Die ANC voer, in die geselskap van etlike ander, aan dat ongelykheid een van Suid-Afrika se grootste vraagstukke is. Ek deel nie hierdie siening nie. Armoede en broodgebrek is sekerlik ’n ernstige probleem, maar nie (on)gelykheid nie. Hierdie kwessie word egter nie nou beredeneer nie. Wel ter sake is die sogenaamde regstelling van ongelykheid. Hierdie vermeende regstelling staan sentraal in die ANC se ideologiese projek, bekend as die nasionaal-demokratiese revolusie (NDR), oftewel sy transformasieprogram. Terselfdertyd staan die bereiking van gelykheid ook sentraal in die Grondwet – heel begryplik in die lig van die feit dat ANC per slot van rekening die sentrale krag en hoofouteur van die Grondwet was.
Hoe suksesvol was die ANC oor die afgelope bykans 30 jaar ooreenkomstig sy ideologie en op gesag van die Grondwet om die ongelykheid van die verlede met gelykheid te vervang? In die beantwoording van hierdie vraag moet ons juis die twee kwessies – die ideologiese motiewe van die ANC en die tersaaklike grondwetlike bepalings – belig.
Ons begin by die grondwetlike oorgang van die middel-1990’s en gaan daarna oor na die ideologiese omwenteling (revolusie) wat deur die ANC te weeg gebring is en wat veel meer diepliggend as die oorgang is. Die ideologiese omwenteling mik op die vestiging van die ANC se gekoesterde nasionaal demokratiese samelewing (NDS) wat juis daarop aanspraak maak om deur die strewe na ’n bedeling van gelykheid aangedryf te word. Vervolgens gee ons aandag aan die strategieë wat vir daardie doel aangewend word en beoordeel ons die sukses, al dan nie, daarvan. Daaruit blyk dit dat indien die strewe wel was om gelykheid te bewerkstellig, dit sover grondig misluk het. Wat is egter die moontlikheid, vra ons in die laaste deel van die bespreking, om nogtans gelykheid en ’n NDS in Suid-Afrika te bewerkstellig?
..........
Die grondwetlike oorgang en bewindsverandering was die voorwaarde vir, en die eerste stap in, ’n veel omvattender ideologiese omwenteling (revolusie) wat Suid-Afrika die afgelope dekades beleef en waarvan die afloop nog onseker is.
..........
1. Die grondwetlike oorgang
Suid-Afrika het teen die einde van die 20ste eeu sy veelgeroemde grondwetlike oorgang ondergaan. Dit was toe die nuwe grondwetlike bedeling op 27 April 1994 op grond van die Tussentydse Grondwet wat die jaar tevore aangeneem is, in werking getree het.
Die grondwetlike oorgang en bewindsverandering was die voorwaarde vir, en die eerste stap in, ’n veel omvattender ideologiese omwenteling (revolusie) wat Suid-Afrika die afgelope dekades beleef en waarvan die afloop nog onseker is.
Die grondwetlike oorgang het in alle erns met die ontbanning van die ANC, SAKP en dergelike ander organisasies en die vrylating van Nelson Mandela in Februarie 1990 begin. Dit was hoofsaaklik onder druk van die Harare Deklarasie wat deur die ANC se buitelandse leierskap onder Oliver Tambo in Lusaka opgestel is en daarna eers deur die Organisasie vir Afrika-Eenheid (voorganger van die Afrika-Unie), die Statebond en die Organisasie van Onverbonde Lande en in Desember 1989 die Algemene Vergadering van die VN aanvaar is. Die grondwetlike onderhandelings het op 21 Desember 1991 formeel met die Conference for a Democratic South Africa I (Codesa I) ’n aanvang geneem en met die inwerkingtreding van die huidige Grondwet (dikwels onvanpas die finale Grondwet genoem) op 4 Februarie 1997 afgesluit.
2. Die omvattende omwenteling – die revolusie
Vanweë die oorgang van 1994 – die groot deurbraak vanuit die oogpunt van die ANC – wat in 1997 met die huidige (1996-) Grondwet in werking getree het, kon die ANC, nou toegerus met owerheidsmag, sy lank gekoesterde ideologiese omwenteling in alle erns van stapel stuur.
Die grondwetlike oorgang verskil in minstens drie wesenlike opsigte van die ideologiese omwenteling, naamlik met betrekking tot die rolverdeling, doelwitte en die tydvakke wat dit beslaan (het).
2.1 Rolverdeling
Die ANC, saam met sy naaste bondgenote, naamlik die SAKP, wat sedert die Morogoro-konferensie (in Tanzanië) in 1969 ’n stewige houvas op die ANC gekry het (en mettertyd die vakbondfederasie Cosatu), het die hoofrol in die grondwetlike oorgang gespeel, maar het nogtans die verhoog met etlike ander belangrike rolspelers, meer bepaald die ou Nasionale Party en die destydse wit minderheidsregering en etlike ander rolspelers soos die Inkatha Vryheidsparty (IVP) gedeel.
In die ideologies gedrewe omwenteling is die ANC en die SAKP in werklikheid die enigste rolspelers. Vir sover ander ’n rol te speel het, is hulle bloot bykomend tot die ANC en moes hulle, aldus die ANC, uiteindelik by hom inval.
