, maar raak met inagneming van huidige tendense steeds moeiliker. Die uitgebreide en onbeheerde politieke geweld en plundery wat op die inhegtenisneming van Jacob Zuma gevolg het, asook die hofsake van Ace Magashule, verswakkende sosio-ekonomiese omstandighede en eskalerende misdaadsyfers (soos onlangs gepubliseer), beklemtoon die erns van die situasie en die uitdagings waarvoor die regstaat in 2021 te staan gekom het. Die Suid-Afrikaanse staat toon in vele opsigte ’n onvermoë om ’n openbare regsorde in algemene belang van sy burgers volhoubaar te kan handhaaf.

In ’n omgewing van institusionele en politieke verval van die staat is die tot niet gaan van die regstaatidee en samehangende demokratiese praktyke ’n werklikheid, en ’n scenario wat nie geïgnoreer kan word nie. Die moeilike maar beste weg onder hierdie omstandighede is die weg van politieke hervorming – die fundamentele hervorming van staat, owerheid, ekonomie en samelewing. Op die oog af ontbreek die leierskap en die politieke wil binne die ANC om juis hierdie roete te volg, en word die weg van staatsabsolutisme eerder nagestreef in ’n omgewing waar korrupsie hoogty vier en ’n regstelsel waarbinne die grondslag van die regstaatidee besig is om te misluk.

Soos F.W. de Klerk ’n politieke saak vir “grondwetlike hervorming” in die laat 1980’s gemotiveer het, waarin die regstaatidee as fundamentele uitgangspunt en norm gestel is, staan Cyril Ramaphosa en die ANC tans voor ’n soortgelyke maar duidelik nog veel groter stel uitdagings. Die pad van politieke hervorming (die heropbou van die staat, samelewing en ekonomie), met die regstaatidee as kompas, kan, soos in die verlede, weer rigting gee in ’n omgewing van onsekerheid, pessimisme, ongeloof en selfs wanhoop.

 

Bibliografie

Almond, G.A. 1956. Comparative political systems. Journal of politics, 18(3):391–409.

ANC. 2012. Strategy and tactics of the ANC. SA History. https://www.sahistory.org.za/sites/default/files/strategy_and_tacticsof_the_anc_by_anc_december_2012_anc_53rd_conference.pdf.

Baxter, J. 2020. Latest crime statistics for South Africa – increases in murder rate. SA People, 5 Oktober. https://www.sapeople.com/2020/07/31/latest-crime-statistics-for-south-africa-increase-in-murder-rate/ (5 Oktober 2020 geraadpleeg).

Bloomberg. 2020. Advisory group puts a date to South Africa’s collapse. Businesstech, 10 September. https://businesstech.co.za/news/business/432504/advisory-group-puts-a-date-to-south-africas-collapse/ (20 Oktober 2020 geraadpleeg).

Bratton, M. en N. van de Walle. 1997. Democratic experiments in Africa: Regime transitions in comparative perspective. Cambridge: Cambridge University Press.

Brink, F. 2019. Ekonomiese groei uiters kommerwekkend. Nuusvrystelling, onafhanklike ekonoom. 3 Desember, Bothaville (in navorser se besit).

BusinessLIVE. 2021. State Security Agency was politicised, Zondo commission told. https://www.businesslive.co.za/bd/national/state-security-agency-was-politicised-zondo-commission-told/ (28 Januarie 2021 geraadpleeg).

Businesstech. 2019a. South Africa is one of the least safe countries in the world. Businesstech, 24 November. https://businesstech.co.za/news/lifestyle/355519/south-africa-is-one-of- (15 Februarie 2020 geraadpleeg).

—. 2019b. Tax. Businesstech, 24 Desember. https://businesstech.co.za/news/.

—. 2021. Around 23 000 tax residents leave South Africa each year and government to tighten the numbers. Businesstech, 5 Maart. https://businesstech.co.za/news/finance/472766/around-23000-tax-residents-leave-south-africa-each-year-and-government-is-about-to-tighten-the-noose/ (5 Maart 2021 geraadpleeg).

