Titel: Die pad na selfbestuur: Anderkant die mislukking van staatsbestuur
Skrywer: Flip Buys
Uitgewer: Kraal Uitgewers
ISBN: 9781990915000
Volgens ’n geykte opvatting handel politiek oor wie kry wat, wanneer en hoe uit die staatskas. Politieke wedywering en konflik gaan dan grootliks oor wie die mag behoort te hê om die staat se hulpbronne toe te wys en oor hoe hulle dit doen. Diegene wat ontevrede met hul sny van die spreekwoordelike koek is, kan op allerlei maniere protesteer, van die stembus tot gewapende verset. ’n Gans ander reaksie is dat ’n beswaarde groep mense gesamentlik probeer om hul afhanklikheid van ’n onsimpatieke of onbekwame staat te verminder deur staatlike dienste vir hulself te lewer.
Flip Buys se nuwe boek handel oor hierdie wesenskenmerke van die politiek. Sy twee sentrale temas word netjies in die boek se titel en subtitel vervat: selfbestuur deur ‘n gemeenskap in antwoord op wat Buys voorhou as ‘die mislukking van staatsbestuur’ in Suid-Afrika. Die gemeenskap ter sprake is hoofsaaklik Afrikaners.
Buys bied ’n uitvoerige diagnose van die stand van staatsbestuur in die nuwe Suid-Afrika. Die bekende gebreke soos onbeholpenheid, verkwisting, nepotisme en korrupsie word uitgewys. Afrikaners is natuurlik nie die enigste slagoffers nie, maar hulle het ook te make met die regeerders se onsimpatieke en selfs vyandige houding teenoor dié gemeenskap se belange.
Vrotsige staatsbestuur en die ANC se antagonisme jeens Afrikaners is van die vernaamste oorsake van wat Buys die groep se "bestaanskrisis” noem. Vir hom lê die "enigste oplossing” in "groter selfbestuur” deur Afrikaners, iets waarvoor hy ’n gedetailleerde roetekaart voorstel.
Miskien in antisipasie van vrae oor wie en wat ’n Afrikaner is, meen Buys dat hulle nes ander gemeenskappe soos die Skotte, Vlaminge, Koerde en Katalane, nie ’n groepsdefinisie nodig het nie; "elkeen weet of hy of sy een is” of nie. Hy erken die bestaan van veelvoudige identiteite, wat beteken dat Afrikaners tegelykertyd Afrikane, Suid-Afrikaners en Afrikaanstaliges is. En assosiasie met ’n kultuurgemeenskap is volledig vrywillig. Buys argumenteer voorts dat so ’n gemeenskap – Afrikaners inkluis ─ ’n reg op voortbestaan het volgens die internasionale reg en bevestig deur moderne staatspraktyke.
Alhoewel Buys nie voorgee om namens alle wit Afrikaanssprekendes te praat nie, verwoord hy ongetwyfeld die vrese en versugtinge van ’n groot gros (indien nie die oorgrote meerderheid nie) van hierdie groep. Hy is immers die voorsitter van die Solidariteit Beweging bestaande uit ’n stuk of agtien samestellende eenhede met ongeveer 500 000 lede (waarvan die meeste Afrikaners is). Dis in sy hoedanigheid as hoof van Solidariteit, een van Suid-Afrika se grootste burgerlike organisasies, dat Buys hier skryf. Dié posisie verseker dat hy sy voete plat op die aarde en sy oor teen die grond het.
Sy boek kom dus nie uit ’n ivoortoring nie, maar uit die loopgrawe van die Suid-Afrikaanse politiek en, meer spesifiek, uit die belewenisse en aspirasies van die Afrikanergemeenskap. Die Pad na Selfbestuur is egter nie sonder akademiese inslag nie. As ’n hoogs belese en berese persoon, demonstreer Buys ’n sterk sin vir die geskiedenis en ’n begrip van huidige internasionale tendense op terreine soos die ekonomie, demografie, menseregte (individueel en kollektief), globale magsverhoudinge en staatkundige formules vir die hantering van bevolkingsverskeidenheid. Dis dan nie verrassend dat die insigte van ’n hele rits groot geeste in die teks opgeneem is nie ─ van Karl Marx, Alexis de Tocqueville, Edmund Burke, Arnold Toynbee en N.P. van Wyk Louw tot Roger Scruton, Samuel Huntington, Ali Mazrui, Francis Fukuyama en Niall Ferguson. Die boek se wydlopende bronnelys sal menige akademiese navorser jaloers maak.