2.2 Die doelwitte van die omwenteling
Die doelwitte van die omwenteling is meer radikaal. Die doelwit van die grondwetlike oorgang was om die owerheidsmag te kry. Dit was die deurbraak wat aan die ANC die gereedskap sou verskaf om die omvattende ideologies gedrewe omwenteling deur te voer en sodoende dus sy eintlike blywende langtermyn- ideologiese ideaal te verwesenlik.
Volgens die progressiwistiese opvattings van die ANC en die SAKP was Suid-Afrika die produk van byna drie en ’n halwe eeue van Westerlinge (Nederlanders en Engelse en toe Afrikaners en wit Engelssprekendes) se koloniale, apartheids- en kapitalistiese vergrype teen die land se swart mense. Dit het swart mense van hulle grond, grondstowwe en lewensmiddele ontneem en van hulle ’n uitgebuite proletariaat gemaak wie se goedkoop arbeid in diens van die Westerlinge geplaas is.
..........
Toe, in 1994, kom die belangrike deurbraak toe die gekoloniseerde klas met die ANC en SAKP as voorhoede, danksy die grondwetlike oorgang, die politieke mag in die hande kry.
..........
Die SAKP het in 1962 in sy The road to South African freedom ’n vertolking van die Suid-Afrikaanse geskiedenis verskaf wat sedert 1969 deur die ANC by sy Morogoro-kongres bevestig is en daarna deel van die ideologiese vesel van die ANC geword het. Daarvolgens behels die Suid-Afrikaanse situasie ’n sogenaamde colonialism of a special type (CST), wat ons hier as kolonialisme van ’n besondere aard, of KBA, kan vertaal.. Die dokument verklaar dat sowel eertydse wit setlaar-koloniste as die eertydse gekoloniseerdes Suid-Afrika as hulle tuiste beskou. Die toenmalige koloniste het op grond van kolonialisme, apartheid en kapitalisme die swart bevolking sedert die middel van die 17de eeu ontmagtig, verarm, verjaag en uitgebuit en sodoende tot ’n uitgelewerde proletariaat verneder. Maar anders as Britte, Franse, Portugese en andere wat hulle eertydse kolonies verlaat het, het die Europeërs hier gebly. Toe, in 1994, kom die belangrike deurbraak toe die gekoloniseerde klas met die ANC en SAKP as voorhoede, danksy die grondwetlike oorgang, die politieke mag in die hande kry. Ondanks die grondwetlike deurbraak bestaan die koloniale struktuur van die ekonomie met sy samelopende ongelyke ras- en klasverdeling steeds voort met die wit kapitaliste wat steeds die kapitaaleienaars en bestuurders is en welgesteld en gemaklik leef, in teenstelling met die swart verarmdes wat in afhanklikheid krepeer.
Dit is hierdie kolonialisme van ’n besondere aard wat ongedaan gemaak moet word. Dit moet geskied deur die tipies Leninisties geformuleerde NDR. Die sentrale opgaaf van die NDR is om ’n einde aan KBA te maak en ’n daadwerklike toestand van sosiale en ekonomiese gelykheid te weeg te bring om sodoende die vermeende eertydse Afrika-paradys van gelykheid en oorvloed te herstel: nierassige, nieseksistiese samelewing van gelykheid, wat ook uitdrukking vind in ’n openbaar homogene kultuur, waarin mag deur die “mense” uitgeoefen word – waarin demokratiese people’s power dus geld.
Na afloop van die NDR sal die veel gekoesterde toestand van die NDS heers.
Die NDS behels die saamvloei van die ANC se twee hoof- en wedersyds aanvullende ideologiese strome: sy Afronasionalistiese en sy kommunistiese strome.
..........
Derhalwe is die tale van bevryding vir die Afrikastate juis ook nie die veragterde en verdelende tale van Afrika nie, maar juis die eertydse progressiewe koloniale tale.
..........
Die kommunistiese en Afronasionalistiese strominge van die ANC-SAKP is staatlik en sogenaamd progressiwisties. Dit is staatlik, want hoewel die bestaande staatsgrense die nalatenskap van suksesvolle koloniale politiek is, baken hierdie grense die state af as die onskendbare raamwerk vir openbare identiteit en die beoefening van die politieke aktiwiteit. Dit bepaal dat mense in die eerste plek Zimbabwiërs, Namibiërs of Suid-Afrikaners moet wees, en hulle kulturele, taal-, etniese en dergelike besondere identiteite as Ndebele’s, Sjonas, Ovambo’s, Herero’s, Zoeloes, Pedi’s en dergelike partikuliere identiteite moet afsterf. Die (veragterde) stamme, meer bepaald die Afrikastamme, moes sterf sodat die nasie – die progressiewe staatsnasie – binne die state met hulle ou koloniale grense kon leef. Derhalwe is die tale van bevryding vir die Afrikastate juis ook nie die veragterde en verdelende tale van Afrika nie, maar juis die eertydse progressiewe koloniale tale (Engels, Frans, Portugees, ens). Dit is hierdie tale wat die gemeenskaplike bindingskrag vir die (progressiewe) staatsnasies moes verskaf. Ooreenkomstig dieselfde uitgangspunt moes die tradisionele (veragterde) stamleierskap ter wille van die sentralistiese (progressiewe) staatsowerheid uitoorlê word en in die diens van die progressiewe staatsnasies gestel word.