Buys, F. 2020. Rewolusie van die “rykes”. Maroela Media, 22 Oktober. https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/rewolusie-van-die-rykes/ (22 Oktober 2020 geraadpleeg).

Cameron, J. 2020a. Flash briefing: SA heads for financial crisis; Denel, Land Bank needs funds; gold mines; Covid-19. BizNews, 12 Oktober. https://www.biznews.com/entrepreneur/2020/10/11/financial-crisis (12 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. 2020b. Magnus Heystek: Horrific chart with nowhere for the JSE to hide. BizNews, 27 Desember. https://www.biznews.com/wealth-advisors/2020/12/27/magnus-heystek-horrific-jse-chart (22 Maart 2021 geraadpleeg).

CEIC. 2020. South African debt: % of GDP. Quarterly CEIC data, September. https://www.ceicdata.com/en/indicator/south-africa/government-debt--of-nominal-gdp (8 Maart 2021 geraadpleeg).

Chikane, F. 2021. It is past time for South Africans to join ranks to remove corrupt leaders. City Press, 27 Junie. https://www.news24.com/citypress/voices/frank-chikane-it-is-past-time-for-south-africans-to-join-ranks-to-remove-corrupt-leaders-20210627 (28 Junie 2021 geraadpleeg).

Chipkin, I. en M. Swilling. 2018. Shadow state: The politics of state capture. Johannesburg: Wits University Press.

COGTA. 2019. Presentation about the status of municipalities in the Northwest Province – MEC Rosho, 13 Mei. Ongepubliseer (in navorser se besit).

Corruption Watch. 2020. South Africa’s COVID-19 has exposed greed and spurred long-needed action against corruption. Corruption Watch, 4 September. https://www.transparency.org/en/blog/in-south-africa-covid-19-has-exposed-greed-and-spurred-long-needed-action-against-corruption (8 Maart 2021 geraadpleeg).

Cronje, F. 2017. A traveller’s guide to South Africa in 2030. Kaapstad: Tafelberg.

Curlewis, L. 2022. The South African criminal justice system: under siege? Referaat gelewer tydens die afskeid van Prof Koos Malan in Augustus 2022, Universiteit van Pretoria.

Dahl, R.A. 1971. Polyarchy: participation and opposition. New Haven: Yale University Press.

De Lange, R. 2020. Ekonomie kan met 7,3% krimp. Sake Rapport, 26 Junie, bl. 11.

—. 2021. Na 160 jaar loop ons spore dood. Rapport, 12 Desember, bl. 1.

Democratic Alliance. 2023. Track the consequences of Zondo’s state capture reports. https://www.da.org.za/statecaptureconsequences (17 Januarie 2023 geraadpleeg).

De Tocqueville, A. 1955. The old regime and the French Revolution. Gloucester, MA: Peter Smith.

De Wet, P. 2016. SA’s justice system is battling. Mail & Guardian, 16 September. https://mg.co.za/article/2016-09-16-00-sas-justice-system-is-battling/ (4 Maart 2021 geraadpleeg).

Duane, E.C. 2017. Corruption and state capture under two regimes in Guyana. University of the West Indies. ResearchGate, April. https://www.researchgate.net/publication/316608300_Corruption_and_State_Capture_under_two_Regimes_in_Guyana (23 Mei 2017 geraadpleeg).

Du Plessis, L.J. 1941. Die moderne staat. Stellenbosch: Pro-Ecclesia.

Duvenhage, A. 1998. Die krisis van die nasiestaat. Acta Academica, 31(3):1–35.

—. 2003. Politieke verval as ’n patroon van politieke verandering: ’n Teoreties verkennende perspektief. Joernaal vir Eietydse Geskiedenis, 28(3):44–71.

—. 2005a. Politieke transformasie – ’n konseptuele oriëntering en Suid-Afrikaanse toepassing. Acta Academica, 37(3):1–40.

—. 2005b. The dynamism of political transformation in South Africa – a general assessment. Communitas, 10:1–19.

—. 2007. Die Suid-Afrikaanse politieke omgewing: ’n Strategiese ontleding en scenario-analise. Professorale intreerede, Noordwes-Universiteit (Potchefstroom).

