Federalisme: ’n oplossing vir Suid-Afrika?

  • 1

Kaart (Yuri | Pixabay)

...
Federalisme impliseer die afwenteling van mag. Dit is ’n vreemde konsep by die meerderheid burgers van Suid-Afrika. Al waarin hulle belangstel, is goeie regering en ’n beter lewe vir hulself en hul kinders.
...

“Die propagering vir die daarstelling van ’n federale staat is niks minder as politieke propaganda wat nie haalbaar is nie. Suid-Afrika is ’n sekulêre grondwetlike staat waarvan die grondwetlike beginsels nie ontsien of ontken mag word nie,” is die mening van Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van DAK Netwerk.

Danie van Wyk (Foto: Izak de Vries)

Federalisme is ’n beweging wat federale staatsopbou nastreef. ’n Federale staatsopbou bestaan uit ’n groep state wat hul eie sake bestuur, maar beheer word deur ’n nasionale regering wat besluite oor buitelandse sake, verdediging en enkele ander nasionale aangeleenthede neem. Die woord federalisme word afgelei van die Latynse woord foedus wat “verdrag” beteken.

Federalisme impliseer die afwenteling van mag. Dit is ’n vreemde konsep by die meerderheid burgers van Suid-Afrika. Al waarin hulle belangstel, is goeie regering en ’n beter lewe vir hulself en hul kinders. Ek stem met Jan-Jan Joubert saam dat dit gaan oor daaglikse oorlewing – kos op die tafel en ’n dak oor die kop: basiese oorlewingsmiddele wat ’n groot verskil in mense se lewens kan maak.

...
’n Afvaardiging na Londen in 1909, bestaande uit nege leiers vanuit die swart en  bruin gemeenskappe onder die leiding van WP Schreiner, ’n premier van die Kaapkolonie gedurende die Anglo-Boereoorlog, was grootliks daarop gemik om die staatsmodel in Suid-Afrika te formuleer voor die daarstelling van die Unie van Suid- Afrika in 1910.
...

Ek wil nie ’n artikel skryf wat ten gunste is van of gekant is teen federalisme nie, maar bloot die gevoelens van die meerderheid weergee waarvan ek een is – voorheen benadeeld en wat oor geen regte beskik het nie as gevolg van ’n sisteem wat ons ontmens het. Dit bring gedagtes terug van slawerny en ontneming van basiese menseregte. Dit laat my onwillekeurig dink aan die situasie in Australië gegewe die posisie van die inboorlinge (aborigines) asook die aanvanklike staatsbestel aldaar. Die oplossing vir Australië was die vereniging van die verskillende state onder die Britse Kroon. Die land bestaan vandag uit ses state, te wete New South Wales, Victoria, Queensland, Suid-Australiё, Wes-Australiё en Tasmanië, elk met sy eie grondwet, parlement en wetgewing. Daar is ’n referendum in November 1999 in Australië gehou om die Grondwet te verander sodat Australië ’n republiek sou word met ’n president wat die Britse monarg sou vervang, en deur die parlement aangestel sou word. Dit was egter onsuksesvol, en die Union Jack maak steeds deel uit van die Australiese vlag.

Dieselfde poging is aangewend in Kanada toe Quebec ’n referendum in 1995 van stapel gestuur het om onafhanklikheid van die res van Kanada te verkry. Soos bekend is Quebec hoofsaaklik Franssprekend en was hierdie poging ook onsuksesvol. In die dieselfde asem kan Skotland ook genoem word wat nie deel van die Verenigde Koninkryk wou wees nie. Hulle poging is ook in ’n referendum verslaan.

Wat interessant is, is die feit dat Australiё op 1 Januarie 1901 ’n federale staat geword het. Op daardie stadium was die Anglo-Boereoorlog nog hewig aan die gang in Suid-Afrika. Die daarstelling van die Unie van Suid-Afrika in 1910 was grootliks ’n kompromie tussen die Britte en die Boererepublieke, sonder inagneming van die res van die inwoners van Suid-Afrika – swart en bruin. Die Unie het basies die twee dominante groepe gesimboliseer, naamlik Afrikaner en Brit, en die Unie van Suid-Afrika was soos Kanada, Australiё en Nieu-Seeland, ’n selfregerende dominium onder die Britse Kroon. Die Unie van Suid-Afrika was dus ’n wit-onderhandelde regeringsisteem waar die belange van wit mense voorop gestel is, en swart en bruin belange op die agtergrond geplaas is. Dit was ’n leemte wat ontstaan het en waarvan die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners uitgesluit was en die oplossing vir die “probleem” onderdrukkende wetgewing was, met die skynbare goedkeuring van die Britse regering.