Die koloniseerders betrokke by KBA is weliswaar welkom om in Suid-Afrika aan te bly. Dan moes hulle egter inskakel by die NDS. Dit veronderstel voldoening aan twee voorwaardes.
Eerstens moes hulle hulle vereenselwig met die doelwitte van gelykheid. Hulle moet afstand doen van die grond, grondstowwe en dergelike rykdom wat hulle onregmatig sou bekom het en van hulle ’n uitbuitende oligargie gemaak het. Hulle moet al daardie bates aan die benadeeldes van KBA – die swart proletariaat – oordra.
Tweedens mag hulle geen onderskeibare gemeenskap met ’n eiesoortige kultuur of outonome magte wees nie. Kultuur-, taal- en dergelike gemeenskappe is agterlik en moet hulself in die NDS likwideer of hulself ten minste stil gedra en nie allerlei aansprake vir hulle gemeenskappe maak nie. Die NDS is per slot van rekening ’n progressiewe staatlike gemeenskap van algemene gelykheid met ’n algemene staatlike kultuur wat nie selfgeldende kulture, esprit de corps, groepsregte, federalisme of enigiets dergeliks verdra nie. Jy mag jou eie kultuur hê, maar dit is vir die private domein, nie vir die openbare sfeer nie. Die eertydse koloniste moes hiermee vir lief neem, of andersins pad gee.
..........
Jy mag jou eie kultuur hê, maar dit is vir die private domein, nie vir die openbare sfeer nie. Die eertydse koloniste moes hiermee vir lief neem, of andersins pad gee.
..........
Die omwenteling na en die instandhouding van die NDS vereis magskonsentrasie, dit wil sê, dat die ANC politieke, ekonomiese, maatskaplike en intellektuele mag en gesag op elke terrein moes bekom en behou. Gevolglik moes die ANC, soos hy reeds male sonder tal verklaar het, beheer oor alle hefbome van mag en gesag uitoefen. Dit is belangwekkend, want hiermee word nie slegs die nasionale en alle ander wetgewers en sentra van uitvoerende gesag bedoel nie, maar ook die regbank, die staatsdiens, die weermag, polisie, “onafhanklike instellings ter bevordering van konstitusionele demokrasie” en alle ander staatsorgane, die professies, die onderwyssektor, sportliggame, en trouens enige ander instelling. Die georganiseerde burgerlike samelewing en die sakesektor, en trouens alle ander sektore en sfere van die samelewing, moes ter verwesenliking van die doelwitte van NDR gemobiliseer word. Hierdie doelwitte het die ANC telkens in sy Strategy and tactics-dokumente, wat by sy vyfjaarlikse kongresse ’n belangrike deel van die verrigtinge uitmaak, uitgespel. Dit is baie uitdruklik gedoen in die weergawe van hierdie dokument wat die ANC in 1997 by sy Mahikeng-kongres aanvaar het, maar selfs nog meer onomwonde in sy Cadre policy and development strategy van 1998.
Kaderontplooiing behels dat die ANC sy partylojaliste in alle sfere ontplooi ten einde volkome partybeheer oor die totale samelewing te vestig. Vir sover hy nog nie volledig hierin kon slaag nie, is dit alleen omdat teenrevolusionêre magte in ’n uitdagende balans van magte, soos wat die ANC dit noem, die ANC tot nou toe verhoed het om dit te doen.
2.3 Die tydvak van oorgang teenoor die tydvak van die omwenteling
Die tydvak van die grondwetlike oorgang is verskillend van die ideologiese omwenteling. 27 April 1994 het die aanvang van die NDR in die vooruitsig gestel. Nogtans kon dit nie toe reeds van stapel gestuur word nie. Die grondwetlike proses vir die aanneming van die huidige (1996-) Grondwet en die van krag wording van die Grondwet op 4 Februarie 1997 moes eers voltrek word alvorens dit werklik kon begin gebeur. Ten tye van die ANC se Mahikeng-kongres in Desember 1997, waarna hier bo verwys is, het die ANC derhalwe voldoende selfvertoue openbaar om in sy destydse Strategy and tactics-dokument die revolusie ooreenkomstig sy NDR-oortuigings in alle erns van stapel te stuur.
Die ANC was nie uit die staanspoor, toe dit in 1912 as die South African Native National Congress (SANNC) gestig is, ’n revolusionêre organisasie nie. Hy het dit eers later geword. ’n Klomp kragte het hom in hierdie rigting gestuur om uiteindelik in die vroeë 1960’s ’n revolusionêre organisasie te word.
