
Foto: Izak de Vries
...
Ek het al aan tafel saam met die Vryheidsfront se voormalige leier, Pieter Mulder, gesit. Wat ’n innemende persoon, ’n aangename mens by wie ek dadelik op my gemak gevoel het. Ek, ’n bruin vrou, was nuuskierig oor die mens. Hoekom noem ek dit? Bloot omdat ek in my klein hoekie besef ons gaan mekaar verstaan net as ons mekaar wil leer ken, sonder voorbehoude.
...
Ek is bruin, ek is Afrikaans en ek is ’n lid van AfriForum. Ek behoort seer sekerlik ook aan elke ander organisasie wat Afrikaanse as taal en kultuur bevorder.
AfriForum se voordele vir my as vrou, vir my gesin en my kinders wat in Afrikaans onderrig kry, oortref bloot die feit dat hulle as ’n regse organisasie beskou word.
Ons leef in ’n era waar almal hulleself bevoeg ag om die eerste klip op die sondige te gooi.
“Bruin mense kry hul eie Kaapse Forum,” lui die koerantopskrif. Hoe slim is die mediamense nie!
Maak die lesers warm onder die kraag, roer so bietjie die pot, was die opdrag waarskynlik, wie sal weet. Verdeel, vuur rassehaat nog verder aan. Niemand gaan veel verder as die hoofopskrif lees met so ’n aanhef nie, dis soveel makliker om sommer net op die wa te spring en die aankondiging te veroordeel.
Heindrich Wyngaard het vir homself soveel respek en agting verwerf. Sy vaardighede as aanbieder, onderhoudvoerder, politieke kenner en skrywer word in alle kringe hoog geag. In hierdie geval sou ’n persoon van hierdie kaliber sekerlik sy navorsing gedoen het alvorens hy hierdie groot taak sou aanvaar.
Hoekom is mense, bruin mense, so kwaad? Soveel dat hulle persoonlik raak, asof hulle verraai word, asof dit hierdie nuwe Kaapse Forum se mandaat is om hulle (ons) skade aan te rig?
Wat laat my, as persoon van kleur, ’n Noord-Kapenaar, anders kyk na hierdie aankondiging? In my lewe het ek die voorreg gehad om skouers te skuur met mense van verskillende oortuigings en waardes. Mense wat ander sienswyses het, van godsdienstige oortuigings van die Israelitiese beweging tot kollegas wat hulself in die verlede by ontmoeting voorgestel het as AWB-lede.
Ek kuier met mense wie ek weet in hul harte rassisties is. Sommige verklaar selfs dat hulle rehabiliterende rassiste is.
Ek het al aan tafel saam met die Vryheidsfront se voormalige leier, Pieter Mulder, gesit. Wat ’n innemende persoon, ’n aangename mens by wie ek dadelik op my gemak gevoel het. Ek, ’n bruin vrou, was nuuskierig oor die mens. Hoekom noem ek dit? Bloot omdat ek in my klein hoekie besef ons gaan mekaar verstaan net as ons mekaar wil leer ken, sonder voorbehoude.
Nou die vraag: Is almal wat hulle beywer vir die belange, regte en voortbestaan van hul eie mense rassisties? Is dit net hul eie mense wat hulle beskerm?
Die vestiging van Kaapse Forum het dit goed reggekry om gemoedere op te sweep. Of laat my herfraseer: Die koerantopskrifte het die opsweepwerk behoorlik gedoen.
Maar ek vermoed ons is besig om die punt te mis. Die idee was vir seker nie om verdeeldheid aan te vuur nie. Maar as mens moet oordeel volgens die kritiek en felle oordele op sosiale-media-platforms, is Heindrich Wyngaard so goed soos gekruisig.
Die hoogste bome kry die meeste wind. As jy niks doen nie, lok jy geen reaksie uit nie. Nou wil almal wys wat hulle al gedoen het en hoe suksesvol hul pogings was. Is daar dan werklik geen behoefte vir meer hande en meer hulp in hierdie land van ons nie?
En meer belaglik nog is hierdie hele kwessie rondom die bron van Kaapse Forum, AfriForum.
Die organisasie doen wonderlike werk, waarvan die regsaksies teen instellings waarmee die gewone man op straat nooit ’n kans op oorwinning sou hê nie, my beïndruk het. Juis al hierdie voordele het my oorreed om ’n lid van AfriForum te word, en teen ’n vrywillige maandelikse bydrae het ek sonder weifeling aangesluit.
In November 2019 het die familie van die ontslape sokkerspeler Senzo Meyiwa hulle tot AfriForum gewend om die moordondersoek van hul geliefde waar te neem ná sy skietdood in sy huis in Vosloorus.
Kallie Kriel het tydens ’n mediakonferensie verduidelik dat hierdie saak belangrik is vir hulle sodat die familie van die voormalige Bafana-kaptein berusting kan kry, dat dit hul plig is om toe te sien dat die regstelsel nie landgenote faal nie.
Toe ek lid word van AfriForum, het ek nie gaan kyk wie hul fokusmark is nie. Ek was in die posisie om lid te word sodat ek die voordele kon benut. Ek het aan my eie behoeftes gedink, vir ingeval ek en my gesin, nes die familie van Meyiwa, eendag kundige of regshulp gaan nodig kry.
Dis eers nou, na die hele Kaapse Forum debakel, dat ek gaan kyk het waaroor die bohaai gaan. En daar lees ek AfriForum mobiliseer Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika.
Soos hulle die Meyiwa-familie verteenwoordig het, soos soveel ander waarvan ons nie bewus is nie.
Sekerlik staan daar nêrens dat hierdie ’n geslote groep is nie.
