Kultuurvryheid en selfbestuur, keuses van klein groepe wêreldwyd: ’n resensie

  • 7

Kultuurvryheid en selfbestuur: Keuses van klein groepe wêreldwyd
Redakteur: Heinrich Matthee

Uitgewer: Kraal Uitgewers
ISBN: 9780992218942

Is Afrikaners ’n minderheid? ’n Mens sou nie so dink as jy na sommige sosialemedia-poste kyk nie – dié in die trant van “So kan dit nie langer aangaan nie, ons moet nou van die man ontslae raak.” ’n Mens sou nie dink Afrikaners trek nie meer die politieke toutjies nie – die ou “entitlement” van apartheid is nog daar: dis ons land hierdie, ons regering wat “hulle” so opneuk.

Daar is die ding van Afrikaans, maar die ding van Afrikaans is dat al sy praters nou deesdae almal Engels ook gooi, sommer in dieselfde asem. Amper al my vriende het óf Engels getrou, óf werk in Engels, of hulle het hul kinders per ongeluk laat Engels grootword, soos ek myne.

Dit was nog altyd so. Een van die vermeende skeppers van Afrikaans, Harry die Strandloper, was meer bekend vir sy nut as tolk na Engels. Nou, in Dan Sleigh se jongste meesterstuk, 1795, is die vervlegtheid van die lewens van Hollanders, Engelse en proto-Afrikaners aan die Kaap treffend uitgebeeld, en al die dubbelpratery en rugstekery wat daarmee saamgaan – as jy vanuit ’n sekere hoek daarna kyk.

Vanuit ’n ander hoek was ons toe al almal proto-Amerikaners. Soos Amerika moderniteit binnegegaan het en dit oorgeneem het en sy eie storie gemaak het, het nuwe dinge hiernatoe oorgewaai, en die ou dinge het ons op dieselfde manier gedoen: soos hulle het ons waens die Wilde Noorde ingetrek. En oral het Engels homself saamgesmokkel, of was dit reeds daar in embrio, die handeldryf en sendingwerk van enkelinge. Tydens die eerste anneksasie van die bankrot Transvaal is Rider Haggard en sy handjievol medesoldate toegejuig toe hy die Union Jack op Pretoria se kerkplein gehys het.

Vandag is ons huidjie en muidjie geglobaliseer. En Engels is die water wat ons na ons huisie aan die Middellandse See of die Swaanrivier in Perth voer. Hoe gelukkig was die Kaapse militêre kommandeur, kolonel Robert Gordon, se verraad in die Slag van Muizenberg nie – ons is nou deel van die globale meerderheid wat die wêreld oorheers. Vir baie is die prys wat jy daarvoor moet betaal, ’n sekere genuanseerde minagting vir Afrikaans, iets wat jy sommer met die linkerhand kan doen.

Die skrywers van die boek wil graag hê Afrikaners moet ’n minderheid wees. Goedgeorganiseerd en met ’n welgevormde, algemeen aanvaarde identiteit. Soos die Katalane en Baske in Spanje, of die Skotte in Brittanje, die Koerde in Turkye, Irak en Sirië … Die teleurstelling dat dit nie so is nie, kan sommige kwalik onderdruk, in suurderige frases soos: “[Talle ly] steeds aan wat as ’n bestaansonsekerheid beskryf kan word.”

As Afrikaners so ’n minderheid was, sou hulle ’n hele rits internasionale wette, verdrae, scenario’s en alternatiewe strukture kon aktiveer, wat lankal in besonderhede uitgewerk is by die Verenigde Nasies, die Europese Unie, verskeie howe se regspresedente, en die argiewe van akademia. Sekere organisasies in die Solidariteit-dampkring is inderdaad besig om aan die hefbome te pluk soos aan ’n “one-armed bandit” sonder muntstukke.

In hierdie teoretiese opsig is die boek heel boeiend, en is daar materiaal wat nuttige leesstof sal wees vir enigiemand wat wil worstel met die vraagstukke wat ontstaan uit die onvermybare diversiteit van die wêreld. Die samesteller, Heinrich Matthee, skryf byvoorbeeld oor die Tamazigh van Noord-Afrika, en hy suggereer dat daar sekere ooreenkomste is tussen Afrikaanse mense en die Berbers wat deel uitmaak van die breë groep wat oor verskeie lande versprei is. Vir iemand wat na ’n amperse onderonsie met Toearegs in die Sahara geskryf het oor Amerika se veldtog teen terreur, en hoe dit die antieke kameelhandelaars se lewens en kultuur ontwrig het – die eintlike oorsaak van die Islamitiese opstande in Mali – was hierdie sobere agtergrond verhelderend.