Binnelands was die vergroting van die swart werkersklas ná die Tweede Wêreldoorlog gerugsteun deur ekonomiese groei en toenemende swart verstedeliking belangrike materiële kragte wat die ANC in ’n revolusionêre rigting gestuur het. Dit het die ANC se potensiële steunbasis onder ’n groter en meer mobiliseerbare groep mense gestimuleer. Tweedens het die ANC ’n sterker leierskorps gevestig, beginnende by sy destydse leier, AB Xuma, en die energieke leierskap van die ANC Youth League, wat in 1944 gestig is. Prominente persoonlikhede was Nelson Mandela, Oliver Tambo, Walter Sisulu, Anton Lembede en etlike ander. Derdens het die Nasionale Party (NP), wat in 1948 aan bewind gekom het, ’n verharde regeringsbeleid teenoor swart eise meegebring. Die internasionale situasie het ook gunstig vir die ANC gekenter. Die Tweede Wêreldoorlog het ’n liberaal-demokratiese sowel as Sowjet-oorwinning opgelewer wat beide in die ANC se guns getel het. Wat die liberaal-demokratiese oorwinning betref, het Franklin Roosevelt en Winston Churchill reeds in 1941 met die Atlantic Charter in die vooruitsig gestel dat die na-oorlogse orde aan die hand van liberaal-demokratiese beginsels ingerig moes word. Die voortsetting van koloniale heerskappy sowel as die wit minderheidsbewind was hiervolgens ikabod. Die ANC het munt hieruit geslaan deur in Desember 1943 die dokument getiteld African claims in South Africa uit te reik, wat juis swaar op die Atlantic Charter gesteun het. Die toon van die dokument was egter steeds besonder respekvol en gematig.
Gedurende die vyftigerjare het dit beduidend verander. Met die Defiance Campaign van 1952 is tot massa-aksie uit protes teen etlike apartheidsmaatreëls oorgegaan. In 1955 is die Freedom Charter eweneens met groot massasteun aanvaar. Die vroue-opmars van 9 Augustus 1956 was ook ’n massaprotes.
Die massa-aksie het spoedig tot gewelddadige botsings tussen die polisie en die ANC en Pan Africanist Congress (PAC), wat in 1959 uit die ANC ontstaan het, gelei. Die slagting by Sharpeville op 21 Maart 1960 waartydens 69 mense gesterf het, was die mees berugte voorval.
..........
’n Groot deel van die res van die ANC-leiding, met inbegrip van Oliver Tambo, het die land verlaat en die grondslag gelê vir die ANC se buitelandse missie ...
..........
Die NP-regering het op die groeiende militantheid gereageer deur die ANC en PAC verbode te verklaar – iets wat reeds in 1950 met die Kommunistiese Party gebeur het. Inmiddels het leiersfigure van die ANC in 1961 besluit om ’n gewapende stryd te begin. ’n Sameswering om die regering omver te werp is egter kort daarna blootgelê en die leiers is in hegtenis geneem, suksesvol vervolg en langtermyngevangenisstraf opgelê. Die veroordeeldes het Mandela, Sisulu, Govan Mbeki, Ahmed Katrada, Andrew Mlangeni en etlike ander ingesluit. ’n Groot deel van die res van die ANC-leiding, met inbegrip van Oliver Tambo, het die land verlaat en die grondslag gelê vir die ANC se buitelandse missie, wat na dekades uiteindelik suksesvol was om die wit regering te midde van ’n drasties veranderde wêreldmening te isoleer en ’n belangrike drukfaktor was wat tot die onderhandelde magsoordrag van 1994 gelei het.
Teen 1960 was die ideologiese grondslag finaal vir die ANC om later, sodra hy in die posisie kom om dit te kon doen, sy NDR van stapel te stuur. Afrika-nasionalisme en kommunisme was nou sy wesenskenmerke. Gesamentlik het daardie twee kragte hom aangedryf om die sogenaamde KBA met wortel en tak uit te roei. Vir daardie doel moes die ANC-SAKP as die revolusionêre voorhoede vir die gekoloniseerde swart meerderheid (polities) aan bewind geplaas word om die ekonomiese omwenteling deur te voer wat tot ekonomiese gelykheid moes lei, oftewel, soos twee progressiwistiese juriste van Johannesburg, Cathi Albertyn en Debi Goldblatt, dit in die 1990’s met latere goedkeuring van die Konstitusionele Hof gestel het, om die Grondwet in te span met die oog op “complete reconstruction of the state and society, including a redistribution of power and resources along egalitarian lines”.
Met die inwerkingtreding van die huidige Grondwet in Februarie 1997 was die magsoordrag by wyse van die konstitusionele oorgang voltrek. Nou, gewapen met die middele van owerheidsmag, kon die ideologiese omwenteling op volle vaart kom sodat die NDS op die rug van die NDR verwesenlik kon word.
3. Die strategieë vir die bereiking van die NDS – en van gelykheid
Na die magsoordrag kon die ANC-regering nou sy doelwitte deurvoer deur van die reg, en veral die (vertolking van) die Grondwet, gebruik te maak as hoofinstrument vir die deurvoer van die NDR. Bypassend by die konstitusionele bestel waarbinne die ANC nou beweeg het, was dit nou ook vir die ANC gerade om die harde revolusionêre terme van die NDR te herverpak in die subtiele konstitusionele terme van transformasie, transformatiewe konstitusionalisme en die hele pakket van regsterme wat die Grondwet verskaf het.
