Sal federalisme werk in Suid-Afrika?

  • 3

Jason Lloyd (foto: verskaf)

Federalisme word in baie wêrelddele as ’n goeie vorm van staatsorganisasie gereken, omdat dit die regering en noodsaaklike dienste nader aan die mense bring,

Federalisme was egter nog altyd ’n omstrede onderwerp hier in Suid-Afrika.

............
Die afgelope twee weke sedert die stigting van Kaapse Forum (KF) deur die joernalis, TV- en radiopersoonlikheid Heindrich Wyngaard en die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, was die gort gaar oor dié inisiatief omdat dit kwansuis ’n gesamentlike plan sou wees tussen Wyngaard en Kriel om die bruin mense vir eie gewin te misbruik.
..............

Die afgelope twee weke sedert die stigting van Kaapse Forum (KF) deur die joernalis, TV- en radiopersoonlikheid Heindrich Wyngaard en die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, was die gort gaar oor dié inisiatief omdat dit kwansuis ’n gesamentlike plan sou wees tussen Wyngaard en Kriel om die bruin mense vir eie gewin te misbruik.

Wyngaard sal saam met die KF-direksie (wat nog aangewys moet word) die organisasie se strategiese rigting bepaal, terwyl AfriForum se administratiewe, bestuurs- en kommunikasiestelsels, asook sy regspan, die KF sal rugsteun tot dié nuwe organisasie op sy eie bene kan staan.

Die ou spoke van die verlede toe die Arbeidersparty (AP) van wyle Allan Hendrickse in 1983 by hul nasionale kongres in Eshowe besluit het om aan die driekamerparlement deel te neem is in herinnering geroep.

Die driekamerparlement het ingevolge die 1983-grondwet tot stand gekom. Dié grondwet was duidelik op die apartheidskonsep van rasseklassifikasie, skeiding van rasse en afsonderlike ontwikkeling geskoei. Dié parlement het voorsiening gemaak vir drie huise, naamlik die Volksraad vir wit mense, die Raad van Verteenwoordigers vir bruin mense en die Raad van Afgevaardigdes vir Indiërs.

Swart mense was uitgesluit, maar het “grondwetlike insluiting” gekry in die vorm van die TBVC-state: Transkei, Bophuthatswana, Venda en Ciskei, asook die selfregerende gebiede: Gazankulu, Kangwane, Kwandebele, KwaZulu, Lebowa en Qwaqwa.

Om die driekamerparlement en ook apartheid in sy geheel teen te staan is die United Democratic Front (UDF) as grofgeskut in 1983 in die lewe geroep onder die leierskap van die anti-apartheidsaktivis en teoloog Allan Boesak.

Hendrickse en die AP is uitgekryt as uitverkopers van die bruin mense en Boesak en die UDF is opgehemel as teenstanders van apartheid en rasseklassifikasie en kampvegters vir die konsep van nierassigheid. Dié konsep van nierassigheid is hedendaags problematies, omdat die ANC-regering daarvan beskuldig word dat hulle dit vertrap en rasseklassifikasie en omgekeerde apartheid en uitsluiting op minderhede toepas.

.............
Met die aankondiging van die stigting van die KF is die slagordes deur baie woedende bruin mense opgestel en Wyngaard, die uitvoerende voorsitter van die KF, is met Hendrickse vergelyk. Dit was nadat Rapport die nuus op 3 April 2022 op sy voorblad met die opskrif “Bruin mense kry hul eie AfriForum” aangekondig het.
.............

Met die aankondiging van die stigting van die KF is die slagordes deur baie woedende bruin mense opgestel en Wyngaard, die uitvoerende voorsitter van die KF, is met Hendrickse vergelyk. Dit was nadat Rapport die nuus op 3 April 2022 op sy voorblad met die opskrif “Bruin mense kry hul eie AfriForum” aangekondig het.

Volgens Wyngaard is KF se doelwit eenvoudig: om groter magte vir Wes-Kaapse gemeenskappe te beding daar waar die regering faal.

Die hel het losgebars en Wyngaard is allerhande “vieslike goed” genoem: van ’n apartheidswrak tot uitverkoper tot borsel wat te doene het met ’n sekere deel van wit mense se anatomie.

Die debat vir en teen die vorming van KF het veral op Facebook die laagste vlak van debatvoering bereik en Wyngaard se persoon, sy “baadjie” en ook sy “bow tie” is aangeval. Hy is so sleggesê dat – soos die oumense sou sê – die see hom nie sou kon skoon was nie.

Dié bakleiery en slegsêery veral tussen die bruin mense het my aan wyle Jakes Gerwel laat dink.