So ook is dit nodig vir enige politieke denker om te weet hoe die Europese Unie minderhede hanteer, en die tradisies van denke waarin dit plaasvind, of nie plaasvind nie – Bertus de Villiers kom met ’n deeglike ondersoek rondom nieterritoriale kulturele outonomie en die idees van die “Oostenryks-Marxistiese” Karl Brenner en Otto Bauer. Een van die interessantste stukkies inligting is dat universitêre opleiding in enige taal as ’n basiese reg beskou word, ’n uitloper van die konstellasie van menseregtetoepassings waaraan nuwe lede van die Unie hulle moet onderwerp. Op Suid-Afrika toegepas, sou dit beteken dat Afrikaanssprekendes die reg het op ’n stuk of vier, vyf tersiêre instellings, waarvan minstens twee in Afrikaaps sou moes wees. Vanuit hierdie hoek gesien is die staatsgefasiliteerde verengelsing van die Universiteit Stellenbosch ’n menseregtemisdaad.

Die stukke oor die Midde-Ooste is minder bevredigend, nie weens die gehalte daarvan nie, maar omdat daardie streek so ’n moeras van minderhede is wat almal onontknoopbaar verstrengel is in politieke en godsdienstige magspermutasies dat niemand kan weet wat aangaan nie, en net ammunisie teen minderheidsregte verskaf.

Iets waarmee beslis gewerk kan word, is die idee van gebiedsongebonde selfstandigheid, in die woorde van Matthee. Daar is niks in die Grondwet wat byvoorbeeld kultuurrade belet nie, en Danie Goosen is reg dat dit van Afrikaners self sal afhang. Maar dit bring ons terug by die vraag wat is ’n Afrikaner? Goosen is heeltemal verkeerd as hy sê dat mense daaroor twyfel, daar is net ’n klein handjievol wat hoegenaamd oor die saak dink.

Gebiedsongebonde organisasies sou relevant kon wees in die konteks van Afrikaansheid, by gebrek aan ’n beter woord, as ’n diaspora, maar hoewel die nostalgie nog lyk of dit dik loop onder Afrikaanses in die buiteland, is die vraag in watter mate hul kinders nog sal belangstel.

Die boek se grootste leemte, ’n astronomiese swart gat, as jy wil, is egter: Waar is sub-Sahara-Afrika? Daar is ’n uitstekende bydrae deur Innocent Maja oor Afrikatale en die Afrika-menseregteargitektuur. Hy sonder die begrip van veronderstelde regte uit, die meganisme waarmee die globale menseregtegemeenskap oor en weer van mekaar kan leen om die basiese menseregte (soos in ons Menseregtehandves) uit te bou, en Maja wys hoe dit ook groepsregte sou kon akkommodeer.

Maar verder niks nie. Dit terwyl die wel en wee van minderhede in die streek ’n fundamentele invloed nie net op die politiek van postkoloniale nasiestate gehad het nie, maar ook op Suid-Afrika. Daar is Rwanda se menseslagting, Eritrea en Etiopië, Soedan en Suid-Soedan. In Namibië word die Herero, slagoffers van Duitse volksmoord, vandag gemarginaliseer deur ’n Ovambo-oorheerste Swapo, en daar is die Caprivi, ’n skatkis vir minderheidsnavorsers. In Zimbabwe het Robert Mugabe se volksmoorddadige optrede teen Matebele’s ’n eksodus tot gevolg gehad wat Suid-Afrika verander het. So ook die marginalisering van minderhede in Mosambiek en Angola.

Die ding met onsigbare kosmiese strukture is natuurlik dat hulle nie met niks gevul is nie, maar volgeprop is met die vermorselde reste van atome, wat ’n redelike metafoor is vir die snelgroeiende krotbuurte in Afrika vol ontheemde enkelinge, ook Suid-Afrika, waar een uit elke tien swart mense ekonomiese of politieke vlugtelinge van anderkant ons grense is.

Die grootste probleem vir pleitbesorgers van minderhede in sub-Sahara-Afrika is die grootskeepse aanneming van koloniale tale ter wille van óf groter sosiale eenheid óf beter intergroepskommunikasie. My ondervinding is dat selfs waar inheemse tale nog domineer, die voorkeur telkens is vir die geografies meer verspreide taal. In etlike lande praat die elites net die koloniale taal, soos Portugees in Angola en Frans in etlike ander lande.