In sy taksering van die huidige situasie in Suid-Afrika, gebruik Buys onder meer die begrippe staatsverval en –mislukking (na laasgenoemde word in Engels as failed states verwys). Die boek bevat talle voorbeelde van ons eie staat se onvemoë om sy basiese funksies van veiligheid en welsyn bekwaam en eerlik te verrig. Dit geld vir al drie owerheidsvlakke. Of Suid-Afrika as ’n mislukte staat getipeer kan word ─ soos Somalië – is te betwyfel. ’n Vergelykende perspektief sou interessante lig kon werp op hoe ernstig ons situasie is. Daar is verskeie toepaslike indekse wat die regering se gehalte meet, soos die Mo Ibrahim Index of African Governance, die Fragile States Index, die Global Peace Index en die Corruption Perceptions Index.
Naas die algemene gevolge van swak staatsbestuur, het Afrikaners volgens Buys ook met ander meer spesifieke uitdagings te kampe. Een daarvan is permanente meerderheidsoorheersing, wat saamhang met die land se demografiese tendense waarvolgens die Afrikanergemeenskap (en die wit bevolking as geheel) getalsgewys relatief kleiner word teenoor veral die swart bevolking; dit lei tot wat Buys “’n demografiese demokrasie” of “demografiese diktatorskap” noem. Dan is daar die dubbele dwang van die ANC se transfomasie-ideologie en rasverteenwoordigendheid (volgens die 80-9-9-2 formule); die yl geografiese verspreiding van Afrikaners oor die land; ’n regering wat soos ’n ”besettingsmag” optree deur instellings wat noodsaaklik is vir kultuuroordrag, veral skole, oor te neem en nasiebou te ‘verskraal tot inlywing by die meerderheid’. Afrikaners word in besonder geraak deur wat Buys as ”plaasterreur” bestempel. Kortom, Afrikaners word deur ’n "bestaansbedreiging” in die gesig gestaar. Natuurlik sal sommige mense van hierdie donker diagnose verskil, maar feit is dat Buys se beskouings deur baie Afrikaners gedeel word (dink aan Solidariteit se ledetal) en dit die motiverings verskaf vir die beweging se planne vir Afrikanerselfbestuur.
Wat is dan die opsies vir Afrikaners? Buys stel dit kategories dat ’n onafhanklike Afrikaner-volkstaat nie prakties haalbaar of werkbaar is nie. Dit laat Afrikaners met wat hy noem “Plan A, B en C”. Die eerste is die voortsetting van die status quo. Buys se prognose is somber: "Gemeet aan die ANC se rekord van meer as twee dekades en omdat hulle steeds aan dieselfde beleid vasklou, kan ons nie aanvaar dat hulle nou skielik die land veilig gaan maak, dat die ekonomie gaan groei, dat hulle die drakoniese rassewette gaan afskaf, dat hulle eerlik en bekwaam gaan reageer, en dat die staatsverval omgekeer gaan word nie”. Indien Afrikaners hul lot bloot oorlaat aan "ANC-besluitneming” en "permanente ondergeskiktheid van hul eie toekoms aan die ANC” aanvaar, sal hul posisie vorentoe al verder verswak en sal al hoe meer Afrikaners hulle tot Plan C wend, naamlik emigrasie.
Vir Buys is die enigste werkbare en vohoubare uitweg vir Afrikaners geleë in "selfbesluitneming” of "selfdoenoutonomie”, oftewel Plan B. Dit behels volgens hom "groeiende selfbestuur” deur middel van "selfhelp-gemeenskapsorganisasies”, wat neerkom op die privatisering van verskeie tradisioneel openbare dienste. Hieronder val sake soos onderwys, opleiding, taalgebruik, welsyn en veiligheid. En hierdie tipiese staatsfunksies sal deur gemeenskapsorganisasies gelewer moet word sonder staatsfinansiering; Afrikaners sal dus self vir die dienste moet opdok. (In die akademiese literatuur word na sodanige selfdoen-inisiatiewe as funksionele outonomie verwys en dit kom inderdaad elders ter wêreld voor.)