Tussen 1999 en 2012 het Gerwel ’n maandelikse rubriek vir Rapport geskryf. Hy het altyd sy rubrieke argumentatief en ruim van denke ontwikkel. Tim du Plessis, oudredakteur van Rapport, het Gerwel in ’n rubriek beskryf as die “primus inter pares van Rapport se rubriekskrywers”. “Hy is ’n fyn mens. Nog fyner is sy omgang met woorde. Elkeen van sy rubrieke het altyd ’n paar sinne en klompie woorde in die liga van ’ek wens ek het daardie sin aanmekaar getimmer, of daardie woord gevind of geskep’.”

Gerwel se deurlopende tema in sy rubrieke was “hoe ons die openbare gesprek met en oor mekaar voer”. Hy het altyd in sy rubrieke beklemtoon dat “die wyse waarop ons van en met mekaar praat, is tekenend van en vormend vir die patrone van saamleef in hierdie veranderende samelewing wat homself in soveel opsigte nog moet vind en definieer”.

’n Menigte rubriekskrywers en meningsvormers het intussen in verskeie koerante, op digitale nuusplatforms en ook hier op LitNet hul menings oor dié kwessie gegee, maar almal het by die Arbeidersparty, die driekamerparlement, die UDF, die tuislandbeleid, apartheid en “uitverkoper” en vele ander verkleinerings vasgehaak. Ironies genoeg het niemand alternatiewe voorgestel nie, maar net beskuldigings teenoor Wyngaard en AfriForum rondgegooi.

..........
’n Menigte rubriekskrywers en meningsvormers het intussen in verskeie koerante, op digitale nuusplatforms en ook hier op LitNet hul menings oor dié kwessie gegee, maar almal het by die Arbeidersparty, die driekamerparlement, die UDF, die tuislandbeleid, apartheid en “uitverkoper” en vele ander verkleinerings vasgehaak.
...........

Dit is net die oudjoernalis Jacob Rooi wat in ’n meningsartikel, “Besef: Rome brand – kom ons dink nou buite die boks”, in Rapport bo dié kleingeestigheid uitgestyg het en met praktiese voorstelle vorendag gekom het oor hoe om ’n regrukrevolusie in gemeenskappe te laat geskied.

Die olifant in die vertrek is egter die woord “federalisme”, omdat Wyngaard aangehaal is in Rapport dat die KF onder meer daarop sal fokus om “gemeenskapselfstandigheid in Kaapse gemeenskappe te bevorder en groeiende federalisme in die Wes-Kaap en Kaapse gemeenskappe te help vestig”.

Dit is geïnterpreteer as afstigting of ’n tuisland-idee van wit mense wat hul doel wil bereik deur die meerderheid inwoners van die Wes-Kaap wat bruin is te misbruik, en dat Wyngaard ’n gewillige handpop is.

Omdat ewewigtige denke in die hele debat oor die stigting van KF iewers verlore geraak het in die slegsêery, moet die konsep van federalisme verduidelik word, omdat dit niks met afstigting of ’n blanke tuisland te doen het nie. Dit is hoekom die woord federalisme sedert die 1990’s ’n omstredenheid is. Die woorde “afstigting” en “blanke tuisland” skep teen die agtergrond van ons apartheidsera paniek omdat swart en bruin mense nog steeds ly onder die nalatenskap van apartheid en ook van kolonialisme.

Dus wil ek graag die debat na ’n hoër vlak neem en op die konsep van federalisme fokus. Dis belangrik om dié konsep te verstaan, omdat daar al hoe meer stemme opgaan in Suid-Afrika dat die idee van ’n eenheidstaat nie werk nie, omdat ons ’n te diverse land is. En ook omdat die huidige regering beskuldig word van onbevoegheid, korrupsie, rassisme en seksisme.

’n Federale stelsel is altyd ’n baie goeie stelsel van staatsorganisasie, maar daar is twee vereistes wat miskien kort kom in Suid-Afrika ten opsigte van ’n gesonde federale stelsel. Eerstens is nege provinsies in ’n federale stelsel te min. Ons provinsies moet ’n bietjie meer wees.

Ironies genoeg het die AP se nasionale kongres in 1990 besluit om hom te beywer vir ’n geografiese federasie van state met 14 provinsies. Dit het lynreg teenoor die ANC se eenheidstaatvoorstel gestaan, maar in 1991 het die party omgeswaai en by die Patriotiese Front (die ANC, SAKP, Azapo en PAC) aangesluit en dus ’n eenheidstaat gesteun.

Om ’n gesonde federale stelsel teweeg te bring moet die Oos-Kaap byvoorbeeld in twee provinsies verdeel word. So ook KwaZulu-Natal. Beide Limpopo en Mpumalanga moet elk in drie provinsies verdeel word. Dit alles sodat jy meer spasie kan maak vir verskillende groepe om hulself te wees, maar dit moet ’n natuurlike proses wees. Dit moet nie geforseer word nie. In die Oos-Kaap is die ooste en die weste te divers om ’n gesonde enkele federale stelsel of staat te vestig. Dié provinsie moet dus in twee provinsies verdeel word.