—. 2020a. Suid-Afrika by ’n kantelpunt – ’n slegte-saak-scenario? LitNet Akademies, 17(3):241–68. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2020/12/LitNet_Akademies_17-3_Duvenhage_241-268.pdf.

—. 2020b. Suid-Afrika in ’n smeltkroes van verandering: Eietydse en toekomsperspektiewe. Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 56(3/4):137–62.

— 2021. Politieke transformasie in Suid-Afrika: Implikasies vir die staat, die ekonomie en samelewing. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(3):713–37.

Easton, D. 1965. A systems analysis of political life. New York: John Wiley & Sons.

Erasmus, D. en L. Hlangu. 2021. Phoenix massacre: What really happened in the deadly collision of brutalized communities. https://www.dailymaverick.co.za/article/2021-07-28-phoenix-massacre-what-really-happened-in-the-deadly-collision-of-brutalised-communities/ (26 September 2021 geraadpleeg).

Frankel, P.H. 1984. Pretoria’s Praetorians: Civil-military relations in South Africa. Londen: Cambridge University Press.

Geldenhuys, D. 1999. Staatsverval. Politeia, 18(2):37–56.

Giliomee, H. en L. Schlemmer. 1994. Can a South African democracy become consolidated? In Giliomee en Schlemmer (reds.) 1994.

Giliomee, H. en L. Schlemmer (reds.). 1994. The bold experiment. Kaapstad: Southern Books.

GI-TOC. 2022. Strategic organized crime risk assessment South Africa. https://www.scribd.com/document/595885595/GI-TOC-Srategic-Organized-Crime-Risk-Assessment-South-Africa# (26 September 2021 geraadpleeg).

Gladwell, M. 2000. The tipping point: How little things can make a big difference. New York: Little Brown.

Greffrath, W.N. 2015. State dysfunction: The concept and its application to South Africa. Doktorale proefskrif, Noordwes-Universiteit.

Grootes, S. 2020. After meeting KZN veterans, Ace Magashule responds to Fikile Mbalula. Daily Maverick, 13 Oktober. https://www.dailymaverick.co.za/article/2020-10-13-after-meeting-kzn-veterans-ace-magashule-responds-to-fikile-mbalula-sort-of/ (13 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. 2021. All together now: The re-emergence of Thabo Mbeki adds a new dimension to the ANC’s internal war. Daily Maverick, 28 Junie. https://www.dailymaverick.co.za/article/2021-06-28-all-together-now-the-re-emergence-of-thabo-mbeki-adds-a-new-dimension-to-the-ancs-internal-war/ (29 Junie 2021 geraadpleeg).

Gumede, W. 2005. Thabo Mbeki and the battle for the soul of the ANC. Kaapstad: Zebra Press.

—. 2021a. We are going down, the Mexican way. Sunday Times, 21 Februarie, bl. 24.

—. 2021b. Mirror, mirror on the wall, who is the real leader of us all? Sunday Times, 17 Maart.

Heystek, M. 2019. RSA titanic is in groot k#k – don’t let those patriotic swimsuits fool you. BizNews, 18 November. https://www.biznews.com/wealth-building/2019/11/18/magnus-heystek-rsa-titanic-groot-kak (18 November 2019 geraadpleeg).

Heywood, A. 2002. Politics. 2de uitgawe. New York: Palgrave Foundations.

Huntington, S.P. 1965. Political development and political decay. World Politics, 17(2):386–430.

—. 1968. Political order in changing societies. Londen: Yale University Press.

—. 1991. The third wave: Democratization in the late 20th century. Oklahoma: University of Oklahoma Press.

Jackson, R. 1993. Quasi-states: Sovereignty, international relations and the Third World. Cambridge: Cambridge University Press.

Johnson, R.W. 2015. How long will South Africa survive? – The looming crisis. Kaapstad: Jonathan Ball.

—. 2019a. Our coming train crash. Politicsweb, 1 Augustus. https://www.politicsweb.co.za/opinion/our-coming-train-crash (20 Februarie 2020 geraadpleeg).

—. 2019b. Ramaphosa’s losing strategy. Politicsweb, 28 Augustus. https://www.politicsweb.co.za/opinion/ramaphosas-losing-strategy (8 Maart 2021 geraadpleeg).