Gevolglik verskuif die aandag nou na veral vyf (daar is meer) heg verweefde en wedersyds versterkende strategieë waarmee die NDR nou in konstitusionele gewaad deurgevoer word. Hierdie vyf is: (1) transformasie (transformatisme), waarin die verbintenis tot gelykheid sentraal staan; (2) verteenwoordigendheid, waarvan regstellende aksie ’n onderafdeling is en wat insgelyks voorgee om aan gelykheid uitdrukking te gee; (3) maatskaplike sorg deur die staat; (4) swart ekonomiese bemagtiging, of SEB, beter bekend aan sy Engelse akroniem, BBBEE of BEE in sy verkorte vorm; en (5) kaderontplooiing.
3.1 Transformasie (transformatisme) en gelykheid
Die term nasionaal demokratiese revolusie, of NDR, word tans nie so algemeen deur die ANC gebruik nie. Klaarblyklik versigtig vir die skerp sentiment daarvan, verkies die ANC eerder die subtieler term transformasie. Transformasie het oor die afgelope nagenoeg ’n kwarteeu binne die konteks van die grondwetlike diskoers as’t ware die alternatiewe kodewoord vir die NDR geword. Ofskoon die term transformasie nêrens in die Grondwet voorkom nie, het dit die meesterdenkbeeld van die grondwetlike diskoers geword. So belangrik is dit dat dit ’n toonaangewende “waarde” van die grondwetlike orde geword het, bykans asof dit in artikel 1, die funderende bepaling van die Grondwet, opgeneem is. Wetgewing is deurtrek daarvan; dit kom in toonaangewende regspraak voor; en word dikwels in die regsakademiese en algemene politieke diskoers gebruik. Ek doen aan die hand dat die woord transformatisme eerder as bloot transformasie ’n meer akkurate weerspieëling daarvan is dat ons hier met ’n ideologie te doen het en nie bloot met die een of ander vorm van neutrale verandering soos wat die beskrywende transformasie suggereer nie.
Die betekenis van transformatisme met sy hegte vereenselwiging met die NDR kom aan die lig in die sienswyses van twee van die mees prominente regters van die Konstitusionele Hof, oudhoofregter Langa en voormalige adjunkhoofregter Moseneke. Dit behels ’n vertolking van die Grondwet waarvolgens die sentrale visie daarvan ’n egalitêre samelewing is, gebou op substantiewe gelykheid – ’n klaslose, sosialistiese samelewing wat in wesenlike opsigte, veral in die openbare domein, homogeen is. Voorts, in pas met kaderontplooiing, moet almal, met inbegrip van die howe, hulle inwerp om hierdie visie ’n werklikheid te maak.
Moseneke en Langa onderskryf die oortuiging van Albertyn en Goldblatt wat die Grondwet as die basis beskou om Suid-Afrika in ’n egalitêre samelewing te omskep. Transformasie, verklaar hulle, vereis ’n “complete reconstruction of die state and society, including a redistribution of power and resources along egalitarian lines”. Gelykheid as ’n grondliggende grondwetlike waarde (in artikel 1) van die Grondwet sowel as ’n reg (in artikel 9) staan vir hulle “(c)entral to the task of transformation”. Gelykheid is die “foundational value” en “organising principle” van die nuwe orde. Besondere klem word op die aktivistiese formulering van artikel 1 van die Grondwet geplaas wat nie bloot gelykheid as sodanig nie, maar die “bereiking van gelykheid” oftewel ’n projek ter bereiking van gelykheid as deel van die waardegrondslag van die Grondwet neerlê. As gesag vir hulle standpunt dat die transformasieprogram op die bereiking van substantiewe gelykheid moet afstuur, word gereeld ’n beroep gedoen op ’n stelling van regter Kriegler in die 1997-uitspraak in President of die RSA v Hugo waar hy verklaar het:
The South African Constitution is primarily and emphatically an egalitarian Constitution. The supreme laws of comparable constitutional states may underscore other principles and rights, but in die light of our particular history and vision for die future, a Constitution was written with equality at its centre. Equality is our Constitution’s focus and organising principle.
Transformatisme se intieme vereenselwiging met substantiewe gelykheid bring mee dat die formele, of denkbeeldige (notional), gelykheid soos Moseneke dit noem, verwerp word. Wat derhalwe vanuit ’n transformatiewe hoek beslissend is, is nie gelyke geleenthede nie, maar gelyke resultate. Dienooreenkomstig verklaar Moseneke: “Unlike classical liberal jurisprudence, animated by individual autonomy and protection of property, the attainment of collective good, through redistributive fairness in an open and democratic society, informs transformative jurisprudence.”
..........
Transformatisme se intieme vereenselwiging met substantiewe gelykheid bring mee dat die formele, of denkbeeldige (notional), gelykheid soos Moseneke dit noem, verwerp word.
..........