Dalk sou ’n bemarkingsveldtog om hul diens bekend te maak aan mense van alle bevolkingsgroepe, of die bruin bevolking van alle provinsies, beter ontvang word?
Hoekom is daar nêrens in koerante bohaai opgeskop oor die families van kleur wie al deur AfriForum gehelp is nie?
Waar was die koerante toe Gerrie Nel Lerato Maila se aanrandingsaak behartig het? Hoekom word hierdie soort berigte wat ons as ’n nasie kan saamsnoer, nie aan die groot klok gehang nie?
Een ding weet ons vir seker: Rapport het op Sondag 3 April ’n opskudding veroorsaak.
Dit verg ’n man met besonderse karakter om staande te bly na al die intense kritiek op sosiale media die afgelope twee weke. Ek hoop namens almal wat al gebaat het by hulp van ’n instansie wat anders dink en anders glo as hulle, dat Heindrich Wyngaard en sy span meer as net geslaagd gaan wees.
Steun ek die nuwe Kaapse Forum? Dink ek dit plaas bruin mense weer netjies in hul boksie?
Maak dit enigsins saak?
Laat die een van julle wat sonder sonde is, die eerste klip gooi. Die ou wie sy hande reeds vuil maak en reeds hard werk in sy gemeenskap onder sy eie mense, hoekom so kwaad? Hier is nou net nog ’n paar hande wat gaan help.
Hoekom baklei ons dan as ons hulp kry? Wanneer gaan ons vergewe, vergeet en aanbeweeg? As ons nie vinnig ons rasbrilletjie afhaal in hierdie land van ons nie, gaan ons in dryfsand beland.
Dis tyd om hande te vat, ongeag die kleur van daai hand.


Kommentaar
Bravo, Anzil Kuisen!
Ek stem volmondig saam met Alzin Kulsen. Ons is tog maar net almal mense, al verskil ons kultuur en kleur so effens. Kom laat ons tog die vooroordele en agterdog begrawe en saam (Suid-)Afrikaners wees.
Dankie hiervoor Anzil. Jy praat só waar. Ek dink jy het nou 'n paar giftonge EN dié met gifpenne behoorlik op hul plek gesit.
Tien uit Tien vir jou!
Lankal hoog tyd dat mense wat dieselfde passie oor sinvolle vooruitgang deel, SONDER KORRUPSIE hande vat en ophou om wit Afrikaners wat nog deel wil wees van die oplossing as die vyand te beskou. Ons het lankal die brug gekruis en aanbeweeg en vat baie houe op die ken. Maar hou nie uit die oog dat Jesus die voorbeeld gestel het om die ander wang te draai nie. Eendrag Maak Mag ... nié net vir korruptes nie!
Die werk is om mense met dieselfde waardes bymekaar te bring en inligting uit te ruil oor wat die waardes uitbou of bedreig, dus wyer as ras en selfs landgrense. Enige samenstelling wat dit onderneem en aksie neem, het ondersteuning nodig, want politieke strukture breek net af, ongeag die manifesto.
Baie mooi uiteengesit, Anzil, en ja, Heinrich sou sekerlik eers sy navorsing gedoen het voor hy so 'n stap sou neem. Staan 100% agter hom.
Ek nog altyd vir Anzil Kulsen net die hoogste respek gehad! Sy bewys ook met hierdie artikel dat sy dit kan doen, wat die meeste van ons baie sleg doen, naamlik om mense se idees te beoordeel ongeag van die mens (en sy of haar beeld in die media). So baie mense kry swaar, en veral bruin Afrikaanssprekendes het geen voorsprekers in die regering nie. Dis absoluut ooglopend dat alle Afrikaanssprekendes moet saamwerk. Die alternatief is om mekaar vir nog 'n paar jaar te wantrou en toe te kyk hoe ons posisies net verder versleg.
Puik! Die teenoorgestelde reaksie is hoogs waarskynlik verwag met die plasing van hierdie meningstuk. Toe nou nie, tot dusver altans. Breyten se kuggie (dankie vader tog) kan dalk iets hiermee te doen hê. Dit is nietemin 'n riem onder die hart om so 'n onbevange bydrae te kon lees en des te meer, die gepaardgaande positiewe reaksie daarop.
Anzil Kulsen verdien 'n veertjie in die hoed en daarom hierdie bydrae ter ondersteuning.
Stockholm-sindroom so reg uit Uncle Tom se Cabin. Die leiers van die ou Raad van Verteenwoordigers sou trots gewees het op haar.
Charl Adams, Abraham Lincoln het sekerlik iemand soos jy in gedagte gehad toe hy die volgende wysheid kwytgeraak het: "Better to remain silent and be thought a fool than to speak out and remove all doubt."
Sela
Dit is al amper te laat om as Afrikaanssprekendes te wil saamstaan, maar êrens moet iets gebeur in dìè verband. Kleur en kultuur behoort geensins n klip in die pad te wees nie. As jou hart Afrikaans is, is jy familie. Afrikaanses is sterk en gemotiveerde mense. Ons sal iets kan deursien om hande te vat en saam te staan. Wie gaan voorvat? Ek is te oud; ek sal met my kierie volg. 👍🌹
Anzil jy maak my hart sommer warm.
Ek is alles met jou eens.
Die politieke korrektheid van sommige van die wat skryfsels in die media, gee my 'n pyn.
En wat 'n kundige, opgevoede, dierbare mens is Heindrich Wyngaard nie.
Ons moet uitreik, liefde uitdeel in oormaat aan mekaar. Wat het kleur daarmee te doen?
Dankie vir jou skryfsel met soveel waarheid.
Liefde.