Pragmatiese oorwegings speel egter nie die grootste rol nie. Miskien is ek verkeerd, maar soos by die meeste wit mense is daar by die skrywers van hierdie boek ’n drastiese onderskatting van die traumas van kolonialisme in te lees. En in veral die Britse kolonialisme was die manipulering van minderhede – “divide and rule”, valse stamme en konings, opstook van faksies – ’n sleutelmeganisme om bevolkings in toom te hou. Dit is natuurlik vervolmaak in die ramp van die tuislande, daardie fascistiese postkoloniale pseudostaatjies wat eintlik maar reusagtige konsentrasiekampe was.

Die siele van Suid-Afrikaanse swart mense sal nog vir etlike geslagte – dalk vir ewig – gebrandmerk wees met die grootskeepse lyding wat met die afdwinging van hierdie opset gepaard gegaan het. Om hulle oor te haal om ’n nuwe stelsel van minderheidsregte aan te neem is ’n yslike taak waarvoor die enigste kanse vir sukses deelname aan die nuwe antikoloniale diskoers vereis. En Afrikaners kan kwalik hoop om ernstig opgeneem te word sonder die een of ander vorm van erkenning – wat meer as net retories of simbolies is – dat hul huidige welstand as minderheid die gevolg is van geslagte se onderdrukking van die meerderheid.

Hiervan is daar geen blyke in die boek nie.

Vir swart mense is die greep van minderheidsmanipulering verbreek deur die ANC se eenheidstrewe. Die meeste skrywers van die boek spreek hulle uit teen die sogenaamde liberalisme, soms ten regte, maar weer eens onderskat hulle die betekenis wat dit het vir die geatomiseerde bewoners van etnies vermengde lokasies en townships. Menseregte het van hulle vir die eerste keer mense gemaak.

Kyk ’n mens na hoe hierdie boek saamgestel is, kan jy begin insien hoe die grootste slagoffers van apartheid nog Afrikaners gaan wees, Afrikaners synde in hierdie geval diegene wat nog klou aan hul wortels in die tyd van kolonialisme en die postkolonialisme van apartheid. En nie soseer omdat die sonde van die vadere aan die kindere besoek word nie. Kolonialisme en apartheid het veroorsaak dat wit mense in die algemeen, maar Afrikaners in die besonder, heeltemal te swak toegerus is vir ’n toekoms op die vasteland.

Weens die etimologie van die woord word “apartheid” meestal in ruimtelike terme voorgestel. Maar as ’n postkoloniale meganisme vir ’n magsgreep deur ’n minderheid het dit veel meer ’n aggressiewe sensuur behels, ’n ontkenning van selfs die bestaan van swart mense. Die resultaat is ’n blanke bevolking wat selfs nie eens die mees basiese woorde met swart mense in hul eie tale kan wissel nie. In Afrikaans self, met sy klem op germanisering, is ingebed die ontkenning van sy eie swart wortels. En hoe kan ’n mens met briljante swart mense oral om jou nog terugval op die stelling dat Afrikaners op ’n hoër peil van ontwikkeling is?

Dit lyk soms asof begrippe soos dolosse langs ’n ossewawiel gegooi is met die hoop dat iets te voorskyn sal kom. Dit hou nie veel verband met die werklikheid nie. Onderliggend aan die meeste skrywes in die boek is ’n utopisme, ’n versugting na die utopie van die stabiele, goedbegrenste, ontwyfelende minderheid. Die woord “utopie” is natuurlik afgelei van die Grieks vir ’n plek wat nie bestaan nie.

Die politieke temperatuur in Suid-Afrika het drasties gestyg die laaste drie jaar. ’n Antiwit rassisme het posgevat wat ’n groot potensiële bedreiging vir individue, maar ook vir die huidige fragiele orde inhou. Maar wat ook al gebeur, selfs al word die mees ekstreme hoop van die ver-regses, ’n wit volkstaat, verwesenlik, sal hulle nog steeds saam met swart mense moet leef en werk. Ongelukkig is daar nie tekens dat Afrikanerdenkers veel aandag gee aan hoe nie.

  • 7

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Elke keer as ek iets teenkom wat Hans Pienaar geskryf het, val dit my op hoe onredbaar dwaas sy standpunt is; hoe hard hy probeer om in elke vesel van sy wese anti-Afrikaner, anti-blank en anti-Afrikaans te wees.