Jy kry twee tipes federale stelsels: die geografiese federale stelsel soos hier bo verduidelik, en die politieke federale stelsel soos wat die driekamerparlement was. Die driekamerparlement was duidelik nie die ideale stelsel vir Suid-Afrika nie.

Daar is ’n verskil tussen ’n federale stelsel en ’n konfederale stelsel. ’n Konfederale stelsel is soos wat die TBVC-state onder apartheid was. Die TBVC-state het totale onafhanklikheid en sekere magte en pligte op diplomatieke en internasionale vlak gehad. Hulle kon ook ander wette maak, ander padreëls hê en ook hul eie huweliksreëls hê. In ’n konfederale stelsel is daar nie noodwendig ’n sentrale parlement wat alles beheer nie.

...........
In ’n federale stelsel is daar ’n sentrale regering en federale regerings. Federale regerings kan groter magte hê of hulle kan minder groter magte hê. Hulle kan selfbeskikking hê ten opsigte van sekere aangeleenthede en nie selfbeskikking oor ander nie. Maar aangeleenthede soos onderwys en sekere geografies-gebaseerde dinge soos moedertaalonderrig, universiteite en toerisme kan baie maklik federaal hanteer word.
.............

In ’n federale stelsel is daar ’n sentrale regering en federale regerings. Federale regerings kan groter magte hê of hulle kan minder groter magte hê. Hulle kan selfbeskikking hê ten opsigte van sekere aangeleenthede en nie selfbeskikking oor ander nie. Maar aangeleenthede soos onderwys en sekere geografies-gebaseerde dinge soos moedertaalonderrig, universiteite en toerisme kan baie maklik federaal hanteer word. Dit is waar Suid-Afrika plat val, omdat daar te min magte op provinsiale vlak is aan die een kant en te veel aan die ander kant. Met ander woorde daar is te veel nasionale wetgewing wat inmeng op provinsiale vlak.

Die grootste probleem is dat ons nie die diepte van politieke leierskap in Suid-Afrika het om federale leierskap goed te laat werk nie. Dus gaan die negatiwiteit teenoor ’n federale stelsel nie oor die konsep van ’n federale stelsel as sodanig nie; dit gaan meer oor die uitvoerbaarheid in Suid-Afrika daarvan as gevolg van geografiese gebiede, as gevolg van politieke leierskap en as gevolg van die gebrek aan diepte in politieke leierskap. In beginsel is ’n federale stelsel fantasties en die beste in die wêreld. Niks kan ’n federale stelsel klop nie. Daar word byvoorbeeld geglo federalisme kan van minderhede geografiese meerderhede maak.

Lees ook:

Ek is ’n lid van AfriForum

Kaapse Forum ’n aparte AfriForum?

Skepties oor Kaapse Forum

Kaapse Forum: Word bruin mense misbruik?

Is djulle gesyp, Kaapse Forum?

  • 3

Kommentaar

  • Anthony "Speedo" Wilson

    “Omdat daar al hoe meer stemme opgaan in Suid-Afrika dat die idee van ’n eenheidstaat nie werk nie, omdat ons ’n te diverse land is. En ook omdat die huidige regering beskuldig word van onbevoegheid, korrupsie, rassisme en seksisme”. Ek dink nie hulle word bloot daarvan beskuldig nie – van die individue is reeds daaraan skuldig bevind.
    Jason ek dink die antwoord lê in opvoeding (Education). Om 'n federale stelsel te laat werk, moet ons almal daarin geskool word. Die slim manne moet aan die werk spring en verduidelik. Dit moet so eenvoudig gemaak word sodat selfs ‘n graad 7 kind dit sal verstaan. Ek is egter net bang, want die beste en suksesvolste voorbeeld van 'n federale stelsel is Amerika. Wat ek egter voor bang is, is, “Hoe het ‘n man soos Donald Trump dit reggekry om tot President van Amerika verkies te word. Ek het die verkiesing noukeurig gevolg en toe ek die aand gaan slaap was Hillary Clinton volgens al die Polls voor.”
    Toe Radio702 nuus om 6-uur as alarm my wakker maak, sê die aanbieder, “Donald Trump has been elected as the 45th President of the United States of America.” Toe val ek amper uit my kooi uit. Selfs John Robbie was net so verbaas, want ek weet dit is die “Bible Belt” of “American Oil Boys” dié soort oligarg wat die Amerikaanse presidente kies.
    Ek stem saam dit kan nogal hier werk maar opleiding is die sleutel. Dit is buitendien die regte tyd om so iets te probeer!

  • Piet Badenhorst

    Diegene wat nie 'n federale stelsel sal oorweeg nie, 'n stelsel waarin 'n parralelle bestaan met wedersydse respek en 'n mate van interafhanklikheid, die basis is, hulle behoort seker tevrede te wees met die ANC se 'Winner takes all' regering?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top