—. 2020a. Ineenstorting wag op ANC. Rapport Weekliks, 27 September, bl. 7.

—. 2020b. How the end will come (ii). Politicsweb, 19 Julie. https://www.politicsweb.co.za/opinion/how-the-end-will-come-ii (29 Maart 2021 geraadpleeg).

—. 2020c. Who can lead us to the promised land? Politicsweb, 28 Desember. https://www.politicsweb.co.za/opinion/who-can-lead-us-back-to-the-promised-land (29 Maart 2021 geraadpleeg).

—. 2020d. Face up to ANC failure. Politicsweb, 28 September. https://www.politicsweb.co.za/opinion/face-up-to-anc-failure (29 Maart 2021 geraadpleeg).

Jordaan, J. 2021. Is die skrif aan die muur? Beeld, 13 Desember, bl. 12.

Joubert, P. 2014. 100 years of income tax in SA – SRI. Politicsweb, 24 Februarie. https://www.politicsweb.co.za/politics/100-years-of-income-tax-in-sa--sri (18 Februarie 2020 geraadpleeg).

Karl, T.L. 1990. Dilemmas of democratization in Latin America. Comparative Politics, 23(1):1–21.

Kekana, M. 2019. Financial state of municipalities has worsened – Auditor General. Mail & Guardian, 26 Junie. https://mg.co.za/article/2019-06-26-financial-state-of-municipalities (19 Februarie 2020 geraadpleeg).

Kinnaird, B.A. 2018. The criminal justice system is broken and can’t be fixed. Psychology Today, 2 Desember. https://www.psychologytoday.com/za/blog/the-hero-in-you/201812/the-criminal-justice-system-is-broken-and-cant-be-fixed (4 Maart 2021 geraadpleeg).

Ledger, T. en M. Rampedi. 2019. Mind the gap: Section 139 interventions in theory and practice. Public Affairs Research Institute, 2 Oktober. https://pari.org.za/mind-the-gap-section-139-interventions-in-theory-and-practice/ (5 Julie 2021 geraadpleeg).

MacIver, R.M. 1966. The modern state. Oxford: Oxford University Press.

Magashule, A. 2018. National conference report and resolutions. Polity, 26 Maart. https://www.polity.org.za/article/54th-national-conference-report-and-resolutions-2018-03-26 (4 Maart 2021 geraadpleeg).

Malala, J. 2021. Actually, SA has a KZN problem. https://www.businesslive.co.za/fm/opinion/home-and-abroad/2021-07-29-justice-malala-actually-sa-has-a-kzn-problem (26 September 2022 geraadpleeg).

Malan, K. 2010. Observations on representivity, democracy and homogenisation. Tydskrif vir Suid-Afrikaanse Reg / Journal of South African Law, 2010(3):427–49.  https://journals.co.za/doi/abs/10.10520/EJC55332 (November 2022 geraadpleeg).

—. 2019. There is no supreme constitution – A critique of statist-individualist constitutionalism. Pretoria: African Sun Press.

Mashanini, G. 2021. Headperson Glen Mashanini: Final results of the municipalities. https://www.gov.za/speeches/glen-mashinini-final-results-municipal-elections-4-nov-2021-0000 (4 Mei 2022 geraadpleeg).

Mazrui, A. 1995. The blood of experience: The failed state and political collapse in Africa. World Policy Journal, 12(1):28–34.

Merten, M. 2019. State capture wipes out third of SA’s R4,9-trillion GDP – never mind lost trust, confidence, opportunity. Daily Maverick, 1 Maart. https://www.dailymaverick.co.za/article/2019-03-01-state-capture-wipes-out-third-of-sas-r4-9-trillion-gdp-never-mind-lost-trust-confidence-opportunity/ (18 Maart 2021 geraadpleeg).

Migdal, J.S. 1988. Strong societies and weak states: State-society relations and state capabilities in the third world. Princeton: Princeton University Press.

Mokgoro, J. 2018. North-West provincial overview on section 139 (ii) intervention. PEC-bespreking, 22 Augustus. Ongepubliseerd (in navorser se besit).