Die afvaardiging na Londen in 1909. (Foto via History Workshop)

’n Afvaardiging na Londen in 1909, bestaande uit nege leiers vanuit die swart en  bruin gemeenskappe onder die leiding van WP Schreiner, ’n premier van die Kaapkolonie gedurende die Anglo-Boereoorlog, was grootliks daarop gemik om die staatsmodel in Suid-Afrika te formuleer voor die daarstelling van die Unie van Suid- Afrika in 1910. Hulle het ’n stelsel gaan bepleit waarvolgens alle inwoners in ’n unitêre land dieselfde regte sou hê, geskoei op die politieke stelsel in die Kaapkolonie.

Abdullah Abdurahman (Foto: WikiMedia | Openbare domein)

Abdullah Abdurahman was ’n bruin leier in die Kaap wat hom beywer het vir die belange van bruin en swart mense deur middel van sy organisasie, die African Political Organisation, waarvan hy die president was. Hy was deel van hierdie afvaardiging wat gelyke stemreg vir alle Suid-Afrikaners gaan voorstel het, ’n pleidooi wat egter geen gehoor gevind het nie. Die daarstelling van ’n federasie van die twee oorspronklike kolonies, te wete die Kaapkolonie en Natal, en die Boererepublieke, is as ’n onhaalbare opsie vir ’n staatsbestel in Suid-Afrika gesien. Vir die Britse regering was die versoening tussen twee voormalige strydende  groepe van groter belang. Die belange van swart en bruin mense is oorgelaat aan politieke besluite van die toekoms op daardie stadium, en almal weet met watter katastrofiese gevolge dit gepaard gegaan het vir Suid-Afrika na die magsoorname deur die Nasionale Party in 1948 toe die apartheidsisteem die amptelike beleid van die regering geword het – met die mees onderdrukkende wetgewing, wat deur die wêreld verwerp is. Suid-Afrika het die muishond van die wêreld geword en apartheid is amptelik as ’n misdaad teen die mensdom verklaar deur die VVO (nou die VN). Op kerklike gebied het veral die NG Kerk apartheid sterk ondersteun en dit teologies/Bybels geregverdig. Dit het tot die skorsing van die Kerk uit alle internasionale kerkorganisasies gelei, onder andere die Wêreldraad van Gereformeerde Kerke wat apartheid tot kettery verklaar het.

Tans is slegs 30 van die wêreld se 195 lande federasies, wat ongeveer 40% van die wêreld se bevolking uitmaak. Dis gemaklik om te kan sê dat byna die helfte van die wêreld se mense onder ’n federale politieke stelsel regeer word. Met Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing in 1994 was daar politieke partye, soos die destydse Nasionale Party, wat gevra het dat Suid-Afrika federalisme moet implementeer. Die African National Congress (ANC) het dit geopponeer en was voorstanders van ’n sterk  sentrale regering binne ’n unitêre staat.

...
Die uitsprake en grootpratery onlangs deur premier Alan Winde, dat hy president Poetin in hegtenis sal  laat neem indien hy die “grondgebied” van die Wes-Kaap sou betree, is niks anders as politieke opportunisme wat uiters misleidend is nie.
...

Daar is vandag nog partye en groeperings wat glo dat die antwoord vir Suid-Afrika in ’n federale bestel lê wat die oplossing vir baie van die land se probleme sal wees soos dit tans ervaar word. Vir hulle sal dit prakties moontlik wees om binne een stelsel te werk en regeer te word. Dit is moontlik deur mag te deel oor dit wat hulle gemeen het, soos internasionale handel, maar om beheer te behou oor dinge wat vir hulle belangrik is soos onderwys, gesondheid en behuising. Federalisme werk gewoonlik goed vir lande met verskillende kulture. Hulle kan hul eie identiteit behou op grond van taal of godsdiens. Dinge soos burgerskap, die verdediging van die land (weermag, lugmag en vloot) en handelsbetrekkinge met ander lande, ’n buitelandse beleid asook nasionale infrastruktuur sal ’n sentrale verantwoordelikheid wees.

In Suid-Afrika geld dieselfde wette in alle provinsies, wat verskillend is van byvoorbeeld die VSA, wat ’n federale regeringstelsel het. Die uitsprake en grootpratery onlangs deur premier Alan Winde, dat hy president Poetin in hegtenis sal  laat neem indien hy die “grondgebied” van die Wes-Kaap sou betree, is niks anders as politieke opportunisme wat uiters misleidend is nie. Enige persoon wat iets van ’n unitêre staatsbestel weet, weet dat hy nie oor die mag of bevoegdheid beskik om Poetin te laat arresteer nie. Dit grens aan ’n openlike propagering van ’n ’n alternatiewe staatsbestel, in hierdie geval ’n federasie. Hy mislei die kiesers deur beloftes te maak wat nie haalbaar is nie. Hiermee het hy ongetwyfeld bewys dat hy en sy party voorstanders van ’n federale staatsbestel is.