Deur die Grondwet deur die lens van transformatisme (die NDR) te beskou, word van die howe vereis om hulle eie besondere rol as deel van ’n sentraal geleide projek te speel om die NDR se stryd ter verwesenliking van die egalitêre samelewing (die NDS) deur te voer. Die howe moet derhalwe nie bloot onpartydige toeskouers van transformatisme wees nie. Hulle moet afskeid neem van wat dikwels beskryf word as ’n konserwatiewe, formalistiese, letterlike regskultuur wat alles onversoenbaar is met ’n transformatiewe visie van die Grondwet. Moseneke roer die punt pertinent aan. Transformatiewe konstitusionalisme sê hy, het die wyse waarop regters te werk moet gaan, van ’n nuwe gestalte voorsien. Daarom moet regters in ooreenstemming met hulle transformatiewe opgaaf ’n nuwe vlak van selfondersoek en kreatiwiteit met betrekking tot hulle metodiek, ontleding en beredenering aan die dag lê. Die howe het hulle eie gespesialiseerde verantwoordelikheid in die transformasieprojek, naamlik om die Grondwet so te vertolk en so uitsprake te lewer dat hulle substantiewe gelykheid help bewerkstellig. Moseneke verklaar:
Transformative adjudication must be put to the task of achieving (in conjunction with other organs of the state and diverse organs of civil society) social redistributive justice. The primary purpose of the Constitution is to intervene in unjust, uneven and impermissible power and resource distributions, in order to restore substantive equality.
Die regbank, verklaar Moseneke ten slotte, “(i)s commanded to observe with unfailing fidelity the transformative mission of the Constitution”.
Op sterkte van hierdie sienswyse word die howe dus opdrag gegee om hulself aan die verwesenliking van die NDR diensbaar te stel.
3.2 Demografiese verteenwoordigendheid (representivity), waarvan regstellende aksie (affirmative action) ’n onderafdeling is, en gelykheid
Demografiese verteenwoordigendheid, kortweg verteenwoordigendheid, herlei terug na die SAKP se Road to South African freedom van 1962. Representivity het, soos transformatisme, ’n algemene beginsel van die Suid-Afrikaanse grondwetlike en breër openbare diskoers geword, dermate dat regter Kriegler, die einste persoon wat, soos hier bo vermeld, eenmaal die sentrale belang gelykheid so beklemtoon het, hom al geïrriteerd uitgelaat het dat verteenwoordigendheid die “be all and end all” in die Suid-Afrikaanse grondwetlike diskoers geword het.
..........
Dit kon natuurlik nie anders nie, want verteenwoordigendheid is volgens sowel die ANC as sekere standpuntinnames van die Konstitusionele Hof inherent aan gelykheid.
..........
Dit kon natuurlik nie anders nie, want verteenwoordigendheid is volgens sowel die ANC as sekere standpuntinnames van die Konstitusionele Hof inherent aan gelykheid. Dit vind wyd neerslag in wetgewing en het reeds herhaaldelik die goedkeuring van die Konstitusionele Hof weggedra. Dit behels dat alle instellings die bevolkingsamestelling van die nasionale bevolking moet weerspieël. Die uitwerking daarvan, soos dit reeds baie gebeur het, is dat instellings vir minderhede verdoem word, omdat sodanige instellings uiteraard nie die nasionale bevolkingsamestelling kan weerspieël nie. ’n Minderheidsinstelling wat aan die eis van verteenwoordigendheid voldoen, wis homself uit – pleeg selfmoord.
Op die keper beskou, is verteenwoordigendheid ten slotte nie wat dit voorgee om te wees, naamlik ’n strategie om gelykheid te bewerkstellig, nie, maar om swart dominasie en hegemonie te bewerkstellig. Op grond van verteenwoordigendheid moet alle instellings en georganiseerde sfere grotendeels swart en onder swart beheer wees.
Regstellende aksie moet teen hierdie agtergrond beoordeel word. Regstellende aksie gee, soos veral die Afrikaanse benaming aandui, voor dat dit ’n remediërende maatreël is – ’n maatreël wat onreg van die verlede moet regstel. So beskou, het dit inderdaad ’n geregverdigde basis. Dit is egter nie waar die beoordeling van regstellende aksie in Suid-Afrika eindig nie. Dit moet teen die agtergrond van kaderontplooiing en verteenwoordigendheid oorweeg word.
Regstellende aksie bied die geleentheid om onder die regverdigende voorwendsel van ’n regstellende maatreël minderheidsinstellings onmoontlik te maak en homogenisering deur te voer.
Insgelyks bied regstellende aksie die geleentheid onder die einste regverdigende kleed dat partykaders elke moontlike instelling oorneem en sodoende partybeheer verstewig.
Die oënskynlik legitieme maatreël van regstellende aksie is oplaas dus eerder ’n maatreël om ANC-magsentralisasie te bewerkstellig.
Juis daarom is daar ook geen sprake dat regstellende aksie in Suid-Afrika onder die ANC ’n bloot tydelike maatreël of beleid sal wees soos wat dit met regstellende aksie behoort te wees nie. Die ANC het dit permanent nodig as ’n wyse om partybeheer op die lange duur voort te sit.
3.3 Maatskaplike sorg en dergelike deur die staat
Die Grondwet maak voorsiening vir ’n omvattende stelsel van maatskaplike sorg in die vorm van maatskaplike (sosio-ekonomiese) regte waarvoor die staat instaan. So is daar die reg op toegang tot behuising, gesondheidsorgdienste, voldoende voedsel en water en maatskaplike sekuriteit asook die reg op basiese onderwys. Voorts behels die Grondwet se eiendomsbepaling ook eerder maatreëls vir herverdeling eerder as bloot beskerming van bestaande regte. Dit bepaal dat burgers in staat gestel moet word om “op ’n billike grondslag” toegang tot grond te verkry, terwyl die staat ook maatreëls mag instel om grond-, water- en verbandhoudende hervorming te bewerkstellig ten einde die gevolge van rassediskriminasie van die verlede reg te stel. Die Grondwet se voorsiening vir die reg op basiese onderwys sluit basiese onderwys vir volwassenes, en verdere onderwys, in wat die staat, deur middel van redelike maatreëls, in toenemende mate beskikbaar en toeganklik moet maak.