Om logistieke en finansiële redes sal privaat dienste makliker, meer ekonomies en volhoubaarder gelewer kan word waar daar beduidende getalle Afrikaners woon, teenoor wyd verspreide klein groepies. Die sleutel tot die uitvoering van selfbestuur is daarom vir Buys dat Afrikaners se dun geografiese verspreiding plek moet maak vir groter konsentrasie in spesifieke gebiede in Suid-Afrika. "Deur getalle te konsentreer sal die natuurlike omstandighede geskep word waarin Afrikanergetalle en –belange gehandhaaf kan word en nie verder afneem vanweë emigrasie, inlywing of geweldsmisdaad nie”, voer Buys aan.
Volgens Solidariteit se demografiese navorsing, is daar reeds ’n spontane "Groot Trek” van Afrikaners na groter sentra onderweg. Buys voorsien die ontwikkeling van 29 ankerdorpe en –stede met beduidende getalle Afrikaner-inwoners. Die Solidariteit Beweging beoog om die konsentrasieproses deur ’n "aktiewe konsentrasieplan” te ondersteun en dis juis op gebiede van konsentrasie dat Solidariteit sy funksionele outonomie wil toespits.
In die boek gaan Buys egter ook verder met sy voorstelle. Uit die ankersentra kan minstens drie ”kulturele kantons” ontwikkel, waarvan ’n veel groter Orania een kan wees. Orania word ook voorgehou as ’n moontlike ”vrystad” geskoei op Paul Romer se idee van ”charter cities”. Buys dink groot: die kantons behoort te ontwikkel in entiteite met soortgelyke bevoegdhede as die bestaande provinsies en sodoende ’n nuwe federale karakter (’n Afrikaner-provinsie) aan Suid-Afrika se staatsbestel gee. Of Buys dink dat dit alles van ”onder” deur gemeenskapsinisiatiewe bereik kan word en sonder die instemmig van die staat, is nie duidelik nie. (Sou sulke reëlings wel in die toekoms volgens wet erken en geformaliseer word, sal Suid-Afrika die terrein van etnies-gebaseerde territoriale outonomie betree ─ ’n staatkundige model wat in sommige ander multikulturele lande funksioneer.)
Buys wys daarop dat baie Suid-Afrikaners reeds "op grond van beter veiligheid en leefstyl saam groepeer” in privaat veiligheidskomplekse en dat ’n wye reeks noodsaaklike dienste in die land lank reeds (deels) geprivatiseer is; hieronder tel gesondheid, onderwys en veiligheid. Hy voer dan aan dat mense ook toegelaat moet word om ”op grond van hul taal en kultuur” saam te groepeer en van privaat dienste gebruik te maak.
Ander aspekte wat deel vorm van Buys se Plan B, is ’n omvattende tienpunt veiligheidstrategie; deurlopende onderhandelinge met die owerheid om knelpunte uit te stryk, en ’n meer ambisieuse "opvolgskikking” tussen Afrikaners en die ANC-regering oor ”brandpunte wat die land verdeel”. Met Plan B kies Afrikaners, volgens hom, nie téén die ANC-regering nie maar vir hul eie gemeenskap. Buys beklemtoon dat hy wil hê die land moet slaag "maar dis buite ons beheer as die regering dit rampspoedig regeer en die meerderheid hulle daarin steun”. Nogtans voorsien hy dat Afrikaners vanuit hul "kulturele leefruimtes” brûe na ander gemeenskappe sal bou en goeie verhoudinge met die staat nastreef en hulself nie aan die samelewing sal onttrek nie.