Sedert 1910, asook in 1994, het daar nie weer ’n geleentheid opgeduik om die moontlikheid van federalisme te bespreek en in perspektief te stel nie. Vir baie bly dit ’n ideaal wat slegs ’n droom is of was. Om op hierdie stadium steeds te praat van Suid-Afrika as ’n toekomstige federale staat is ’n gegryp na strooihalms in die wind volgens baie ontleders.

Daar moet egter harder daaraan gewerk word om die huidige staatsbestel te maak werk. Om ’n alternatiewe staatsbestel te predik is nie haalbaar nie. Daar kan nie ’n tweede Kodesa gehou word om ’n nuwe toekomstige politieke model te beding nie. Ons Grondwet is gevestig en is ’n lewende dokument wat leidinggewend is vir nou én die toekoms.

Lees ook:

Vryheidsdag 2023: Is federalisme regtig die antwoord?

Vryheidsdag 2023: Die nuwe energie vir federalisme en selfregering

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Die lewe het nie eintlik enige waarborge nie. Jan-Jan se artikel is 'n uitstekende uiteensetting wat die hele saak in historiese perspektief stel. Daar word baie gepraat oor die saak, maar dit bly by praatjies. Daar was al baie federale tipe inisiatiewe oor die jare, van die groepie en daai groepie. Elke keer skep hulle natuurlik 'n websaait. En alle vrae word na die websaait verwys. En die onafhanklike staat bly ook maar net daar leef. Op die websaait.

    Die formele ontwikkeling van onafhanklike state bly 'n pypdroom vir nou. Maar die afwenteling van mag is nie net iets waaroor net gepraat word nie. Dit is reeds besig om te gebeur soos wat die regering al meer en meer disfunksioneel word. Die poskantoor se funksies is vervang deur die privaatsektor. Veiligheid en sekuriteit is bykans heeltemal geprivatiseer. Die SA lugdiens is verby halfpad geprivatiseer. Kommunikasie is ook maar grootliks geprivatiseer. Die SAUK staan darem nog regop, maar ek ag myself nog gelukkig dat ek op die stadium nog radio in Afrikaans kan luister. Die Wes-kaap brei ook hulle kapasiteite gedurig uit. Die DA skyn federale neigings te hê. Noem dit federalisme, noem dit desentralisasie. Noem dit wat ook al. En raai watter provinsie is die enigste een waar werkloosheid afneem?

    Die Grondwet is beslis nie iets wat in mense se harte lewe nie. Dit het nog nooit. Die ANC het 'n bepaalde interpretasie van die Grondwet waarvolgens een nuwe nasionale identiteit gebou moet word. Dit is nie wat die Grondwet regtig van praat nie. Dit is soos die triniteitsleer wat in die Bybel ingelees word deur die kerke. Dit is wat die ANC met die Grondwet doen.

    Geen poging sal Suid-Afrika laat 'maak werk' nie. Die ANC is al 30 jaar in tjaarts. Die ANC se beleide het armoede en ongelykhede laat toeneem. Werkloosheid neem jaar na jaar toe. En wat doen die regering? Die regering intensifiseer hulle mislukte beleide net verder. Nog wetgewing. Nog reëls. Dit komende van 'n regering wat nie eens infrastruktuur soos paaie kan onderhou nie en selfs sukkel om 'n lisensie uit te reik.

    Dan praat ons nog nie eens van Eskom nie.

    Die verval van die onderwyssektor gaan ook die onderwys verder laat privatiseer. Al minder en minder jongmense kan behoorlik lees en skryf. Die regering is besig om die opkomende generasies te verniettig.

    Die nuutste poging om wetgewing te ontwikkel wat meer staatsinmenging probeer bewerkstelling, is 'n poging deur die ANC om die privaatsektor ook te verwoes. Die munisipaliteite, staatsbeheerde ondernemings en staatsdepartemente is reeds op die manier verwoes.

    Die balkanisering van Suid-Afrika is gladnie so vergesog in die toekoms nie. Maar die ou klomp Cape Exiters, glo ek nie sal die pyp rook nie. Dit sal nie eensklaps van "bo-af" gebeur met 'n referendum, soos wat die Cape-Exiters hoop nie. Die funksies sal eerder een vir een bly afwentel soos wat die regering inplof onder die ANC. En dit sal seker ook intensifiseer in geval die ANC en die EFF in 2024 'n koalisieregering vorm.

    Hoekom moet Pretoria besluit wat Skilpadvrekvandors se skooltjie se taalbeleid is? Die minister het in Engeland geswot en nou dink hy almal moet soos hy Engels praat. En elke kind wat so deur matriek gedruk word in 'n vreemde taal kan nie behoorlik lees of tel of redeneer nie.

    Hierdie gesit en wag vir die regering is wat Suid-Afrika gebring het waar dit is. Om nog langer te wag gaan nie die probleme oplos nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top