3.4 Swart ekonomiese bemagtiging (SEB), beter bekend aan sy Engelse afkortings BEE en BBBEE
Die doel van die beleid van SEB is om swart mense in die algemeen ekonomies te bemagtig. Die doel blyk die helderste uit die benaming van die hoof- wetgewende instrument vir SEB, naamlik die Broad Based Black Economic Empowerment Act wat in 2003 aangeneem is. Dit is daarop gemik dat swart mense in die algemeen (oftewel op ’n breë basis) daarby moet baat sodat in die algemeen groter gelykheid te weeg gebring word. Daar is natuurlik ook nog etlike ander wetgewende maatreëls wat hierdie doel voor oë het, veral die Preferential Procurement Policy Framework Act (PPPFA) van 2000.
3.5 Kaderontplooiing
Die vyfde strategie is dié van kaderontplooiing. Dit is ’n integrale en onvermydelike bestanddeel van transformatisme, aangesien die ANC daardeur verseker dat hy beheer oor alle hefbome van mag en gesag verkry, soos wat hy hom dit oor die dekades heen in die vooruitsig gestel het. Juis daarom is die ANC onlosmaaklik aan kaderontplooiing verbind. Hy het nie ’n keuse nie, want hy is absoluut daarop aangewese om sentralistiese partybeheer te behou. Die Grondwet laat dit oënskynlik natuurlik nie toe nie. Die tersaaklike bepalings van die Grondwet, onder andere vervat in artikel 195, het egter lankal kragteloos geword, omdat kaderontplooiing ter wille van magsentralisasie vir die ANC ’n absolute noodsaak is en algemene praktyk geword het.
4. Die vrugte van die revolusie – gelykheid?
Die NDR het nou byna 30 jaar nadat dit van stapel gestuur is, nog nie naastenby die NDS met die seer gekoesterde ideaal van gelykheid opgelewer nie. Inteendeel, Suid-Afrika is verder van gelykheid weg as in 1994. Die kroniek van die mislukking hiermee is oorbekend. Slegs enkele aspekte word uitgelig.]
..........
Inteendeel, Suid-Afrika is verder van gelykheid weg as in 1994. Die kroniek van die mislukking hiermee is oorbekend.
..........
Die stelsel van basiese onderwys wat die enjin vir die ekonomiese in staat stelling van die jeug moes wees, het omvattend misluk, ondanks die feit dat die Grondwet basiese onderwys waarborg. Die besteding op (staats)onderwys in die mees onlangse boekjaar was R451 miljard, wat 20,2% van die totale begroting verteenwoordig, wat van Suid-Afrika een van die grootste besteders aan onderwys ter wêreld maak. Desondanks gaan kinders in skole in swart woonbuurte gemiddeld slegs drie en ’n half uur per dag skool. Volgens die Education Law Centre, ’n burgerlike organisasie in die onderwyssektor, is minstens 80% van openbare skole (staatskole), waar die oorgrote meerderheid van swart en bruin kinders skoolgaan, disfunksioneel. 81% van leerlinge in graad 4 kon volgens ’n 2021-studie in geen taal verstaan wat hulle “lees” nie, en volgens die onderwyskundige Jonathan Jansen is talle finalejaar-onderwysstudente funksioneel ongeletterd. Universiteite ken aan hierdie mense grade toe bloot omdat hulle afwaartse standaardaanpassings maak om die swak studente wat vanuit skole by universiteite uitkom, te akkommodeer en uiteindelik grade aan hulle toe te ken.
Sedert die inwerkingtreding van die Grondwet, maar veral sedert die 2004/5-boekjaar, het die uitbetaling van maatskaplike toelae aan ’n groeiende getal mense ten einde aan sosio-ekonomiese regte te voldoen en gelykheid te bevorder, drasties gestyg. Tans ontvang 32% van die bevolking volgens die departement van maatskaplike ontwikkeling die een of ander maatskaplike staatstoelae. 17,2% van die nasionale begroting word aan maatskaplike toelae bestee. Daar is tans meer mense wat toelae ontvang as wat werk. Werkloosheid is te weeg gebring deur onverstandige beleid wat beleggersvertroue verwoes en die ekonomie in ’n kreeftegang gestuur het. Die nagenoeg 18 miljoen mense wat tans op staatstoelae aangewese is, is staatafhanklik, en in die lig van ekonomiese stagnasie het hulle geen vooruitsig om uit hierdie toestand te ontkom nie. Nie net is daar geen sprake van gelykheid nie; hierdie miljoene mense verkeer juis vanweë hulle afhanklikheid in ’n blywend mensonwaardige bestaan.
..........
Die nagenoeg 18 miljoen mense wat tans op staatstoelae aangewese is, is staatafhanklik, en in die lig van ekonomiese stagnasie het hulle geen vooruitsig om uit hierdie toestand te ontkom nie.