Buys is optimsties dat sake vir Afrikaners nog lank nie verlore is nie. Hy vind dit "bemoedigend dat al meer Afrikaners die verlammende moedeloosheid en rigtingloosheid afskud en aktief begin meewerk aan die skep van ’n nuwe toekoms”. Solidariteit se Plan B bied, volgens hom, aan Afrikaners die moontlikheid van ’n "normale lewe” in ’n ”normale samelewing” waar mense vry, veilig en voorspoedig kan wees. Meer spesifiek wil Afrikaners soos "eersteklasburgers” behandel word; welkom in hul vaderland voel; hul moedertaal vrylik gebruik en hul kultuur uitleef; Westerse waardes navolg en ’n normale werksomgewing sonder rasbevoordeling en –uitsluiting geniet. Uit ’n ander hoek gesien, behoort hoër vlakke van selfbestuur vir Afrikaners hulle minder kwesbaar vir die gevolge van ’n "vervallende staat” te maak, aldus Buys.
Die laaste van die 36 hoofstukke in Die Pad na Selfbestuur bied ’n scenario van Suid-Afrika in 2030. Dis ’n oortuigende toekomsblik met positiewe en negatiewe kenmerke en ’n kombinasie van uitdagings en geleenthede vir Afrikaners.
In die bestek van nagenoeg 400 bladsye vermag Buys ’n hele paar dinge: hy kontekstualiseer sy temas met verwysing na belangrike tendense internasionaal en nasionaal; hy diagnoseer enersyds staatsverval in die land en andersyds wat hy as Afrikaners se bestaanskrisis beskou; Buys propageer Afrikaner-selfbestuur as ’n manier om uit die krisis te kom en verskaf ’n bloudruk daarvoor; dis terselfdertyd ’n plan van aksie waarmee hy moedelose en swartgallige Afrikaners wil inspireer om vir hulself ’n beter toekoms in Suid-Afrika te bou; hy lê maatstawwe neer aan die hand waarvan lesers van die boek en Afrikaners in die algemeen die uitvoering van Solidariteit se ambisieuse planne vir geprivatiseerde outonomie kan moniteer, en ten slotte projekteer hy met ’n beeld van hoe die land in 2030 kan lyk.
Wat stylistiese aspeke van Buys se boek betref, moet hy gekomplimenteer word op sy onopgesmukte en gemaklike taalgebruik, helder formulerings en beheerste en beredeneerde aanslag. Dit maak die boek maklik toeganklik vir ’n wye leserspubliek wat Afrikaans magtig is. Al klink dit dalk kleingeestig, is daar twee tegniese lastighede wat melding verdien. Aspekte van die bloudruk vir selfbestuur word in verskeie hoofstukke bespreek eerder as gekonsentreerd in net een of twee; dit lei tot taamlike herhaling. ’n Ander kwessie is dat voetnotas en bladsynommers moeilik leesbaar is.
Soos Hermann Giliomee in die voorwoord skryf, moet Die Pad na Selfbestuur "dringend en deeglik gelees word deur almal wat ’n premie plaas op die Afrikaners se voortbestaan” in Suid-Afrika. Maar Buys en die Solidariteit Beweging se stem, soos dit in hierdie boek neerslag vind, behoort ook gehoor te word in die internasionale gesprek oor die politieke akkommodasie van demografiese verskeidenheid, oftewel etniese diversiteit. Dis daarom te hope dat Kraal Uitgewers of ander arms van die Solidariteit Beweging ’n plan sal maak om die boek, of minstens dele daarvan, in Engels aan ’n internasionale gehoor bekend te stel.
Intussen is Die Pad na Selfbestuur: Anderkant die Mislukking van Staatsbestuur ’n tydige en waardevolle byvoeging tot die steeds klein korpus van gesaghebbende literatuur in Afrikaans oor selfbestuur of outonomie vir veral die Afrikanergemeenskap in Suid-Afrika. Buys bou voort op sy en Dirk Hermann se boek Vat Jou Goed en Bou! Twintig Jaar van Solidariteit (2017) en Buys se jongste geskrif kan met vrug saamgelees word met Kultuurvryheid en Selfbestuur: Keuses van Klein Groepe Wêreldwyd onder redaksie van Heinrich Matthee (2017) en met verskeie akademiese artikels oor gemeenskapsoutonomie in Suid-Afrika uit die pen van Bertus de Villiers.