  • Avatar
    Wilhelm Fourie

    Ek is nie so negatief oor Hans Pienaar se stukke soos die vorige kommentator nie. Hy skryf boeiend en voer soms onderhoude met interessante persone van wie 'n mens dalk nie andersins sou weet nie. Kyk gerus na sy LitNet-bydraes die afgelope jaar.
    Ek stem egter met twee aspekte nie saam nie. Die eerste is sy uiters selektiewe aanhaling van pro-Engelse gedrag by Afrikaners in die verlede. 'n Mens kan net soveel voorbeelde van pro-Franse, pro-Duitse of pro-Hollandse gedrag en insidente vind. Die tweede aspek is waar hy sy eie ervaring (van hoe almal rondom hom min-of-meer verengels het) as tipies beskou. Ek is baie jonger as Hans en dus 'n ander generasie. Ek het jong kinders. Alle Afrikaanssprekendes (blank en bruin) in my vriendekring werk in Engelse werkplekke en nogtans is hulle kinders sonder uitsondering in Afrikaanse skole.
    Ten slotte wil ek net noem dat ek nie die betrokke boek gelees het nie. Daarom reageer ek uitsluitlik op Hans Pienaar se stellings wat nie direk op die boek van toepassing is nie.

  • Avatar
    Joan van der Merwe

    Gelukkig kan een artikel of boek nie die gees van die mense wat hier bly en 'n verskil maak, opsom nie. Ons lewe in die regte wêreld. Ons praat toevallig Afrikaans. Ons weet wat ons gevorm het. Ons word die sondes van ons vaders toegereken en sit met die byna onbegonne taak om die gemors te probeer red terwyl hoëlui aan universiteite en die media (petrol op die vuur) met reg seker, hul opinies publiseer maar vir een of ander rede dink hulle praat vir ons, die ouens in die regte wêreld. Dis oukei om in die minderheid te wees. Ons is immers die oorblyfsels van ’n volksmoord. Ons is wie ons is. Afrikaans is nie ’n entiteit op sy eie nie. Dit leef in die mense wat hom lees, praat en skryf. Dit leef in ons gebede en kos en kuiers en skinder. Hoe absurd is die sirkus oor die voortbestaan en die bestaansreg van hierdie taal net nie? Sal almal wat so rumoer nog daar wees om te treur as die taal vergaan? Toemaar, ek en my regte egte vriende wat bruin en wit en swart is, sal lekker in ons kringe mekaar se vlerke trek oor ons kulturele verskille terwyl ons van mekaar leer om Kaaps te dala en te hlasela amafutha in die oggend by die gym. Sien julle aan die ander kant!

  • Avatar
    Joan van der Merwe

    Bygesê, ons ouens in die regte wêreld tel elke dag die stukke van ons koloniale erfenis (ergernis) op in die kinders wat gearresteer word vir huisbraak of kinders verwyder van slegte ouers en dan magteloos toekyk hoe hulle weer teruggaan omdat hulle niks beter ken nie of ons matrieks wat huis hou omdat daar nie 'n grootmens byderhand is nie wat ons op die ou end deurkry. Noem dit maar op. Ons filosofeer nie oor die effek van kolonialisme nie. Dis waaroor ek dink terwyl ek in die oggend in die gym staan. Ek gebruik Afrikaans om hierdie belangrike taak te verrig. Lankal nie meer die taal van die onderdrukker nie, bevryder sou ek sê ...

    • In die regte wêreld is daar marginalisering van ons taal en kulturele goete deur die regering van ons eie land. As niemand daaraan iets doen nie, sal ons stelselmatig geassimileer word. Afrikaners is 'n minderheid en 'n geteikende minderheid en daarom vind mense hoop in internasionale bepalings tov minderhede. Afrikaners soos Hans kan mos maar buite die groepering staan en by die meerderheid bly staan en hul groepsdenke aanvaar.

  • Avatar
    Hélène Lewis

    "Tydens die eerste anneksasie van die bankrot Transvaal is Rider Haggard en sy handjievol medesoldate toegejuig toe hy die Union Jack by Pretoria se kerkplein gehys het." Hierdie is so 'n moedswillige wanvoorstelling (wat die outeur wie weet waar kry) - dat mens hom/hulle verseker nie kan ernstig opneem nie. As 'n paar rondlêers die spektakel geniet het - wat sê dit nou? Wonder of hulle engels verstaan het! Miskien het hulle gedog dit beteken daar gaan 'n partie wees? Óf miskien was hulle engelse? Ons weet mos wat agterna gebeur het of hoe?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top