..........
SEB en regstellende aksie kon nie omvattende bevoordeling en bemagtiging aan swart mense verskaf nie. Wat dit wel gedoen het, was om in die omgewing van 15% van swart mense langs die weg van regstellende aksie en verteenwoordigendheid tot voordeel te wees en terselfdertyd ’n klein groepie swart mense drasties te bevoordeel en skatryk te maak. Dit is ’n klein elite gewoonlik heg verbind met die ANC wat danksy staatskontrakte vinnig baie ryk geword het. Die staat en die publiek is op verskeie wyses hierdeur benadeel.
Nou, na meer as 20 jaar se ervaring met SEB nadat dit vir die eerste maal in wetgewende vorm van stapel gestuur is, heers daar bykans algemene eenstemmigheid dat dit ernstig misluk het in die doelwit om swart mense in die algemeen ter wille te wees en gelykheid te bevorder. Die belangrikste nadeel (en ooreenstemmende voordeel vir die betrokke SEB-maatskappye en swart elite) is die feit dat kontrakte met SEB-maatskappye teen buitensporige pryse gesluit word en dat prestasie heel dikwels veel te wense oorlaat.
Wat gesondheid betref, is Suid-Afrika se besteding in pas met die meeste middelinkomstelande. Nogtans word die staat se gesondheidstelsel as disfunksioneel bestempel. Dit is onder andere te wyte aan diefstal van mediese hulpbronne, ondoeltreffendheid, gebrekkige instandhouding, die afwesigheid van verantwoordingdoening by staatshospitale en natuurlik ook die emigrasie van beduidende getalle gesondheidskundiges uit die land, onder andere omdat werksomstandighede hier dikwels onaanneemlik is. Selfs gevaarlik. In antwoord op ’n parlementêre vraag vroeër vanjaar oor hoeveel nuwe staatshospitale sedert die huidige regering se bewindsoorname gebou is, was die antwoord dat 32 hospitale opgeknap is. Teen die middel van Augustus 2023 is berig dat die Chris Hani Baragwanath-hospitaal, die land se grootste staatshospitaal, nie meer adrenalien in voorraad het nie, klaarblyklik omdat ’n groot betroubare farmaseutiese maatskappy se kontrak beëindig en met ’n ander een vervang is. Hospitale is dikwels vuil, het nie genoeg beddegoed nie en het ook dikwels nie kos vir pasiënte nie. Mediese nalatigheid vier hoogty by staatshospitale, dermate dat uitgawes aan eise weens regsmediese nalatigheid in die Oos-Kaap gedurende die boekjaar 2020/21 die totale gesondheidsbegroting oorskry het. Die klaaglike toestand van die staat se gesondheidstelsel is in skrille teenstelling met die land se uitstekende private gesondheidsektor.
..........
Vandag is Suid-Afrika een van die lande met die mees ongelyke bevolkings ter wêreld.
..........
Die slotsom: Die doelwit om gelykheid te bewerkstellig soos wat die NDR voorskryf en die Grondwet bemagtig ten einde die veel gekoesterde NDS te skep, het grondig misluk. Die progressiewe omwenteling – die revolusie – het misluk. Maar meer as dit: Dit het nie net misluk nie, maar in belangrike opsigte die teenoorgestelde opgelewer van wat in die vooruitsig gestel was. Vandag is Suid-Afrika een van die lande met die mees ongelyke bevolkings ter wêreld. Die land het in weerwil van die gekoesterde ideaal van gelykheid beweeg van ongelykheid na nuwe ongelykheid. Wat wesenlik bewerkstellig is, was om die struktuur van ongelykheid te herskik deur ’n betreklik klein persentasie swart mense beduidend te bevoordeel en gepaardgaande daarmee, danksy SEB en dergelike maatreëls van die ANC-regering, ’n klein oligargie te skep wat in en om die ANC saamgekoek is. Die res van die bevolking, meer bepaald groeiende getalle swart mense, is baie sleg daaraan toe – gedoem tot mensonwaardige afhanklikheid van ’n owerheid met ’n verswakkende regeervermoë, swakker infrastruktuur, minder geld en stabiele hoë vlakke van korrupsie en verspilling.
Daar kan natuurlik ’n kentering kom. Daar is die moontlikheid van ’n nuwe regering, indien nie nasionaal nie, dan ten minste in twee of drie provinsies. Intussen is die publiek al hoe meer op sigself aangewese. Daar waar daar gemeenskapslewe is, is diegene wat in burgerlike organisasies saamgesnoer is, in die posisie om na mekaar om te sien. Hulle het ’n oorlewings- en self floreringstoekoms. Vir diegene wat egter op die owerheid aangewese is, al maak grondwetlike regte ook wátter mooi beloftes, lê daar – vir eers – net swarigheid voor.
Lees ook:
Vryheidsdag 2023: Die nuwe energie vir federalisme en selfregering
Kommentaar
Die vraag is of die leiers van die revolusie self in hulle stellings glo. Dit lyk eerder of hulle hulself, soos in ander ou kommunisiese bedelings, verryk; tragies ten koste van die massas waarvoor hulle sogenaamd optree. Nogal nes die varke in Animal Farm.