- Die resensent is ’n emeritus professor in Politiek en Internasionale Betrekkinge aan Universiteit Johannesburg. Hy is ’n lid van Solidariteit.
Kommentaar
Wel, dankie tog dat 'n akademikus ook waarde insien, waaroor ons gewone wit Afrikaners lankal kuif. Selfbestuur is weg van die geykte idee van "wit tuisland", maar fokus op eie sake van belang. Meeste mense verwar nog selfbestuur (beheer neem van eie instellings en belange) met selfbeskikking ('n staatkundige konsep)! Selfbestuur is gemik om konsentrasiedorpe te skep, maar ontneem niemand die reg om hul te vestig waar hul wil nie.
U kan ook gerus die volgende gratis e-boek lees oor hoe Afrikaners selfbeskikking kan kry en hoe dit moontlik is dat ons selfs onafhankliheid kan kry deur middel van internasionale reg en die riglyne van die internasionale gemeenskap te volg in die toekoms, indien ons die wil sou toon: "Heimat vir Afrikaners" deur Cor Ehlers.
https://drive.google.com/file/d/1mCS-jKVLoZeFYL99YBe9ku_gIdjGAFZB/view
Die probleen lê mi nie in selfbestuur of selfbeskikking nie, beide is haalbaar binne sekere grense. Die probleem lê in die bevolkingstsoenami wat Suid-Afrika getref het en nog steeds tref.
In Europa is daar selfstandige gemeenskappe binne en buite grense. Nie een kon egter ontsnap aan die onwettige vlugtelingtsoenami wat Europa getref het nie.
Dit is die dilemma wat Europa en ook Suid-Afrika getref het. Daar is volgens amptelike statistieke 2.2 miljoen vreemdelinge in Suid-Afrika. Nie-amptelik baie meer maar niemand weet hoeveel nie.
Die vraag wat niemand graag wil beantwoord nie is hoe beskerm jy dit wat jy verkry het deur selfbestuur of selfbeskikking teen die invloede van buite en teen fisiese oorheersing.
Bou jy 'n muur soos Pres Trump, jaag jy hulle weg, deporteer die vreemdelinge, laat jy hulle van honger en dors doodgaan as hul op jou drumpel lê en tree so harteloos op, alles ter wille van selfbestuur of selfbeskikking?
En hoe hanteer jy die ontploffende plaaslike bevolking wat jy nie kan deporteer nie, want tuislande bestaan nie meer nie.
In selfbeskikking op eie grond bou jy jou eie sekuriteismagte, bewaak jou grense. ens en hoeveel van 'n kwynende bevolking kan jy vir die doel afstaan?
In beide (selfbestuur of beskikking) moet jy toegang tot produksiemiddelle hê en self 'n boikot in die verband kan oorleef. Soos ek vir my dogter gesê het toe die van 'selfstandig' begin praat, daar is nie iets soos halwe selfstandigheid nie. Selfstandig beteken onafhanklik van ander in alle opsigte, van opstaan tot slaap en alles tussenin, in jou eie plek en in jou eie bed in jou eie tyd.
Solank jy onder my dak bly is jy onderworpe aan die huisreëls net soos ons tans onderworpe is aan die wette van die nuwe, verbeterde Suid-Afrika, waaraan die heer De Klerk sy hande gewas het, want hulle 'is skoon' sê hy. Dalk moet hy onder sy vingernaels kyk waar hy die DNS van die uitverkoopte Afrikaners sal kry.
Apartheid het negatiewe gevoelens by baie mense gelaat.
Orania word genoem as een van die anker dorpe vir selfbestuur.
Orania se ontstaan het ook n geskiedenis wat gekoppel is aan die Apartheidsera.
Om te bou aan 'n nuwe toekoms moet die naam en beeld van Orania verander. 'n Nuwe baadjie aantrek, aanvaarbaar vir almal.
Dankie!
Pingback: Leon Lemmer: Flip Buys se ‘Die pad na selfbestuur’ – praag.co.za