Moore, B. 1966. Social origins of dictatorship and democracy. Boston: Beacon.

Myburgh, P-L. 2019. Gangster state – Unravelling Ace Magashule’s web of capture. Kaapstad: Penguin.

Nelson, C. 2014. Die Suid-Afrikaanse regstaat na twintig jaar: gekonsolideer of besig om in outoritarisme te verval? LitNet Akademies, 11(3):628–65. https://www.litnet.co.za/assets//pdf/joernaaluitgawe_11_3/GW_8_Suid-Afrikaanse_regstaat_na_twintig_jaar_Nelson.pdf

Odendaal, N. 2017. South Africa on path of deindustrialisation. Creamer media: Engineering news, 5 Oktober. https://www.engineeringnews.co.za/article/south-africa-continues-on-path-of-deindustrialisation-2017-10-05 (16 Februarie 2020 geraadpleeg).

Parsons, R. 2020. Note of comment – immediate press release. NWU Business School (Potchefstroom). Ongepubliseerde persverklaring (in navorser se besit).

Parsons, T. 1951. The social system. Londen: Routledge.

Pauw, J. 2017. The President’s keepers – Those keeping Zuma in power and out of prison. Kaapstad: Tafelberg.

Romano, S. 1947. The legal order. Abingdon: Routledge.

Rotberg, R. 2002. The new state of nation-state failure. The Washington Quarterly, 25(3):85–96.

Rustow, D.A. 1970. Transitions to democracy-toward a dynamic model. Comparative Politics, 2(April):337–73.

SA-Radio.com. 2021. ANC het toegelaat dat munisipaliteite R186 miljard in ’n dekade steel met geen nagevolge of aanspreeklikheid nie. https://nuus.net/anc-het-toegelaat-dat-munisipaliteite-r186-miljard-in-n-dekade-steel-met-geen-nagevolge-of-aanspreeklikheid-nie/ (13 Julie 2021 geraadpleeg).

Schüssler, M. 2020. Staat op snelweg na mislukking. Beeld, 21 September, bl. 7.

Seliger, M. 1976. Ideology and politics. Londen: George Allen & Unwin.

Sguazzin, A. 2020. South Africa heading towards a failed state. Bloomberg, 10 September. https://www.aljazeera.com/economy/2020/9/10/south-africa-heading-towards-becoming-a-failed-state-report (10 Oktober 2020 geraadpleeg).

Slabbert, F.V. 2006. The other side of history – an anecdotal reflection on political transition in South Africa. Kaapstad: Jonathan Ball.

Snyman, C.R. 2008. Criminal law. 5de uitgawe. Durban: Lexis Nexis.

Soobramoney, V. 2017. Capital outflow: R350 million has left South Africa. (Die dokument is van die web verwyder, maar is in die navorser se besit.)

Southall, R. 2022. Former SA President predicts end of ANC and history is on his side. News24, 5 Mei. https://www.news24.com/news24/opinions/analysis/analysis-roger-southall-former-sa-president-predicts-end-of-anc-and-history-is-on-his-side-20220505 (13 Mei 2022 geraadpleeg).

Steenkamp, L. 2019. South African taxpayers will bear the brunt of National Health Insurance. The Conversation, 29 Augustus. https://theconversation.com/south-african-taxpayers-will-bear-the-brunt-of-national-health-insurance-122409 (17 Februarie 2020 geraadpleeg).

Stern, K. 1984. Das Staatsrecht der Bundesrepublik Deutschland. München: Mohr Siebeck GmbH & Co.

Strachan, G. 2017. South Africa continues on path of deindustrialisation. Engineering news, 5 Oktober. https://www.engineeringnews.co.za/article/south-africa-continues-on-path-of-deindustrialisation-2017-10-05 (19 Februarie 2020 geraadpleeg).

Thamm, M. 2021. Days of Zondo: Secret billions poured into State Security Agency to sustain and protect “Zuma Regime”, claims acting DG Loyiso Jafta. https://www.dailymaverick.co.za/article/2021-01-26-secret-billions-poured-into-state-security-agency-to-sustain-and-protect-zuma-regime-claims-acting-dg-loyiso-jafta/ (28 Januarie 2021 geraadpleeg).

Trading Economics. 2020. South African business confidence – 1975–2020-data / 2021–2022 forecast. https://tradingeconomics.com/south-africa/business-confidence (10 Oktober 2020 geraadpleeg).

Turton, A. 2019. Going backwards – the deindustrialization of the South African economy. (Oorspronklike bron in navorser se besit.)

Van den Groenendaal, H. 2017. South Africa has been captured by deindustrialisation. My Broadband, 23 Julie. https://mybroadband.co.za/news/business/220990-south-africa-has-been-captured-by-deindustrialisation.html (19 Februarie 2020 geraadpleeg).

Van der Walt, B.J. 1999. Visie op die werklikheid: die bevrydende krag van ’n Christelike lewensbeskouing en filosofie. Potchefstroom: PU vir CHO.

Venter, J.C.M. 2013. The National Democratic Revolution (NDR) in a post-1994 South Africa: a reconstruction, interpretation and evaluation of this revolutionary ideology. Doktorale proefskrif, Noordwes-Universiteit.

Versluis, J-M. en J. De Lange. 2019. Rising crime, low prosecution rates: How law enforcement in SA has all but collapsed. News24, 21 Oktober. https://www.news24.com/citypress/News/rising-crime-low-prosecution-rates-how-law-enforcement-in-sa-has-all-but-collapsed-20191021 (20 Februarie 2020 geraadpleeg).

Vhumbunu, C.H. 2021. The July 2021 protests and socio-political unrest in South Africa. https://www.accord.org.za/conflict-trends/the-july-2021-protests-and-socio-political-unrest-in-south-africa (12 September 2022 geraadpleeg).

Von Holdt, K. 2013. South Africa: The transition to violent democracy. Review of African Political Economy, 40(138):589–604.

Weber, M. 1964. The theory of social and economic organization. New York: Free Press.

Zartman, W. (red). 1995. Collapsed states: The disintegration and restoration of legitimate authority. Boulder: Lynne Reiner.

 

Eindnotas

1 Tot dusver was daar (ten spyte van omvangryke politieke en ekonomiese sabotasie en die gepaardgaande dood van meer as 300 mense) slegs beperkte strafregtelike optrede na die geweld van Julie 2021. Slegs enkele geselekteerde individue is vervolg. Ten spyte van verdoemende verslae van die Seriti-kommissie ten opsigte van die wapenskandaal en die Moerane-kommissie se ondersoek na uitgebreide politieke sluipmoorde in veral KwaZulu-Natal, het daar vanuit ’n strafregtelike vervolgingsperspektief weinig, indien enigiets, gebeur. Die vrees bestaan nou dat die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek dieselfde weg as bogenoemde kommissies gaan volg. Indien wel, kan dit ’n ernstige bedreiging inhou vir Suid-Afrika as ’n konstitusionele staat ten opsigte van die idee van ’n oppermagtige, effektiewe en onafhanklike regstelsel (regstaat).

2 Vergelyk Duvenhage (2021:713–37) vir ’n gedetailleerde ontleding van die radikale aard van transformatisme as ’n ideologie en die onderliggende Nasionale Demokratiese Revolusie-idee.

3 Hierdie definisie is in navolging van die Weberiaanse staatsbeskouing, wat wye erkenning binne die studieveld van ook die politieke wetenskap geniet.

4 Die regstaatidee en konstitusionalisme word later breedvoerig as normatiewe grondslag hanteer.

5 Die term stelsel-entropie wat verwys na die wanorde (wisselvalligheid, onreëlmatigheid en inkonsekwentheid) van stelsels is ook hier betekenisvol (vergelyk Duvenhage 2020a:246–8).

6 Sien Huntington (1968:13–24) vir sy beskouing oor institusionalisering, waarin die onderliggende elemente van orde, stabiliteit en sekuriteit (soms in militaristiese terme uitgedruk) as die bakermat van ’n suksesvolle staat beskou word.

7 Vergelyk Huntington (1991:12–26) vir besonderhede oor die “eerste golf van demokratisering”.

8 Bogenoemde 11 kriteria is die skrywer se analitiese opsomming van die kerngrondslae van die regstaatidee as ’n teoretiese raamwerk soos ontleed deur Stern (1984).

9 Die vraag of orde/dominansie die totstandkoming van die staat gefasiliteer het (die ouer Westerse state) en of vryheid en die strewe daartoe tot staatskepping gelei het (byvoorbeeld die VSA, Indië en China) is beide geldig en deel van ’n groter teoreties-filosofiese gesprek wat buite die spesifieke konteks van hierdie navorsing val. Op die oomblik is die probleem in Suid-Afrika die inploffing van wet en orde, vandaar die uitgangspunt, soos ook deur Nelson (2014) beklemtoon.

10 Die wyse van toepassing van die Grondwet, en optrede en handelinge volgens die gees van die Grondwet (die normatiewe karakter van konstitusionalisme) verander die prentjie dramaties en sal later meer volledig beredeneer word.

11 Sien Nelson (2014:628–60) vir sy beoordeling van die Suid-Afrikaanse regstaatidee na 20 jaar van demokrasie.

12 Die huidige krisis in die Suid-Afrikaanse politieke bestel word wyd in die literatuur aangetref in die bydraes van Johnson (2015; 2019; 2020a; 2020b; 2020c); Jordaan (2021); Gumede (2021; 2021a); Duvenhage (2020a; 2020b); en Malan (2019). Die krisis gaan nie hier in besonderhede behandel word nie, maar meer inligting kan uit bogenoemde bronne verkry word.

13 Vergelyk Gladwell (2000) vir sy konseptualisering en toepassing van die kantelpuntperspektief.

14 Jare lank is die oppergesag en onafhanklikheid van die regbank beskou as een van die belangrike ligpunte van die Suid-Afrikaanse demokrasie. Hierdie perspektief het in onlangse tye hewige kritiek ontlok en talle skrywers wys op die wanfunksionaliteit van die regstelsel asook die aantasting van die onafhanklikheid van die regstelsel deur veral kaderontplooiings, soos onder meer uitgewys deur die Zondo-kommissie. Werke, berigte en bydraes wat hierdie perspektief toelig sluit in Versluis en De Lange (2019); Kinnaird (2018); Malan (2019) en Curlewis (2022). Laasgenoemde verklaar byvoorbeeld: “Die oppergesag van die reg as teenvoeter vir die korruptiewe staat faal grootliks die burgers van die land. Misdaad is endemies in die DNA van ons land.”

15 Vergelyk Duvenhage (2005a; 2005b; 2021) vir ’n volledige ontleding van die ideologiese aard van transformatisme.

16 Hier moet verreken word dat “regstellende diskriminasie” geregverdig kan word teen die agtergrond van die onregmatighede van die ou apartheidsbedeling. Dit beteken egter nie dat dit vir beleidmakers ’n vrypas gee om na willekeur te diskrimineer sonder ’n afsnydatum nie. Malan (2019:114) identifiseer drie tipes wette wat diskriminasie teen veral minderheidsgroepe bevorder, naamlik remediërende of regstellende wette (soos die Employment Equity Act), swartbemagtigingswetgewing (Broad-Based Black Economic Empowerment) en wetgewing wat verteenwoordiging as transformatiewe norm vir toepassing beklemtoon.

17 Dit is interessant dat die term transformasie nêrens in die Grondwet voorkom nie, maar die spreekwoordelike “Bybel” is vir die ander “grondwet”!

18 Die NDR as ideologiese grondslag is beïnvloed uit die radikale tradisie waarin die revolusie-idee vooropgestel word, en veral, hoewel nie uitsluitlik nie, sy toepassing vind binne die Marxisties-Leninistiese paradigma van denke. Vergelyk Venter (2013:205–56) se beredenering oor die filosofiese grondslag van die NDR in hierdie verband.

19 Transformasie beteken in hierdie verband die bereiking van revolusionêre uitkomste sonder die gebruik van geld as metodologie wat met revolusies geassosieer word.

20 Sien Duvenhage (2005a:1–40; 2005b:1–19) vir ’n konseptuele ontleding van politieke transformasie en die toepassing daarvan op die Suid-Afrikaanse konteks.

21 Bykans op elke vlak van regering en ook ten opsigte van semistaatsinstellings soos Eskom, SAUK, Transnet, Denel, Land Bank en die Suid-Afrikaanse Poskantoor bestaan daar uitgebreide en toenemende probleme ten opsigte van gebrekkige aanspreeklikheid en verantwoordingdoening, en die voltrekking hiervan ten opsigte van staatskaping. Vergelyk Schüssler (2020); Gumede (2020a; 2020b); Merten (2019); Sguazzin (2020); Bloomberg (2020); Heystek (2019) en Johnson (2020a; 2020b) vir besonderhede oor die gekompliseerdheid van die genoemde uitdagings en die uitspeel daarvan.

22 Die wet word tans in die parlement beredeneer en sover vasgestel kon word, is daar geen proses van openbare deelname gevolg of selfs vereis nie.

23 Die instelling Global Initiative against Transnational Organized Crime (GI-TOC) het in ’n omvattende studie getiteld Strategic organized crime risk assessment South Africa die diepliggende, gekompliseerde en diverse aard van georganiseerde misdaad in Suid-Afrika uitgewys, en die impak daarvan (polities, ekonomies en sosiaal gesproke) as ’n “existential threat” beskryf.

24 Die omvang van staatskaping (veral nadat Zuma die bewind in 2009 oorgeneem het) word uitgebreid in verskillende werke en bydraes hanteer, waaronder Shadow state: the politics of state capture (Chipkin en Swilling 2018); The President’s keepers – Those keeping Zuma in power and out of prison (Pauw 2017); Gangster state – Unravelling Ace Magashule’s web of capture (Myburgh 2019), en How long will South Africa survive – the looming crisis (Johnson 2015).

25 Raadpleeg https://www.state capture.org.za vir volledige besonderhede oor die “The judicial commission of inquiry into allegations of state capture. Corruption and fraud in the public sector including organs of state”.

26 Suksesvolle demokrasieë, oftewel demokrasieë wat suksesvol gekonsolideer het, het heel dikwels aan bepaalde samelewings- en ekonomiese vereistes voldoen, soos die aanwesigheid van ’n bepaalde demokratiese politieke kultuur (Almond 1956); pluralistiese samelewing (Dahl 1971); ’n bepaalde klassestruktuur (De Tocqueville 1953); nasiewording (Karl 1990); en sosio-ekonomiese faktore (gelykheid, ekonomiese groei, vlak van ontwikkeling, ensovoorts) wat deur verskeie skrywers, waaronder Moore (1966) en Rustow (1960), beklemtoon is. Wat geskiedkundig gesproke duidelik is, is dat die aanwesigheid van bepaalde sosio-ekonomiese toestande bevorderlik is vir die suksesvolle konsolidasie van demokratiese bedelings.

27 Skrywers soos Joubert (2014) en Steenkamp (2019) wys op die werklikheid van ’n verkleinde belastingbasis reeds voordat COVID-19 na vore gekom het om die belastingbasis nog verder te verklein.

28 Vergelyk ook Duvenhage (2020b:148–50) vir ’n samevatting van die ekonomiese uitdagings waarvoor Suid-Afrika tans te staan kom.

29 In wese handel ’n demokratiese bestel oor die beperking en die bestuur van politieke mag ooreenkomstig ’n bepaalde waardestelsel, en is dit nie noodwendig die beste politieke model vir ekonomiese groei nie. Die beste voorbeeld in hierdie verband is die ekonomiese groei en ontwikkeling in China, wat wesenlik ondemokraties en in sekere opsigte selfs totalitêr is. Ekonomiese demokrasie (sosialisme, soos onderskei van die welsynstaat) is geskiedkundig bewys as telkens negatief vir ekonomiese groei en ontwikkeling. Min bewyse word ook gevind vir kousaliteit (oorsaak-gevolg-verhouding) ingevolge politieke demokrasie (die oorsaak) en volhoubare ekonomiese groei (die uitkoms). Telkens is dit die omgekeerde orde, maar eerder ’n goeie samehang, wat die sukses hiervan beklemtoon.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top